1. Home
  2. Sabbat Wonderwerke
  3. Sabbat Wonderwerke 3 – Die Man Met Die Verdorde Hand

Sabbat Wonderwerke 3 – Die Man Met Die Verdorde Hand

(3) SABBATWONDERWERKE – DIE MAN MET DIE VERDORDE HAND

Skriftuur: Markus 3:1-6

Dit was ‘n Sabbatoggend. Jesus het na ‘n heerlike nagrus wakker geword. Wat moes Hy doen. Die vorige dag het Hy baie hard gewerk en Hy moes besluit of Hy kerk toe gaan, by die huis bly, of die dag in die natuur deurbring.

As Hy kerk toe sou gaan, sou Hy probleme met die Fariseërs en skrifgeleerdes opdoen. Maar ten spyte daarvan het Hy nogtans kerk toe te gaan.

Ek is so dankbaar Hy het. As Hy nie gegaan het nie, sou ons nie vanoggend die pragtige verhaal van die genesing van die man met die verdorde hand kon gelees het nie.

Jesus het weer vanoggend kerk toe gekom. Deur die Heilige Gees is Hy in ons midde. Hy kon weggebly het, maar Hy het verkies om by ons te wees en ons te genees.

Markus 3:1 “Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ‘n mens met ‘n gebreklike hand.”

DRIE KLASSE

In vanoggend se verhaal, kyk ons na die man met die groot behoefte, gebreklike hand. Om die waarheid te sê, was sy hele hand inmekaar getrek.

Ons kyk ook na die skynheiliges, die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Dit was die mense wat daardie Sabbat kerk toe gekom het om met Jesus fout te vind.

En dan kyk ons na Jesus, die Geneesheer, die reinste, die mooiste wese wat nog ooit op aarde gewandel het.

DIE MAN MET DIE GEBREKLIKE HAND

Dr. Lukas vir ons sê dat die man se REGTERHAND die probleem gehad het. Die perfekte deelwoord sê dat hierdie man eens op ‘n tyd ‘n gesonde, sterk had gehad het, en toe gebeur iets wat sy hand verlam het.

Kan u in u verbeelding daardie verdorde, bleek, misvormde vingers sien? Miskien was dit sy eie skuld dat sy hand so geraak het, miskien was dit ‘n ongeluk.
VERLEENHEID

Sy hand was vir hom ‘n groot verleentheid. Dis iets wat hy nie kon wegsteek nie. As mense in die straat by hom verbyloop, het hulle so onderlangs na hierdie gebreklike hand gekyk.

Miskien is daar ‘n groot verleentheid in jou en my lewe wat ons ongelukkig nie kan wegsteek nie. Mense sien dit raak. Hoe hanteer jy jou verleentheid?

Asgevolg van die verlamde hand kon hy nie meer sy werk soos voorheen doen. Dit mag ook wees dat hy sy werk asgevolg van sy gebrekkige hand verloor het.

Van al die mense in die kerk, was hy die ellendigste. Hy het aanhoudend pyn gehad. En omdat hy nie kon doen wat ander mense kon doen nie, het dit sy selfbeeld aangetas.

Is jy vanoggend hier met pyn en ‘n swak selfbeeld?

Ek is so bly dat hierdie man met sy verleentheid, sy pyn en sy magteloosheid, besluit het om daardie spesifieke Sabbat kerk toe te kom. Ek is so bly dat ek vanoggend hier kan wees. Ek is so bly dat jy hier kan wees. Jesus wil ons opnuut aanraak.

Tot ‘n sekere mate kan elkeen van ons met die man met die verdorde hand identifiseer. So dikwels verdor die mooi dinge in ons lewens. Hoflikheid, takt, selfbeheersing/

HAND IS KRAG

Op sommige plekke in die Bybel word HAND met krag geassosieer.

Deuteronomium 32:36 “Die Here behartig die saak van sy volk, die Here ontferm Hom oor sy dienaars, want Hy sien hulle KRAG (HAND) het ingegee, dit is klaar met hulle almal.”

