1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Elia
  4. Elia Die Tisbiet (Deel 3) – Die Meel Wat Nie Opgeraak Het Nie

Elia Die Tisbiet (Deel 3) – Die Meel Wat Nie Opgeraak Het Nie

DIE MEEL WAT NIE OPGERAAK HET NIE EN DIE OLIE WAT NIE MINDER GEWORD HET NIE

Skriftuur: 1 Konings 17:14-24
14) Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee.
15) En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet—sy en hy en haar gesin dae lank:
16) die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.
17) Ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek geword; en sy siekte was baie ernstig, totdat daar geen asem meer in hom oorgebly het nie.
18) Toe sê sy vir Elía: Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring en my seun dood te maak!
19) Maar hy antwoord haar: Gee jou seun vir my. En hy het hom van haar skoot af geneem en hom opgedra na die bo-kamer waar hy self gewoon het, en hom op sy bed neergelê;
20) en hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U selfs oor die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, ʼn onheil gebring deur haar seun te laat sterwe?
21) Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, laat die siel van hierdie kind tog in hom terugkeer.
22) En die HERE het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het.
23) Daarop neem Elía die kind en bring hom af uit die bo-kamer in die huis en gee hom aan sy moeder; en Elía sê: Kyk, jou seun lewe!
24) En die vrou sê vir Elía: Nou weet ek dit dat u ʼn man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.

Die weduwee het die oggend met ʼn baie swaar gemoed wakker geword en opgestaan. Vandag sou sy die laaste bietjie meel en olie neem om vir oulaas vir haar en haar seuntjie Hajjar ʼn broodjie te bak. ʼn Mens wonder wat daardie besondere dag alles deur haar brein geflits het. Menslik gesproke het sy en haar kind in die grynslag van ʼn hongerdood gekyk.

Die middag kom daar ʼn dorstige, moeë Hebreër by Sarfat aan wat vir haar ʼn bietjie water vra. Water het sy om vir hom te gee, hy moet net nie vir haar kos vra nie. Hoe graag sy hierdie vreemdelinge ook al wil help, sy het net nie vir hom kos nie.

Maar toe gebeur dit wat sy gevrees het. Terwyl sy na die groot kruik water in haar eenvoudige kombuisie stap, roep hy agterna en vra dat sy vir hom sommer ook ʼn stukkie brood moet bring. ʼn Benoude gevoel pak haar beet. Moet sy vir hierdie man vertel dat ʼn hongerdood haar en haar kind in die gesig staar? Of moet sy net stilbly en hom ignoreer? Gelukkig het sy met hom gepraat. Dit is baie belangrik dat ons met mekaar en met ander mense moet praat. Hoe sal ons mekaar se behoeftes kan bepaal as ons nie met mekaar gesels nie? Gesonde kommunikasie is die olie wat die lewensmasjinerie glad laat loop.

Luister na die antwoord wat sy die vreemdeling gee:

1 Konings 17:12 Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ʼn handvol meel in die kruik en ʼn bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ʼn paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

Hierdie vrou was absoluut desperaat. Sy sou graag wil help, maar as sy dit doen, verhaas sy net haar en haar seuntjie se hongerdood. ʼn Mens wonder waarom sy vir die vreemdeling van haar nood vertel het. Miskien was dit die Heilige Gees wat haar aangemoedig het.

Kom ons lees die gerusstellende antwoord wat Elia vir haar gegee het:
1 Konings 17:13 Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ʼn roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg.”

MOENIE BEKOMMERD WEES NIE

Pragtige woorde. Moenie bekommerd wees nie. Dis die Elia-boodskap. Ons God is groter as ons verleentheid.

As jy nie weet hoe om jou huidige krisis te hanteer nie, kom die Elia- boodskap ook vandag na jou toe soos wat dit destyds na die weduwee van Sarfat gekom het.

Moenie bekommerd wees nie!

Kom ons kyk na die redes wat Elia gegee het waarom die weduwee nie bekommerd hoef te wees nie:

1 Konings 17:14 “So sê die Here die God van Israel: die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën op die land.”

DIE TOETS

Daar kon nie ʼn groter toets na hierdie vrou toe gekom het nie. Vandat sy haar man verloor het, of deur die dood of deur egskeiding, het sy al haar liefde en sorg op haar seuntjie Hajjar uitgestort.

