1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Elia
  4. Elia Die Tisbiet (Deel 5) – Elia En Die Vuur Uit Die Hemel

Elia Die Tisbiet (Deel 5) – Elia En Die Vuur Uit Die Hemel

ELIA EN DIE VUUR UIT DIE HEMEL

Skriftuur: 1 Konings 18:21
En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.

In die vorige hoofstuk in die reeks oor die lewe van Elia, het ons na sy ernstige oproep geluister. Kom ons lees dit net weer:

1 Konings 18:21 Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom; maar as dit Baäl is, volg hom.” Die volk het hom nie ’n woord geantwoord nie.

Elia kyk na die groot skare mense hier voor hom. Daar is nie eers ʼn enkele persoon wat op sy ernstige pleidooi reageer nie. Hy rek sy nek om te sien of daar iemand onder aan die voet van Karmel is wat sy hand opgesteek het, maar daar is ook niemand nie.

Die Elia-boodskap het destyds mense die geleentheid gegee om tussen waarheid en dwaalleer te kies. Tussen die Here van Israel en Baäl van die Sidoniërs. Die eindtyd-Elia-boodskap gee nou ook die mens die geleentheid om ʼn keuse te maak tussen gehoorsaamheid aan die gebooie van die Here of gehoorsaamheid aan die gebooie van die mens.

Hoe reageer ek en jy wanneer ons met waarheid gekonfronteer word?

Wanneer ek dit verwerp, verwerp ek God se ingryping in my lewe.

PROBEER WEER

Elia het nie die volk afgeskryf toe hulle nie met sy eerste oproep tot bekering gereageer het nie. Hy het weer en weer probeer.

1 Konings 18:22 Toe sê Elia vir die volk: “Ek alleen het oorgebly as profeet van die Here, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl.”

Dit het nie by Elia saak gemaak of hy onder die minderheid tel nie. Elia wou onder die gehoorsames tel.

1 Konings 18:23,24 “Bring nou vir ons twee bulle. Hulle kan vir hulle een bul kies en hom opsny en op die hout uitlê. Maar hulle moet dit nie aan die brand steek nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal hom op die hout uitlê, maar dit ook nie aan die brand steek nie. Dan moet julle tot julle god bid, en ek sal tot die Here bid. Hy wat met vuur antwoord, is God.” Die hele volk het geantwoord: “Dis goed so.”

Dit was ʼn billike proposisie. Baäl was tog immers die god van reën en storm. Dit was nie veel gevra dat hy met een van sy weerligstrale ʼn vuurtjie kom aansteek nie. Die volk skep moed en sê vir Elia sy voorstel klink goed. Die Baälpriesters waag dit nie om een enkele woord te spreek nie.

1 Konings 18:25,26 Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies ʼn bul en maak julle hom eerste gereed, want julle is die meeste. Bid dan tot julle god. Maar julle mag nie die vuur aansteek nie.” Hulle neem toe die bul wat hy hulle laat kies het en maak hom gereed. Hulle bid toe tot Baäl en roep van die môre af tot die middag toe: “Baäl, antwoord ons!” Daar was nie ʼn geluid van hom af nie. Niemand het geantwoord nie, hoe hulle ook al vir Baäl gedans het by die altaar wat hulle gemaak het.

Die Baälpriesters kry gou die altaar gereed. Die hout word neergesit; die bul word geslag en bo-op die hout neergesit. Uiterlik lyk hierdie heidense priesters nogal dapper, maar binne is hulle skuldige harte vol vrees.

Dit was my voorreg om van hierdie heidense altare in die Midde-Ooste by plekke soos Geser, Hasor, Biblos en Petra te besoek. Die voorkoms van skandpilare het daarop gedui dat hulle selfs mense geoffer het.

SKOUSPEL

Dit was ʼn skouspel om hierdie klomp Baälpriesters op Karmel te sien dans. Die woord vir “dans” in die grondteks beteken om op en af te spring. Dit was ʼn heidense rituele dans waarin hulle hulself so opgewerk het, dat hulle in ʼn staat van self-hipnose gegaan het. By tye was daar manifestasies van demoniese magte en hulle het gehoop dat een van die duiwels die vuur sou aansteek.