Die Ou vertaling gebruik die uitdrukking VASHOU PLEK in die plek van die woord KRAG.

In die grondteks word die woord YAD wat HAND beteken ook as KRAG vertaal. HAND EN KRAG IS SINONIEM.

TIPIES VAN DIE SONDAAR

Die man met die verdorde hand wat daardie Sabbat by die kerk ingestap het, is tipies van elke mens. In Adam was ons almal geestelik sterk en mooi. En toe kom die sondeval en ons word swak en lelik.

Die genesing van die man met die verdorde hand verduidelik die boodskap van die Sabbat op dinamiese.

Die Sabbat is ‘n simbool van God se vergewende en genesende liefde. Sonde het ons lelik en swak gemaak, Jesus het gekom om ons mooi en heel te maak.

Twintig eeue gelede het ‘n man een Sabbatoggend die sinagoge binnegestap. Sy regterhand was verdroog, verswak, gebreklik. Die man het die krag, die greep van sy sterkste hand verloor.

Sy gebreklike hand was terselfdertyd sinnebeeldig van sy geestelike krag wat verdwyn het.

Daar mag miskien ‘n tyd in ons lewens gewees het toe ons die krag gehad het om te kon vergewe het. Maar op ‘n dag het ‘n bitterheid gekom en ons verlam en lelik gemaak.

TWEE KLASSE

Markus 3:1,2 “Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ‘n man met ‘n gebreklike hand. Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy hom op die Sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir Jesus daaroor kon aankla.”

Die teks praat van twee gesindhede. Die Fariseërs het met Jesus kom fout soek. Het hulle fout gekry? Baie beslis. ‘n Foutsoeker word nooit teleurgestel nie.

Met watter gesindheid het ek en jy vandag kerk toe gekom? Het ons miskien onbewus of bewustelik met Jesus in die persoon van Sy kinders kom foutsoek?

Die ander gesindheid wat ons in hierdie paar verse kry, is ‘n gesindheid van behoeftes. Die man met die verdorde hand het met groot behoeftes kerk toe gekom.

Met watter soort gesindheid is ek en jy vanoggend hier. Met ‘n kritiese gesindheid of met ‘n gesindheid van groot behoeftes?

GEDAGTES GELEES

Dink u Jesus kon die gedagtes van Sy vyande gelees? Baie beslis. Wat sou gebeur as Hy daardie man op die Sabbat genees?

Lukas 6:7,9 “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy op die Sabbatdag iemand sou gesond maak, SODAT HULLE ‘N AANKLAG TEEN HOM KON KRY. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die gebreklike hand gesê: Staan op en kom staan hier in die middel. En hy het daar kom staan.”

Hoe meer ek oor Jesus lees, hoe meer admireer ek Hom. Hy lees die mense se kritiese gedagtes en Hy besef dat as Hy hierdie man genees, dit Sy lewe sou kos. En Hy moes ‘n besluit neem. Wat sou jy gemaak het.

In die laat sewentigs hou ek ‘n reeks evangeliedienste in Pietermaritzburg. Nie ver van ons af nie het ‘n soekende dame met die naam van Tish die reeks bygewoon. Sy was met ‘n baie moeilike Duitser getroud.

En terwyl ek een Vrydagmiddag besig was om kar te was, kry ek die volgende indruk. As ek sou aanhou om hierdie dame te bearbei, gaan haar man my ‘n opstopper gee.

Wat moes ek doen? Ek het besluit ‘n siel is meer werd as my veiligheid en raai wat het gebeur? Ek het die pak slae van my lewe gekry.Ongelukkig het Peter Raymer, ‘n Australiaanse predikant onskuldig saam met my ‘n pak slae gekry.

Tish Zimmermann is gedoop. My kneusplekke is genees. Dit was alles die moeite werd. Haar man Brian is tot vandag toe jammer omdat hy daardie Vrydagaand te veel gedrink het.

Jesus het geweet dat as Hy jou en my red, Hy ‘n blouoog sou kry. Maar Hy het ons so lief dat dit nie by Hom ‘n oorweging was nie. En op Golgota het Hy nie net ‘n blouoog gekry nie, Hy is morsdood geslaan.

