1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Elia
  4. Elia Die Tisbiet (Deel 2) – Toe Die Spruit Krit Opgedroog Het

Elia Die Tisbiet (Deel 2) – Toe Die Spruit Krit Opgedroog Het

TOE DIE SPRUIT KRIT OPGEDROOG HET

Skriftuur: 1 Konings 17:14
Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee.

Elia is ‘n tipe van die eindtyd-Elia wat gaan leef wanneer Jesus op die wolke gaan verskyn.

En as dit ons begeerte is om vir Jesus se wederkoms gereed te maak, is dit lewensbelangrik dat ons ‘n deeglike studie van hierdie godsman se lewe maak.

 Watter soort lewenstyl het hy gehandhaaf?
 Wat was sy groot passie?
 Wat was die resultaat van sy prediking?

Dit is baie belangrike vrae waarvoor ons antwoorde moet gaan soek. Maar dis ook baie belangrik om vas te stel wat die geestestoestand van die mense van sy tyd was. Hoe het die feit dat hulle beide vir Baäl, onder Isebel se invloed, en die Here aanbid het, hulle geestelike lewe beïnvloed? Dit was vernietigend. Mens kan die Here nie met ‘n verdeelde hart dien nie. Die duiwel is dan altyd die wenner.

DIE AGTERUITGANG VAN DIE LAND

Kom ons lees hoe Agab en Isebel gereageer het toe hulle land by die dag agteruitgegaan het? Ons kry die antwoord in ‘n gesprek wat baie later tussen Elia en Obadja, die paleisopsigter, plaasgevind het.

1 Konings 18:10 “So seker as die Here u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar die koning u nie probeer opspoor het nie. As hulle sê “Elia is nie hier nie,” het die koning die koninkryk of die nasie met ‘n eed laat bevestig dat hulle u nie kon kry nie.”

Agab en sy vrou Isebel, het die fout vir die ellende van die land by Elia gesoek. Hulle het geglo dat as hulle hom in die hande kon kry en doodmaak, die land weer voorspoed sou geniet. Dink jy hierdie fenomeen gaan hom weer herhaal? Beslis. Dit is presies wat in die laaste dae gaan gebeur. Die afvallige kerk gaan die Eliaboodskappers vir die rampe blameer wat die aarde gaan tref.
Net soos daar ‘n doodsdekreet teen Elia uitgevaardig was, so sal daar weer ‘n doodsdekreet teen die eindtydkerk uitgevaardig word. (Lees Openbaring 13:15).

DIE HEILIGE GEES PLEIT

Terwyl ons nader kennis maak met die goddelose koning Agab, gaan ons dieper insigte in die Here se onbeskryflike lankmoedigheid en liefde teenoor sondaars ontdek. Hy wou Agab destyds red; so ook die eindtyd-Agabs. Dis moontlik dat Salomo se gebed kort-kort in Agab se gedagtes gemaal het:

Het Obadja dit aan hom genoem?

2 Kronieke 7:13,14 As ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie…en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.

Wat Israel destyds dringend nodig gehad het, was reën. Nie net fisiese reën nie, maar ook geestelike reën. Die Here het verlang om dit aan hulle te skenk. Maar daar was ‘n voorwaarde. Die seëninge sou kom as hulle met sonde breek en die Here gehoorsaam. Soos Elia destyds mense opgeroep het om met sonde te breek sodat God hulle en hulle land deur reën kon herstel, so roep die Elia-boodskap mense nog steeds om met sonde te breek sodat Jesus hulle kan herstel. Kom ons luister en leef.

BROOD EN WATER SAL GEWIS WEES

So van sonde gepraat: Daar is sekere woorde wat ons dikwels hoor en self gebruik:

 Wat gaan gebeur as ek met hom oor hierdie verkeerde ding in sy lewe praat?
 Sal hy nie vir ewig vir my kwaad wees nie?
 Sal dit hom nie miskien vir altyd van godsdiens afsit nie?

Wanneer ek en jy die Elia-boodskap verkondig, sal die Here self verantwoordelikheid vir die gevolge neem. Elia het geen idee gehad wat met hom sou gebeur nadat hy met Agab oor sy sondes gepraat het nie. Elia het gedoen wat reg was en die konsekwensies aan die Here oorgelaat.

