1. Home
  2. Sabbat Wonderwerke
  3. Sabbat Wonderwerke – Die Genesing Van ‘n Gebreklike Vrou

Sabbat Wonderwerke – Die Genesing Van ‘n Gebreklike Vrou

(6) SABBATWONDERWERKE – DIE GENESING VAN ‘N GEBREKLIKE VROU

Skriftuur: Lukas 13:10-17

Wanneer laas het jy iemand met ‘n boggelrug gesien? Dis baie hartseer om te sien hoe hierdie mense aansukkel.

Hoe ouer ‘n mens word, hoe pynliker word dit om met ‘n boggelrug te beweeg. U sien, pleks dat die rugstring reguit loop, buig dit naby die nek en die persoon is genoodsaak om vooroor te loop.

Ek het al na die uitdrukkings op hierdie mense se gesigte gekyk. Dis een van pyn. Kan jy jouself in so ‘n fisiese defek indink? Almal om jou is semitries en jy is misvormd

Baie boggelrug mense loop met ‘n swak selfbeeld. Dit het tot gevolg dat hulle dat hulle asosiaal raak. Baie van hulle worstel met die vraag: “Waarom het God toegelaat dat hierdie ramp my moes tref?”

Onder boggelrugmense kry jy beide depressiewe en aggressiewe gevalle.

As jy ‘n boggelrug gehad het, sou jou kanse baie skraal gewees het dat iemand op jou verlief sou raak. Hierdie gedagte lei tot ‘n gevoel van verwerping.

ANNA

Kom ons noem haar Anna. Een Sabbat, 2000 jaar gelede, het sy wakker geword. Sy het ‘n keuse gehad: of sy bly by die huis waar niemand haar kon sien nie, of sy gaan kerk toe waar almal haar kon sien.

Anna het meer as net ‘n boggelrug gehad. Sy was heeltemal kromgetrek. Sy was so erg dat sy vooroor sou val as sy nie met kieries geloop het nie.

Kom ons blaas na Lukas 13:10,11 en dan lees ons wat Dr. Lukas oor haar geskryf het:

Eenkeer op ’n Sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer. Daar was ook ’n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ’n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie.

Kan jy haar sien terwyl sy met groot pyn en moeite by die kerk aankom? Die mense probeer oogkontak met haar vermy. Een van die kinders sê hardop vir my ma:

“Kyk hoe snaaks lyk daardie tannie! Hoekom loop sy so vooroor?”

Anna hoor ook hoe iemand anders opmerk: “Siestog. Dit moet vreesliks wees om so deur die lewe te gaan. Wie trek haar aan en wie was haar?”

Stadig en pynlik stap sy die sinagoge binne. Die onvriendelike en onsimpatieke blikke van die Fariseërs maak haar depressief. Sy sal nooit die preek vergeet wat een van hulle op ‘n dag gepreek het nie. Dit het gegaan oor hoe God mense vir hulle sondes straf.

Anna het baie verskonings gehad waarom sy nie daardie Sabbat kon kerk toe kom nie. Haar voorkoms en “hang-ups”, die Fariseërs en die mense se aanmerkings. Maar tenspyte van dit alles, het Anna nogtans kerk toe gekom.

Ek is so bly het. Sy is vir my en baie ander kerkgangers ‘n voorbeeld.

Een van redes waarom mens van die kerk af wegbly, is as gevolg van die sogenaamde Fariseërs. Hierdie mense verwag dat almal in die kerk so perfek soos hulle moet wees.

Ek is so bly dat Anna daardie Sabbat kerk toe gekom het. Die emosionele probleme waarmee sy geworstel het, het haar nie van die kerk af weggehou nie.

Iemand het een keer vir my gesê dat hy net kerk toe kom wanneer hy so voel anders is hy ‘n skeinheilige.

BAIE ANNAS

Daar was baie Annas in Jesus se dag wat nie kerk toe gekom het nie. Hulle het natuurlik hulle redes gehad. Ongelukkig het hulle baie seëninge misgeloop terwyl Jesus vir Anna genees het.

JOU VERWAGTING

Wat verwag jy van jou kerk? Watter soort mense sal jy in die kerk wil sien? Tot ‘n sekere mate kan die kerk met ‘n motorhawe se vertoonlokaal vergelyk word. Dis hier waar die verkoopspersoneel jou van die goeie kwaliteite van hulle produk vertel.
Maar wanneer jy in die werkwinkel stap, sal jy sommige van hierdie goeie motors met hulle kappe in die lug sien staan. Baie van die ouer modelle sal ook nie meer so baie blink lyk nie.

Kerksmense is baie dieselfde. Tydens hulle doop is hulle soos splinternuwe motors. Maar die grondpad waarop hulle ry, in ongeskraap en vol sinkplate. Die stof wat ‘n mens op die lewensweg optel, kan ‘n mens ruk-ruk laat loop omdat die vergasser vuil is.

En wanneer dit gebeur, trek ons nie meer so goed soos voorheen nie. Die knaldemper roes deur, die humeur vlam ‘n bietjie op en dan praat ons hard en aggressief.

