1. Home
  2. Sabbat Wonderwerke
  3. Sabbat Wonderwerke 1 – Die Man Met Die Bose Gees

Sabbat Wonderwerke 1 – Die Man Met Die Bose Gees

SABBATWONDERWERKE (1) – DIE MAN MET DIE BOSE GEES

Skriftuur: Markus 1:21-28

Wanneer ‘n mens die ruïnes van antieke Kapernaum besoek, kom jy op ‘n half gerestoureerde sinagoge af. Argeoloë sê vir ons die ruïnes dateer uit die derde eeu nC.

Ek was toevallig by Kapernaum toe Italiaanse argeoloë die oorspronklike ruïnes uit Jesus se tyd ontdek het.

Markus 1:21 “Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die Sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer.”

OORSPRONG VAN SINAGOGES

Die woord “sinagoge kom van twee Griekse woorde: “sun” wat “saam” beteken, en “ago” wat “bring” beteken. Met ander woorde dis ‘n plek wat mense saam bring.

Dit was tydens die ballingskap dat die sinagoge gedagte by Esegiël gebore is.

TIPIESE SINAGOGE

Kom saam met na een van die antieke sinagoges:

Die man wat vir die instandhouding van die sinagoge verantwoordelik was, was die “Gassan” genoem. Hy was dan ook die man wat lyfstraf toegedien het. Ek dink hy was groot.

Vrydagmiddae het hy op sy silwer trompet geblaas en daardeur die naderende koms van die Sabbat aangekondig.

Die destydse kerkraad het uit tien mense bestaan. Die voorsitter was die “hoof van die sinagoge” genoem. Hy moes elke week mense aan stel om op ‘n Sabbat uit die Tora, die Ou Testament te lees, te bid en te preek.

DIE EREDIENS

Wanneer jy by die suidekant ingestap het, het jy sketse van druiwetrosse op die mure gesien. Dit was Israel se nasionale simbool. Graverings van die kandelaar het die aanbidders aan die seëninge van lig herinner.

Op die ander mure was daar illustrasies van ‘n pot manne en die paaslam.

Voor in die sinagoge was ‘n kis wat boekrolle van die wet en profete bevat het. Die Bybel is vanaf ‘n podium gelees en die prediker het op ‘n stoel gesit en preek.

Matteus 23:6 verwys na die “voorste plekke in die sinagoge.” Hier het die manne met duur kamele gesit het.

Mense het geen of ouerige donkies het op die agterste banke sonder opstopsels gesit.

JESUS EN DIE SINAGOGE

Waar dink u het Jesus gaan sit toe Hy die sinagoge by Kapernaum besoek het? Voordat die Gassan vir Hom kon sê om heel agter te gaan sit, het Hy dit self gedoen.

In die agterste bank groet Jesus ‘n geestesversteurde man met die hand. Hy dra ‘n ou kleed, sy oë is wild en sy tande uit.

DIE SHEMA – DEEL I

Jesus sien hoe ‘n man die rolle van die wet en die profete uit die kis uithaal en die openingsgebed doen. Hy vra die gemeente om die volgende gedeeltes uit Numeri en Deuteronomium saam met hom op te sê:

Deuteronomium 6:4,5 “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.”

Almal behalwe een man neem deel. Dis die eienaardige man langs wie Jesus in die kerk sit. Nadat die gemeente nog ‘n paar pragtige bybeltekse opgesê is, neem ‘n paar priesters hulle plek op die verhoog en spreek die volgende seën uit:

Numeri 6:24-26 Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

DIE PARASJAH (LEES VAN DIE WET) – DEEL 2

Gedurende die tweede helfte van die diens is mense gevra om gedeeltes uit die wet te lees. As jy nie vlot lees nie, het die hoof van die sinagoge jou gevra om te gaan sit.

Jesus kyk hoe verskillende mense gedeeltes uit die wet lees. Die Jode het geglo dat jy God se guns hierdeur kon verdien.

