Verlede keer het ons tot by by Perge gereis. By hierdie einste plek het daar ‘n breuk in ‘n pragtige verhouding gekom.
Markus het by die plek gekom waar hy nie kans gesien om langer saam met Paulus en Barnabas te werk nie.
Terwyl ek hier stap, dink ek aan die Perge-ondervindings in my eie lewe. Ons begin vriendskappe maar dit hou nie vir altyd nie.
Elke vriendskap is aan toetse onderworpe. Ons slaag die toets en die vriendskap word hegter of ons dop die toets en die vriendskap verbrokkel.
UITNODIGING
Op een of ander tydstip moes Barnabas by Markus ‘n sending gees opgewek het. Miskien was dit die kere toe hy saam met die ander gelowiges by sy ma aan huis was.
Dit lyk amper of Markus se pa vir tannie Maria baie goed nagelaat het. Sy het ryk geërf.
Terwyl ek deur die museum stap en na die ontdekkings van Perge kyk, dink ek aan Markus.
Ek het net so ‘n idee dat hierdie mannetjie, Markus ‘n bietjie bederf was en aan die sagte kant was.
‘n Ma is mos ‘n bietjie jammerder vir haar kinders as daar nie ‘n pa in die huis is nie.
Een van die kunstenaars het potensiaal in ‘n stuk marmer hier by Perge gesien, en ‘n voorstelling van die engel Gabriël die lig laat sien.
Dis die soort mens wat Barnabas was.
Barnabas het ‘n engel in Markus gesien en hom aangemoedig om saam met hom en Paulus te kom werk.
‘N Gebedsakkie wat by Perge ontdek is, het my aan Markus se toewyding laat dink. Hoedanig was dit? Partykeer is dit te laat om in ‘n krisis te bid. Ons moet voor die tyd bid.
Ons gebedslewe moet elke dag sodanig wees sodat ons in krisistye kan staande bly.
Argeoloë het simbale uit die tydperk van Paulus in Perge opgegrawe. Paulus sê in 1 Korinte 13:1 dat iemand sonder liefde soos ‘n luidende simbaal klink.
Liefde soek nie sy eie belang nie. Vers 5
Handelinge 13:5 “Hulle het Johannes (Markus) by hulle gehad om hulle te help.”
Markus het begin raas. Markus het sy eie belang begin soek.
Ons lees daarvan in Handelinge 13:13 “Paulus en sy reisgenote het met ‘n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan.”
Wanneer mens die geografie van hierdie gedeelte van Turkye kyk, ontdek jy ‘n paar interessante dinge. In die eerste plek moes hulle oor die hoë Taurusberge klim.
Hierdie gebied was ook bekend vir sy Malariamuskiete.
Tot dusver was hulle reis taamlik gelyk. En dis maklik. Maar nou moes hulle oor hierdie vreeslike steil berge klim.
En dit mag ook wees dat sy ma nie vir hom Malaria tablette in sy toiletsakkie gepak het nie.
Terwyl ek hier by Perge stap, het ek aan ‘n moontlike gesprek tussen Paulus en Barnabas gedink.
Barnabas se omgee-geaardheid het met Markus gepleit om tog maar verder saam te reis.
En ek dink Paulus het die volgende gesê: “Luister. As hy na sy ma wil teruggaan, laat hom teruggaan. Moenie hom smeek om verder saam met ons te gaan nie. Die een wat hierdie werk wil doen, moet deursettingsvermoë hê. Hierdie is nie ‘n werk vir sussies nie.”
Dit lyk my hierdie insident was so erg dat hulle nie eers kans gesien het om in Perge dienste te hou nie. Luister wat sê vers 14:
Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit
Ek glo dit was ‘n eensame reis wat hierdie twee manne oor die Taurusberge voortgesit het. Wat het hulle met mekaar gesels? Was dit oor Markus? Was dit oor die volgende plek waar hulle sou evangeliseer?
