1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Elia
  4. Elia Die Tisbiet (Deel 4) – Karmel

Elia Die Tisbiet (Deel 4) – Karmel

KARMEL

Skriftuur: 1 Konings 18:21
En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.

Een oggend, net na ontbyt, het Elia vir klein Hajjir en sy ma nader geroep.

“Ek wil vir julle baie dankie sê vir die aangename tyd wat ek saam met julle deurgebring het. Gisteraand het die Here vir my gesê dis tyd om uit my geheimhouding te kom. Hy het ook vir my gesê om vir Agab te gaan sê dat dit weer gaan reën.”

Ek wonder wat alles in die weduwee se gedagtes omgegaan het? Ek dink klein Hajjir het begin huil.

“Oom Elia was so goed vir ons. Ons meel en olie het nie opgeraak nie. Ek onthou nog toe ek doodgegaan het. Dit het net soos ‘n slaap gevoel. Oom Elia het my styf vasgehou en gebid en gebid totdat ek weer lewend geword het.” Trane van hartseer en dankbaarheid vloei oor hulle wange terwyl hul van Elia afskeid neem en vir hom waai. Uiteindelik verdwyn die profeet vir altyd oor die laaste randjie van Sarfat.

1 Konings 18:1 Na ‘n lang tyd, dit was omtrent drie jaar, het die woord van die Here tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Agab toe. Moenie langer vir hom wegkruip nie. Ek wil dit weer in die land laat reën.”

Terwyl Elia op pad was na Samaria, was Agab en Obadja, die paleisopsigter, weer op pad na Sidon se kant toe.

“Obadja,” sê ‘n baie bekommerde koning Agab op ‘n dag. “Ons moet ‘n plan maak. Die meeste van ons diere het al gevrek en sommige het ek maar laat keel afsny. Kom saam met my, dan gaan soek ons na weiding. Dinge kan nie langer so aangaan nie.”

1 Konings 18:5 Agab het vir Odadja, die paleisopsigter, gesê: “Kom ons trek deur die land, na elke fontein en spruit toe. Dalk kry ons gras om die perde en muile aan die lewe te hou. Dan hoef ons nie van hulle dood te maak nie.”

Die Here is darem baie goed vir die Agabs in hierdie lewe. Dis nou die mans wat met vrouens buite die kerk getrou het. Mans wat toegelaat het dat hulle vrouens hulle van die Here weggelok het. Hy wil vir hierdie soort man sê dat Hy hom graag na Homself toe wil terugbring.

As jy met ‘n Isebel getroud is, ‘n vrou wat jou van die Here laat wegdwaal, het hierdie verhaal vir jou goeie nuus.

Daar is ook goeie nuus vir die mens wat teologies met Isebel getroud is. Die Here wil Sy waarheid aan so persoon bekend maak.

Drie mans stap met hulle eie gedagtes deur die verskroeide aarde:
Die een is Agab. Die Heilige Gees pleit met hom. “Breek met jou sondes. Keer terug tot die God van jou vaders. Deur jou ongehoorsaamheid dompel jy die land net verder in die ellende.”

Die ander een is Obadja: Hy dink aan die 100 profete van die Here wat hy in twee grotte gaan wegsteek het toe Isebel van hulle begin vervolg het. Hy wonder of hulle nog veilig is. Obadja wonder wanneer die vreeslike droogte gebreek gaan word.

Die derde een is Elia. Hy is baie opgewonde want die Here gaan dit weer laat reën. Maar voor dit kan gebeur sal die volk en die koning eers tot bekering moet kom.

1 Konings 18: 7,8 Terwyl Obadja onderweg was, kom Elia hom meteens tegemoet. Obadja het hom herken en voor hom op sy knieë geval en gesê: “Maar u is mos Elia!” Elia sê toe vir hom: “Ja, dit is ek! Gaan sê vir die koning: Elia is hier.”

Arme Obadja het homself boeglam geskrik toe hy skielik op Elia afkom en boonop hoor dat hy vir Agab moet gaan sê dat Elia hom soek. Sê nou maar hy gaan roep vir Agab en Elia verdwyn soos ‘n naald in ‘n hooimied. Wat dan?