Sy sou liewer sterf as om te sien dat haar kindjie moet ly. En hier kom ʼn Hebreër, ʼn ware man van God, as sy hom reg opsom, en hy vra haar om die laaste bietjie meel te neem en vir hom ʼn roosterkoek te maak. Sy sou dit graag wou doen, maar as sy dit doen, sou daar niks vir haar en haar kind oor wees om te eet nie. Dit beteken ʼn hongerdood – dis nou menslik gesproke.

Maar Elia het vir haar die versekering gee dat as sy vir hom sou kos maak, die meel in die kruik nie sal opraak nie en die olie in die kan nie minder sal word nie. In haar hart woed daar ʼn groot stryd: Of sy bevredig eers haar eie behoeftes en leef ʼn klein bietjie langer; of sy voorsien in Elia se behoeftes en vertrou op sy woord dat sy en haar kind elke dag kos sal hê om te eet.

SOEK EERS DIE KONINKRYK VAN GOD EN SY GEREGTIGHEID

Die toets wat destyds tot die weduwee van Sarfat gekom het, kom nog steeds tot jou en my.

Die Elia-boodskap van vandag kom na jou en my met sy behoeftes.

Dit verg my tyd, my talente en my middele. Die Elia-boodskap gaan somtyds so vêr dat hy selfs die laaste bietjie opeis wat ek besit. Dit is die groot toets van die uur. Gaan ek alles gee wat ek het, of gaan ek om persoonlike redes alles terughou wat ek het?

Niks wat die moeite werd is, geskied sonder pynlike persoonlike opoffering nie.

Die Elia-boodskap word in Openbaring 14 die Drie-Engeleboodskap genoem. Luister hoe klink die klanke van dit wat die eindtyd-Elias gaan verkondig:

Openbaring 14:7 En hy het met ʼn harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer…”

Terwyl ek Sarfat besoek het, het ek aan die optrede van hierdie weduwee gedink. Haar lewe daag my uit om alles te gee wat die Elia-boodskap van my vra.

Haar optrede daag my uit om nie my heerlikheid te soek nie, maar die heerlikheid van die God van Elia.

Jare gelede toe ek my huweliksberadingskursus by Famsa gedoen het, het ʼn paneel sielkundiges die volgende vraag aan my gestel:

Jy is op pad om ʼn baie belangrike afspraak na te kom. Jou oë val op iemand wat langs die pad lê. Indien jy die persoon help, gaan jy laat wees vir jou afspraak en dit kan tot geweldige groot persoonlike verlies ly.

Hulle wou by my weet wat ek sou doen. Wat sou jy doen?

Jesus help ons om ʼn keuse uit te oefen. Kom ons lees wat Hy sê:

Matteus 6:31-33 Julle moet julle dus nie bekommer en vra: “Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

DIE WONDERWERK

Die weduwee van Sarfat het ʼn besluit geneem. Sy gaan in geloof haar laaste bietjie meel en olie neem en vir die profeet Elia ʼn roosterkoek bak.

Sy is oortuig dat dit is wat die Here van haar verwag en sy wil gehoorsaam wees.

“Hajjir,” roep sy. “Kom pak vir mamma die houtjies en help my om gou ʼn vuurtjie aan te slaan. Ons gaan vir oom Elia ʼn roosterkoekie bak.”

Hajjir kyk hoe sy ma die laaste bietjie meel en die laaste bietjie olie gebruik om ʼn roosterkoek te bak. Sy sit die leë houers eenkant en die geur van vars brood trek in die neusgate van drie honger mense op. Toe die roosterkoek gaar is, neem sy dit vir Elia. Hy bedank haar en begin praat:

“Gaan kyk hoeveel meel daar in die kruik en hoeveel olie daar in die erdekan is.”

Tot hulle verbasing ontdek hulle dat daar meer meel en meer olie is as wat hulle so pas gebruik het. Genoeg vir drie mense.

1 Konings 17:15,16 Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.

Wat ʼn pragtige verhaal! Wat ʼn pragtige les! As die weduwee van Sarfat gehou het wat sy gehad het, sou sy alles verloor het. Maar omdat sy gegee het wat sy gehad het, het sy alles behou.