Vers 14 Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom. (En wat maak hulle?) Op die Sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit.” (Daar was destyds twee Antiogiese gewees)
Dit was my voorreg om ook Antiogië in Pisidië te kon besoek. Na die lang ent se klim oor die Taurusberge het Paulus en Barnabas se gemoedere tot ‘n groot mate gekalmeer.
Hier in Antiogië kon hulle kon weer met vrymoedigheid vir die Here werk.
Baie gedagtes maal deur ‘n mens se kop wanneer jy hierdie plekke besoek. Dis hier waar die Jode vir Paulus en Barnabas gevra het om vir hulle ‘n boodskap te bring:
Handelinge 13:15 En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle ’n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan!
Terwyl ek hier tussen die puin van Antiogië stap, dink ek aan die pragtige preek wat Paulus een Sabbat lank gelede hier gegee het.
Handelinge 15:36 Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien,37 maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie.
Hier het Paulus baie groot waarhede verkondig. Hy vertel vir sy gehoor dat Dawid nie by sy afsterwe hemel toe is.
Aardse Dawid het gesterf, begrawe en sy liggaam het vergaan. Daarteenoor het die hemelse Dawid, Jesus, gesterf, geen verderwing gesien nie, en deur God self opgewek.
Kan argeologie bevestig dat ‘n sinagoge vroeër hier gestaan het? Terwyl ek by Antiogië stap en daaroor peins, kom ek op iets opwindend af:
Die ruïnes van die Paulus kerk is op die fondasie van die oorspronklike sinagoge gebou waar Paulus in 46 nC. gepreek het.
Ek kyk oor die vertes by Antiogië en dis asof die woorde van Paulus eeue gelede nog steeds weerklink. Luister hoe mooi vertel hy van God se vergifnis in Jesus:
Handelinge 13:38 Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word,39 en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.
Wanneer mens oor die geskiedenis van hierdie stad lees, ontdek jy iets interessants. Heidense aanbidding het ‘n groot houvas op hierdie mense gehad.
Maar daardie spesifieke Sabbat het daar van die heidene kerk toe gekom
Terwyl ek hier gestap het, het ek aab die versoek gedink wat hierdie mense aan Paulus gerig het. Kan julle dink wat dit kan wees?
Handelinge 13:42 En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende Sabbat tot hulle gespreek sou word.
Die dag wanneer Jesus op die wolke verskyn, sal baie van die mense wat hier begrawe is, uit hulle stofbeddens opstaan. Luister na hulle positiewe reaksie na afloop van die diens.
Handelinge 13:43 En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.
Daar is byna geen spore van die Christelike geloof wat mens hier raakloop nie. Die heidendom het getriomfeer.
Maar 2000 jaar gelede het ‘n groot wonderwerk hier plaasgevind. Kom ons lees dit:
Vers 44 En op die volgende Sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor.
Toe ek uiteindelik my besoek aan Antiogië afsluit, het ek teruggedink aan die wyse waarop Paulus en Barnabas die plek verlaat het.
Verse 50,51 Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas ’n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf.51 Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan.
Ek sou graag wou weet waaroor Paulus en Barnabas gepraat het toe hulle daar weg is. Dit was eintlik hulle eerste groot evangelisasiepoging in klein Asië.
Wanneer mense saam vir die Here werk, word vriendskapsbande hegter en hegter.
IKONIUM
Die Ikonium van Paulus se dag word tans Konya genoem. Ek was baie beïndruk met hierdie groot moderne Turkse stad.
Maar die heel belangrikste is die feit dat Paulus en Barnabas in Ikonium besoek het.
Wanneer mens die museums besoek, kry jy ‘n idee van hoe die mense destyds geleef en gedink het.
En dit wat jy tans sien, is ook dit wat die Bybelkarakters van daardie tyd gesien het.
Ek kyk na die uitstallings in die museum by Konya. Maar my gedagtes is meer by Paulus en Barnabas wat hier besoek het.
Handelinge 14:1 EN op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ’n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.
Die graf van ‘n groot Moslemgeestelike Mevlana Roomi is ook hier in Konya. Sy boeke is in baie tale vertaal en baie lesers neem die Moslem geloof aan.