Kom ons lees hoe die Here vir hom onderneem het:

1 Konings 17:2-4 Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: “Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan. Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”

In Israel is daar ‘n plek met die naam van Wadi Kelt. Sommige geleerdes glo dis die plek waar Elia gaan skuil het. Daar is ‘n stroompie water wat onder in hierdie diep kloof vloei. Dis ook interessant om die voëls te sien wat grasieus hier sweef. Elke keer wanneer ek hier kom en na die klooster van St. Georges kyk wat onder in die wadi gebou is, dink ek aan Elia.

GEHOORSAAM

Kom ons lees wat hy gedoen het toe die Here vir hom gesê het om na die spruit Krit te vlug.

I Konings 17:5-7 Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan. Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

TWEE ETES PER DAG

Dit lyk vir my dit is beter om twee keer per dag te eet, in plaas van drie keer. Elke oggend en elke aand het die kraaie vir Elia kos gebring. Die Here het nie toegelaat dat Sy boodskapper van honger en dors omkom nie.

DIE WAGPERIODE

Wat sou jy sê het Elia in hierdie lang wagperiode gedoen? Elia het ernstig gebid dat Israel afstand sou doen van afgodery en trou aan God sou sweer. Die profeet het biddend gewag terwyl die hand van God swaar op die geteisterde land gerus het. Terwyl hy die toenemende lyding oral om hom sien, het ‘n ontsettende hartseer hom beetgepak. Hy het naarstiglik na krag verlang om blitsvinnig ‘n hervorming teweeg te bring.

Voel jy soms soos Elia? Jy sien hoe sonde iemand se lewe verwoes. Jy sien hoe daardie dierbare van jou dieper en dieper in ellende verval. Jy wil hê die Here moet nou dadelik iets omtrent die saak doen.

Die man sê vir my: “Leraar my tienerdogter gaan met die verkeerde maats uit. Stop haar dadelik.” Die vrou sê vir my: “Leraar my man het begin drink. Sê vir hy hom hy sal hel toe gaan as hy nie dadelike ophou nie.”

ELIA WAS HAASTIG

Net soos ek en jy wou Elia ook dadelik ‘n hervorming en ‘n verandering by die volk sien. Maar die Here was besig om Sy plan uit te werk en al wat Sy dienskneg kon doen was om in geloof te bid en vir die regte oomblik van daadwerklike optrede te wag. Daar is niks wat ek en jy kan doen om God se hervormingswerk in die lewens van mense te bespoedig nie. Dit neem ‘n baie lang tyd vir iemand om van die Here af weg te dwaal, en somtyds neem dit ook ‘n lang tyd om weer by die Here uit te kom. Die Here het tyd nodig om soms deur moeilike omstandighede sekere waarhede by mense tuis te bring. Hy werk nie vinniger as wat ons kan groei nie. Tannie Groenewald het 26 jaar vir die oom gebid. En net toe sy wou opgee, het die oom sy hart aan die Here gegee.

TYD VAN BENOUDHEID

Terwyl jy die lewe van Elia bestudeer, moet jy altyd na ooreenkomste tussen hom en die eindtyd-Elias soek. Nadat Elia sy boodskap aan koning Agab gebring het, moes hy vir sy eie lewe vlug. Die Here het vir hom presies gesê waarheen om te vlug. Binnekort sal die Here se getroue boodskappers ook vir hulle lewe moet vlug. Wanneer ons die boodskap in al sy volheid gegee het, sal ons na onherbergsame plekke toe moet vlug. Sal die Here vir ons in daardie tyd van benoudheid sorg soos wat Hy vir Elia gesorg het? Baie beslis. Kom ons lees die belofte:

Jesaja 33:15,16 Net die mens wat reg bly doen en opreg is in wat hy sê, wat weier om wins te maak deur mense uit te buit, wat omkoopgeld weier, nie na moordplanne luister nie en nie geleentheid soek om misdade te pleeg nie. So ‘n mens sal sy woonplek in die hoë berge hê, sy skuilplek sal ‘n rotsvesting wees. Kos sal hy kry en sy drinkwater sal nie opraak nie.