DIE VRAAG

Kan u die man met die gebreklike hand sien opstaan en stadig na Jesus aangestap kom? Almal in die kerk se oë is nou op hom gevestig. Toe hy voor Jesus kom staan, kyk Jesus na die gehoor en praat met hulle.

Markus 3:4 “Daarna vra Hy vir hulle: Mag ‘n mens op die Sabbat goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?”

Waarom vra Jesus vir hulle hierdie vraag? Omdat hulle besig was om planne te maak om Hom te vernietig en omdat Hy iemand wou red.

En Jesus vra vanoggend vir jou en my dieselfde vraag. Wil ek mense red of wil ek mense vernietig?

Matteus 12:11,12:.

“Hy sê vir hulle: Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op ‘n Sabbatdag in ‘n sloot val, dadelik uithaal nie? Hoeveel is ‘n mens nie meer werd as ‘n skaap nie? Dan mag ‘n mens mos op die Sabbatdag goed doen.”

Dis so maklik vir die mens om die klem op die simbool te plaas en dit waarvoor die simbool staan, mis te kyk.

Die Sabbat simboliseer God se totale karakter. Skepper en Herskepper.

En as ek op ‘n Sabbat Sy skeppende en verlossende mag miskyk, het die Sabbat vir my koue stuk formaliteit geword.

Die Sabbatoggend net voordat een van die Fariseërs kerk toe gekom het, het een van sy skape in ‘n sloot geval. Binne ‘n paar minute het hy die skaap uitgehaal en gered.

En nou luister Hy hoe Jesus met hulle gesels. Die man met die verdorde hand word is soos ‘n skaap wat in ‘n sloot van groot ellende geval het.

En terwyl hierdie Fariseër na Jesus luister, besef hy dat die skaap wat hy daardie oggend uit die sloot gehaal het, vir hom meer werd is as die man met die verdorde hand wat in die sloot van ellende geval het. En omdat Jesus die waarheid praat, word hierdie Fariseër net woedender en woedender in sy binneste.
As my bestittings op hierdie Sabbat vir my belangriker as die behoeftes van ander mense is, het ek nog nie die VERLUSTIGING van die Sabbat ten volle ontdek nie.

SKAPE IN SLOTE

Hier mag vanoggend ‘n hele paar skape wees wat in die sloot van moeilikheid geval het. Weet u van hulle?

Hier is skape wat in die sloot van eensaamheid en teleurstelling geval het. Weet u waarmee trek mens hulle uit daardie sloot? Met ‘n uitnodiging na sabbatmiddag ete. Met ‘n besoekie of ‘n sms. Kom ons wees vandag baie goed vir mekaar. Kom ons raak spandabelrig met ons vergifnis en begrip vir mekaar.

WOEDE EN BEDROEFHIED

Markus vertel vir ons van twee interessante emosies wat Jesus daardie Sabbat openbaar het.

Markus 3:5 “Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid…”

Die man met die gebreklike hand kyk na Jesus terwyl Hy met die Fariseërs en die skrifgeleerdes praat. Hy sien eerstens ontsteltenis en daarna ‘n diepe bedroefdheid.

WOEDE

Woede is soos ‘n vuur wat met kole van selfsug en eiewaan aan die brand gehou word. Woede is onredelik, wreed en selfvernietigend.

Maar wat van Jesus se woede? Ons moet nooit dink dat Hy dieselfde woede as ons geopenbaar het nie, want Hy het nie ‘n sondige gevalle natuur besit nie. Sy ontsteltenis het uit ‘n hart van liefde ontspring.

“Jesus was nie woedend, ontsteld, oor iets wat Hom persoonlik aangegaan het nie, maar deur onreg wat aan ander gedoen is. Regverdigbare woede is teen die verkeerde daad gerig sonder enige vyandigheid teenoor die kwaaddoener.” 6 BC 1027

Jesus het nooit goddelike, verontwaardiging geopenbaar wanneer Hy vervolg of beledig was nie. Maar wanneer ander mense seergemaak is, het Hy Sy goddelike verontwaardiging geopenbaar.