Hemelse engele van lig het die bose engele van duisternis verhoed om naby die altaar en die hout te kom. Die priesters skreeu onophoudelik “Baäl, antwoord ons!; Baäl antwoord ons!” Die malle geskreeu word tot onder aan die voet van die berg gehoor. Maar Baäl antwoord nie want hy bestaan net in die gedagtes van mense. By Hasor, in die noorde van Israel, het ek ʼn museum besoek waar Kanaänitiese afgodjies uitgestal word. Dis die komieklikste goedjies onder die son – die produk van die mens se verbeelding.

TEATRAAL

Heidense godsdiensrituele was baie teatraal; baie liggaamsgebare. Dit was ʼn sintuiglike godsdiens wat baie met klank en gevoel te make gehad het.

BESPOTTING

Die gedans en die geskreeu het die hele oggend aangehou. Die mense kyk na die bespotlike, dierlike gedrag van hulle heidense priesters. Sommige priesters begin hulself stukkend te sny totdat die bloed loop. Ander trek weer hulle hare uit.

1 Konings 18:27 Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos ʼn god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word.!”

Dit was nodig vir Elia om die toeskouers op die belaglikheid van Baälaanbidding te wys. Die vertalers gebruik ʼn eufemisme, maar die grondteks sê dat hy vir die klomp priesters sê hulle moet harder roep want Baäl is toilet toe. “Diep in gedagte.”

Soms is dit nodig om vir mense te wys met watter belaglike dinge hulle hulself mee besig hou. Dis ook deel van die Elia-boodskap. Alle godsdienste wat die gebooie van God deur gebooie van mense vervang, is besig om die belaglike Baälgodsdiens van die antieke tye te herhaal.

Kom ons lees wat die reaksie van die bespotlike Baälpriesters was:

1 Konings 18:28,29 Toe roep hulle nog harder; en soos altyd kerf hulle hulle stukkend met swaarde en spiese dat die bloed oor hulle loop. Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie.

Wat ʼn hartseer toneel! Wanneer ʼn mens enigiemand of iets anders as God aanbid, maak hy homself net belaglik en kry baie seer.

En dis ʼn baie groot les vir ons. Jare gelede was daar baie jongmense wat Elvis Presley aanbid het. Toe hy aan dwelms verslaaf geraak het en sterf het baie mense baie seer gekry.

In Deuteronomium 14:1 verbied die Here iedereen om sy liggaam stukkend te kerf. Hoekom? Want ons behoort aan Hom. Ons is Sy eiendom. Hy is baie lief vir ons. Ons mag onsself nie onnodige pyn toedien nie.

VREEMDE TALE

Daar is iets baie interessants wat in die optrede van die Baälpriesters genoem word. Dit sê:

“Hulle het aangehou te kere gaan.” Die ou vertaling sê “hulle het aangehou raas.”

Toe koning Saul van die Here afgewyk het, het hy ook op ʼn keer soos die Baälpriesters te kere gegaan. Daar is groot lesse wat ons uit die Ou Testament kan leer wat ons help om die eindtyd-gebeure beter te verstaan.

Kom ons lees hoe Saul homself onder die invloed van ʼn bose gees gedra het:

1 Samuel 18:10 Die volgende dag het ʼn boosaardige gees wat deur God gestuur is, (toegelaat is) vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos ʼn waansinnige…

Een kommentaar wat ek oor die godsdienstige gedrag van die Baälaanbidders geraadpleeg het, het my laat skrik. Mense sweep hulself op tot ʼn baie hoë godsdienstige emosionele vlak. Wanneer hulle dan ʼn sekere piek bereik, breek hulle in onverstaanbare, onintelligente klanke en ʼn gegrom uit.

Op die berg Karmel het die skare Israeliete ʼn demonstrasie van die ware en die valse godsdiens gekry. Die gebeure by Karmel is ook van kardinale belang vir jou en my wat in hierdie eindtyd leef. Dit wat daar gebeur het, is tans weer besig om te gebeur.