Wat ‘n heerlike vooruitsig. Wanneer die goddeloses tydens die sewe laaste plae van dors omkom, sorg die Here dat Sy getroue kinders water het om te drink. Soos die historiese Elia lewend hemel toe is, so sal die eindtyd Elias, die 144 000, ook lewend hemel toe gaan. Anderkant die swaarkry lyk dit baie goed:

Openbaring 7:16,17 Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ‘n hittegloed ook nie, want die Lam wat in die middel van die troon sit, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.

DIE SPRUIT DROOG OP

Op ‘n dag het Elia gesien dat die water in die spruitjie besig is om op te droog.

1 Konings 17:7 Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.

Elia sien hoe die watervlak van die spruit Krit sak. Die Here het hom nie dadelik uit sy benoudheid verlos nie. Die spruit het eers heeltemal opgedroog voordat die Here gewys het wat hy volgende moes doen. Miskien het Elia gebid: “Ag Here, U het vir my ‘n boodskap gegee om vir Agab te neem. Ek het dit gedoen. Daarna het u my na hierdie spruitjie gelei. Nou het hy heeltemal opgedroog. Wat nou? Ek kan nie nou van honger en dors omkom nie want my werk is nog nie afgehandel nie.” Het jou spruit, jou verkwikking opgedroog? Het daar ‘n stroompie geluk of vreugde of sekuriteit in jou lewe opgedroog? Voel jy desperaat, radeloos of benoud?

Ek het goeie nuus. Die Here wat vir Elia uit sy groot benoudheid verlos het, is nog steeds dieselfde. Wat Hy vir Elia gedoen het, wil Hy ook vir jou en my doen.

1 Konings 17:8 Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

Vir jou en my is daar ook ‘n Sarfat van uitkoms.

DIE WEDUWEE

Terwyl ek op ‘n keer ‘n waatlemoen in hierdie einste Sarfat in Libanon gekoop het, het ek aan Elia se ondervinding met die weduwee gedink. Op die mark waar die vrugte netjies opgepak was, het daar ‘n klompie vrouens gestaan. Die moontlikheid dat een van hulle ‘n weduwee of ‘n geskeide vrou is, was baie sterk. Die status van ‘n weduwee wat destyds in Sarfat gewoon het, is nie heeltemal dieselfde as die status van hedendaagse weduwees nie.

DIE HEIDENWêRELD

As jy ‘n Israelitiese weduwee geword het, was dit nie baie goeie nuus nie. Maar gelukkig was daar sekere wette wat na die welsyn van hierdie ongelukkige dames omgesien het. Maar in Fenisië waar hierdie arme vrou gewoon het, was weduweeskap iets om te vrees. Daar was net ‘n paar opsies om van te kies:

 Terugkeer na jou eie familie indien hulle nog gelewe het en dit fisies moontlik was.

 Na jou skoonfamilie toe gaan in ‘n ondergeskikte posisie aanvaar. Dit was nie so maklik nie.

 Hertrou. Maar baie van die antieke beskawings het die wenkbroue gelig oor enige hertroue. Dis nie al nie, as jy sou hertrou, het jy nie alleen jou gewone regte verloor nie, jy het ook jou aanbiddingsvoorregte in die tempel verloor.

Toe keiser Augustus op ‘n keer, met die oog op ‘n vinniger bevolkingsaanwas, aanbeveel het dat weduwees moes hertrou, was daar geweldige kritiek. Dit was voorbladnuus.

Antieke weduwees is verskriklik gestigmatiseer, en die man wat haar destyds as vrou gevat het, moes vir haar baie lief gewees het en moes baie moed gehad het.

 Baie weduwees moes noodgedwonge, soos die een in ons verhaal, ‘n sukkelbestaan op hulle eie voer. Dit was iets vreesliks.

 Die laaste opsie was die dood, wat in sommige gevalle verkieslik was.

BETEKENIS VAN WEDUWEE

Wanneer jy die woord “weduwee” in die grondteks raadpleeg, maak jy ‘n baie interessante ontdekking. Dit beteken “verstote”. Die weduwee van Sarfat was ‘n verstote mens. Sy is ook tipies van baie enkellopende dames vandag. En volgens sommige leksikograwe kan ‘n weduwee enige vrou wees wat sonder ‘n man leef. Die Elia-boodskap reik na die enkellopende dame uit. Dit mag wees dat die weduwee in ons verhaal, ‘n verstote, geskeide vrou was. Dit klink baie waarskynlik. Kom ons lees ‘n bietjie meer aangaande haar. Dit is tipologie; die kerk en Jesus.