Wat ons vir onsself hou, verloor ons; wat ons vir die behoeftes van die Elia-boodskap gee, behou ons. Elke liewe dag het hulle die meel in die kruik en die olie in die erdekan leeg gemaak. En elke keer het dit weer vol geraak. Sy het so min gegee en so baie ontvang.

Handelinge 20:35 …Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ʼn mens gelukkiger as om te ontvang.

Die Elia-boodskap daag ons uit om in ander mense se behoeftes te voorsien.

DIE DOOD VAN DIE SEUNTJIE

Op ʼn dag het klein Hajjir gekla dat sy kop verskriklik seer is. Sy ma het hom bed toe gestuur en gesê hy moet gaan stil lê. Die volgende dag het dit nog erger gegaan. Hy het ʼn vreeslike hoë koors ontwikkel. Die arme weduwee was verskriklik bekommerd. Hajjir se voorkop was vuurwarm van die koors. Hy wou nie eers van die wonderbrood eet nie.

1 Konings 17:17 In die tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het.

Dag en nag sit sy by daardie ou siek liggaampie en waak. Sy het al die medisyne gebruik wat die mense in Sarfat vir haar voorgeskryf het. Niks het gehelp nie. Inteendeel, klein Hajjir het net sieker geword. Nou kyk sy na die bleek gesiggie van haar dierbare kindjie. Sy asempie word al hoe vlakker. Eers het sy haar man verloor en nou is haar kind besig om te sterf. Toe die ou seuntjie uiteindelik sy laaste asempie uitblaas, het sy histeries geraak.

Kom ons lees wat sy alles vir Elia gesê het:

1 Konings 17:18 Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”

Hier leer ek ʼn groot les. Moenie met iemand in ʼn gesprek tree wat jou valslik beskuldig nie. Moenie die persoon op daardie oomblik teregwys of jouself verdedig nie. Wag so ʼn bietjie. Elia-boodskappers gedra hulle waardig en bly stil wanneer hulle valslik beskuldig word.

Die weduwee van Sarfat sit met klein Hajjir se lewelose liggaampie op haar skoot. Terwyl sy onbeheersd huil, hang haar seuntjie se armpies slap na onder. Op sy gesiggie sien mens daardie aardige wit kleur van die dood. Elia voel saam met die mamma die pyn want hy het ook vir klein Hajjir lief geword.

1 Konings 17:19,20 Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bo-kamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, ʼn ramp bring deur haar kind te laat sterf?”

Met oë vol trane stap Elia met die dooie liggaampie na die bokamer toe. Hy onthou nog Hajjir se stralende gesiggie daardie eerste dag toe hy vir sy ma vertel het dat die meel terug is in die kruik en die olie terug is in die erdekan, nadat sy vir Elia kos gemaak het.

1 Konings 17: 21 Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”

Nadat hy die lykie op die bed neergesit het, kniel hy langs die bed. Hy neem dan die ou seuntjie in sy arms en begin ernstig bid:

“Ag Here, hierdie arme vrou het nie ʼn man nie. Sy leef net vir haar ou seuntjie. Hoor net hoe snik sy daar onder. Ek bid dat U hier waar Baäl aanbid word, U krag sal openbaar en die kind sal lewendig maak. Amen”.

Elia los die lykie om te kyk of daar lewe is. Ongelukkig lê Hajjir nog net so leweloos. Elia omhels die kindjie ʼn tweede maal. “Here, U is magtig om hierdie kind lewendig te maak. Ek glo dit met my hele hart want U het nog elke dag ʼn wonderwerk met die meel en olie laat geskied. Ek bid dit nie omdat ek of sy ma enigiets verdien nie. Ek vra dat U hom uit U groot genade sal opwek. Amen.”

Elia los die lykie om te kyk of daar lewe is. Hajjir lê nog net so leweloos. Die ou liggaampie begin koud word.

DIE EERSTE OPSTANDING UIT DIE DODE

Elia omhels die lykie vir ʼn derde maal. Die eerste wonderwerk waar iemand uit die dode opgewek gaan word, gaan binne minute plaasvind.
In my geestesoog kan ek sien hoe Elia klein Hajjir vashou en bid.

