ELIA SE INSINKING
Skriftuur: 1 Konings 19:1-4
1En Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja, alles—hoe hy al die profete met die swaard gedood het. 2Daarop stuur Isébel ʼn boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen—sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle. 3Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; 4maar self het hy ʼn dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ʼn besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie.
DIE LIGTE HET UITGEGAAN
Dit was een nag baie laat. Ons was op pad vanaf Ladysmith na Glencoe. Die Peugeot 304-motor waarmee ons gery het was al baie oud. Net voor ons ʼn bult moes aandurf het die wit ligte hier voor op die pad, geel geword. Binne ʼn paar sekondes was die ligte heeltemal dood. Ek sal daardie maanlose nag nooit vergeet nie. Die pad was nog daar, maar ek kon hom nie sien nie. Behalwe vir die fisiese donkerte wat my daardie nag oorval het, het ʼn ander soort donkerte my ook al oorval. Ek en jy reis deur die nag van die lewe. Die kopligte van ons moed en beplanning skyn helder op die pad van die toekoms. Maar dan skielik, onverwags, verdof ʼn kortsluiting van verlies en teleurstelling ons ligblik op die toekoms.
Het jy al, soos ek, iewers in duisternis langs die lewenspad gesit en vrae vra? Die pad was nog daar, maar jy kon hom nie meer sien nie.
DEPRESSIE
Sielkundiges het ʼn term vir die toestand wat mense ervaar wanneer hulle as gevolg van ʼn donkerte langs die pad moet aftrek. Hulle noem dit depressie. Dit mag wees dat jy op hierdie oomblik ʼn bietjie bedruk is.
My gebed is dat jy voor afloop van die reeks oor die Elia-boodskap ʼn nuwe perspektief op jou probleem en op die Here se genade sal ontvang. Die vrou sê vir my sy was baie jare getroud. Sy en haar man kon nooit kalm en rustig oor hulle verskille praat nie. Die enigste manier waarop hulle met mekaar gekommunikeer het was wanneer hulle met mekaar baklei het.
Dit het jare so aangehou en die kloof tussen hulle het net groter en groter geword. Toe haar man haar weer vals beskuldig, het ʼn duisternis van depressie haar oorval. Sy het die huwelikspad verlaat en in die eensame duisternis van depressie afgetrek. Daar was nog ʼn pad, maar sy kon hom nie meer sien nie, want haar gloeilampie van moed het geblaas.
Mike was ʼn sakeman wat my lesings in die Paarl bygewoon het. Sy finansiële kopligte het tot by sy gerieflike aftrede geskyn. Maar nadat sy besigheid bankrot gespeel het, het altwee sy gloeilampies geblaas. Hy het in ʼn baie diep depressie van die lewenspad afgetrek. As ek maar net geweet het hoe ernstig sy probleem was, sou ek baie meer aandag aan hom gegee het. Die telefoon het gelui. Sy vrou het gepraat. “Mike het homself geskiet.”
Die pad was nog daar, maar dit was so donker dat Mike dit nie meer gesien het nie. Met een skoot van die haelgeweer het hy homself die middernag van die dood binnegeskiet.
DIE BROOSHEID VAN DIE MENS
Oor die jare het ek gesien hoe sterk mense, skielik swak mense word; hoe kalm mense hulle humeur verloor en hoe gelowige mense depressief raak. My waarneming is dat die mens eintlik maar baie broos is. Ons vaar nie te sleg wanneer ons kopligte op die pad van lewe skyn en ons ver vooruit elke slaggat en elke draai duidelik kan sien nie. Maar wanneer ʼn ramp ons tref en ons gloeilampies blaas, en die pad voor ons in die donkerte verdwyn, slinger ons oor die teerpad van die lewe totdat ons moet aftrek en die enjin moet afskakel.
Jy wat sê jy is ʼn kind van die Here, hoe hanteer jy die skielike donkertes wat oor jou toesak? Jy wat gereeld in die lig van Sy ondersteuning baai, hoe maak jy as Sy strale van genade skielik van jou onttrek word en jy niks voor jou kan sien nie?
