Net voor Jesus se wederkoms gaan daar ‘n geweldige konflik tov van gehoorsaamheid wees. Of ek gehoorsaam die dier en ontvang sy merkteken, of ek gehoorsaamheid God en ontvang Sy seël. Kom ons lees daarvan in Openbaring 12:17:
En die draak was vertoorn op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God en die getuienis van Jesus hou.”
Openbaring kan alleen sinvol verstaan word wanneer dit in die lig van die boek Daniël bestudeer word. Die verhale in hierdie boek help ons om die laaste groot krisis beter te verstaan.
Waarom is Daniël se drie vriende deur ‘n woedende koning in die vuuroond gegooi? Omdat hulle geweier het om ‘n sekere universele wet te gehoorsaam wat met die wet van God gebots het.
Die koning van Babel, wat die eindtyd heerser van Babilon voorstel, het ‘n goue beeld opgerig en die hele wêreld deur wetgewing gedwing om die beeld te aanbid. Hierdie universele godsdienstige dekreet het die aanbidders in twee kampe verdeel. Gehoorsames aan die wet van God aan die een kant en gehoorsames aan die wet van die koning van Babel aan die ander kant.
Omdat die boek Daniël vir die eindtyd geskryf is, weet ons dat dieselfde toets ten opsigte van lojaliteit aan die eindtyd herhaal gaan word. Ek en jy sal binnekort deur wetgewing gekonfronteer word om ‘n aardse gebod te gehoorsaam wat met die wet van God gaan bots. Kom ons lees dit.
Openbaring 13:14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat aan hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.
Vers 15 En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.
Vers 16 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.
Deur toe te gee aan die eise van die dier, aanbid ek hom. Kom ons lees van mense wat in die gesig van die dood aan die Here se gebooie gehoorsaam sal wees:
Openbaring 14:8 Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.
Die boek Openbaring het geen illusies oor waaroor die laaste groot stryd op aarde gaan nie. Dis of gehoorsaamheid aan die wet van God, of gehoorsaamheid aan die gebooie van die dier. Die Bybel leer ons dat die onderhouding van die wet van God deur al die eeue die toets van ware liefde vir die Here was.
1Johannes 14:15 As julle my liefhet, bewaar my gebooie.
1 Johannes 2:4 Hy wat sê: Ek ken Hom, en Sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.
Hebreërs 5:8,9 Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword.
Wat sê hierdie teks vir jou? Hy sê vir my dat as ek moedswillig ongehoorsaam is, die Here nie my verlossing kan bewerk nie. Gehoorsaamheid aan die gebooie van God het Daniël se drie vriende in die vuuroond laat beland. Maar dis hier waar Jesus die toue verwyder het waarmee hulle gebind was.
Die verhaal van Daniël 3 gee vir elke gehoorsame kind van die Here die versekering dat die Here in die laaste krisis vir ons gaan optree. Gehoorsaamheid aan God se gebooie betaal.
DANIEL IN DIE LEEUKUIL
Om ons te help om die aard van die laaste groot krisis nog beter te verstaan, gee die boek Daniël vir ons nog ‘n verhaal met eindtyd implikasies.
Die manier waarop Daniël die Here aanbid het, het die geestelikes van sy tyd aanstoot gegee. Hy was ‘n vegetariër; hy het die Here se gebooie bewaar; hy het die profesieë geken en hy was ‘n man van gebed. En onthou, Daniël is ‘n tipe van die antitipiese eindtyd Daniëls.
Die geestelikes van die Medo Persiese ryk het met ‘n baie subtiele wetgewing na die koning gekom en voorgestel dat almal vir 30 dae net die koning alleen moet aanbid. Met ander woorde die kerk sê vir die staat wat om te doen. ‘n Universele dekreet word uitgevaardig en oortreders sou met die dood gestraf word.
Daniël het homself voorgeneem om liewer te sterf voordat hy een van die tien gebooie sou oortree. Die Here het hom nie stilletjies uit hierdie benoudheid weggeraap nie. Nee, hy moes as voorbeeld dien vir mense wat in die eindtyd gaan leef. Ons gaan nie van die benoudheid verlos word nie, maar in die benoudheid ondersteun word.