Kom ons lees hierdie ernstige waarskuwing:

Jesaja 8:19,20 Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet ʼn volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ʼn mens dooies in belang van lewendes raadpleeg? Terug na die wet en die getuienis van die Here! Wie nie volgens hierdie woord praat nie, is sonder ʼn toekoms.

GOD SE TOETS

Die toets wat die Here vir antieke aanbidders gestel het, is nog steeds die toets wat Hy vandag aan ons stel.

Geen kontak met die sogenaamde afgestorwenes nie. Hoekom nie? Dis duiwels wat aan mense verskyn. Geen kontak met die mediums en spiritiste of wie ook al wat in onverstaanbare tale fluister en mompel nie.
Hoekom nie? Hulle bring boodskappe wat klink asof dit van die Here kom, maar inderwaarheid is dit van die duiwel. Vers 20 sê hierdie mense is sonder ʼn toekoms.

Jesaja 8:20 Terug na die wet en die getuienis van die Here!

Dis die boodskap wat:
 Elia op die berg Karmel verkondig het;
 Jesaja in Jerusalem verkondig het;
 Johannes die Doper verkondig het;
 Jesus by die bergpredikasie verkondig het;
 Paulus verkondig het;
 Johannes verkondig het; en
 die laaste kerk op aarde sal verkondig.

Jesaja 8:20 Terug na die wet en die getuienis van die Here!

GEHOORSAAMHEID AAN DIE GEBOOIE

Hoe staan ek en jy teenoor die gebooie van die Here? Is daar een van die tien waarmee ons ʼn probleem het?

Voordat ons die Elia-boodskap met krag kan uitleef en verkondig, moet ons allereers aan God se geopenbaarde wil gehoorsaam wees.

HERSTEL VAN DIE ALTAAR

1 Konings 18:29,30 Tot die namiddag het hulle aangehou te kere gaan, en teen laatmiddag, die tyd vir die aandoffer, was daar nog geen geluid nie. Niemand het geantwoord nie, daar was geen reaksie nie. Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan. Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.

Die son is besig om in die weste te sak. Die Baälpriesters wat met kere selfs die songod gevloek het, is nou doodmoeg en hulle kele is hees geskree. Skielik raak die moeë, verwarde priesters stil. Die groot skare mense het aan die demoniese manifestasies van die priesters begin walg. Nou sien hulle met die grootste afwagting uit na wat Elia gaan doen.

HERSTEL VAN DIE ALTAAR

Elia strek sy arms uit en vra die mense om by hom te kom staan. Met huiwering beweeg hulle nader. Elia stap met beslistheid na die stukkende altaar waar mense in die verlede die God van die hemel aanbid het, en maak dit reg. ʼn Ouerige oom onthou nog hoe die priesters van die Here lank gelede ʼn lam op die altaar geoffer het. Hy onthou nog hoe die priester verduidelik het dat daardie lam vooruitwys na die Lam van God, die Messias, wat eendag vir die sondes van die wêreld sou kom sterf.

DIE BOODSKAP VAN DIE ALTAAR

Dis baie moontlik dat Elia die boodskap van die altaar en die lam soos volg aan die volk verduidelik het.

“Mense. Die enigste offer wat God aanvaar, is die lam. Hy aanvaar nie die religieuse brousel wat die priesters so pas opgedis het nie en dit beïndruk Hom ook nie. Alleen die komende Messias, die verteenwoor-diger van die hele menseras, is vir Hom aanvaarbaar. En dit is ook nie wat Hy van ons geestelike prestasie dink wat saak maak nie, dit is wat Hy van die Messias se prestasies dink, wat saak maak.”

1 Konings 18:30-33 Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan. Toe het hy die stukkende altaar weer reggemaak. Hy het twaalf klippe gevat, net soveel as die stamme van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.” Met die klippe het hy die altaar van die Here reggemaak en ʼn behoorlike sloot daar rondom gegrawe.

Terwyl Elia die stukkende altaar herstel, verduidelik hy aan die volk waarmee hy besig is.