Ek het gedink ek is die enigste mens wat partykeer met die waaroms van die donkerte moet stry. Kom ons lees vir ʼn baie interessante aanhaling van een van die wêreld se beste outeurs:
“In elke mens se lewe kom daar tye van bittere teleurstelling en uitputtende moedeloosheid – dae wanneer seer ons pynig en dit moeilik is om te glo dat God nog vir ons omgee; dae dat moeilikhede ons so teister dat ons wens ons is liewer dood.
Dit is dan wanneer baie mense hulle houvas op God verloor en in die gevangenis van twyfel opgesluit word.”
Dit het in die lewe van Elia gebeur en dit mag ook in jou en my lewe gebeur.
1 Konings 19:1-4 Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. Toe het Isebel ʼn boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.” Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug.
JISREËL
Net voordat Agab met sy koninklike strydwa by die poort van Jisreël inry, hou hy stil. Miskien het die reën vir ʼn oomblik bedaar. Koning Agab klim van sy wa af en praat met die profeet:
“Elia, baie dankie vir die groot hervorming wat jy vandag in Israel bewerkstellig het. Ek kan nie wag om dit vir die koningin, my vrou Isebel te vertel nie. Kom ons hoop en bid dat sy die waarheid sal insien, en dit sal aanneem.”
Agab vra vir Elia of hy vir hom vir slaapplek kan reël maar die nederige profeet verkies om buite die stadsmuur te slaap.
GESPREK TUSSEN AGAB EN ISEBEL
Ek wens ek kon na die gesprek tussen Agab en Isebel geluister het.
“My vrou, wat dink jy van die heerlike reën wat val? Ons sal weer met ʼn spogtuin kan begin. Die byeenkoms op Karmel het ʼn hele dag lank geduur. Die Baälpriesters het vir ure gedans en geskreeu en hulle selfs met messe stukkend gesny terwyl hulle vir Baäl gebid het om hulle offer met vuur te verteer. Niks het gebeur nie. Toe kom Elia nader, herstel die altaar van Jahwe. Bid vir vuur om die offer te verteer en toe gebeur dit. Met oogverblindende heerlikheid het goddelike vuur neergedaal en nie net die offer verteer nie. Weet jy ek staan in verwondering en kyk hoe die vlamme die klippe van die altaar soos bokhare verbrand.
My vrou, Jahwe is die ware God. Saam met die hele volk het ek neergeval en Hom aanbid. Ons gebed “Die Here is God, die Here is God”, het deur die klowe weergalm.”
ISEBEL VERHARD HAAR HART
Hoe dink julle het Isebel op hierdie nuus gereageer? Die Heilige Gees was besig om met haar te praat want God se reddende genade verskyn aan alle mense. (Titus 2:11.) Dis moontlik dat Agab sy vrou gevra het om die Here voortaan saam met hom te dien. Miskien het sy dit ʼn oomblik lank oorweeg.
Maar toe hy haar van die slagting van die 850 Baälpriesters vertel, het die duiwel in haar losgebreek. Op daardie oomblik het Isebel besluit om haar hart te verhard, die reddende genade van die Here uit haar lewe te stoot en vas te kleef aan haar sondes. Die aanhoor van waarheid kan een van twee dinge in jou lewe doen: wanneer jy dit aanneem maak dit jou lewe mooi en jy word gered; maar wanneer jy dit verwerp, word jy harder en leliker en gaan uiteindelik verlore. Isebel het die Rubicon van “geen terugkeer” oorgesteek en besluit om waarheid te beveg solank sy leef.
DIE DOODSDREIGEMENT
Voordat Elia aan die slaap raak, bid hy ernstig dat die Here vir Agab moet lei terwyl hy met sy vrou praat. Elia is daarvan oortuig dat die gebeure van die dag Isebel se invloed finaal oor die volk gebreek het.
Elia raak met die volgende gebed op sy lippe aan die slaap:
“Ag, Here, bewerk vir Israel die grootste hervorming in sy hele geskiedenis. Gebruik my om nog groter dinge vir U Naam te doen.” In die luukse paleis kon Isebel nie ʼn oog toemaak nie. Sy roep een van die koninklike wagte:
“Die koning sê die vervloekte profeet Elia het iewers langs die stadsmuur gaan slaap. Soek hom tot jy hom kry en dan sê jy vir hom die volgende woorde:
‘Teen môreaand hierdie tyd is jy ʼn lyk. Soos wat jy my profete geslag het, so gaan ek jou slag. En mag Baäl Melkart my om die lewe bring as ek jou nie vrekmaak nie.’”
