1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Elia
  4. Elia Die Tisbiet (Deel 9) – Wat Maak Jy Hier?

Elia Die Tisbiet (Deel 9) – Wat Maak Jy Hier?

WAT MAAK JY HIER?

Skriftuur: 1 Konings 19:8-13

8Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb. 9En hy het daar in ʼn spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía? 10En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem. 11En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl ʼn groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind ʼn aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. 12En ná die aardbewing ʼn vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van ʼn sagte koelte. 13En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom ʼn stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?

ʼn Man lê onder ʼn besembos in die Negev-woestyn en slaap. Hy het moedeloos geraak, uit sy werk gedros en gevlug. Hy skrik groot toe iemand hom wakker maak. Eers dink hy dis ʼn vyand wat hom om die lewe wil bring. Maar pleks van ʼn frons het hy ʼn glimlag ontvang; pleks van ʼn dodelike dolkwond, ʼn heerlike ete. Elia het weer aan die slaap geraak. Dieselfde engel wat hom ʼn vorige keer wakker gemaak het, het hom ʼn tweede keer saggies aan die skouer gevat en liefdevol met hom gepraat nadat hy wakker geword het.

1 Konings 19:7,8 Die engel het ʼn tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.

Elia het nie ʼn servet nie. Hy vee die laaste paar krummels van sy mond af. Hy dink: “Ek het in my hele lewe nog nie sulke heerlike voedsame kos geëet nie.” Hy draai sy kop in die rigting van Berséba waar hy sy slaaf agtergelaat het.
Sal hy teruggaan vanwaar hy gekom het? Nee. Hy sien nie kans om op sy spore terug te gaan nie. Hy het te seer gekry. Hy kan nog nie oor sy groot teleurstelling kom nie. Hy het alles vir die Here gedoen en om sy volk Israel tot bekering te lei, en sy werk is nie beloon soos hy verwag het nie.

Terwyl hy in die donker nag langs die stadsmuur van Jisreël geslaap het, het ʼn boodskapper van Isebel hom wakker gemaak en met die dood gedreig. “Kon die Here nie hierdie heidense vrou verhoed het om die volk verder tot afgodery te verlei nie? Kon Hy nie vir Isebel verhoed het om ʼn doodsdreigement na die profeet van Israel te stuur nie?”

Die tragiese gebeure maal dag en nag deur Elia se kop.

In hierdie lewe help dit nie om in opstand teenoor beproewings te kom nie. Hoekom nie? Want dit neem baie meer energie om met waaroms te worstel as wat dit neem om die Here in tye van beproewings te vertrou.

DIE VLUG NA HOREB

Elia sien eerder kans vir die 330km slegte pad na die berg Horeb as wat hy kans sien vir die korter gelykpad terug na Jisreël. Omdat Elia sy vertroue in die leiding van die Here verloor het, slinger hy dieper en dieper die woestyn in. En wanneer ek en jy ons vertroue in die leiding van die Here verloor, slinger ons ook dieper en dieper die woestyn van sinloosheid binne. Eintlik het dit Elia besonder lank geneem om by Horeb uit te kom. Dit het hom 40 dae geneem om 330km af te lê. Dit gee jou maar ʼn gemiddeld van 8km per dag. Miskien het hy aan die Israeliete gedink wat vir 40 jaar lank in hierdie woestyn rondgeswerf het. Elke liewe dag het die Here ʼn wonderwerk verrig en vir Sy volk gesorg. En elke liewe dag wat Elia in hierdie woestyn gestap het, het die Here vir hom ʼn wonderwerk verrig. Die kos wat die engel vir hom gebring het, het hom die krag gegee om deur dik sand te stap en oor groot klippe te klouter.

HOREB – SINAI

Ek sal nooit die dag vergeet toe ek die berg Horeb, oftewel Sinai, vir die eerste keer gesien het nie. My gedagtes het na Moses en Elia gegaan. Albei het gefaal en hierheen gevlug.

Moses nadat hy ʼn moord gepleeg het, en Elia nadat hy moedeloos geraak het en vir Isebel gevlug het. Aan albei hierdie twee gevalle sondaars het die Here die reinheid van Sy karakter by Sinai geopenbaar; aan albei is Sy besondere liefde en sorg vir gevalle sondaars geopenbaar. En dis nog steeds wat Hy vir jou en my wil doen – ʼn openbaring van Sy liefdevolle karakter.

DIE BERG TABOR

Ek het ook ʼn ander berg besoek, die berg van verheerliking. Terwyl ek hier was het dieselfde twee mense in my gedagtes opgekom, Moses en Elia. Kom ons lees wat Lukas hieroor skryf:

Lukas 9:28-31 Omtrent agt dae nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het Hy vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om te gaan bid.

