1. Home
  2. Sabbat Wonderwerke
  3. Sabbat Wonderwerke 2 – Jesus Genees Petrus Se Skoonmoeder

Sabbat Wonderwerke 2 – Jesus Genees Petrus Se Skoonmoeder

(2) SABBBATWONDERWERKE – JESUS GENEES PETRUS SE SKOONMOEDER

Skriftuur: Mark 1:29 32 Deel 2

Jesus en Sy 12 disippels was besig om die sinagoge te verlaat. Die gebeure van die genesing van die man met ‘n bose gees was vars in hulle geheue.

Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat so ‘n wonderwerk gebeur het. Die man het daardie Sabbatmore losgetrek en so hard in die kerk begin skreeu, dat die kinders histeries begin huil het.

Jesus het die bose gees in hom bestraf. Hy het op die grond geval en begin stuiptrekkings kry.

Vir ‘n paar oomblikke het hy doodstil gelê en die mense het gedink hy is dood. Maar toe staan hy op met ‘n pragtige uitdrukking van vrede op sy gesig.

Van die mense in die sinagoge het sommer begin huil toe hulle
die kalmte op sy gesig sien.

SEWE SABBAT WONDERWERKE

Wanneer ‘n mens versigtig deur die evangelies lees, ontdek jy dat Jesus sewe Sabbatwonderwerke verrig het. En elkeen van hierdie wonderwerke het spesifieke boodskappe vir spesefieke behoeftes in ons lewe.

Hierdie eerste Sabbatwonderwerk vertel vir my dat die Here van die Sabbat die verwardheid van my gemoed kan genees.

Die mens is psigies siek. Sielkundige terapie van Jesus, die groot Psigiater is dringend noodsaaklik. Ons moet dringend, lewenslank op kroniese verlossingsmedikasie geplaas word.

Ons geestelike umienstelsel is soortgelyk aan die van ‘n Vigslyer. Ons weerstand is so swak dat die geringste ou versoekingkiempie ons plat trek.

Hoedanig is ek en jy vanoggend geïnfekteer? Is jy ontsteld oor iets wat onlangs met jou gebeur het? Wat is die prognose? Is daar hoop? Ja!

Dieselfde Geneesheer wat 2000 jaar gelede die sinagoge in Kapernaum bygewoon het, is vanoggend weer hier.
Hy kan ons van die infeksie bitterheid genees. Hy het selfs medikasie vir kroniese hartseer en skuldgevoelens.

“Die groot Geneesheer is naby, die simpatieke Jesus. Sy woorde sal jou hart verbly, o Hoor die stem van Jesus! Soetste klank in serafslied, soetste Naam in Gods gebied. Soetste troos in ons verdriet, daardie Naam is Jesus.”

Ek is so bly die man met die bose gees het daardie Sabbat kerk toe gekom want Jesus het hom genees. Ek is so bly ons kan hier wees want dieselfde Genesende Jesus is hier.

TWEEDE WONDERWERK

Markus 1:29 “Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan.”

Wat dink julle het hulle daar gaan maak? Wat maak ons wanneer ons uit die kerk uit kom? Ons gaan eet. Na so ‘n emosioneel uitputtende diens het Jesus en Sy disippels uitgesien om langs ‘n mooi gedekte tafel te gaan sit en eet.

Volgens die argeologiese gegewens was Petrus se huis baie na aan die sinagoge. Ek hoop Petrus het vooraf met sy vrou gereël dat hulle daar sou kom eet. Baie mans nooi sommer mense huistoe sonder dat hulle dit met hulle vrouens gereël het.

ONTVANGS

Kom ons lees in vers 30 van die ontvangs wat hulle by Petrus se huis gekry het.

“Die skoonma van Simon het daar met ‘n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel.”

Watter woord het in u gedagtes vasgesteek? Skoonma? Koors? Simon?

Voordat ons na die veelbesproke “Skoonma” kyk, wil ek net noem dat hierdie tannie nie net ‘n gewone koors gehad het nie. Dr. Lukas sê vir ons sy het ‘n HEWIGE KOORS gehad.