1 Konings 17:21 “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”

En toe gebeur dit. Hy hoor hoe die seuntjie begin asem haal. Elia staan terug en kyk hoe Hajjir sy oë oopmaak. “Oom Elia, my koppie is nie meer seer nie. Waar is Mamma? Ek wil vir haar sê sy moenie meer huil nie.”

1 Konings 17:22 Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe. Toe bring Elia die kind van die bokamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”

WEDUWEE SE REAKSIE

Hoe dink jy het daardie weduwee gereageer toe Elia met ʼn groot glimlag met klein Hajjir by haar aankom? Hoe sou jy gereageer het as jou kind vanoggend uit die dood kon opstaan? Sy spring op en gryp haar seuntjie by Elia en soen hom en soen hom. Sy druk hom styf vas en sê: “My skat, jy was dood en mamma se hart het gebreek. Die God van Israel het iets gedoen wat ou Baäl nie kan doen nie. Hy het jou weer lewend gemaak.” Sy kan nie glo haar kind leef nie.

“Kom Mamma gaan maak gou vir hom ʼn broodjie van die wondermeel en die wonderolie.”

1 Konings 17:24 Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u ʼn man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”

ELIA – TIPE VAN JESUS

Ons sal arm wees as ons die verhaal van Elia in isolasie lees want hy was ʼn tipe van die profeet Jesus wat eendag sou kom. Net soos Elia deur Goddelike krag ʼn dooie opgewek het, net so het Jesus ook dooies opgewek.

Ons dink byvoorbeeld aan Jairus se dogtertjie. Wat ʼn wonderwerk van troos vir die ouers was dit nie. Dan was daar ʼn ander weduwee, die een van Nain. Sy het haar enigste seun aan die dood afgegee. Jesus het gekom en hom weer lewend gemaak. Die merkwaardigste van al die wonderwerke was die opwekking van Lasarus.

Dis die God wat ons dien, die God van Elia.

En net soos Elia lewend hemel toe opgevaar het, net so het Jesus ook lewend hemel toe opgevaar.

ELIA – ‘N TIPE VAN DIE PROFEET JOHANNES DIE DOPER

Maar Elia was ook ʼn tipe van die profeet Johannes wat die eerste koms van Jesus verkondig het.

Maleagi 4:5,6 Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie.

En toe, op ʼn dag, het Johannes die Doper sy verskyning gemaak. Dit wat Elia van ouds gedoen het, het hierdie magtige prediker ook gedoen.
Luister wat die engel Gabriël vir Sagaria aangaande sy toekomstige seun Johannes gesê het:

Lukas 1:17 En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ʼn volk voor te berei.

ELIA – ‘N TIPE VAN DIE EINDTYD-ELIAS

Maar Elia is ook ʼn tipe van die eindtyd-Elias, van jou en my. Soos Elia destyds na die behoeftes van ʼn weduwee omgesien het, so moet ons ook in die behoeftes van mense voorsien.

Net soos die Here destyds die meel en olie nie laat opraak het nie, so sal Hy sorg dat die middele om behoeftiges te help, nooit sal opraak nie.
Elia het ʼn dooie seuntjie aan sy ma terugbesorg. Dis ook ons werk.

Baie mense is dood in hulle misdade soos Efesiërs 2:1 sê. Ons moet hulle terugbring na hulle hemelse Vader.

Baie van ons kinders is dood in misdaad. Die werk van die eindtyd-Elias is om hierdie kinders terug te bring na hulle hemelse Vader. Elia het daardie dooie liggaampie omhels en aanhou bid totdat hy weer lewend geword het.

Kan ons nie ook na ons kinders gaan wat geestelik gesterf het en hulle vashou en bid, vashou en bid totdat hulle ʼn geestelike opwekking ondergaan nie? Mag die Here gee dat ek en jy die koue lyke van ons afgedwaalde kinders en jongmense sal omhels. Mag Hy ons help om hulle styf vas te hou met ons warmte van omgee totdat hulle weer lewe.

 

Mag die Here gee dat ek en jy nie die oorsaak sal wees dat kinders en jongmense geestelik sterf nie.

 

Was this article helpful?

Related Articles