1. Home
  2. Sabbat Wonderwerke
  3. Sabbat Wonderwerke 4 – Die Genesing Van die Man By Betesda

Sabbat Wonderwerke 4 – Die Genesing Van die Man By Betesda

(4) SABBATWONDERWERK – DIE GENESING VAN DIE MAN BY BATESDA

Skriftuur Johannes 5:1-9

Een van die vervullendste studies is die studie en bepeinsing van die lewe van Jesus. Dis so heerlik om op ‘n Sabbatoggend aan die Here van die Sabbat te dink. Vanoggend stap ons weereens op die voetspore van Jesus en dan kyk ons na ‘n baie besondere wonderwerk wat Hy een sabbatoggend gedoen het.

Johannes 5:1 “Hierna was daar weer ‘n fees van die Jode, en Jesus het opgegaan na Jerusalem.”

Kom ons kyk versigtig na die inhoud van hierdie teks. Dit sê: “Jesus het opgegaan na Jerusalem…”

Die Jordanvallei lê ongeveer 300 meters onder seevlak. Wanneer mens vanaf Jerigo na Jerusalem reis, kom jy by ‘n plek langs die pad waar die bordjie vir jou sê dat jy nou by seevlak is.

Vanaf hierdie punt tot by Jerusalem klim jy ‘n verdere 800 meters. Met ander woorde Jesus het ‘n opdraende van ongeveer 1100 meters deur die Judese woestyn geklim om by Jerusalem uit te kom. Dis ‘n taamlike klim.

Maar behalwe vir die af- en opdraendes wat Jesus op aarde moes loop, het nog ‘n ander groot afstand afgelê. Teneinde vlees soos ek en jy te kon word, moes Jesus, die Tweede Persoon in die Godheid, vanaf die hemel kom.

Toe ek en jy in die moeilikheid geraak het, het afstande nie vir Jesus saak gemaak nie. Verby biljoene ligjare het Hy aangehou reis tot waar Hy ons hier op die ashoop van ons sonnestelsel kom vind het.

En net so onberekenbaar as wat die afstand van die hemel na aarde is, net so onberekenbaar ver het Jesus in status afgekom. Die God wat ‘n uitgestrekte kosmos bewoon het, kom plak in die donker baarmoeder van ‘n armblanke meisie van Nasaret.

DIE OPDRAENS

Elke keer wanneer ek teen die steiltes deur die Judese woestyn met ‘n lugverkoelde motor uitry, sien ek Hom op daardie pad. Hy is van Sy heerlikheid gestroop. In die plek van ‘n Goddelike glans wat Hom omhul, dra Hy ‘n ‘n gewone katoen kleed. Hy is ongemaklik nat gesweet.

In die hemel het Hy die geur van onsterflikheid ingeasem. En nou, hier teen die steil bult, ruik Hy Sy eie sweet en die sweet van Sy dissipels. Hy het op aarde vir ons op elke gebied kom sweet, sodat ons in die hemel nooit weer hoef te sweet nie.

Jesus is op pad na Jerusalem om die paasfees te gaan bywoon. Tydens Sy eerste paasfees-besoek, het Hy die tempel gereinig. Hy is nou op pad na die tweede paasfees.

Na hierdie paasfees, sou Jesus Sy derde en laaste een bygewoon. Dan sou Hy die antitipese paaslam word en net buite Jerusalem aan ‘n kruishout sterf.

Toe Jesus naby Jerusalem kom, val Sy oog op Golgotha. Ek wonder wat alles deur Sy gedagtes gemaal het toe Hy besef dat Hy oor presies ‘n jaar gekruisig sou word.

Johannes 5:2 “By die Skaappoort in Jerusalem was daar ‘n bad met die Hebreeuse naam Betesda…”

Soos in later in die verhaal sal sien, was hierdie bad eintlik maar ‘n bad van genadelose ellende. Weet u wat die naam Betesda beteken?

HUIS VAN GENADE. “Bet” = “huis” en “tesda” = “genade.”

Op hierdie spesifieke sabbatoggend het Jesus se teenwoordig heid hierdie bad van genadelose ellende in ‘n ware huis van genade gemaak.

Wanneer ons Jesus in die ellendes van ons huise en harte toelaat, omskep Hy dit in huise van genade.

As daar ooit ‘n plek is waar baie meer genade betoon kan word, dan is dit in ons huise. Daar is met tye te veel onverdraagsaamheid, onvergewensgesindheid, ongevoeligheid en woede in ons huise. Ons het Jesus dringend nodig om ons huise huise van genade te maak.
Vers 2,3 “…Dit het vyf pilaargange gehad, waar daar baie gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes.”