Vroeër was daar baie vleie noord van Kapernaum. Die sub tropiese klimaat het Malariamuskiete gelok en dis moontlik dat Petrus se skoonma aan ‘n hewige aanval van Malaria gely het.
SKOONMA

Watter gedagtes kom by jou op wanneer jy aan SKOONMA dink? Statistiek sê vir ons dat daar wel enkele gevalle opgeteken is waar die skoonma\skoonseun\skoondogter verhoudings geslaagd was.

Die oorgrote meerderheid skoonma\skoonseun\dogter verhoudings is gestrem. Meeste grappe word hieroor gemaak.

Het hierdie tannie haar dogter teen Petrus gewaarsku?

“My kind hierdie man praat voor hy dink. Hy het ‘n vreeslike humeur aan hom. Die een oomblik is hy so en die ander oomblik is hy so. Jou pa sal in sy graf omdraai as hy hoor jy wil met Petrus gaan trou.”

En raai wat het Petrus se verloofde gedoen. Sy het alles wat haar ma gesê het vir Petrus gaan oorvertel. Miskien het sy na haar troue ‘n hele paar keer aan haar ma se woorde gedink.

My skoonma het ook teen my gewaarsku: “My kind, jou kêrel het nog nie eers kuite nie.” Ester het dit oorvertel.

LANDMYNE

Wanneer mens in Israel reis kom jy by plekke uit waar hulle jou teen landmyne waarsku. James Defense Weekly praat van ontelbare landmyne wat in baie ander lande geplant is.

Maar die meeste landmyne is egter op die veld van menslike verhoudings geplant. Jy loop nog so onskuldig by ‘n huis in en die volgende oomblik is daar ‘n ontploffing.

‘n Vrou bel en begin met my te raas omdat ek iemand kerk toe genooi het. Die geraas van haar ontploffing was so hard dat sy nie eers my verduidelikende ou stemmetjie gehoor het nie.

Dis vreeslik om na iemand op ‘n rystoel te kyk wat ‘n militere landmyn afgetrap het. Maar die flardes in iemand se siel wat ‘n negatiewe verhouding-landmyn afgetrap het lyk nog erger.

SKOONMA

Miskien was Petrus se skoonma se siekte psigo somaties. Dis moontlik dat dinge tussen haar en haar skoonseun so versleg het dat dit haar gesondheid geaffekteer het.

Vers 30 “Die skoonma van Simon het daar met ‘n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel.”

Ek is so bly dat iemand Jesus van hierdie siek skoonma vertel het. As jou skoonma nog leef en jy het ‘n vae vermoede…vertel vir Jesus van haar. Dis ook natuurlike moontlik dat ons mekaar se siektetoestand veroorsaak.

JESUS REAGEER

Hoe het die honger Jesus gereageer toe hulle Hom van die siek tannie vertel? Het Hy eers gaan eet en so ‘n oomblikkie op die bed gaan rus, of het Hy dadelik gaan help.

Vers 31 “Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.”

“Hy het na haar toe gegaan!” Pragtige woorde. Jesus het nooit iemand met ‘n behoefte oorgeslaan nie. Wat ‘n boodskap! Ander se behoeftes was altyd belangriker as Sy eie.

Die grondteks oor Jesus se besluit om na haar toe te gaan, is die woord PROSELTHOUN.

Dit beteken dat Jesus nie net fisies na hierdie ou moedertjie beweeg het nie. Hy het ook psigies, empaties baie naby aan haar gekom.

Kom ons stap saam met Jesus by die kamer in. Kan julle haar daar sien lê. Iemand met ‘n nat waslap vee kort kort die sweet op haar voorkop af.

Dr. Lukas sê in sy evangelie dat Jesus by die koppenent gaan staan het. (4:39). Na aan haar hart en haar verstand.

Die ou yl haartjies lê natgesweet oor haar warm kop. Sy het baie plooie. Net hier en daar sit ‘n tant in haar mond. My ouma het so ‘n anderse reuk gehad. Die tannie ook.