Waaroor dink jy het Jesus op hierdie stadium gaan bid? Hy het vir krag gaan bid om op Golgota die sondes van die wêreld op Homself te neem. Jesus was in ʼn verskriklike stryd gewikkel. Terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitter wit. Skielik was daar twee manne wat met Hom praat. Dit was Moses en Elia. Hulle het in hemelse glans verskyn en met Hom gepraat oor sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi. Die uittog waarvan ons in hierdie teks lees, verwys na die kruisdood wat Jesus in Jerusalem sou sterf. Dit was ʼn uittog uit Sy reinheid in my onreinheid in.
ʼn Uittog uit Sy onskuld in my skuld in. Dit was ʼn uittog uit Sy ewige gelukkige lewe in die dood van ewige verlorenheid in wat ek verdien het.

Terwyl ek by die berg Tabor in die Jisreël-vlakte gestaan het, het ek aan die onbeskryflike genadige wyse gedink waarop die Here sondaars behandel en later selfs weer in diens neem. Hy het nie vir Elia en Moses afgeskryf omdat hulle geval het nie. Nee. Hy het hulle tederlik ondersteun toe hulle onder was. Hy het hulle gehelp om weer op te staan en in Sy beeld te groei.

Toe Jesus in ʼn diepe worsteling oor Sy komende kruisdood verkeer het, het God die Vader vir Moses en Elia gekies om Sy Seun te kom bemoedig. Hoekom?

Hulle kon hul met Hom vereenselwig in Sy ontsettende wroeging, want hulle het menslike seer en lyding geken. Die hervormingswerk wat Elia gedoen het, het in ʼn sekere mate die werk van Jesus voorgestel. So ook Moses, wat Israel uit slawerny gelei het. Hy stel Jesus voor wat sondaars uit die Egipte van sonde verlos.

Dis die wonderbaarlike God wat ek en jy dien. Hy neem gevalle mense en laat hulle toe om die werk van Jesus, Sy Seun, te doen. Sê die duiwel vir jou dat jy ʼn bietjie te diep in sonde geval het? Sê hy vir jou dat jou lewe van bruikbaarheid in die diens van die Here vir ewig verby is? As hy jou met hierdie soort leuenagtige insinuasies versoek, sê net vir hom:

“Satan. Daar staan geskrywe: Moses en Elia het ʼn tweede kans gekry en ʼn magtige werk vir die Here gedoen.”

WAT MAAK JY HIER

In my verbeelding kan ek sien hoe Elia na die majestueuse berg opkyk. Hy moes onwillekeurig aan Moses gedink het wat die tien gebooie hier uit die hand van die Here ontvang het. Terwyl Elia na een van die diep klowe in die berg kyk, dink hy heel waarskynlik aan die woorde wat die Here tot Moses gespreek het:

Exodus 34:5-7 Die Here het in ʼn wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep. Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde…”

Elia besef dis hier waar die Here vir Sy volk die tien gebooie gegee het. Baie gedagtes maal deur sy kop maar hy het nog nie rus vir sy siel nie. Hy spook nog steeds met daardie ellendige Isebel en pak al die skuld vir sy mislukking op haar en die Here. Stadig klim hy teen die berg Sinai uit. Sommige Bybelkenners glo dat hy in dieselfde grot of rotsskeur gaan skuiling soek het vanwaar Moses die heerlikheid van God gesien het.

Kom ons lees die beskrywing van Moses se berg-ondervinding:

Eksodus 33:21-23 Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ʼn plek waar jy op die rots kan staan. As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ʼn rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Elia stap in die grot in en soek vir hom ʼn lêplekkie vir die aand. Voor hy gaan slaap, kyk hy na die pastelkleure wat die ondergaande son oor die rotse van die Sinaiberg skilder.

1 Konings 19:9 Hy het in ʼn grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

‘N KONFRONTASIE MET DIE LIEFDEVOLLE HEMELSE VADER WAT NA SONDAARS SOEK, IS ONVERMYDELIK

Terwyl ek die tradisionele grot op die berg Sinai besoek het, het die volgende gedagte by my opgekom: Die Here soek onverpoosd en liefdevol na moedelose mense wat iewers in die cul-de-sac van ʼn donker grot van rigtingloosheid beland het. As jy op hierdie oomblik by die cul-de-sac van ʼn verbrokkelde verhouding met jouself of met die Here, of met iemand anders gekom het, en in ʼn donker grot van moedeloosheid sit, moet jy baie mooi na die Here se stem luister wat vra: Wat maak jy hier, Elia?

Miskien het die nimmereindigende beproewings, die onverwagte teleurstellings, die aanhoudende versoekings net ʼn bietjies te veel geword vir jou. Miskien sit jy vandag in die donker grot van geestesontvlugting, die grot van skuldgevoelens, die grot van moedeloosheid. Ek het goeie nuus vir jou. Die Here het jou nie verwerp nie en Hy het ook nie van jou vergeet nie. Dit maak nie saak in watter donker grot van ellende jy op hierdie oomblik sit nie. Luister na Sy stem:

Wat maak jy hier, Elia?

OM ‘N GODDELIKE OPDRAG UIT TE VOER, IS VEEL MAKLIKER AS OM DIT TE PROBEER ONTWYK

Ons moes nie gedoen het wat ons gedoen het nie, maar ongelukkig het ons. Eers wanneer ʼn mens terugkyk op jou lewe, besef jy een ding: Al lyk dit hoe moeilik om jou plig na te kom, is dit nog steeds die maklikste iets om te doen.