Die man langs Jesus sou baie graag ook wou lees maar hy was gediskwalifiseer oor sy ou klere, sy mond sonder tande en die feit dat hy gehakkel het.

Kort kort maak hy sulke snaakse geluide. Mense naby hom besef daar is groot fout en skuif weg van hom.

Dit was net die ryk manne in die voorste banke wat daardie Sabbat gelees en sodoende guns by God verdien het. Die dommerige, arm mense in die agterste banke het sleggerig gevoel en getwyfel of hulle ooit die koninkryk deur grammatika sou verdien.

JESUS WAT REEDS GODS GUNS VERDIEN HET WAS TEENWOORDIG

Terwyl die aanbidders het daardie Sabbat hard probeer om hulle saligheid te verdien, was Jesus in hulle midde. Hy het reeds God se guns vir hulle verdien.

Miskien het ek en jy ook kerk toe gekom om God se guns te wen. Dis nie nodig nie. Jesus is hier en omdat Hy in ons midde is, geniet ons reeds die Vader se guns

HAFTARAH – DIE LEES VAN DIE PROFETE (DEEL 3)

Die derde gedeelte van die diens het uit die lees van die Profete bestaan. Omdat die wet, die Tora, die eerste vyf boeke van Moses ekstra heilig beskou is, was dit in twee rolle opgerol.

Die Profete is minder heilig beskou en net in een rol opgerol. Hier moes ‘n mens natuurlik so ‘n bietjie meer lees om dieselfde geestelike punte te verdien.

Die manne van die voorste banke met die mooi klere het baie goed gedoen. Net twee het gehakkel en is teruggestuur. ‘n Mens wonder wat alles deur Jesus se gedagtes gegaan het.

Die snaakse man met die ou baadjie en die uit tande wat langs Jesus sit, beny die mense wat beurte kry om te lees en ekstra guns by God verdien.

DERASJA, DIE PREEK – (DEEL 4)

Die Derasjah was die laaste gedeelte van die diens en die materiaal wat hier aangebied is, was baie soos ‘n preek.
Tydens die lees van die wet en die profete het mense gestaan. Maar die een wat die Derasjah of die preek gelewer het, het naby die podium op ‘n stoel gesit.

Matteus 23:2 “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses.”

Die prediker het sy preek gewoonlik op die lees van of die profete of die wet gebaseer. Op hierdie spesifieke Sabbat is Jesus gevra om die Derasjah, die preek te neem.
Dit mag wees dat hy die hoof van die sinagoge se kind genees het.

Jesus groet die snaakse man met die ou baadjie en uit tande. Hy stap verby die ryk manne in die voorste banke. Dan kom Hy op die verhoog en gaan sit op Moses se stoel.

JESUS EN DIE MAN MET DIE BOSE GEES

Vir die volgende paar oomblikke fokus ons op Jesus en die man wat agter langs hom gesit het. Die man wat homself nie in die hemel kon inlees nie. Die man wat sy senuweepille by die buitepasiënte gaan kry het.

Markus 1:21,22 “Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die Sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin lees. Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.”

JESUS SE PREEK

Terwyl ek die ruïnes van die Kapernaum sinagoge besoek, wens ek ek kon Jesus se preek gehoor het. Die klassieke boek die “Koning van die Eeue” noem die volgende feite:

“Sy woorde het lig op die leer van die patriarge en profete gewerp en die Bybel het vir die mense ‘n nuwe openbaring geword. Nog nooit tevore het Sy toehoorders so ‘n diepe betekenis die Woord van God gesien nie.” bl. 253

Jesus het op die vlak van sy gehoor gepraat. Vir die vistermanne het hy van nette en groot visse vertel.

By die sake manne het hy oor inflasie gepraat.

Die mense in die gehoor wat teenoor Jesus bevooroordeeld was, het hy met takt hanteer. Hy het hulle met die oorspronklikste illustrasies verras. Deur mense se verbeeldingskrag wakker te maak, het Hy hulle harte bereik.
As Jesus vandag vir ons gepreek het, sou Hy ons taal gebruik het. Soos byvoorbeeld: “n Man het eendag ‘n Pentium 4 gekoop. Nadat hy kosbare inligting op sy 80 kb. Hardeskyf gesit het, het die rekenaar gevries, die harde skyf het opgepak en hy het alles verloor.

