STRUKTUUR VAN DANIëL 7,8,9
Skriftuur Daniël 7:22 “Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang.”
Ek onthou nog die dag toe ek my eerste fiets gekry het. Ek kon nie glo dat fietsry so ‘n heerlike ondervinding kon wees nie. Maar mettertyd het fietsry sy romanse verloor.
Hoe sal ek ooit my eerste kar kan vergeet. Ek het gedag dit lekkerkry van karry sou nooit ophou nie. Maar mettertyd het daardie lekker ook afgeneem.
‘n Roos kan net vir ‘n rukkie lekker ryk, dan adapteer die reukreseptore en jy ryk nie meer nie.
Die lekkerste kos kan net vir ‘n rukkie lekker smaak, dan adapteer die smaakreseptore op die tong en die lekker is weg. En as jy aanhou eet, sal die lekker deur ‘n naarheid vervang word. Wat van verlief raak? Hoe lank hou dit?
Sonde is omtrent dieselfde. Die sensasie is bitter kortstondig. En net so kortstondig as wat die smaak van sonde is, net so ewigdurend is sy wrangsmaak.
BLYWENDE VREUGDE VAN BYBELSTUDIE
Ek bring baie goeie nuus vir jou. Daar is dinge wat nooit ophou om lekker te wees nie. Een hiervan is Bybelstudie.
Avontuursoekers kom gewoonlik aan die einde van hulle opwinding. Maar die Bybelstudent raak net meer en meer opgewonde namate hy die wonders van hierdie geïnspireerde boek ontdek.
Ons gaan met die mynskag van Bybelstudie na die goudrif soek wat onder in die boek Daniël lê. Ons gaan kyk hoeveel ton goud erts ons vandag uit sy ryk riwwe kan myn.
DANIëL 7
In die eerste 9 verse van Daniël 7 vertel die profeet vir ons van ‘n baie interessante visioen wat hy gehad het. Kom ons lees daarvan.
Vers 2 “…In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see ontstuimig laat word. Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander.”
Volgens die Bybelse simboliek stel wind oorlog voor; waters, mense en diere koninkryke.
Die profeet sien hoe ‘n leeu sy verskyning op die wêreldtoneel maak. Maar die Babiloniese leeu word deur die Medo-Persiese beer vervang. Daarna maak die luiperd sy verskyning.
Maar die Griekse luiperd word deur die vreesaanjaende dier van Rome vervang.
Vers 7 “My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar ‘n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien horings gehad.”
Wat ‘n dramtiese beskrywing van die Romeinse ryk. Ek dink Daniël het ‘n bietjie geintimideerd oor hierdie monster gevoel. Kan jy twee troumatiese woorde in hierdie beskrywing agterkom? “Skrikwekkend” en “vreesaanjaend”.
Terwyl hy na die magtige Romeinse Ryk kyk wat selfs die Prins van prinse aan die kruis laat nael het, sien hy ‘n baie interessante politieke verwikkelling.
Tien horings, of tien koninkryke maak hulle verskyning uit die Romeinse ryk. Eeue later sou die geskiedenisboeke vertel hoe die Germane die Ryk binnegeval en in 476 n.C. finaal in tien dele laat verbrokkel.
Die visioen raak nou meer dramaties en intens want Daniël sien die opkoms van die Pousdom net hierna.
Vers 8 “Terwyl ek stip na horing kyk, het daar ‘n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en ‘n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.”
Voordat ons die volgende teks lees, wil ek net eers na ‘n baie interessante literêre verskynsel verwys.
Die woord “kyk” (Aramees “rû”) word 7 keer gebruik. In verse 2,5,6,7,8 en 13. Wanneer mens versigtig lees, ontdek jy dis van ‘n kronologiese progressie.
Met ander woorde met elke “ru” “kyk” kry ons meer inligting en elke keer word dit meer dramaties. Die 7de “ru” of “kyk” is klimakties want dit dui op Jesus. In vers 8 waar dit van die klein horinkie praat, word die Aramese woord “rû” “kyk,” twee keer gebruik.
“Terwyl ek op die horing ag gee, (rû) kom daar ‘n ander honrinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, (rû) in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.” Vers 8.
Waarom word ons gevra om twee maal soveel aandag aan die bestudering van die horinkie te bestee? Sodat ons die eindtyd vyande deeglik kan identifiseer en sodat ons seker maak dat ons nie dieselfde gees van onverdraagsaamheid as hy besit nie.
