1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Elia
  4. Elia Die Tisbiet (Inleiding)

Elia Die Tisbiet (Inleiding)

Skriftuur: Maleagi 4:1-6

1)Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ʼn oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ʼn stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie. 2)Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. 3)En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle voetsole op die dag wat Ek skep, sê die HERE van die leërskare. 4)Dink aan die wet van Moses, my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die hele Israel—insettinge en verordeninge. 5)Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek. 6)En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.

Waarom moedig Jesus ons aan om die Ou Testament te bestudeer? Waarom wil Hy hê dat ons van Elia, Isebel en Baäl lees?

Lees hierdie ernstige vermaning wat ons in die Bybel vind:

1 Korintiërs 10:11,12 Hierdie dinge het oor hulle gekom as ʼn voorbeeld vir ons en is opgeskryf as ʼn waarskuwing vir ons wat die einde van die tye al beleef. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Hierdie teks sê vir my dat as ek die voorbeelde van die Ou Testamentiese godsmanne ignoreer, dit my vernietiging kan beteken.
Aanvaar ek dit, lewe ek.

Ek woon op die oewer van die Oranjerivier. ʼn Handleiding oor die vloedgevaar is beskikbaar. Ek lees dit en ontdek dat die rivier elke sewe jaar afkom. Ek leer uit die lesse van die verlede, neem die waarskuwing ter harte en ontruim my huis betyds. My buurman ignoreer die handleiding en verdrink. Ek en jy bly op die oewer van die rivier van dwaalleer wat binnekort gaan afkom. Kom ons kyk hoe Elia die dwaalleer oorleef het; as ons dit verstaan, sal ons weet hoe die eindtyd-kerk van die Here die dwaalleer-krisis gaan oorleef.

MALEAGI

Die laaste boek van die Ou Testament bevat die finale waarskuwing en beloftes aan Israel van ouds. Maar meer nog, Maleagi hoofstuk 4 bevat terselfdertyd ook die laaste waarskuwing en die laaste beloftes aan die eindtydkerk.

Maleagi 4:5,6 Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie.

DIE DAG VAN DIE HERE IN DIE OU TESTAMENT

Voordat ons na die lewe, werk en prediking van die historiese profeet Elia kyk, moet ons eers vasstel wat die uitdrukking: “Die groot en verskriklike dag van die Here”, beteken. Wat sou jy dink beteken dit?
Die uitdrukking kom ongeveer 20 keer in die Ou Testament voor. Dit word eerstens in verband met die goddelike oordeel oor ʼn stad of nasie gebruik. Dit het terselfdertyd ook betrekking op die lotgevalle van alle mense aan die einde van tyd. Hierdie inligting maak die studie van die Ou Testamentiese verhale baie belangrik.
God is nie net ʼn God van liefde nie, Hy is nie net ʼn God van oordeel nie, Hy is albei. Ons moet waak dat die vloedwaters van ultra-konserwatisme of die vloedwaters van permissiwiteit ons nie meesleur en vernietig nie.

Joël 1:14,15 Bepaal ʼn vasdag, roep die gemeente bymekaar, bring die leiers en al die inwoners van die land na die huis van die Here julle God toe. Roep tot die Here! Hoekom? Die vreeslike dag! Die dag van die Here is naby: dit is ʼn dag van verwoesting, dit kom van die Almagtige af.

Die “Dag van die Here” verwys elke keer, sonder uitsondering, na oordeel en verwoesting. Wat moet ek en jy doen, wanneer die glans van goddelike heerlikheid hierdie planeet binnekort tref, om nie verwoes te word nie? Jesus sê; Paulus sê; Matteus sê: lees die verhale van die Ou Testament – veral die verhaal van Elia.

DIE DAG VAN DIE HERE IN DIE NUWE TESTAMENT

Hoe het die Nuwe Testamentiese skrywers die uitdrukking “Dag van die Here” gebruik? Kom die beginsel van oordeel en verwoesting ook in hulle geskrifte voor?