“Maar toe kom daar ‘n kundige wat al daardie waardevolle inligting vir hom terugkry. So is dit ook in die koninkryk van die hemele. Alles wat jy in hierdie lewe verloor het, gaan jy binnekort weer terugkry.”

DIE BESETENE

Terwyl Jesus daardie Sabbat preek, het die ou in die agterste bank so vaagweg agtergekom dat hy in die teenwoordigheid van Iemand is wat hom kon genees.

Die senuweepille wat hy die oggend vroeg gedrink het, is amper uitgewerk.

Terwyl Jesus preek, het Hy ‘n helende deernis uitgestraal. Mense wat moeg geword het op die lewenspad, het weer moed geskep. Die mense kom agter dat die snaakse ou rusteloos begin word. Koning van die Eeue, bld. 256:

“Die geheime oorsaak van die lot wat hierdie man getref en hom so ‘n vreesaanjaende skouspel vir die sy medemens en ‘n las vir homself gemaak het, was by homself te soek.

Dis baie interessant. Sy probleem was hyself. Baie keer soek ons die oorsaak van ons ellende by omstandighede, oorerwing of faktore buite onsself. Hierdie man se probleem het binne in homself gelê.

“Hy het homself deur die plesier van die sonde laat verlei en gedink die lewe is een groot karnaval. hy nie gedroom hy kon ooit ‘n skrik vir die wêreld en ‘n skande vir sy familie word nie. Hy het gedag hy kon sy tyd in sogenaamde onskuldige singenot deurbring. Maar eers eenmaal op die afdraande pad, het hy vinnig afgegly. Onmatigheid en ligsinnigheid het sy geaardheid bederf, en die Satan het volkome beheer oor hom verkry.” Ibid. 256.

AMMI-SADDAI

Kom ons noem hom Ammi-Saddai. As hy vandag geleef het, sou hy heelwaarskeinlik ‘n baie vinnige Yamaha motorfiets gery het.

Op sy baadjie sou jy die woorde “Devil’s angel” gelees het. Hy het die sterkste sigaret gerook en die hardste brandewyn gedrink. Dis waar hy begin het, maar dis nie waar hy geëindig het. Dwelms en Vigs was nou sy wrede meesters.

Asgevolg van die Vigs wat hy opgedoen het, het selfs die Escort agente hom geweier.

Geestesgesondheid is die produk van selfbeheersing. Geestes ongesteldheid is die produk van toegee aan onheilige verbeeldingsvlugte en singenot.

KERBYWONING

Vir die een of ander rede het Ammi-Saddai daardie spesifieke Sabbat kerk toe gekom. Miskien wou kom geld of kos bedel. Miskien het die duiwel hom daar ingejaag om Jesus se diens te verongeluk.

“Berou was te laat. Toe hy graag rykdom en plesier sou wou inboet om weer ‘n volwaardige mens te word, was hy reeds hulpeloos in die greep van die Bose. Hy het hom op vyandelike terrein begeef, en die Satan het van al sy vermoëns besit geneem. Ibid 256.

Ons kan nie waag om in enige opsig ongehoorsaam te wees nie. Ongehoorsaamheid word kettings wat jou so bind, dat jy later nie meer kan loskom nie.

“Die verleier het hom met baie bekoorlikhede gelok; maar toe hy die arme man eers in sy mag gehad het, het die vyand hom meedoënloos wreed behandel en verskrikking oor hom gebring. Dis die lot van almal wat hulle aan die Bose oorgee; die betowerende plesier van hulle vroeë lewe eindig in die dieptes van wanhoop of die kranksinnigheid van ‘n verdorwe siel.” Ibid. 256.