Wat sê Jesus van die klein horinkie of te wel Rome? Kom ons lees daarvan in Matteus 24:15:
“Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan – wie dit lees, moet dit goed begryp.”
2 Konings 23:13 verwys die na die valse godsdienste van die antieke wêreld as ‘n “gruwel”. In watter opsigte was hierdie godsdienste ‘n gruwel? Hulle het ander mense vir hulle sondes geôffer.
By plekke soos Petra, Biblos, Geser, en die Hinnom vallei het selfs ouers hulle kinders as offers vir hulle sondes gebring.
God die Vader beskou enige offer om Sy guns te verdien, behalwe Sy enigste Seun, as ‘n gruwel. Daar is vir die Vader net een aanvaarbare Offer, en dit is die Offer van Sy Seun.
Wat doen jy om God se guns en vergifnis te verdien? Straf jy jouself oor jou sondes van die verlede? Probeer jy in Sy goeie boekies te kom deur sekere goeie dinge wat jy doen? Jesus noem hierdie soort godsdiens ‘n gruwel, en hierdie gruwel verwoes nie alleen ander mense nie, dit verwoes ook jouself.
Galasiërs 1:6-8 “Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref!”
As ek en jy gered wil word, sal ons al ons trots in ons sak moet steek en uitsluitlik net op Jesus Christus se geregtigheid en vergifnis vir ons redding en oorwinning moet staatmaak.
By God is daar geen plek vir enige eiegeregtigheid of geestelike grootpratery nie. Ons kan uitsluitlik net op die verlossingspretasies roem van dit wat Jesus op die kruis van Golgotha vir ons verrig het.
DANIëL EN DIE KLEIN HORINKIE
Tweeduisend seshonderd jaar gelede het die profeet Daniël ‘n visioen van ‘n klein horinkie gehad, die pousdom en hy skryf:
“Hierdie horing het mensoë gehad en ‘n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.”
Die verwaande dinge wat hy kwytgeraak het, leer onder andere dat die offer van Jesus aan die kruis nie voldoende is. Goddelike genade moet met menslike prestasies aangevul word alvorens jy gered kan word.
Wanneer ons menslike prestasies by die algenoegsame verlossingsoffer van Jesus aan die kruis wil byvoeg om ons redding te verseker, beskou God die Vader dit as ‘n gruwel.
Kom ons vra die Here om ons nederig genoeg te maak om Sy geskenk van genade met ‘n dankbare hart te aanvaar Dis verskriklik vir my trotse gevalle natuur.
Die geskenk van geregtigheid deur die geloof stuur die trots van die mens stof toe en doen vir hom iets wat hy vir homself nie kan nie.
DIE OPWAARTSE BLIK
Tot dusver het Daniël na ‘n vision gekyk waarvan die inligting al somberder en somberder begin word het.
Hy het met Babilon begin en nou trek hy al by die verwaande klein horinkie wat teen God gelaster het. Maar toe die aardse visioen te donker begin raak het, het God vir Daniël ‘n hemelse visioen gegee.
Vers 9 “Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur.”
Terwyl u na hierdie teks kyk, wil ek vir u ‘n vraag vra. Dink jy dit is soos wat God die Vader lyk? Nee. Johannes 1:18 sê:
“Niemand het God ooit gesien nie…”
Dit wat Daniël aangaande God die Vader in hierdie visioen gesien het, is slegs ‘n voorstelling van Hom. Die teks sê Hy bestaan van ewigheid tot ewigheid. Sy kleed, Sy bedekking is soos sneeu. Met ander woorde Hy word met goddelike reinheid omhul.
Wat sê hierdie teks aangaande Sy troon? Behalwe vir die feit dat dit glansryk is, is dit ook mobiel. Die wiele dui op beweegbaarheid. God se troon is dus nie iewers in die heelal gefikseer nie, maar kan na verskillende plekke verskuif word. In hierdie geval, die allerheiligste op die antitipiese versoendag.
Openbaring 21:3 bring vir ons die goeie nuus dat God uiteindeilik Sy troon en Sy woning na hierdie planeet gaan verskuif om vir ewig by ons te kom woon. Dit is natuurlik eers nadat die planeet deur vuur gereinig gaan word en alle sondaars en sonde uitgewis sal wees.
Wat ‘n heerlike vooruitsig. Die liggaamlike verandering wat ons tydens die wederkoms sal ondergaan, sal sodanig wees dat ons God die Vader van aangesig tot aangesig gaan aanskou.