2 Petrus 3:10 Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ʼn dief kom. En op die dag sal die hemel met ʼn groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

Voordat Elia lewendig hemel toe is, moes hy eers ʼn boodskap verkondig. Voordat die Here Sy eindtyd-Elia-kinders kom haal, gaan hulle eers ʼn baie spesifieke boodskap verkondig. Onthou, die Here bring nooit ʼn oordeel oor ʼn stad of nasie voordat Hy nie eers boodskappe van waarskuwing en bekering na hulle gestuur het nie.

2 Petrus 3:11 Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe.

Soos wat Elia destyds die volk en die koning tot bekering geroep het, gaan die Elia-boodskap dit weer doen. Verwerping van die Elia-boodskap beteken dood. Aanvaarding en uitlewing van die Elia-boodskap beteken lewe. Kom ons lees twee tekste wat hierdie belangrike waarheid beklemtoon.

Maleagi 4:1 Die dag kom en hy brand soos ʼn oond. Die wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie ʼn wortel, nie ʼn tak oorbly nie.

Verwerping van die Elia-boodskap beteken selfvernietiging. Wat ontvang ek as ek die boodskap aanneem?

Maleagi 4:2 Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.

Wat ʼn belofte! Wanneer ek die Elia-boodskap aanneem, geniet ek holistiese genesing en redding. Het jy al ʼn kalf gesien wat uit ʼn kraal kom en dan begin bokspring? Dit is ʼn gesig om te aanskou. Dit is wat gebeur wanneer ʼn mens die Elia-boodskap ter harte neem.

Binnekort gaan Jesus ons vir ewig uit die kraal van ons gevalle natuur loslaat; en wanneer ons daardie vryheid geniet, sal ons deur die ewigheid van blydskap bokspring.

JESUS SE VERDUIDELIKING VAN MALEAGI SE ELIA

Kom ons lees wat Jesus sê van die Elia-boodskap in Maleagi 4:5 Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek.

Matteus 17:10-13 Die dissipels vra Hom toe: “Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elia eers moet kom?” “Elia kom wel om alles weer reg te maak,” antwoord Hy, “maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou. So sal ook die Seun van die mens deur hulle mishandel word.” Toe het die dissipels verstaan dat Hy met hulle van Johannes die Doper gepraat het.

Omdat Jesus die werk van Johannes die Doper met die werk van Elia vergelyk, word die studie van hierdie magtige antieke profeet baie belangrik. Kom ons lees wat die engel Gabriël aangaande die versoeningswerk van Johannes die Doper gesê het:

Lukas 1:16,17 Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. En hy sal voor die Here uitgaan in dieselfde krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ʼn volk voor te berei.

Gabriël sê dat die Elia-boodskap mense vir die eerste koms van Jesus moet voorberei. Met ander woorde Gabriël interpreteer hierdie Ou Testamentiese profesie van Maleagi as Christosentries. Kan ons aanneem dat die eindtyd Elia-boodskap ook Christosentries sal wees; met ander woorde sal die boodskap Jesus as middelpunt verkondig? Baie beslis.

DIE BOODSKAP VAN JOHANNES DIE DOPER

Dit is belangrik om die boodskap van Johannes die Doper versigtig met die boodskap van die profeet Elia te vergelyk. Met verwysing na Johannes die Doper se boodskap, verklaar Jesus:
Matteus 11:17 “Elia (met ander woorde, Johannes) kom wel om alles weer reg te maak…”
Wat was verkeerd in Elia se dag en wat was verkeerd in Johannes die Doper se dag?

 Mense het die gebooie van die Here oortree.

Wat het Johannes hieromtrent gedoen?

Lukas 3:19 Hy het ook vir Herodus, die heerser, tereggewys oor Herodias die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodus gedoen het.

Het die profeet Elia, net soos Johannes die Doper, die moed gehad om mense tereg te wys wat die wet van die Here oortree het? Ja.

ELIA SE BOODSKAP: GEHOORSAAMHEID AAN DIE GEBOOIE

Elia spreek Agab aan oor sy ongehoorsaamheid:

1 Konings 18:18 Hy antwoord: “Dis nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie. Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien.”

Beide Elia en Johannes die Doper het mense geroep om die heilige wet van die Here te gehoorsaam. Sal die eindtyd Elias dieselfde doen? Beslis.