Selfverloëning vat vir so ‘n rukkie alles uit ‘n mens, maar die aangename gevolge is vir altyd. Toegee aan singenot is maklik en neem net ‘n oomblik. Maar ongelukkig is die gevolge ‘n lewenslange skaduwee.

DIE GIL IN DIE KERK

Terwyl Jesus daardie Sabbatoggend besig was om van die liefde van Sy hemelse Vader te vertel, was daar skielik ‘n verskriklike gil in die kerk.

Markus 1:23,24 Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ’n man wat van ’n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!

Die vooraanstaande manne in die voorste rye skrik hulle boeglam. Kinders begin histeries te huil. ‘n Vet oom wat geslaap het, skrik skielik wakker. Hy weet nie mooi wat aangaan nie.

KONFRONTASIE TUSSEN JESUS EN DIE BOSE

Hier kry ons ‘n tipiese voorbeeld van die stryd wat daar tussen Christus en Satan oor siele woed. Albei wil die hart van sondaars verower en behou. Wie gaan wen?

Vers 25 Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

Wat het in hierdie besetene se gedagtes aangegaan? Hoe het Jesus hom van die mag van die duisternis verlos?

Die gees van die geteisterde is deur die Satan verduister, maar in die Heiland se teenwoordigheid het ‘n ligstraal die duisternis deurdring. Koning van die Eeue, bld. 214.

Wat ‘n interessante sitaat. Dis die duiwel wat die duisternis in ‘n mens se lewe bring. Kom ons bly weg van hom. Maar wanneer ons in Jesus se teenwoordigheid kom, kom ons in Sy lig wat daardie duisternis penetreer.

“‘n Verlange het in hom posgevat om van die Satan se beheer bevry te word, maar die duiwel het die mag van Christus weerstaan. Toe die man hom op Jesus se hulp wou beroep, het die bose gees woorde in sy mond gelê en hy het in angs uitgeroep. Ibid, 214.

Arme Ammi-Saddai. Hy het vaagweg besef dat hy in die teenwoordigheid van Iemand is wat hom kan bevry. Maar toe hy uiting aan sy verlossingsdrang wou gee, het die duiwel hom teengehou.

“Die duiwel het al sy mag gebruik om sy slagoffer te behou. Om hier skiet te gee, sou ‘n oorwinning vir Jesus wees. Dit was asof die geteisterde sy lewe in die stryd met die vyand gaan verloor wat hom as mens geruïneer het. Ibid 214.

Die oë van almal is nou op Jesus en Ammi-Saddai. Miskien was daar mense wat gewonder het of Jesus die besetene kon genees.

Wat ‘n oomblik van spanning. Gaan Jesus triomfeer? Sal die bose voor Hom wyk? Sal arme Ammi-Saddai genees word?

Verse 25-28 Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ’n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.” En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

DIE BOODSKAP VAN DIE SABBAT

Tweeduisend jaar gelede het ‘n geestesversteurde man ‘n sinagoge by Kapernaum binnegestap. Asgevolg van sy sondige lewe het hy in die mag van die duiwel beland. In Jesus se teenwoordigheid het om hulp uitgeroep. Die Satan wou hom nie laat gaan nie, maar Jesus het hom vergewe en verlos.

Vanoggend het ek en jy hier by die kerk ingestap. Dit mag wees dat een of ander oortreding ‘n donkerte ons lewe gebring het.

Dit mag wees dat ons teen ons sin in die kloue van bitterheid, verslawing of neurose vasgevang is.

Jesus is vanoggend hier om na ons noodkreet te luister. Hy is vanoggend hier om ons van al ons sondes te reinig. Hy is hier om ons uit die mag van die bose te verlos.

Wil jy verlos word? Is dit jou opregte begeerte om van sekere verkeerde gewoontes bevry te word? Al wat hy van ons verlang, is ons toestemming dat Hy vir ons doen wat ons vir onsself nie kan doen nie.

Sal ons Hom die toestemming gee om ons opnuut te verlos?

Was this article helpful?

Related Articles