Jesus buk langs die bed en kyk in haar dowwe, pynvertrekte oë. Sy kyk in Jesus se oë. Voor Hom lê ‘n vrou wat in plooie opgevrommel is. Hy ruik die dood in haar asem en sien dit in haar oë.

Jesus kyk so vyftig jaar agter die plooie verby en hy sien ‘n pragtige mooi meisie. Miskien was sy tydens ‘n skoonheidskomtepetiese as Mej. Tiberias gekroon.

Maar Jesus kyk nog verder terug en Hy sien die heel eerste vrou wat Hy geskep het. Wat ‘n skrille kontras tussen haar en die eerste vrou wat simmetries, bloesend en volmaak geskep het. Hy snik in Sy hart.

AKSIE

Hy neem haar verrimpelde regterhand met al die oumens vlekke in Sy mooi sterk regterhand. Kan u dit sien?

Die hand van lewe neem die hand van die dood. Wat ‘n toneel!

Jesus plaas Sy linkerhand hier onder haar blaaie en agter haar kop, en lig haar regop. Die een oomblik is sy dronk in haar kop van die koors. Die volgende oomblik is sy genees.

Miskien het Jesus Jesaja 46:3,4 kwoteer toe hy Petrus se skoonma van die koors genees het.

“Luister na My, Julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou.”

GEE OM

Die wonderwerk wat Jesus daardie Sabbat in Kapernaum verrig het, vertel vir my dat Hy vir elke randfiguur en elke oumens omgee.

‘n Eensame, verlate, verrimpelde, sterwende ou tannie ontvang Sy teerste aandag en sorg.

Ek onthou nog die keer toe ek sulke los velle bokant my kniekoppe gesien het. In die spieël het ek ‘n paar oumens bene gesien.

Baie ontsteld het ek vir my vrou geroep om te kom kyk. “Ag my ou mannetjie, ek het dit al lankal gesien.” Sy het my om my lyf gevat en gesê sy is nog net so lief vir my as wat sy was voordat ek oumens bene begin kry het.

NOG NET SO LIEF

Vir my bejaarde vriende van 60 en boontoe het ek goeie nuus. Die Jesus wat ‘n ou tannie besoek het, gee ook vir ons om. Al domineer die plooie, pille en pyne jou lewe. Hy steeds lief vir jou.

AANRAKING

Jesus het iets in hierdie wonderwerk gedoen wat Hy ook in baie van Sy ander wonderwerke gedoen het. Hy het aan die persoon gevat. Hoekom? Is dit belangrik?

Ek het in ‘n huis grootgeword waar ons almal moes soen wat kom kuier het. Party van ons besoekers kon gaan, maar daar was van die ander wat nie so maklik was om te soen nie.

My een ouma het ‘n steekbaard gehad en my oom Nico het altyd na drank geruik. Maar nou dat ek ouer is en oor aanraking kon nalees, is ek dankbaar vir my soenerige familie.

PAT EN DAPHNE

Kom ek vertel u van een geval waar ek die waarde van aanraking gesien het. Tydens ‘n reeks lesings het ek en ‘n diaken ‘n dame gaan besoek wat gereeld bygewoon het.

Terwyl ek na hierdie kinderlose dame geluister het, het ek haar baie jammer gekry. So ‘n jaar of wat vantevore het sy haar man verloor en sy het hom verskriklik gemis.

Elke aand het sy in ‘n leë bed geklim sonder iemand wat haar styf vasgehou het. Wanneer sy wakker geword het, het sy haar man se sterk arms gemis wat haar ‘n paar drukkies gegee het.

Terwyl ek haar lyftaal lees, het ek aan ‘n plan gedink. As dit faal was ek in groot moeilikheid. Maar as die plan slaag, sou dit in ‘n groot behoeftes vervul.

Nadat ons vir die weduwee gebid het, vra ek vir die diaken om haar ‘n ou drukkie te gee. Toe sy dit hoor, hardlooop sy sommer spontaan in sy arms.

Vir ‘n paar oomblikke het sy in Pat se arms gehuil. Sy was so dankbaar en sy het ons oor en oor bedank. Sy was oor 70.