Terwyl ek na die mense kyk wat Roomi se moskee besoek, dink ek aan die teëspoed wat Paulus en Barnabas hier in Ikonium opgetel het.
Handelinge 14:2 Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter.
Ek wonder of Paulus en Barnabas besef het dat dieselfde verbittering hulle later sou teister.
Terwyl ek deur die museum van Ikonium stap, dink ek aan die moedigheid van ons twee evangeliste. Die feit dat hulle geopeneer was, het hulle nie afgeskrik nie.
Handelinge 14:3 Ten spyte hiervan het die apostels ’n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen.
Wanneer mens op die spore van hierdie vroeë sendelinge stap, kry jy groot respek vir hulle. Die passie waarmee hulle die Here onder baie moeilike omstandighede gedien het, was ongelooflik.
Eers toe die Jode en heidene hulle wou doodmaak, het hulle vir hulle lewe gevlug.
Handelinge 14:5-7 Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, ’n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig, het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke. En daar het hulle die evangelie verkondig.
Op hierdie kaart kan mens mooi sien hoe ver hierdie twee sendelinge gestap het. Ons het met ‘n voertuig hier gery en baie gekla oor die lang afstande.
‘n Mens lees nie eenkeer dat Paulus en Barnabas oor die ontbering gekla het nie. Kom ons leer ‘n les by hulle.
Ons stap na die verlate omgewing waar die Listre destyds gestaan het. Dit wat hier gebeur het, het my siel met ontsag aangegryp. Kom ons lees dit:
Handelinge 14:8-10 In Listra was daar ’n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. 9 Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. 10 Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!” Die man het opgespring en hy kon loop.
Ek stap oor hierdie historiese stuk aarde en sien in my verbeelding hoe die inwoners se monde van verbasing oophang.
Wat sou jy gemaak het as jy daar was?
Handelinge 14:11,12 Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!” Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was.
Ek het ‘n standbeeld van Zeus in die Istanbulse argeologiese museum raakgeloop. Ons wil weet of die argeoloë nie vir ons lig op Zeus kan werp nie.
Zeus was die hoofgod van die Grieke, die vader van al die gode, terwyl Hermes, die seun van Zeus, weer die boodskapper van Zeus was.
’n Bekende legende uit hierdie omgewing, wat deur die digter Ovidius op skrif gestel is, handel juis oor die besoek van Jupiter en Mercurius (die Latynse name vir Zeus en Hermes) aan ’n bejaarde egpaar, genaamd Filemon en Baukis. Hierdie egpaar het nie geweet dat hulle deur twee gode in menslike gestalte besoek is nie. Nogtans het hulle gasvryheid aan die gode bewys, waarvoor hulle later ryklik beloon is.
Uit argeologiese vondste en ander buite-Bybelse inligting weet ons dat Zeus in die omgewing van Listra dikwels in landbouterme uitgebeeld is. Die mense het geglo dat hy goeie oeste en kos aan hulle voorsien.
Zeus was die Griekse naam vir hierdie god en Jupiter die Romeinse naam. By Baalbek in Libanon het ek na ses oorblywende suile van die Jupitertempel gaan kyk.
Handelinge 14:13 Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring.
By die verlate omgewing van Listra ek dink aan die krisis wat Paulus en Barnabas moes hanteer.
Handelinge 14:14 Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: 15 “Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.
Verse 16-18 Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, 17 maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” 18 Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.
Op een of ander manier het die Jode van Ikonium en Antiogië van Paulus en Barnabas se besoek aan Listra gehoor. Kan jy raai wat hulle toe kom doen het?
Handelinge 14:19,20 Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is. 20 Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.
Terwyl ons by Listra besoek, het ek vir een van my vriende, Hennie Viljoen van Namibië, gevra om die rol van Paulus te speel. Dink jy dat Paulus hierdie wrede steniging oorleef het?
Volgende keer gaan ons ‘n indiepte studie van hierdie gebeurtenis maak.
Mag die Here ons help dat ons ywer om vir hom te werk, en vir Hom te ly, geen perke sal ken nie.