Jesus se woede, se verontwaardiging was nooit teen die sondaar gemak nie, maar teen die sonde.

KORSTONDIG

Die goddelike woede wat Jesus geopenbaar het, was net vir ‘n breuk van ‘n sekonde – ‘n vinnige blits van misnoë.

En toe sien die mense in die kerk iets anders. Hulle sien’n diepe besorgdheid, ‘n diepe deernis, ‘n jammer, ‘n bedroefdheid.

Die deelwoord BEDROEF verwys na ‘n VOORTDURENDE aksie, terwyl WOEDE na ‘n KORTSONDIGE aksie verwys.

Teenoor wie het Jesus die diepe jammerte, hierdie emosie van bedroefdheid geopenbaar? Teenoor die mens wat Hom wou doodmaak. Hy besef dat hulle verkeerde gesindheid hulle uiteindelik gaan vernietig en Sy hart is seer.

Hoe lank koester ons emosies van woede teenoor lelike mense? Hoe lank is ons emosies van deernis en jammerte teenoor lelike mense?

GOD SE BEELD IN DIE OU TESTAMENT

In Jesus se optrede daardie Sabbat in die kerk, het ons ‘n pragtige karakterskets van die Vader. Woede, ontsteltenis vir ‘n oomblik, bedroefdheid of jammerte vir ewig.

Daar is mense wat glo dat die Jesus van die Nuwe Testament nie dieselfde Wese as die God van die Ou Testament is nie.

Psalm 30:6 “Waarlik, sy toorn duur net ‘n oomblik, maar Sy goedheid lewenslank…” Psalm 85:4 “U het u woede laat bedaar, U gloeiende toorn laat afkoel…” Psalm 103:8,9 “Barmhartig en genadig is die Here, Lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie.”

Wat ‘n pragtige beeld van die Vader. En toe een Sabbat, eeue later, kom Jesus kerk toe en Hy kyk na mense wat Hom wil verhoed om iemand te genees.

Net vir ‘n oomblikkie is Hy bitter ontsteld, maar vir die res van die sabbatsdiens straal Hy tere, besorgdheid uit.

DEERNIS

“Hy het die sonde skerp en deurtastend aan die kaak gestel; maar daar was geen weerwraak in Sy woorde nie. Hy het ‘n heilige toorn vir die vors van die duisternis gekoester, maar Hy het geen vitterige humeur aan die dag gelê nie. Die Koning van die Eeue, bl. 560.

DIE MAN WORD GENEES

Twee duisend jaar gelede het ‘n man met ‘n groot verleentheid kerk toe gekom. Sy regterhand was verlam, kragteloos, misvorm. Jesus praat met hierdie man wat in pyn verkeer het.

Markus 3:3,5 “Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: Staan op hier tussen hulle.” “…Hy sê toe vir die man: Steek jou hand uit. Hy het sy hand uitgesteek en dit was gesond.”

Kan u sien hoe daardie pynvertrekte gesig in ‘n glimlag verander? ‘n Siek, gebroke mens het die kerk ingestap. ‘n Gesonde, geneesde mens het die kerk uitgestap.

DIE UITNODIGING

Soos wat Jesus 2000 jaar gelede vir die onthalwe van ‘n man met ‘n verdorde hand kerk toe gekom het, het Hy weer vanoggend vir jou en my onthalwe kerk toe gekom.

Is daar iets moois in jou lewe wat soos daardie man se hand verdor het? ‘n Mooi verhouding, ‘n mooi gesindheid? Het jy jou greep op die mooi gedagtes verloor?

Het jy soos ‘n skaap in ‘n sloot van sonde en depressie geval? Jesus wil jou vanoggend daar uithelp.

Wil jy nie saam met my jou verdorde hand aan Jesus vir genesing gee nie? Kom ons doen dit want Hy is gretig om ons te genees.

Was this article helpful?

Related Articles