Aangesien vers 10 ‘n verdere verduideliking van vers 9 is, luister ons nou na adisionele adisionele inligting oor hierdie hemelse visioen.
Vers 10. “Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak.”
Wat ‘n plegtige toneel! Daniël sien iets wat nog geen mens gesien het nie. Op ‘n gegewe oomblik in tyd het die groot oordeel in die hemel ‘n aanvang geneem. Ontelbare engele is saam met God die Vader by hierdie plegtige hemelse hofsitting betrokke.
Sê my. Wie se boeke het Daniël in hierdie visioen gesien? Jou boeke en my boeke. Sal ons daar wees om onsself te kan verdedig? Nee.
Luister wat het Salomo aan die einde van sy lewe onder die inspirasie van die Heilige Gees hieroor skryf:
Prediker 11:13,14 “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.”
Dis so belangrik dat ons Jesus se raad volg en die boek Daniël bestudeer en verstaan. Dis belangrik om te onthou dat daar vir elkeen van ons ‘n dag van rekenskap gaan aanbreek.
Die ernstigste en die plegtigste hofsitting vind tans in die hemel plaas. Hoedanig moet ons lewenswandel dan nie hier op aarde wees nie.
POëTIESE STRUKTUUR
Dis baie interessant om na die poëtiese struktuur van die boek Daniël te kyk. Die eerste agt verse van hoofstuk 7 is in gewone prosa geskryf. In hierdie gedeelte kyk Daniël na gebeure wat op die aarde plaasvind.
Maar wanneer die profeet die hemelse toneel van die oordeel beskryf, slaan hy oor na ‘n poëtiese styl. Vir hom is die hemelse dinge so verhewe, so belangrik dat hy die pragtigste Aramees gebruik om te digterlik te beskryf.
Nog ‘n pragtige boodskap wat ‘n mens in hierdie hoofstuk agterkom, is die op en afkyk. Daniël begin die profesie met ‘n aardse blik. Wanneer die prentjie te donker word, word sy aandag op hemelse dinge gevestig. DONKER?
Hoedanig lyk jou aardse prentjie? Word hy progressief donkerder? Doen dan wat Daniël gedoen het, kyk op. Aanskou die hemelse majesteit en besing God se heerlikheid met digterlike taal.
PROSA Daniël se oë word van die hemelse toneel afgeneem en hy kyk weer na ‘n aardse toneel. Watter skryfstyl, dink u, gaan hy nou gebruik?
Verse 11,12 “Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaan vernietig deur dit in die vuur te gooi. Ook die ander diere se heerskappy is van hulle weggeneem, maar hulle lewens is nog ‘n tyd lank gespaaar.”
Dit was vereers genoeg van die uiteindelike lot van die goddelose klein horinkie. Die prosa eindig. Daniël se profetiese oog kyk weer boontoe en hy aanskou die mooiste toneel wat hy nog ooit aanskou het.
Watter skryfstyl gaan hy volg? Poëties. Kom ons lees:
Vers 13 My nagtelike visioen het voortgeduur: (en kyk “ru”) daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ‘n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring.”
Hier kyk ons na die sewende gebruik van die woord “ru”. Dis die klimaks want dit wys ons op Jesus. Ons moet lank na Hom kyk.
Hy kom in menslike gedaante met die wolke na die oordeelstoneel.
Die ou vertaling noem Hom die Seun van die Mens.
Wat kom Hy in die oordeel maak? Is daar miskien iets aantrekliks in my boeke, my lewensverslag? Ek is so skaam vir sommige van die inskrywings wat deur die jare in my boeke opgeteken is.
Sê my, die wolke waarmee Jesus na die oordeelstoneel kom, wat of wie is dit? Dis deel van die engele leërskare van die hemel wat Hom na die oordeel vergesel.
In hierdie pragtige stukkie poësie kry ons drie werkwoorde om Jesus se beweging na die Vader in die hemelse hofsitting te beskryf. Kom ons let daarop.
Vers 13 “My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ‘n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring.”
Kan u die eerste werkwoord identifiseer wat Jesus se beweging na die Vader beskryf? “Aangekom”. Die tweede? “Gegaan”. En die derde? “Gebring”.
In die Aramees is daar ‘n ander pragtige iets wat mens in die beskrywing van die naderende Jesus ontdek.
In die eerste beskrywing van Jesus se “aankom” na die Vader in die oordeel, vind ons 8 klem-aksente.
In die tweede beskywing, kry ons 4 klem-aksente.