NIE LEGALISTIES NIE

Alhoewel dit baie belangrik is om oor die heiligheid en gebondenheid van die gebooie te preek, het Johannes die Doper nog oor iets anders ook gepreek.

GEREGTIGHEID DEUR DIE GELOOF

Luister na die verlossingsklank van sy boodskap:
Johannes 1:29 Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Nadat Johannes die eise van God se volmaakte wet aan sy toehoorders voorgehou het, en nadat hulle besef het dat hulle hopeloos verlore was, het hy hulle van ʼn groot Verlosser vertel. Kan ons verwag dat die eindtyd Elia-boodskap dieselfde sal klink?

ELIA SE BOODSKAP: GEREGTIGHEID DEUR DIE GELOOF

Behalwe vir die feit dat die historiese Elia mense op die heiligheid van die wet gewys het, het hy ook van die Lam van God gepraat. Het hy vir afvalliges van sy dag vertel dat sondaars deur genade gered word?

1 Konings 18:30 Toe sê Elia vir die hele volk: “Kom staan hier by my,” en hulle het almal by hom gaan staan. Toe het hy die stukkende altaar van die Here weer reggemaak.

Wat het destyds by die altaar gebeur?

 ʼn Lam is geoffer.

Waarom?
Die lam het vooruitgewys na die Lam van God wat eendag in die plek van boetvaardige sondaars sou kom sterf.

Die profeet Elia het vir die mense van sy dag gesê dat daar hoop vir gevalle sondaars was. Al wat hulle moes doen was om die verlossing te aanvaar wat die Here vir hulle voorberei het. Die wortels van my verlossing, het Elia gepreek, is die vlekkelose Lam van God en die vrugte van verlossing ʼn lewe van toegewyde gehoorsaamheid.

GEBALANSEERDE BOODSKAP

Die Elia-boodskap in die tyd van die profeet Elia; die Elia-boodskap wat Johannes die Doper verkondig het, en die Elia-boodskap wat vandag verkondig word, is ʼn gebalanseerde boodskap. Genade en geloof word nie ten koste van goeie werke verkondig nie; en goeie werke word nie ten koste van geloof en genade verkondig nie. Lees net hoe harmoniseer die klanke van gehoorsaamheid aan die wet en Jesus se genade in die simfonieorkes van die oorblyfselkerk.

Openbaring 12:17 Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het.

DIE VERBAND TUSSEN ELIA SE BOODSKAP EN DIE EINDTYD- ELIA-BOODSKAP

Kom ons ondersoek verdere ooreenkomste tussen die boodskap van Elia, Johannes die Doper, en die eindtyd-boodskap.

Openbaring 14:14,15 Toe het ek ʼn wit wolk gesien. Op die wolk het daar Iemand soos die Seun van die mens gesit. Hy het ʼn goue kroon op sy kop gehad en ʼn skerp sekel in sy hand. ʼn Engel het uit die tempel uitgekom en hard geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd het gekom om te oes. Die aarde is ryp vir die oes.”

In hierdie visioen word Jesus as koning gesien. Hy het ʼn kroon op sy kop. Maar Hy word ook as Regter gesien, want Hy het ʼn skerp sekel in Sy hand. Net soos Elia en Johannes die Doper ʼn oordeelsboodskap verkondig het, net so verkondig die eindtyd-Elias ook ʼn oordeelsboodskap. Maar dit is nie net ʼn oordeel wat verkondig word nie, daar is ook iets anders wat net voor Jesus se wederkoms verkondig gaan word:

Openbaring 14:6,7 Toe het ek ʼn engel hoog in die lug sien vlieg. Hy het ʼn goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig, en hy het met ʼn harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel. Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.”

GEREGTIGHEID DEUR DIE GELOOF

Wat is die “goeie boodskap” wat die eerste engel verkondig?

 Dit is die goeie nuus dat sondaars soos ek en jy uit genade gered word.
 Dit is die boodskap wat elke verlore sondaar moet hoor.
 Dit is die mooiste lied, die soetste melodie vir die mens wat nie meer moed vir homself het nie.