Het jy al ooit die buitepasiënte van ‘n provinsiale hospitaal besoek? Dis maar ‘n depressiewe plek.

Op ‘n keer het een van my lidmate, Prof. Dawid Meyer aangebied om my oë deur buitepasiënte te ondersoek. Die rukkie tussen daardie sieklike, armsalige randfigure sal ek lank onthou. Van die armste van die armstes van die Kaapse vlakte was daar.
Hulle is bleek, verwronge, oud. Van hulle is lelik en ellendig. Hulle wag dat die staat se waters van genade geroer word sodat hulle kan inspring en gratis pynpille kan kry.

LOURDES

Op ‘n keer toe ek Lourdes in die suide van Frankryk besoek het, het ek ‘n soortgelyke toneel gesien. Met tye word daar ‘n diens deur ‘n hooggeplaasde geestelike gehou. Dan word mense uit hulle hospitaalbeddens geneem en op stootwaenstjies na die sogenaam heilige grot gestoot. Hulle kom daarheen in die hoop dat hulle genesing sal ontvang.

Ek sal daardie moeë, na-gesondheid-smagtende oë in daardie stootwaentjies nooit vergeet nie. Hulle kom in hulle honderde, hoopvol op genesing. En na die diens stoot hulle die teleurgesteldes weer terug na die hospitaal waar hulle vir die volgende roering van die Lourdes waters gaan wag.

JESUS SE BESOEK

Jesus het hierdie spesifieke sabbat ‘n bietjie vroeër opgestaan want Hy wou eers ‘n besoekie by Betesda aflê. Kom ons volg Hom terwyl Hy tussen sterwende wrakke van Betesda instap. Die betekenis van die naam, “huis van genade” staan in skrille kontras met die pyn en ellende wat gesien word.

Terwyl ons na Jesus se oë kyk, sien ons ‘n goddelike deernis en liefde wat uit Hom straal. Die boek “Die Koning van die Eeue” b. 201 vertel vir ons wat in Jesus se hart opgekom het toe Hy hierdie mense sien.

“Hy sou graag Sy mag wou gebruik om elke lydende gesond te maak. Maar dit was die Sabbat. Skares was onderweg na die tempel vir aanbidding, en Hy het besef dat so ‘n genesing die Jode se vooroordeel sou gaande maak en sodoende Sy werk sou verkort.”

Terwyl Jesus na die hartseer toneel kyk, word Sy goddelike simpatie opgewek. En weet u wat? Terwyl hy vanoggend na ons kyk, simpatiseer Hy. Kom ons lees verder.

Verse 5 “Onder hulle was daar ‘n sekere man wat ag en dertig jaar lank siek was was.”

Kom ons stap ‘n bietjie nader na hierdie man. As ‘n dokter hom vandag sou ondersoek, sou hy hom baie vinnig na die intensiewe sorg eenheid verwys. Hulle sou hom dadelik op ‘n drip gesit het.

Omdat hy tot ‘n groot mate vir sy eie siekte verantwoordelik was, het hy ook nog die vloek van self-verwyt gedra. Ek wonder hoedanig was sy selfbeeld.

VERLORENHEID

Maar daar is een iets waarvoor ons hierdie man moet prys. Hy het nog nie heeltemaal moed op gegee nie. Iemand het hom van die genesende waters van Betesda vertel. Nuwe hoop op genesing het in sy moeë gees opgevlam. Omdat hy met sy hele wese na genesing verlang het, het hy iemand gevra om hom na die bad van Betesda moes neem, die “Huis van Genade”

HOOP OP HERSTEL

Het jy vanoggend kerk toe gekom met die hoop dat jy verligting van jou pyn sal ontvang? Het jy vanoggend as ‘n verloorder hier ingestap? Sou jy graag as oorwinnaar hier uitstap?

Ek het baie goeie nuus. Dieselfde Jesus wat daardie man raakgesien en gehelp het, het jou vanoggend raakgesien. Die onveranderlike Jesus wil elkeen van ons vandag op ‘n baie besondere wyse aanraak.

Vers 6 “Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: Wil jy gesond word?”

JESUS DIE GENEESHEER

Jesus, die Majesteit van die hemel, stap na ‘n bondeltjie menslike ellende en hurk langs ‘n sterwende man.

Jesus, die Personifikasie van Volmaaktheid hurk langs die mens in sy grusame onvolmaaktheid; Gesondheid kom sit langs siekte; Geluk langs ellende. Kan jy vir Jesus in Sy volmaakte heiligheid langs hierdie besoedelde menslike wrak sien hurk? Jesus tik die man liefdevol op sy skouer.