ELIA SE REAKSIE
Kan jy Elia se reaksie sien? Hy is sprakeloos en uit die veld geslaan. Hy het verwag dat Agab hom sou laat weet dat Isebel die waarheid aangeneem het en dat sy die volgende Sabbat gedoop sou word. Hy het al aan ʼn preek gedink wat hy by die geleentheid wou preek. Hy het al gedroom hoe die hele Israel oor haar bekering sou juig. Elia sit regop. Hy kyk die boodskapper aan asof hy nie kan glo wat hy hoor nie.
REDES WAAROM ELIA MOEDELOOS GEWORD HET
Daar is twee baie belangrike redes waarom Elia moedeloos geword het:
In die eerste plek het hy vas geglo dat Isebel tot bekering sou kom, sou ophou om die werk van die Here teen te gaan sodat die hervorming van Karmel na die hele volk sou uitkring. Hier is ʼn groot les vir die eindtyd- Elias. Daar is sekere mense wat nooit tot bekering gaan kom nie omdat hulle dit so verkies. Ons kan maar net die boodskap bring, hulle moet self besluit. En as die Isebels besluit om die waarheid te verwerp, moet ons nie daaroor bekommer en moedeloos word soos Elia nie.
JOHANNES DIE DOPER
Ek is daarvan oortuig dat Johannes die Doper ook geglo het dat Herodias tot bekering sou kom nadat hy met Herodus Antipas oor sy owerspel gepraat het. Net soos Elia en Johannes die Doper moet ons ook hoop dat elke mens met wie ons arbei tot bekering gaan kom. Maar ongelukkig sê die verhaal van Elia en Johannes die Doper vir ons dat sekere mense, die Isebels, nooit tot bekering kom nie. Ons sal hierdie hartseer waarheid maar moet aanvaar.
WAAROM BEPROEWINGS
Daar is nog ʼn rede waarom Elia moedeloos geword het. Hy was nie oortuig dat hierdie spesifieke beproewing geregverdig was nie. Ek bedoel, hy was totaal en al uitgeput van die dag se gebeure. Sy klere was papnat van die reën. Hy het net aan die slaap geraak toe hy met ʼn doodsdreigement wakker gemaak word. Is dit die tipe behandeling wat hy as profeet van die Here moet verduur? Hy het so hard vir Sy Meester op Karmel geywer, en wat gaan nou hier aan? En Elia knak.
JOHANNES DIE DOPER
Johannes sit in die tronk van Mukawir en hy vra vir homself af: “Is dit die soort behandeling wat mens kry wanneer jy vir die Here werk?” En Johannes die Doper knak.
EINDTYD-ELIAS
En nou wil ek vir die eindtyd-Elias vra: Die beproewing wat jy op die oomblik deurmaak, dink jy dis reg? Kon die Here dit nie ʼn bietjie makliker gemaak het nie?
DIE DUIWEL SE BETOOG
Ons moet een ding baie goed verstaan. Die aanklaer van die broeders, die duiwel, is gedurig in gesprek met die Here. As die Here hom sou verhoed om sekere beproewinge na ons toe te stuur, gaan die duiwel hewige beswaar aanteken. Hy gaan vir die Here sê:
“Maar hoekom maak U ʼn uitsondering met hierdie spesifieke kind van U en nie met die goddelose nie? Word hy of sy voorgetrek?”
Ek sê dit met groot respek. Die Here sit met ʼn dilemma. Hy sou ons baie graag die pyn van beproewing wou spaar maar dan sou die duiwel Hom aankla. Hy kan ons nie van beproewings vrywaar nie, maar Hy kan ons in ons beproewings bystaan.
EEN TROOS
Ek het een troos. Die Here sal nooit toelaat dat ons bokant ons kragte versoek word nie (1 Korintiërs 10:13).
ELIA VLUG
Elia die Tisbiet knak. Hy vat die pad en vlug deur die donker nag. Wat ʼn hartseer prentjie. Verder en verder vlug hy na die suide, verder en verder weg van sy plig. Ek wonder wat sy slaaf gedink het wat kort op sy hakke gevolg het? Hy praat met sy meester, maar sy meester antwoord nie. Sy meester het vreemd stil geword.