Gelukkig het die werkswinkels ‘n oplossing vir elke probleem wat ‘n kar kan gee. Die kerk van die Here het ook ‘n oplossing vir elke geestelike probleem wat ‘n lidmaat kan gee.

Die kerk kan ‘n klein diensie gee, en die kerk kan ook ‘n groot diens gee.

Met tye is ons in ‘n vertoonlokaaltoestand. Maar dan is daar tye wat ons na die werkwinkel toe moet gaan. Kom ons wees verdraagsaam teenoor mekaar.

KWARRIE

Wanneer ’n mens vanaf Rome na Tivolytuine en fonteine ry, sien jy ‘n reuse marmer kwarrie. Teen die berg sien jy baie stof en hoor jy ‘n groot geraas. Dis hier waar die marmer met dinamiet losgeskiet word.

By een gedeelte sien mens die semifinale blokke marmer. Hier sien mens hoe die beeldhouers met hamers en beitels op die vormlose stuk rots werk.

En dan by die ingang van die kwarrie sien mens die afgeronde produk. Pragtige Italiaanse beeldhouwerk wat na die Withuis en Buckinhampaleis uitgevoer word.

Die kerk is die kwarrie waar die Here ons mede broers en susters gebruik om ons te beitel. Moet asseblief nie die beitels in die gemeente wegwens nie. Hulle is daar om ons ‘n mooi vorm te gee.

Spreuke 27:17 sê: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander.”

Terwyl ek by hierdie beroemde verbygery het, het ek aan ‘n insident in die lewe van Michael Angelo gedink. ‘n Groot marmerrots is by sy huis afgelewer en hy het dadelik met sy beitels aan die vormlose marmer begin werk.

Uiteindelik het hy agteruit getree en na die pragtige engel gekyk wat uit die rots verskyn het.

Met groot verbasing het sy diensmeisie hom gevra: “Meneer. Hoe het jy geweet daar was ‘n engel in die rots?”

So lank as wat ek en jy met die beitels van die lewe baklei, sal die engel van ‘n mooi geaardheid nooit tevoorskyn kom nie.

JESUS HET ANNA RAAKGESIEN

Kon ons keer terug na die verhaal van Anna, die boggelrug tannie wat een Sabbat kerktoe gekom het. Kan jy sien hoe sy na haar sitplek sukkel, haar kieries neersit en na haar asem hyg?

Sy het hierdie gewoonte al vir 18 jaar beoefen, maar nou gee haar kragte baie vinnig in. Dit mag net wees dat dit die heel laaste Sabbat was wat sy kerk toe gekom het. Sy kon net hierna ‘n invalide geword het, en toe gesterf het.

Anna se blik beweer oor die gemeente. En dan kyk sy in Jesus se oë vas. Dis net waarvoor Jesus gewag het. Wat dink u het Anna in Jesus se opgewonde, liefdevolle oë gelees?

As Jesus vanoggend in die diens was, en jy sou in Sy oë kyk, watter boodskap sou jy daar lees? Is jy gereed om in Sy oë te kyk?

Maria se eerste gewaarwording is dat Jesus alles omtrent haar weet. Maar tenspyte van Sy alwetendheid was daar géén veroordeling in Sy blik nie. Die manier waarop Hy na haar gekyk het, het haar met ontsettende hoop vervul

Ons moet meer dikwels in Jesus oë van liefdevolle begrip kyk.

Johannes 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

OPROEP OM NA VORE TE KOM

Kom ons lees die volgende gebeurtenis in die drama van restourasie:
Vers 12 “En toe Jesus haar sien, roep Hy haar.”

Jesus het haar eers ‘n blik van hoop gegee en haar toe na Hom geroep. Jesus het haar laat verstaan dat haar gebrek haar nie vir Sy genesing diskwalifiseer nie.

Kan u sien hoe sy haar kieries neem en pynlik na vore sukkel. Alle oë is op Anna. Daar is doodse stilte behalwe vir die geskuifel van Anna.

Almal se oë is op hierdie misvormde wese vasgenael. Met kere verloor sy amper haar balans.

JESUS VEGEWE

Ons draai ons oë weg van Anna en kyk na Jesus. Hy straal ‘n blik van diepe simpatie uit terwyl Hy sien hoe sy na Hom aangesukkel kom. Hy lees haar hart. Was sou jy sê was haar grootste begeerte: fisiese of geestelike heling?

En nou staan sy hier voor Jesus. Wat ‘n skrille kontras! Jesus staan orent en Anna is krom gebuig. As sy nie kieries gehad het nie, het sy vooroor geval.

Die gehoor kyk na die gevolge van sonde wat ons ‘n boggelrug gee en ons na die grond toe trek.

Kom ons buk af en dan kyk ons na Anna se gesig. Ons sien bekommernis, pyn, onsekerheid, verleentheid. Daar is ook ‘n tikkie skuldgevoel.

Terwyl sy in haar vernedering voor Jesus staan, hoor sy die volgende woorde:

Lukas 13:12 “Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!”