Toe die Here vir Elia na die spruit Krit gestuur het, was dit nie so maklik nie. Maar Elia het gemoedsrus gehad omdat hy sy goddelike plig uitgevoer het. Dit was nie vir Elia maklik om vir ʼn lang tyd in die oë van ʼn weduwee te kyk vir ʼn stukkie kos nie. Maar in die uitvoering van sy taak het Elia gemoedsrus gehad, want hy het gedoen wat die Here vir hom gesê het om te doen. Dit het baie moed geverg om die koning, die volk en die Baälpriesters manalleen op Karmel te konfronteer. Maar Elia het dit reggekry omdat die Here hom die opdrag gegee het. Hy het gemoedsrus gehad. Maar toe Elia van sy plig en van die Here af weggehardloop het, het sy groot swaarkry begin. Sy gemoedsrus het verdwyn.

Kom ons luister na Elia se verskoning toe die Here vir hom vra: “Wat maak jy hier?”

1 Konings 19:10 Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

“Dis waar ek op die oomblik is”, sê hy vir die Here. “Op moedverloor se vlakte.” Wat sou jy vir die Here gesê het as Hy vir jou op hierdie oomblik vra: “Waar is jy?” Terloops, presies waar is jy in jou geestelike ondervinding?

Behalwe vir die situasie van moedeloosheid waarin Elia hom bevind het, was hy ook in ʼn toestand van verbittering. As mens mooi na Elia se verduideliking luister, klink dit so half-en-half of hy die Here verkwalik dat Hy nie beter na sy boodskapper gekyk het nie. En hoe reageer jy wanneer iemand met ʼn verwytende stemtoon met jou praat?

Hoe reageer die Here wanneer iemand, ʼn sondaar daarby, in ʼn verwytende stemtoon met Hom praat?
1 Konings 19:11,12 Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”

VISIE VAN GOD SE KRAG EN ELIA SE SWAKHEID

Daar was twee baie belangrike lesse wat Elia moes leer: Aan die een kant moes hy leer hoe verskriklik broos en swak en sondig hy was; en aan die anderkant, hoe ontsettend goed en vergewensgesind die Here was. Elia moes opnuut sy geestelike bankrotskap besef sodat hy opnuut God se oorvloedige vergifnis, onbeskryflike genade en oneindige sondaarsliefde beter kon begryp.

Hoe sou die Here te werk gaan om hierdie twee gewaarwordings by Elia tuis te bring? Hoe doen Hy dit met ons?

DIE STERK WIND

Die Here roep Elia om in die opening van die grot te kom staan.

1 Konings 19:11 …Skielik was daar ʼn baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie…

Die verskriklike wind druk die bergbossie en gras plat teen die grond. Reuse rotse word uit die berg geruk en rol met ʼn donderende gedreun na die voet van die berg Sinai. Elia probeer die teenwoordigheid van die Here waarneem, maar sonder sukses. Dis hoe onstuimig dit in sy eie gemoed was.

1 Konings 19:11 …Na die wind was daar ʼn aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie.

Elia voel hoe die aarde onder hom skud. Maar hy merk die Here nie daarin nie. En dis ook buitendien moeilik om die stem van die Here te hoor wanneer daar ʼn vreeslike geraas is.

1 Konings 19:12 Na die aardbewing was daar ʼn vuur. Maar in die vuur was die Here nie…”

Elia kan nie die Here in hierdie vreeslike stormagtige vuurverskynsel sien wat alles verteer nie. Want die vuur wat hy buite homself waarneem, is ook die vuur van onrus wat sy vrede verteer.

1 Konings 19:12 …En na die vuur was daar ʼn fluistering in die windstilte. En toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ʼn stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

Na die oorverdowende, oogverblindende natuur-manifestasies is daar skielik ʼn hemelse kalmte. En in daardie stilte ervaar Elia vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd die kalmte van die Here se teenwoordigheid. Die hoogs gespanne, intense, gebroke, ongeduldige Elia knak in die stil teenwoordigheid van die Here. Hy verberg sy gesig in sy mantel en begin snik. Terwyl sy hele liggaam ruk, raak Elia ontslae van sy opgekropte emosies van pyn, frustrasies en aggressie wat hom vir so lank van die Here geskei het. Op daardie oomblik het God Sy arms om sy moedverlore dienskneg geslaan, sy sonde vergewe, sy gemoed met vrede gevul, en hom weer ʼn nuwe kans gegee.

Die Elia-boodskap leer dat eindtyd-Elias ook moed kan verloor en weghardloop. Maar die Elia-boodskap leer ook dat die God van Elia nie Sy kinders aan die lot van die duiwel en die lot van hulle onstuimige emosies sal uitlewer nie. In die stilte van die oomblik kom Hy weer vandag na elke moedverlore Elia om vir ons te sê: “Waar is jy?”

“Al het jy geval, al het jy moedeloos geword, al het jy van My af weggehardloop, Ek gee nog net so baie vir jou om. Ek het ʼn werk vir jou. Ek wil jou gebruik.”

 

Was this article helpful?

Related Articles