Vervolgens verkondig die eerste engel, net soos in die geval van Elia en Johannes die Doper, van ʼn oordeel wat in die hemel begin het. Jy kan nie ʼn oordeel hê as jy nie ʼn wet het waarvolgens mense geoordeel word nie. Die een belangrike gebod wat die engel uitsonder, is die vierde gebod wat die Skepper vereer.

Openbaring 14:7 “En hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”

AANBID DIE SKEPPER EN NIE DIE SKEPPING NIE

Die eindtyd Elia-boodskap doen ʼn besondere beroep op mense om nie die skepping nie, maar die Skepper te aanbid.

Is dit ʼn tydige boodskap?

Baie beslis. Soos nog nooit in die geskiedenis van hierdie planeet is sy bewoners met hulle eie gode besig nie. Ons presteer fantasties op baie gebiede. Ons sit voor ʼn rekenaar en ons praat met die hele wêreld en die hele wêreld praat met ons. Ons besing en aanbid ons prestasies oor die nuus, die TV en die internet.

In die verheffing van die menslike bo die goddelike, die lofbetuiging aan gewilde leiers, die aanbidding van Mammon, en deur wetenskap bo die waarheid van die Bybel te plaas, loop die massas agter Baäl aan. (Prophets and Kings, bl. 170)

DIE DRIE MAGTE IN ELIA SE DAG

In die dae van Elia was daar drie magte wat in opposisie met die profeet van die Here was: Agab, die koning van Israel en Isebel sy heidense vrou wat van Fenicië afkomstig was. Sy het met groot ywer die afgodsdiens van Baäl onder die noordelike stamme gepropageer. Dan was daar ook ʼn totaal van 850 valse profete wat Isebel se opdragte uitgevoer het. Johannes het ook met drie vyande gespook: Herodus Antipas, sy vrou Herodias en die valse profete van Qumran, die Esseners.

DRIE MAGTE IN DIE TYD VAN DIE EINDE

Dit is nie toevallig dat daar ook drie magte teen die Israel van God verenig nie. Die “draak”, die “dier” en die “valse profeet. (ʼn Koning, ʼn slegte vrou en valse profete.) Uit die bekke van die draak en die dier en uit die mond van die valse profeet, kom daar drie onrein geeste te voorskyn. Hierdie wonderwerkende, verleidende geeste van duiwels, gaan die hele wêreld verlei om oorlog teen die eindtyd Elias te maak. Waar kom hulle bymekaar om teen die eindtyd Elias oorlog te maak?

Openbaring 16:16 Die geeste het die konings byeengebring op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

Sommige geleerdes identifiseer “Har Mageddon” of “Har Megiddo” met Berg Karmel. Die konfrontasie tussen Elia en die Baälspriesters op Karmel word ʼn tipe van die antitipiese eindtyd-godsdienstige konflik. Op Berg Karmel het die saak van die Here getriomfeer. Sy heerlikheid het soos oogverblindende weerligstrale voor die oë van almal neergedaal. Die Baälspriesters is doodgemaak en Elia het geleef. Wat het met Elia gebeur toe hy sy werk op aarde voltooi het? Hy is lewendig hemel toe.

2 Konings 2:11 Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ʼn wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ʼn stormwind op, die hemel in.

 Wat gaan gebeur wanneer die Elias van vandag hulle werk afgehandel het?

 Wat gaan gebeur wanneer die hele wêreld gehoor het dat sondaars net deur die genade van Jesus gered word?

 Wat gaan gebeur wanneer die hele wêreld gehoor het dat die Here stiptelike gehoorsaamheid aan al Sy gebooie van alle mense verwag?

Jesus sal Sy kinders kom haal en ons sal lewendig huis toe gaan sonder om te sterf. Ek sien uit na die dag wanneer die skitterende hemelse wa vir jou en my kom oplaai. Kom ons maak vinnig gereed.

Kom ons maak seker dat ons Jesus se kleed van geregtigheid aangetrek het.

Kom ons maak seker dat ons uit dankbaarheid
Sy gebooie bewaar.

Was this article helpful?

Related Articles