Kyk versigtig na Anna.

Skielik is die bekommerde blik weg. Die spore van worsteling en depressie verdwyn. Die blik van skuld maak plek vir ‘n pragtige glimlag van vrede en tevredenheid.

Jesus se woorde klink deur die lewe kamers van haar verslae siel:
“Mevrou, jy is van jou gebrek verlos.” x 2.
Agtien jaar gelede het Anna in sonde geval en met ‘n geestelike boggelrug deur die lewe gesukkel

Maar toe sy Jesus daardie Sabbatoggend in die kerk ontmoet, het die skuldgevoel wat haar kromgetrek het, haar verlaat, en kon sy met ‘n skoon gewete weer regop staan.

VERGIFNIS

Dis moontlik dat ek en jy vanoggend met ‘n skuldgevoel kerk toe gekom het. Sonde het ons kromgetrek en misvorm. Is dit moontlik dat ons vir ‘n baie lang ruk met kieries moes aansukkel?

Is daar vanoggend ‘n verlange in jou hart om dieselfde woorde van Jesus te hoor as wat Anna gehoor het?

“My kind. Jy is van jou sondes verlos!”.

Wie gee vir Jesus die reg om my sondes te vergewe?

Jesaja 53:5 Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Kom ons kyk weer ‘n keer na Anna se gesig. Trane van vreugde rol nie oor haar wange nie want sy is nog krom getrek. Die trane val direk op die vloer.

Gaan Jesus iets omtrent die rigting van die trane doen? Beslis. Hy gaan Anna se boggel, haar regop laat staan sodat die trane oor haar wange kan rol.

FISIESE GENESING

Vers 13. “Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.”

Hou dit fyn dop. Toe Jesus se hande op Anna se boggel rus, begin sy haar regop postuur terugkry. Jy hoor nie eers werwels raas nie.

En toe begin die trane van dankbaarheid op hulle normale roete hardloop. Wat ’n wonderwerk! Wat ‘n Verlosser.

Die boodskap van daardie Sabbatwonderwerk van lank gelede sê vir ons dat Jesus die Groot Geneesheer is.

Dis net Jesus wat ‘n krom mens weer regop kan maak. Dis net Jesus wat die neergeboë, skuldbelaaide sondaar kan oprig.

Kom na Jesus vir vergewing en vir genesing. Hy het nog nooit ‘n kroniese, hopelose geval weggewys nie.

DIE GEHOOR SE REAKSIE

Hoe dink julle het die hoof van die sinagoge gereageer?

Lukas 13:14 Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die Sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop ’n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die Sabbatdag nie.”

As ek ‘n skynheilige is, is hier ‘n les vir my. Hierdie man plaas die Farisese onderhouding van die Sabbat bo die behoeftes van lydende mense.

Mensgemaakte reels is vir hom belangriker as die behoeftes van mense. En wat van jou en my? Plaas ons vertolking van die evangelie bokant die behoeftes van mense? As dit die geval is, het ons ‘n baie groot probleem.

Is daar hoop vir die skynheilige mens? Is daar ‘n bestraffinkie van Jesus se kant vir ons wat godsdiens bo die behoeftes van mense plaas? Ja daar is. Kom ons lees dit:

Lukas 13:15,16 Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die Sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie? En hier is ’n vrou, ’n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die Sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?”

Waarmee is ons besig? Beuselagtighede? Weet jy van die stryd wat ek hierdie week gehad het? Weet ek van joune?

Die Sabbatwonderwerk wat Jesus lank gelede verrig het, sê vir ons dat Hy kromgetrekte mense weer wil regop hê. Kom ons help mekaar op, pleks van mekaar verder af te druk.

OPHEFFENDE TEKSE

Luister na die volgende paar opheffende tekse waarmee ons mekaar kan bemoedig:

Psalms 44:25 Ons is tot in die stof verneder, ons is teen die grond. Kom ons tog te hulp en bevry ons, dat so u troue liefde blyk.

Was jy hierdie week tot in die stof verneder? Kom vanoggend weereens na God se optelliefde. Het ‘n krisis, ‘n verlies, ‘n misverstand jou van die hoogtes na die laagtes neergedruk? Luister dan na hierdie optel teks:

Psalm 145:14 Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun die wat bedruk is.

LAURETTA

Toe my kindjie leer loop het, het sy geval en geval. Ek haar elke keer opgetel en opgetel. Waarom?

My optelliefde vir my kind was groter as haar val.

Ek net vir jou sê dat God se optelliefde vir jou baie groter as jou val is. Hy is hier om ons op te tel.

Lukas 13:17 Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.

Tweeduisend jaar gelede het ‘n vrou met ‘n boggelrug kerk toe gekom. Skuldgevoelens het haar neergedruk. Jesus het haar na Hom toe geroep. Sy het gekom, sy is vergewe en genees.

Dieselfde Jesus is vandag weer hier. Hy het jou raakgesien. Hy roep jou want Hy wil jou vergewe en genees. Wil jy nie op Sy roepstem reageer nie?

Was this article helpful?

Related Articles