MODERNE ELIAS
Wat van jou en my?
Is ons ook besig om iewers in ʼn donker nag van ʼn Isebel af weg te vlug?
Het ons huwelike vir ons te veel geword?
Is ons besig om uit hierdie verhouding weg te vlug?
Het die beproewings van die lewe vir jou te veel geword?
Het die Here vir Elia omgegee toe hy eensaam, depressief deur die nag weggevlug het?
Gee Hy om vir jou en my wat miskien op hierdie oomblik dieselfde doen?
JOB SE INSINKING
Kom ons lees wat Job gesê het toe hy op ʼn dag gehoor het dat hy sy kinders verloor het:
Job 3:3 “Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie.”
Job 6:2 “As my bittere ellende maar geweeg kon word, as die ongeluk wat my getref het, op ʼn skaal gesit kon word,”
Job 7:11 “Nee, ek kan nie stilbly nie, in my beproewing wil ek praat, in my bitter lyding wil ek kla.”
Job 7:16 “Ek wil nie meer nie, ek sal tog nie vir altyd lewe nie; laat my staan; my lewe is niks meer werd nie.”
UIT DEPRESSIE VERLOS
Wanneer ek die biografieë van die godsmanne van die Ou Testament lees, ontdek ek iets baie moois wat my hoop gee. Alhoewel hulle in diepe depressie beland het, het die Here hulle tog daaruit gered. Uit die dieptes van ʼn moedelose Godverlate gevoel het Job na die hoogtes van vertroue in God se reddende genade gestyg.
Luister hoe pragtig klink Job se oorwinningslied wat uit die diep ellende van sy depressie na die Here opstyg:
Job 13:15 “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom…” Die Engelse vertaling lees: “Though He slay me, yet will I trust in Him:…”
Wat ʼn uitroep van geloof in die Here. Daar op die ashoop met ʼn potskerf in sy hand, kyk Job boontoe.
“Here. Al sou U toelaat dat my siekte en my hartseer oor my kinders se dood my verwoes, wil ek U nogtans met my hele lewe vertrou.”
Miskien sit jy ook op hierdie oomblik soos Job op die ashoop van die lewe. Met die potskerf van herinneringe krap jy aanhoudend oor die seerplekke van jou binneste. En hoe meer jy krap, hoe seerder word die wonde. Jy voel nie dis net jou dierbares wat jou verlaat en seergemaak het nie, jy voel ook die Here het dit aan jou gedoen.
Weet jy wat God die Vader graag van jou wil hoor?
“Here, pyn en teleurstellings het my gekaap en aangerand en beroof, ek lê sterwend-verwond en weggegooi langs die pad van die lewe. Maar Here, ek wil net vir U sê dat ek U gaan bly vertrou en liefhê al sou ek omkom.”
WAT ELIA MOES DOEN
Kom ons dink ʼn bietjie oor wat Elia moes gedoen het toe hy die doodsdreigement ontvang het. Dit sal ons ook help om te weet wat ons moet doen wanneer dinge vir ons skeefloop.
1. Elia moes nie sy pos verlaat het nie.
2. Hy moes die doodsdreigement na die Here geneem het wat hom gestuur het om die hervormingswerk te begin.
3. Hy moes vir Isebel laat weet het: “Die God wat ek dien kan my teen jou beskerm.”
DIE GEVOLGE
Wat sou die gevolge van so ʼn optrede wees?
1. Die Here sou hom beskerm het en self met Isebel afgereken het.
2. Die Goddelike indrukke wat op die koning en die volk op Karmel gemaak is, sou ʼn magtige reformasie tot gevolg gehad het.
OPROEP
Tensy ons gedurig deur ons oë op die Here vestig wanneer ons getoets word, sal ons moedeloos word.
Kyk weer ʼn keer na die gebeure op Golgota. Jesus se beproewing is groter as die hele mensdom s’n saam. Hy bly hang – Hy klim nie af nie.
Mag ek en jy ook aan die kruis van selfverloëning en beproewing bly hang
totdat ons vir ons gevalle natuur gesterf het.
Wanneer ons daardie dood gesterf het, sal daar ʼn heerlike opstanding van ʼn nuwe ondervinding in ons lewens plaasvind.