Nadat koning Darius vir Daniël in die leeukuil gegooi het, het sy gewete hom begin kwel. Hy het besef dat die geestelikes hom mislei het. Vroeg daardie volgende more was die koning by die leeukuil. Ek lees vir u uit hoofstuk 6.
Vers 21 Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?
Verse 22,23 Toe antwoord Daniël: Mag die koning baie lank lewe! My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U majesteit.
Die gebeure van Openbaring 12 is ‘n herhaling van dit wat in Daniël 6 afgespeel het. Die draak gaan weer ‘n keer die Here se gehoorsame kinders vervolg. Hulle gaan weer in ‘n leeukuil van benoudheid gewerp word.
In Openbaring 17 lees ons dat die gevalle geestelikes, nl. Babilon, die konings van die aarde sal aanhits om mensgemaakte gebooie op die wêreld af te dwing en die gehoorsame kinders van die Here dood te maak. Maar wat gaan uiteindelik met hierdie valse geestelike leiers gebeur?
Ons moet teruggaan na die boek van Daniël om dit te verstaan. Net soos wat die engel vir Daniël in die leeukuil beskerm het, so sal die engele Gods gehoorsame kinders tydens die komende vervolging beskerm.
En net soos Darius besef het dat die geestelikes hom mislei het, net so sal die konings, die politieke leiers van die laaste dae ook met skok besef dat die geestelikes hulle mislei het.
Daniël 6:24 Op bevel van die koning is die mense wat vir Daniël verkla het, omgebring en in die leeukuil gegooi saam met hulle kinders en hulle vrouens. Hulle het nog nie in die leeukuil grond gevat nie of die leeus was op hulle en het hulle verskeur.
Sal dieselfde iets binnekort gebeur? Baie beslis.Die vrou in Openbaring 17 wat op die dier sit, is ‘n hoer. Sy stel die afvallige godsdienste van die laaste dae voor wat God se wet oortree. Sy verlei die konings om God se gehoorsames kinders dood te maak.
Maar voordat die doodsdekreet voltrek kan word, sluit die genade deur en begin die sewe laaste plae op die goddeloses val. En nou besef die regeerders dat hulle deur die geestelikes mislei is. En wat dink u gaan dan gebeur? Dieselfde as wat in koning Darius se tyd gebeur het.
Openbaring 17:16 Die tien horings wat jy gesien het, en die dier, hulle sal die sedelose vrou haat en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verbrand.”
Kom ons kyk na nog ‘n ooreenkoms tussen Daniël en Openbaring. Openbaring 12:17 voorspel dat God se gehoorsame kinders net voor Jesus se koms vervolg gaan word.
Die optrede van die vierde dier van Daniël 7 help ons om die eindtyd scenario beter te verstaan. Terwyl die profeet hierdie dier dophou,maak ‘n klein horinkie sy verskyning. Dis die pousdom.
By die Rathaus van Nurenberg het die hervormers baie seker gemaak dat die wêreld weet wie die anticrhis is. Kom ons haal net een van die vele hervormers aan wat die pousdom as die antichis geïdentifiseer het.
“Julle moet weet dat die pous die ware, egte en finale Antichris is waarvan die hele skrifte spreek.” Martin Luther Werke, vol.8, bl. 554.
In Daniël 7:25 kry ons die skokkende onthulling dat die pousdom, die Antichris selfs die heilige tien gebooie van die Here gaan probeer verander. Niks kan die gesag van die Wetgewer so aantas as juis hierdie vermetele daad nie.
“En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd, tye en die helfte van ‘n tyd.”
Dawid sê in Psalms 119:72 Die wet van U mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
Kom ons vra die Katolieke hoe hulle die heilige wet van die Here beskou en of hulle dink hulle die mag het om dit te verander:
“Vraag. Watter is die Sabbatdag? Antwoord. Saterdag is die Sabbatdag.