1 Konings 17:8-10 Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ‘n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ‘n bekertjie water om te drink.”

Ek wonder wat Elia gedink het toe hy hierdie spesifieke weduwee sien. Snaaks, die Here het gesê dat sy vir hom sou sorg, maar sy lyk vir hom ‘n bietjie arm. Sy tel houtjies op om ‘n vuur te maak sodat sy haar kos kan gaarmaak. Hy wonder waar sy woon. Dit lyk nie vir hom of haar huis ‘n see-uitsig kan hê nie. Het sy regtig die vermoë om vir hom te sorg? Elia se maag gee so ‘n draai van honger. Hy het nie net water nodig nie. Dis lanklaas dat die kraaie vir hom kos gebring het. Hy gaan maar sommer vir hierdie arm kraai van ‘n weduwee vra om ook vir hom kos te bring. Hy kan nie nog wag dat sy nog eers moet gaan kook nie.

1 Konings 17:11 Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ‘n stukkie brood saam.”

Elia wag om te sien hoe die Here vir hom deur middel van hierdie weduwee gaan onderneem. Dit mag wees dat sy al vroeër ‘n openbaring ontvang het dat Elia die profeet na haar sou kom en dat sy ‘n lekker bord kos vir hom gebêre het.

Op ‘n keer het mense in Bloemfontein ons uitgenooi om by hulle te kom eet. Ek weet nie of hulle van die uitnodiging vergeet het nie, maar toe ons daar aankom, het ons net gehoor hoe die messe en vurke op die borde raas soos hulle die laaste bietjie kos eet. Dit was ‘n vreemde gevoel; jy kom met ‘n hongermaag en daar is niks. Ons is honger terug huis toe. Verwagting stel dikwels teleur.

Kom ons hoor wat die weduwee vir Elia geantwoord het toe hy vir haar ‘n stukkie brood gevra het. Ek is seker Elia het ‘n ander antwoord verwag as die een wat hy gekry het.

1 Konings 17:12 Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ‘n handvol meel in die kruik en ‘n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ‘n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

‘n GELOWIGE

Op die een of ander manier het hierdie vrou die waarheid omtrent die God van Israel gehoor. Sy het van daardie dag af getrag om in al die lig te wandel wat sy ontvang het. Maar dit het nie baie goed gegaan nie. Die voortslepende droogte het sy tol begin eis. Die bietjie spaargeld wat sy gehad het, het sy alles opgebruik. Een oggend roep die weduwee haar seuntjie. “Hajjar, my kind. Mamma wil met jou praat. Daardie ou groot kruik waarin mamma haar meel bêre, is amper leeg. Ons gaan vanaand ons laaste broodjie eet. My skat, in die erdekan wat ons by ouma geërf het, is daar nog net so ‘n klein bietjie olyfolie oor. As dit op is, is al ons kos op. Wat dan met ons gaan gebeur, weet ek nie.” Sy vee haar trane met haar voorskoot af.

“Mamma aanbid die God van die Hebreërs. Ek het vir Hom gevra om ons te help. As Hy besluit om weer vir ons kos te gee, sal ek baie dankbaar wees. Maar as dit anders uitwerk, moet jy onthou, mamma is baie lief vir jou.” Klein Hajjar slaan sy arms om sy mamma se nek. “Mamma moenie huil nie. Jahwe sal vir ons sorg.”

Dieselfde middag kom die profeet van die God van Israel en vra haar om die laaste bietjie meel te neem en vir hom ‘n roosterkoek te maak. Sy dink by haarself: “Dink jy regtig ek sal my kind se laaste bietjie kos vir jou gee?” Maar terwyl sy na Elia kyk, besef sy dis ‘n man van God. Kom ons lees hoe haar geloof in die Here tot die uiterste beproef word:

1 Konings 17:13,14 Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ‘n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën op die land.”

As jou karige voorraad meel en olie deur die Elia-boodskap aangevra word, gee dit gerus. In plaas daarvan dat jou skenking tot hongersnood lei, sal dit in oorvloed verander.

In die volgende hoofstuk gaan ons meer ontdek wat alles gebeur wanneer ‘n mens aan die Elia-boodskap gehoorsaam is.

 

Was this article helpful?

Related Articles