1 Konings 18: 15,16 Maar Elia sê vir Obadja: “So seker as die Here leef, die Almagtige in wie se diens ek staan, ek sal sorg dat Agab my vandag nog te sien kry.” Toe gaan Obadja na Agab toe en vertel hom, en Agab het na Elia toe gekom.

‘n Verskriklike benoudheid pak vir Agab beet toe Obadja hom van Elia se versoek vertel. Die vorige keer toe Elia aan hom verskyn het, het hy ‘n droogte aangekondig. Is daar miskien ‘n erger vloek wat die profeet oor hom en sy nasie wil uitspreek?

Oomblikke later kyk profeet en koning mekaar in die oë. Alhoewel Agab deur ‘n magtige lyfwag omring is, voel hy bang en magteloos in die profeet se teenwoordigheid.

Kom ons lees die stotterende, patetiese aanval wat Agab op Elia loots.

1 Konings 18:17 Net toe Agab hom sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, jy wat die dood oor Israel bring?”
(Die Ou Vertaling sê: Is dit jy, jou beroerder van Israel.)

Agab beweeg op ‘n baie gevaarlike terrein. Hy is besig om die dienskneg van die Here wat hom bestraf, die skuld te gee vir die moeilikheid in Israel.

Mag die Here verhoed dat ek en jy die teregwysings van die geestelike leiers in Israel verwerp. Mag Hy verhoed dat ons hulle die beroerders van Israel noem.

Wanneer ons op ons foute gewys word, en ons ignoreer die teregwysing, kan die Here niks meer vir ons doen nie.

Spreuke 10:17 Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van die pad af.

Die Elia-boodskap bring nie net bemoediging nie; die Elia-boodskap wys my ook op my foute.

1 Konings 18:18 Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien.”

DIE ELIABOODSKAP

Die eindtyd Elias is mense wat die moed het om die waarheid taktvol en reguit aan oortreders te bring. Toe die kerk in Agab se tyd met die godsdiens van Isebel geheul het, was Elia die enigste profeet wat die moed gehad het om die kerk oor hierdie sonde aan te spreek.

Agt eeue later het Johannes die Doper op die toneel verskyn en weer eens is die Elia-boodskap gehoor. Hy was die enigste profeet wat die moed gehad het om vir Herodus Antipas aan te spreek oor sy buite- egtelike verhouding.

Markus 6:17,18 Vroeër het Herodus self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Johannes het aan Herodus gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

Elia-boodskappers verkondig die waarheid sonder om vir die konsekwensies te vrees.

Wat van die eindtyd-Elias? Gaan hulle die moed hê om die wêreld teen die valse leerstellings van die Babiloniese hoer te waarsku? Baie beslis.

Openbaring 14:8 ‘n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.”

Die evangelieklanke van die eerste Elia, die tweede Elia, en die laaste Elia, klink presies dieselfde.

Elkeen van hierdie drie Elia-boodskappers verwys na die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. Al drie Elia-boodskappers waarsku teen die gevaar van ‘n onsedelike vrou en al drie word vervolg omdat hulle dit doen.

Omdat die Here ontsettend lief is vir sondaars, sorg Hy dat hulle die geleentheid kry om die boodskap van waarheid te hoor, hulle te bekeer en sodoende gered te word.

Luister hoe mooi het Paulus vir Timoteus gesê, moet hy die boodskap van waarheid verkondig.

2 Timoteus 4:1-3 Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap; verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.

UITGEDAAG

Ek en jy word uitgedaag, soos nog nooit vantevore nie, om die eindtyd- Elia-boodskap te verkondig. Mense sal verlore gaan as ons die waarheid wat ons het, net vir onsself hou.

Dit mag wees dat ons in die verlede baie probeer het, maar geen sukses gehad het nie. Dis nie ons probleem nie.

Ons werk is om te getuig, die Heilige Gees sal oortuig.

“Saaier saai, dis Gods gebod. Al verslaan die hael die are, al verdroog die vrug en blare, saaier saai, dis Gods gebod.”

OPDRAG AAN AGAB

Kom ons lees watter opdrag Elia aan Agab gegee het:

1 Konings 18:18,19 Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien. Roep vir my die hele Israel bymekaar op Karmelberg. Die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd van Asjera wat van Isebel se tafel af eet, moet ook daar wees.”

Elia praat met soveel gesag dat Agab aanvoel asof die profeet in die heilige teenwoordigheid van die Here staan.