Vraag. Waarom hou ons Sondag pleks van Saterdag? Antwoord. Ons hou Sondag pleks van Saterdag omdat die Katolieke Kerk by die Konsilie van Laodicea (336 n.C.) die plegtigheid van Saterdag na Sondag oorgeplaas het.” The Convert’s Cathechims of Catholic Doctrine Peter Geiermann.
Sal daar in hierdie eindtyd van wetteloosheid ‘n stem gehoor word wat mense gaan terug roep om God se gebooie te gehoorsaam? Baie beslis. Ons vind dit in die boodskap van die drie engele van Openbaring 14. Dis ‘n oproep om die Skepper en Wetgewer met opregte toewyding te aanbid.
En gaan daar regtig mense wees wat die moed gaan hê om al God se gebooie te gehoorsaam? Baie beslis.
Openbaring 14:12 Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.
Ag mag die Here gee dat ek en jy onder Sy gehoorsame kinders sal tel wanneer Hy spoedig kom om ons huis toe te neem. Omdat daar so ‘n groot verwardheid oor die konsep van wet en genade bestaan, kyk ons vlugtig wat die Bybel hieroor leer.
VERSKILLENDE WETTE
Eerstens kyk ons na die burgerlike wette. Dit het gehandel oor dinge soos hofsake, siekte, grondbesit ens. In hulle geheel is Israelitiese wette nie meer op ons van toepassing nie, maar hulle beginsels sal altyd waardevol bly.
Dan kry ons die seremoniële wette wat by die kruis geëindig het. Hoekom? Want Jesus het die lam, die priester, die lig en die brood van die hierdie stelsel voorgestel.
Daardie Vrydagmiddag net voor Sabbat toe Jesus aan die kruis gesterf het, het God self die voorhangsel van bo tot onder geskeur om te wys dat hierdie pragtige stelsel in Jesus se dood vervulling gekry het.
Die tydelike aard van die seremoniële wet word in Deuteronomium weerspieël waar ons lees dat dit nie op kliptafels soos die tien gebooie geskryf was nie, maar in ‘n boek. Dit was ook nie in die verbondsark geplaas nie, maar langsaan.
Deuteronomium 31:24 26 En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ‘n boek geskryf het tot die einde toe, het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van die Here gedra het, bevel gegee en gesê: Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die Here julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees.
Die derde wet waarvan die Bybel praat, is die tien gebooie of die sedewet. Dis die enigste dokument wat die Here self geskryf en self gespreek het. U kan gerus in die Bybel lees met watter geweldige goddelike manifestasie die wet afgekondig is. (Exodus 20, en Deuteronomium 4,5).
Ek lees vir jou uit Deuteronomium 5:22 Met hierdie woorde het die Here julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ‘n groot stem toegespreek, en niks meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee.
Die sedewet is so ewig en onveranderlik as God self. En dis hoe baie geestelikes vroeër geglo het.
Dr. T. Hammersma: “Aan die Jode het die Here ook nog ander wette behalwe die tien gebooie gegee, soos die wet van seremonies en die wet van die burgerlike lewe. Hierdie wette was alleen vir die Jode bestem en is ou afgeskaf…. Die tien gebooie word genoem die ‘wet van sedes’. Daarin word die mens geleer en beveel hoe sy sedelike wandel en gedrag volgens Gods wil moet wees. Hierdie wet word nooit afgeskaf nie. Solank as die wêreld bestaan, sal dit van krag wees.” De Katechismus in 52 Predikaties, bls. 329, 330.
Ek het ‘n berg met die naam van St. Evans in die Rockies in Amerika besoek. In die winter lyk hierdie wêreld soos ‘n sprokiesland met sy sneeukombers. Sonder natuurwette sal ons pragtige planeet binne sekondes ineenstort. Sonder die wet van God in my hart sal ek ook geestelike ineenstort.
Dr. G. B. A. Gerdener: “Deur die Wet van God verstaan ons die Tien Gebooie of die sedewet….Dit staan teenoor die burgerlike en seremoniële wette van Israel, wat lankal afgeskaf is. Hierdie Sedewet of Tien Gebooie, IS DUS NOG ALTYD VAN KRAG, omdat dit die ewige beginsels bevat waarmee God ons op die regte pad wil help.” Handboek by die Katkisasie, bl. 162.