OPROEP

Ek wonder hoe dit sal wees as die ouer weduwees so af en toe ‘n ou drukkie kry?.

Maar wat van jou man, jou vrou, jou kind? Die geleerdes sê vir ons dat kinders wat deur die onderwysers aangeraak word, presteer beter. Waar gereelde fisiese aanraking by babas ontbreek, huil hulle meer en verswak die umienstelsel.

VROEE CHRISTELIKE KERK

Die lidmate van die vroeë Christelike kerk het mekaar gesoen.. Altyd op die wang, die voorkop, die hande of die voete. Let wel, mans het mans gesoen, en vroue het vroue gesoen.

Justin Martin, een van die vroeë kerkvaders sê dat die heilige kus gereeld by die nagmaal gegee is. Ek onthou hierdie gebruik by die nagmaal as kind.

Wanneer ‘n mens tekse soos Romeine 16:16; 1 Korinthiërs 16:20 en 1 Thessalonisense 5:26 lees, dan merk jy dat die heilige kus ‘n teken van vrede, hartlikheid en versoening was.

In Handelinge 20:37 lees ons van ‘n omhelsing in Paulus se lewe.

“Almal het baie gehuil en hom omhels en gesoen.”

Kom ons kyk of ons kan verbeter. Kom ons groet mekaar met die hand pleks van met ‘n kop knik.

Terwyl ons aan die een kant teen familiariteit moet waak, moet ons aan die ander kant geheiligde kontak aanmoedig.

SABBATSBOODSKAP

Dit was een Sabbat baie jare gelede dat Jesus ‘n bejaarde oumatjie besoek en aangeraak het.

Dis moontlik dat iemand vandag jou aanraking nodig het.

Broers, die verhaal moedig ons aan om op die Sabbat ons vrouens ‘n ekstra drukkie of twee te gee.

Kom ons vertel haar dat ons haar waardeer. En moenie huiwer om julle kinders gereeld ‘n drukkie of ‘n soentjie te gee nie.
En broers, as julle skoonma nog leef, gaan gee haar ‘n drukkie. Al is dit grillerig. En broers, as sy nie meer leef nie, daar sal altyd ‘n eensame tannies wees wat ‘n drukkie sal waardeer. Sy moet darem so ‘n bietjie ouer wees as is.

Susters, ons mans kan doen met so ‘n bietjie meer aandag. Veral op ‘n Sabbat. Ek weet ons stel julle baie teleur en ons is voldoen nie aan al julle verwagtinge nie. Maar ons is gemaak om lief te hê en gedruk te word en nie om te verstaan nie.

Jongmense. Gaan druk vir pa en ma. Druk hulle terwyl hulle nog daar is. En as jy enkel is, soek iemand op wat na aandag smag, en gee dit.

August en Carol. Voor ek by hierdie twee bakleiers weg is, moes hulle mekaar ‘n drukkie gee.

HULLE BEDIEN

Markus 1:31 “Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.”

Jesus vat haar hand, die koors verlaat haar. Sy trek haar voorskoot aan, haal die kos uit die lou oond en bedien vir Jesus en Sy dissipels.

Daar is so baie mense wat deur die koors van verwaarlosing en sonde lamgelê is. Dis mense wat ons tere aanraking nodig het sodat hulle weer kan opstaan en ons bedien.

‘n Vriend van my het die pad byster geraak. Waar hy heen gegaan het was dit koud en niemand het hom ‘n drukkie gegee nie. Op ‘n dag het hy besluit om weer kerk toe te kom. Maar hy sou dadelik omdraai as daar op hom gegluur word.

Hy sê my toe hy so aangestap gekom het, het een van die ouer ooms na hom toe gestap, sy arm om hom gesit en hom ‘n drukkie gegee. Die oom het niks gesê nie, net ‘n paar trane het oor sy wange gerol. Die jongman het nooit weer weggedwaal nie.

Mag die Here gee dat ons naby mekaar sal kom. Dat ons mekaar ‘n drukkie sal gee, maar dat ons dit met trane van omgee sal doen.

Was this article helpful?

Related Articles