Dis hoe Johannes die Doper ook eeue later gepraat het, en dis hoe die eindtyd-Elias moet praat.

AGAB SE REAKSIE

Kom ons lees hoe Agab op Elia se bevel gereageer het:

1 Konings 18:20 Toe stuur Agab die boodskap aan al die Israeliete; hy het ook die profete op Karmelberg laat bymekaarkom.

DIE BERG KARMEL

Dit was my voorreg om verskeie besoeke by Karmel te kon aflê. Die naam beteken “tuin” of “boord.” As jy bo-op die berg met sy welige plantegroei staan, en jy kyk wes, sien jy die pragtige blou Middellandse See.
As jy suid kyk, strek die vallei van Saron vir 80 kilometer voor jou uit.

Aan die noordelike gedeelte van die berg Karmel lê die vesting- stad Megiddo en dan vloei die Kisonrivier daar naby. Verder noord lê die groot vlakte van Esdralon of die vlakte van Megiddo, soos dit ook genoem word.

Terwyl ek Elia se tradisionele kalkklipgrot besoek het, het ek aan die baie ander grotte op die berg gedink waar hulle doodsbeendere van vroeëre beskawings gevind het.

Die Egiptenare het Karmel die heilige Kaap genoem en die Kanaäniete het ‘n opelug-heildigdom hier gehad.

 

In die vierde eeu voor Christus het die Grieke Karmel die heilige berg van Zeus genoem. Argeoloë het onlangs ook ‘n interessante 2de eeuse standbeeld met die volgende inskripsie daarop ontdek: “Toegewy aan die Heliopolitaanse Zeus van berg Karmel.”
Kalkklipgrot van Elia

DIE TONEEL

Terwyl ek berg Karmel besoek het, het ek in my verbeelding gesien hoe die groot skare skuldige Israeliete daar aankom. As jy na hulle gesigte kyk, sien jy spanning. Gaan nog verdere oordele hulle tref?

Die volk vergader by ‘n plek waar daar klippilare vir die aanbidding van Baäl opgerig is.

BAäL

Kom ek vertel jou iets omtrent die antieke Baäl. Die Kanaäniete het geglo dat hierdie Semitiese god, in heilige bome, fonteine en berge gewoon het. Hy moes na die plantegroei en die vermeerdering van beeste en kleinvee omsien.

Maar hier op Karmel kry ons die teenoorgestelde prentjie. Die god van storm, donderweer, weerligte en reën het vir drie en ‘n half jaar absoluut niks gedoen nie.

Die volk staan verleë tussen Baäls-pilare waar hulle vir drie en ‘n half jaar tevergeefs vir reën gebid het.

Uitbeelding van BAäL

STERWE EN OPSTANDING

Baälsaanbidders het geglo dat hy elke jaar na die laat-reënseisoen, hier om en by Maart-April doodgegaan het. Dit was dan ‘n tyd van weeklaag.
En dan, na ‘n lang droë somer, wanneer die vroeë reëns begin val, het hulle geglo dat Baäl weer opgewek en opnuut gebore is. Dit was dan hier in November-Desember dat hulle groot feeste ter ere van hom gevier het. Die aanbidders van Baäl kyk na sy klip pilare. Dis nou al drie jaar agtermekaar dat hierdie god van weerlig, donderweer en reën hulle teleurgestel het.

ASJERA

Dit was nie al heidense aanbiddingsvoorwerpe wat hier op Karmel te sien was nie. Orals tussen die Baäls-pilare was daar ook nog sogenaamde heilige pale wat vir die aanbidding van die godin Asjera opgerig was.

Sy was die Fenisiese vroulike ewebeeld van Baäl. Vroeër was hierdie heilige houtpale van Asjera met pragtige bome, struike en groen plante omring. Nou lag die verskroeide aarde vir die verlate boom-pale.

GOD SE ALTAAR

So ‘n entjie hoër, in skerp teenstelling met die regop boom- en klippilare van Baäl en Asjera, kon mens die vervalle altaar van die Here sien. Elia gaan staan by die plek waar die offerlam vir die boetvaardige sondaar geslag is. Hy staan by die plek waar God se pragtige reddingsboodskap in beeld verkondig word. ‘n Boodskap wat sê dat elke berouvolle sondaar volkome redding ontvang wanneer hy ‘n lam bring om vir sy sondes te sterf. ‘n Boodskap van geregtigheid deur die geloof.