Terwyl ek op ‘n keer die hervormingsmuur in Geneva besoek het, het ek aan Kalvyn se uitlating oor die wet gedink:
“Ons moet nie reken dat Jesus se vleeswording ons van die vereistes van die wet vrygestel het nie; want dit is die ewigdurende standaard vir ‘n toegewyde en heilige lewe. Die sedewet is so onveranderlik soos die regverdigheid van God wat daarin behels word konstant, ewewigtig en sekuur.” Commentary on a Harmony of the Gospels, Deel II, bladsy 277.
Kom ons vra die Bybel om vir ons ‘n beskrywing van die sedewet te gee. Psalm 19:8 stel dit pragtig mooi. “Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.”
Romeine 7:12,14 Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed….Want ons weet dat die wet geestelik is.
Psalm 119:175 Al U gebooie is geregtigheid.
Dawid bid in Psalm 119:18 “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.” Weet u wat hierdie wonders is? Dis Sy onbegryplike liefdevolle karakter.
Psalm 119:151,152 Al U gebooie is waarheid. Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het.
Die reuse Redwoods van Kalifornië wat uit die tydperk net na die sondvloed dateer, gee vir my ‘n idee van ewigheid. Die Bybel beskryf die gebooie as ewig. Wanneer ‘n mens die heilige wet lees, dwing die gebooie jou respek af.
Psalm 119:72 Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
Ons hoef nie aardse skatte te besit om waarlik gelukkig te wees nie. Gehoorsaamheid aan die Gods gebooie bring ‘n gemoedsrus wat baie heerliker as die besit van al die skatte van die wêreld is.
Behalwe vir die goddelike karakter van die wet, vervul hy ook baie ander belangrike funksies. Kom ons ondersoek dit:
Romeine 3:20 Deur die wet is die kennis van sonde.
Dis kort en kragtig maar ontsettend belangrik om te weet.
Daar is ‘n baie goeie rede waarom die vyand die wet van God tot niet wil maak. Die wet wys my op my sondes. En as ek nie ‘n wet het nie, hoe sal ek ooit my sondige toestand besef?
Exodus 20:13 Jy mag nie doodslaan nie.
Hoekom nie? Dit bots met God se karakter. Deur ‘n ongesonde lewenstyl kan ek my lewe verkort en hierdie gebod verkrag.
Exodus 20:14 “Jy mag nie egbreek nie.” Jesus sê in Matteus 5:28 dat die oortreding van hierdie gebod reeds in ons gedagtes begin. Ek en jy het die Here ontsettend nodig want ons is ontsettend sondig.
Kom ons laat toe dat die wet ons goed slegsê sodat ons ons behoefte aan Jesus se verlossing meer sal besef.
Daar is twee heilige instellings wat uit die paradys kom; die Sabbat en die huwelik. Van al tien gebooie word hierdie twee die meeste ontheilig. Dink gerus daaroor na.
Jesaja 48:18 Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ‘n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.
Romeine 3:19 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld doemwaardig kan wees.
Die wet beskuldig my. Hy sê vir my ek is doemwaardig. By implikasie sê die wet vir my ek moet baie vinnig by Jesus uitkom.
Jakobus 1:23 25 Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.
Ek het hierdie patetiese melaatse in Malawi afgeneem. Die Adventiste bedryf hierdie melaatse hospitaal al vir baie dekades. Die naam is Malamula en dit beteken tien gebooie. Wanneer hierdie mense in die spieël kyk, dan skrik hulle.
En dis ook wat gebeur wanneer ons as sondaars voor die spieël van God se wet gaan staan. Ons skrik want die sonde het ons verskriklik vermink.
Romeinse 7:7 Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.
Wat is die wet nie in staat om vir ons vir die sondaar te doen nie? Die Fariseërs in Jesus se dag het die funksie van die wet verkeerd verstaan. En daar is vandag ook mense wat die funksie van die wet verkeerd verstaan.
Romeine 3:20 “Aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie.”
En dis ‘n bietjie swaar vir my trotse natuur. Ek wil darem graag ‘n bydrae tot my saligheid maak. Die wet sê: Vergeet dit.