Die verlamde man draai sy moeë oë na die man wat hier langs hom buk. In Jesus se oë sien Hy ‘n deernis, ‘n vergewensgesindheid wat hy nie voorheen gesien het nie. Kom ons luister na die gesprek wat nou gaan volg.

Johannes 5:6 “Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: Wil jy gesond word?”

Vandat Adam sonde-infeksie opgedoen het, het die woorde van die Groot Internis deur die eeue weerklink. “Wil jy gesond word.”

Ek en jy het vanoggend met ons behoeftes na Batesda, die huis van genade gekom. Ons het infeksie opgedoen. Dieselfde liefdevolle, bedagsame stem praat weer: “Wil jy gesond word?”

Die boek Die Koning van die Eeue gee ons ‘n kykie in die man se diepste emosies.

“Die siek man het op sy mat gelê en net af en toe sy kop gelig om na die water te kyk, toe ‘n liefdevolle, simpatieke gesig oor hom buk en hy hoor: ‘Wil jy gesond word?’ Hoop het in hom opgewel. Hy het gevoel dat hulp aan kom was. Maar die sprankie hoop het gou verdwyn. Hy het onthou hoe dikwels hy die bad probeer bereik het, en nou het hy min vooruitsig om te leef totdat daar weer ‘n roering kom. Hy het sy kop moeg weggedraai en geantwoord: ‘Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in.'”

HOOP EN WANHOOP

Weet jy wat dit is om soos hierdie verlamde man tussen hoop en wanhoop geslinger te word? Die een oomblik hoop jy dinge sal regkom, en die volgende oomblik beleef jy wanhoop.

Terwyl ek die waters van Batesda besoek het, kon ek hierdie man in my geestesoog sien. Hy hou die water fyn dop om te sien of daar nie ‘n roerinkie kom nie. En dan gebeur dit. Met groot moeite sleep hy sy verlamde liggaam na die kant toe. Maar dan kom iemand sterker en vinniger as hy wat voor hom in die bad spring.

Het jy ‘n duisend keer probeer en ‘n duisend keer misluk? Is jy soos daardie verlamde man wat net vir ‘n oomblikkie moed het, en dan maar weer in wanhoop verval? Kom ons luister na die man se antwoord toe Jesus hom vra: “Wil jy gesond word?”

Vers 7 “Die sieke het Hom geantwoord:’Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.'”

MISLUKKINGS

Hy was op baie gebiede ‘n baie suksesvolle mens. Maar hy het een vreeslike probleem gehad. Hy was ‘n alkolis. Elke keer wanneer hy weggestuur is, was hy vol moed. Maar wanneer hy ontslaan is, het hy maar weer begin drink.

‘n Vrou met bruin vingers en ‘n growwe stem het vir my gesê sy probeer al vir jare ophou rook. Sy het al baie keer met groot hoop probeer ophou, maar dan val sy maar weer terug in hierdie vernietigende gewoonte.

‘n Hartverskeurde ma het my gevra om haar seun in die gevangenis te gaan besoek. Tydens die besoekie vertel hy my dat hy met elke ontslag hoopvol is dat hy nooit weer ‘n misdaad sal pleeg nie. Ongelukkig hou dit net ‘n rukkie. Dan steel hy en dan beland weer in die tronk.

VERWYSINGSRAAMWERK

Hoe lyk jou verwysingsraamwerk? Het jy probeer en probeer en geval en geval? Hy jou wil om te oorwin verswak? As jy vanoggend jou morele CV (Currilum Vitae) moes instuur, hoe sou hy lyk?

JESUS EN DIE VERLAMDE

Kan u die prentjie van Jesus en die verlamde man sien? Die een is so swak, so verskriklik swak. Die ander Een, Jesus Christus, is so sterk, so verskriklik sterk.

Die verlamde man het oor die jare tevergeefs na genesing gesoek. Hy is op die punt waar hy soos uitgeputte, foosgeslaande bokser die handdoek wil ingooi.

Onthou net. Wanneer ek en jy met onsself moed opgegee het, het Jesus nog nie met ons moed opgegee nie.

Kan u die skrille kontras tussen hierdie twee sien? Die sterk almagtige Jesus langs die swak, uitgeteerde, moedverlore menslike wrak.

Maar wanneer die platgeslaande, amper uitgetelde sondaar op die planke lê, verskyn Jesus in die bokskryt. Hy tel ons op en gee die vyand ‘n vinnige uitklophou.