In die derde beskrywing waar Jesus tot voor die Vader kom, vind ons net 2 klem-aksente.
Drie verskillende poëtiese eenhende gee ‘n decresendo effek (al sagterwordende) terwyl Jesus nader en nader en nader aan God die Vader kom.
Wat kan dit beteken? Ek weet nie presies nie. Maar dit pas by die Jesus wat ek in die evangelies ontdek het. Hy nader die Vader nie met ‘n crescendo nie, nie met al harder-wordende klank en luister nie. Nee. Hy nader die Vader met ‘n decrescendo. ‘n Al sagter-wordende houding van nederigheid.
Daar is nog ‘n gedagte wat by my opgekom het terwyl ek aan Jesus se aankoms by die oordeelstoneel gedink het. Hy het nie as die Glorieryke Tweede Persoon van die Godheid na die hemelse hofsitting gekom nie.
Jesus het as die sondelose seun van die mens daar ingestap. Saggies, nederig kom Hy nader aan die Vader, en nader aan my boeke.
Hy kom as die verteenwoordiger van die mense op aarde. Hy kom staan in die plek van die eerste Adam wat geval het. Hy kom staan as oorwinnaar in die plek van elke verloorder.
Hy is die Enigste mens wat nog nooit Iemand verwyt het nie. Hy is die enigste mens wat nog nooit aan versoeking toegegee het nie.
Hy is die Enigste “seun van die mens” wat nooit gesondig het nie.
DIE OORDEEL BEGIN
Die plegtige oomblik breek aan en die hofsitting begin. Almal wat op een of ander stadium Jesus se verlossing aangeneem het, kom in hierdie oordeel in aanmerking.
Dit strook met wat ons in 1 Petrus 4:17 lees:
“Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God. En as ook ons geoordeel word, en dit is nog maar die begin, wat sal die uiteinde dan wees van hulle wat nie na die evangelie van God wou luister nie?”
Mense wat nie positief op die evangelie van Jesus gereageer het nie, kom nie in hierdie oordeel in aanmerking nie. Die Bybel leer vir ons dat die goddeloses gedurende die duisend jaar, na die wederkoms van Jesus geoordeel sal word.
VAN GEVOLG NA OORSAAK?
As westerling, redeneer ons van oorsaak na gevolg. Bv. Die man het sy bybel begin lees. Wat is dit? Oorsaak. Gevolglik het die Heilige Gees het hom van sonde oortuig. Die gevolg. Hy het sy sonde bely en sy lewe aan die Here gegee. Die gevolg van Bybelstudie. Oorsake lei tot gevolge.
Die Hebreeuse of Oosterse denkpatroon werk vanaf gevolg na oorsaak. Dit is hoe hule die gebeurtenis sou beskryf.
Die man het sy lewe aan die Here gegee. Dis die gevolg van iets anders wat dit veroorsaak het. Wat was die oorsaak? Bybelstudie.
DIE STRUKTUUR VAN DANIëL 7,8,9
Wanneer mens Daniël 7, 8 en 9 wil verstaan, moet ons dit vanaf ‘n Oosterse denkpatroon benader. Hoofstuk 7 praat van die oordeel. Dis die gevolg van iets anders wat dit veroorsaak het.
Hoofstuk 8 vertel dat Jesus ‘n priester geword het.
Wat het Hom gekwalifiseer om ‘n priester te word? Om die antwoord te kry, moet ons na hoofstuk 9 gaan. In verse 24-27 lees ons van die kruisdood van Jesus. Aan die kruis word Hy die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. En dan word Hy die priester wat met Sy eie bloed vir die sondaar in die hemelse heiligdom intree.
Eers ‘n Lam, dan ‘n Priester, dan ‘n Middellaar of Advokaat. En wanneer die ondersoekende oordeel afgehandel is, word Jesus ‘n Koning. Kom ons lees dit.
Daniël 7:14 “Aan die menslike wese (Jesus) is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.”
Advokaat Jesus is besig om die ondersoekende oordeel af te sluit. Hy is so te sê op pad om Sy loon te bring. Sy loon is die ewige lewe in ‘n ewige gelukkige hiernamaals.
Wil jy graag die geskenk van ewige verlossing geniet? Dan moet jy seker maak dat jy die verlossing wat Jesus vir jou aan die kruis bewerkstellig het, aangeneem het.
Jy moet ook baie seker maak dat jy elke sonde waarvan jy weet, bely het en met Sy krag oorwin het. Hy hanteer net belyde sonde.
Daniël 7:27 “Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees.”