En dit was die probleem van die Fariseërs. Hulle trotse harte kon net nie aanvaar dat verlossing ‘n liefdevolle geskenk van God was nie. Geregtigheid kan net by Jesus gevind word. Die wet sit my valse trots op sy plek.
Galasiërs 3:21 sê: “Want as daar ‘n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.”
Maar nou is dit nie so nie. Gehoorsaamheid is nooit ‘n middel tot saligheid nie, maar slegs die vrug.
Romeinse 8:7 Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
Dit neem ‘n goddelike wonderwerk om gehoorsaam aan die wet van God te wees want uit my eie kan ek dit nooit regkry nie.
John Wesley stel dit baie mooi. Hy sê wanneer ons by die wet uitkom en ons sien hoe liederlik ons lyk, stuur die wet ons na Jesus vir reiniging en verlossing. En nadat ons verlossing by Jesus ontvang het, stuur Hy ons terug na die wet as standaard van Christelike gedrag.
Wat doen die genade van Christus vir die sondaar wat die wet oortree het? Luister na ‘n paar pragtige tekse van bemoediging.
1 John 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
Handelinge 13:38,39 “Deur Hom (word) vergifnis van sondes aan julle verkondig…en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.”
Matteus 1:21 “Sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat Sy volk van hulle sondes sal verlos.”
1 Korintiërs 1:30 “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.”
Efesiërs 2:8 10 “Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julle self nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke.”
Romeine 1:16 “Ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot saligheid vir elkeen wat glo.”
Wanneer ek met my groot geestelike behoefte na Jesus kom, doen Hy iets besonders vir my. Hy vergewe nie alleen my sondes nie, maar skenk my Sy eie kleed van volmaakte toegerekende geregtigheid. Maar Hy doen nie net iets vir my nie, Hy doen ook iets in my. Hy gee my die goddelike krag om Sy heilige wet te gehoorsaam. Dis toebedeelde geregtigheid. Hoe presies doen Hy dit?
Romeine 8:3,4 “God het, wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur Sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit terwille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
Daar is tans ‘n valse heilige gees wat vir mense sê dat dit nie nodig is om die wet van die Here te onderhou nie. Hierdie idees wat sekere geestelikes vandag propageer kom nie van die Here af nie. Dit kom direk van die duiwel, die groot rebel. Hy haat die wet van die Here, en hy haat ook mense wat hierdie gebooie onderhou.
Tydens Jesus se aardse bediening was daar sekere mense wat Hom aangeneem het en sekeres wat Hom verwerp het. Wat sou jy sê was die verskil tussen hierdie twee groepe? Net een woord LIEFDE! As mens iemand lief het, is niks te swaar om vir hom of haar te doen nie.
1 Johannes 5:3 “Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.”
Ons het aan die einde van hierdie wêreld se geskiedenis gekom. Jesus is op soek na mense wat gewillig is om Hom onvoorwaardelike te gehoorsaam. As jy ‘n probleem daarmee het, mag dit wees dat daar ‘n probleem is met jou verhouding met Hom. En wanneer jou verhouding met die Here reg is, sal jou lewe daarvan getuig.
Luister na hierdie pragtige belofte in Hebreërs 8:10,12.
“Want dit is die verbond wat ek na die dae sal sluit die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle harte skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir my ‘n volk wees.
“Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en ongeregtighede nooit meer dink nie.”
98. Ek wens ek het geleef toe Jesus op aarde was. Ek wens ek kon Sy stem gehoor het terwyl Hy besig was om te preek. Daar was iets wat Hy dikwels in Sy preke genoem het waarmee ek wil afsluit. Dit staan in Johannes 15:14.
“Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.”
Jesus het destyds vriende gesoek, vriende wat gewillig was om alles te doen wat Hy hulle gevra het.
Jesus soek vandag nog vriende. Vriende wat gewillig is om alles te doen wat Hy van hulle vra In my swakheid en met ‘n diepe besef van al my tekortkominge wil ek weer sê dat ek deur Sy genade alles wil doen wat Hy van my vra. Wat van jou?