“Afvallige volk van God. Net soos wat hierdie altaar vervalle geraak het, so het julle ook geestelik verval. Maar net soos wat ek vandag hierdie altaar van die Here herstel, net so moet julle vandag ʼn besluit neem om julle verhouding met die Here te herstel.”

OGGEND- EN AANDOFFERS

Die “brandoffers” wat soggens en saans gebring is, was in die simboliek van dankbaarheid en toewyding gehul. Dit het die ononderbroke, volkome oorgawe, aanbidding en toewyding van die hele gemeente voorgestel. Die Israeliet van destyds het God se vergifnis, vir sy sonde, by die offeraltaar kom haal.

HERSTEL DIE ALTAAR

Die Elia-boodskap van destyds het nie net die fisiese altaar van die Here herstel nie, dit het ook ʼn beroep op die volk gedoen om die Here met volle toewyding te dien. Die Elia-boodskap van vandag is ʼn wekroep tot huisgesinne en individue om ook die huisgodsdiensaltaar te herstel. Ons word geroep om elke oggend en aand ons lewe volkome aan die Here toe te wy.

Elia vra iemand om die slagoffer, die bul, nader te bring. Weer verduidelik hy aan die volk dat hulle gered word omdat iemand anders eendag in hulle plek gaan sterf. Die Elia-boodskap verkondig dat die mens deur geloof in Jesus, sonder verdienste, gered word.

1 Konings 18:33-35 Toe sit hy die hout reg, sny die bul stukkend en lê dit uit op die hout. Toe beveel hy: “Maak vier kruike vol water en gooi dit uit op die brandoffer en op die hout.” Daarna sê hy: “Doen dit ʼn derde keer,” en hulle het weer so gemaak. Toe stroom die water oor die hele altaar, en selfs die sloot rondom het vol geword.

Die kalm manier waarop Elia te werk gaan, staan in skrille kontras met die histeriese geskreeu en rondspringery van die Baälpriesters.
Elia wys die volk daarop dat die droogte die gevolg van hulle afvalligheid van die Here is. Hy doen ʼn beroep op hulle om tot die Here terug te keer sodat die vloek van die droogte beëindig kan word.

En toe kniel Elia eerbiedig voor die onsienlike God van Israel. Met opgehefte hande, doen hy ʼn eenvoudige gebed. Dit is asof die Here teenwoordig is en graag na sy gebed luister.

1 Konings 18:36,37 Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat u God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

Kan jy vir Elia op sy knieë voor die altaar van die Here sien? Wat ʼn gesig! Dis wat die Eliaboodskappers van vandag ook moet doen. Elia het ʼn las vir die redding van mense gehad. Die eindtyd-Elias het dieselfde las vir die redding van siele.

DIE VUUR

1 Konings 18:38 Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

Die oomblik toe Elia amen sê, skiet daar verblindende weerligstrale uit die hemel. Dit steek nie net die hout aan die brand nie, dit verteer ook die offerbul, die water wat in die voor lê, en toe verswelg die vuur selfs die klippe van die altaar. Die hemelse vuur verlig die berge en verblind nie net die oë van die skare op die berg nie, maar ook die menigtes wat onder aan die voet van Karmel staan.

Die hemelse vuur neem die vorm aan van die vuurkolom wat tydens die tog deur die Rooi See die kinders van Israel van die Egiptenare geskei het. Die mense mag nie ʼn oomblik langer na die hemelse vuur kyk nie. Hulle val in eerbied voor die onsienlik God neer.

1 Konings 18:39 Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”

Dit is die resultaat van die Eliaboodskap. Mense val in oorgawe voor die Here neer en eer Hom as die enigste God in hulle lewe.

Die Elia-boodskap doen vandag ʼn beroep op ons om van alle afgode in ons lewe af te sien. Maar dis nie al nie; die Elia-boodskap doen ook ʼn beroep op ons om voor die Here neer te val en Hom met al die toewyding van ons harte te aanbid.

Wat is jou antwoord, wat is my antwoord?

 

Was this article helpful?

Related Articles