Die mense stroom na Karmel. Later is daar nie meer plek waar Elia staan nie, en die res van die skare mense vergader aan die voet van die berg waar hulle die gebeure van die dag kan dophou.

AANKOMS VAN DIE BAÄLPRIESTERS EN DIE KONING

Dit moes seker baie indrukwekkend gewees het toe die 850 Baäl- en Asjerapriesters met hulle deftige togas daar aangekom het. En toe maak Agab sy verskyning. Met koninklike waardigheid en groot applous, neem hy sy posisie voor die priesters in. Die verhoog waarop die ware en valse godsdiens gaan afspeel, is gereed. Die skare se oë kyk na die 850 indrukwekkende Baäl- en Asjerapriesters. Hierdie misleiers van die volk is in togas vol heidense simbole geklee.

Maar tot dusver was die priesters en gode in wie hulle hul vertroue geplaas het, magteloos om vir hulle reën te bring. Baäl en Asjera het onverskillig teenoor hulle onophoudelike gebede, trane, vernedering en duur offers gestaan. Die kontras tussen hulle en Elia in sy eenvoudige profetedrag is baie groot.

Alhoewel Elia stoksielalleen voor daardie groot skare mense staan, laat hy hom nie deur die magtige opposisie intimideer nie want onsienlike engele ondersteun hom. Die erns van die goddelike opdrag wat hy van die Here ontvang het, besiel hom en maak hom onbevrees. Mense sien hoe sy gesig met ‘n hemelse lig verhelder is.

Binnekort sal die eindtyd-Elias ook voor intimiderende skares mense moet staan om vir die waarheid te getuig. Hoe sal ons vaar? ‘n Besef van die erns van die Elia-boodskap sal ons onverskrokke in die verkondiging daarvan maak.

Elia steek sy twee hande in die lug. ‘n Doodse stilte sak oor daardie groot senuweeagtige gehoor.

1 Konings 18:21 Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom; maar as dit Baäl is, volg hom.” Die volk het hom nie ‘n woord geantwoord nie.

Dis asof die mense na die stem van die Here luister. Die oproep bring ‘n siddering in hulle harte. Maar hulle is magteloos om vorentoe te kom en ‘n duidelike standpunt vir die Here in te neem.

Hoe verduidelik ‘n mens so ‘n onverskilligheid by Israel van ouds?
Hoe verduidelik ‘n mens so ‘n onverskilligheid in die harte van die Israel van God in hierdie laaste dae?

Elke keer wat hulle geweier het om te doen wat reg was en geweier het om hulle te bekeer, het hulle swakker geword en verder van die Here af weggedryf. En nou, op hierdie kritieke oomblik toe Elia hulle roep om ‘n besluit vir die Here te neem, het hulle nie die geestelike durf gehad om ‘n besluit vir die Here te maak nie.

As ek en jy nie elke dag ‘n volkome oorgawe aan die Here maak nie, is die gevaar daar dat ons dit ook nie later sal maak nie. Die Here verfoei onverskilligheid en dislojaliteit in Sy werk.

Terwyl ons die grens van die hemelse Kanäan nader, soek die Here na manne soos Josef en Daniël en Elia. Mense wat nie skaam is om vir die wêreld te wys waar hulle lojaliteit lê nie.

God se spesiale seën rus op mense van aksie. Mense wat met goddelike energie soos Elia sal uitroep: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes?” God soek na eindtyd Elias wat getrouheid aan God hulle leuse maak.

Ek is so dankbaar Elia het nie daardie groot skare besluitelose mense afgeskryf en hulle die verdoemenis ingestuur nie. Hy het weer probeer, en weer probeer en ‘n groot oorwinning vir die saak van die Here is bewerkstellig.

INSPIRASIE

Waar het Elia inspirasie gekry om sy boodskap onverskrokke te kon verkondig?

By die altaar waar die Lam vir die sondes van die volk geoffer is.

Soek jy inspirasie om die Elia-boodskap te verkondig?

Kyk na Golgota waar die Lam van God vir die sondes van die wêreld gesterf het.

Was this article helpful?

Related Articles