Hy wil hê ons moet verstaan hoe opreg en teer Sy hart na ons uitgaan. Hy nooi ons om met ons beproewinge na Sy simpatie te kom, met ons droefheid na Sy liefde, met ons wonde na Sy genesing, met ons swakheid na Sy krag, met ons leegheid na Sy volheid. Niemand wat na Hom gekom het, is nog ooit teleurgestel nie. (OR53)

Vir baie jare het ‘n verlamde man by die bad van Batesda gelê. Hy het gehoop sy vriende sou hom help om genesing te vind. Hy het na sy eie sterk geloof gekyk om hom te help. Maar hierdie man het nie by aardse hulpbronne die genesing gekry waarna hy gesoek het nie. Sy hoop is verydel.

In die pragtige boekie, “Skrede na Christus” het ek hierdie juweeltjie ontdek.

“U hoop is nie in uself nie; dit is in Christus. U swakheid is verbind met Sy krag, u onkunde met Sy wysheid, en u nietigheid met Sy ewigdurende mag. U moet dus nie op uself vertrou of u oë op uself verstig nie, maar op Christus.” p. 34.

DIE WONDERWERK

Miskien wens jy saam met my dat ons daardie Sabbat by die bad van Betesda kon gewees het toe hierdie wonderwerk plaasgevind het. Maar weet u wat? Die Here kan op hierdie sabbatoggend weer ‘n keer ‘n wonderwerk van genade in ons lewens verrig.

Vers 8 “Jesus sê toe vir hom: ‘Staan op, tel jou goed op en loop.'”

Wat ‘n bevel. Jesus sê in effek vir hom. “Man, vergeet van jou duisend mislukte pogings in die verlede. Neem my krag beet, en word gesond.”

Die patetiese bondeltjie ellende plaas al sy vertroue op Jesus. Hy glo wat Jesus hom sê, en hy gehoorsaam die bevel.

“Elke spier en senuwee tril van nuwe lewe, en gesonde beweging kom in sy verlamde ledemate. Sonder om teë te praat, beoefen hy sy wil in gehoorsaamheid aan Chrstus se bevel en al sy spiere gee gehoor aan sy wil. Hy spring orent, en bevind homself ‘n gesonde man.” (Die Koning van die Eeue bl. 203)

Wat ‘n toneel! ‘n Man wat vir 38 jaar verlam was, gehoorsaam Jesus se bevel en word onmiddellik gesond.

Vers 9 “Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop. Dit was ‘n sabbatdag.”

Ek het ‘n idee die geneesde man het so ‘n paar keer van vreugde in die lug gespring. Ek sou dit gedoen het. En ek is seker Jesus het hom met ‘n glimlag van genoegdoening aangekyk.

WIE IS DIE GENEESDE MAN?

Wie is hierdie gelukkige man wat daardie spesifieke Sabbat deur Jesus genees is? Is dit miskien ek? Is dit miskier jy?.
Wat Jesus vir hom gedoen het, wil Hy ook vir jou en my doen.

Die verlamde het elke woord geglo wat Jesus vir hom gesê het en tweedens het hy daarop gereageer. Toe Jesus vir hom sê om op te staan, het hy dit gedoen.

Deur dieselfde geloof in Jesus te openbaar, kan ek en jy ook oombliklike geestelike genesing ontvang. En weet u wat? Die Here het ‘n intense verlange dat ons ons totale vertroue op Hom moet plaas.

Sonde het ons van die lewe van God weggeskeur. Ons is verlam. Uit onsself is ons nie in staat om ‘n heilige lewe te lei nie Net soos min as wat die verlamde man kon loop.

Die evangelie het goeie nuus vir elke struikelende vallende sondaar. Jy is deur Sy bloed vrygekoop en is kosbaar in Sy oë. Hy vra jou vanoggend met al die goddelike deernis en liefde van Sy hele wese

“Wil jy gesond word?”

Hy vra jou om in geestelike gesondheid en vrede op te staan. Moenie vir een of ander gevoel was voordat jy Sy geestelike genesing aanvaar nie. Die evangelie word nie gevoel nie, dit word geglo.

Jesus is nie net by magte om ons te genees nie, Hy wil dit baie graag vir ons doen.

Sy plan vir jou en my is om vanoggend ons matjie op te tel en genees en gelukkig uit ons geestelike verlamming te stap.

Vers 9 “…Dit was ‘n sabbatdag.”

Die boodskap van die sabbat, is ‘n boodskap van genesing. Die boodskap van die sabbat herinner ons daaraan dat ons onsself nie kan red nie, maar dat Jesus alleen dit kan doen.

Laat ons Hom nie teleurstel deur hierdie aanbod van genesing van die hand te wys nie. Kom ons aanvaar Sy aanbod en geniet.

Was this article helpful?

Related Articles