1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 8 – Gevangenis

Deur Sy Wonde Deel 8 – Gevangenis

JESUS WORD GEVANGE GENEEM

Skriftuur: Matt 26:47-56

1. Vanoggend besoek ons weer ‘n keer die tuin van Getsemane. Vanoggend peins ons weer ‘n keer oor dit wat Jesus vir ons deurgemaak het.

2. Matteus 26:36-38 Daarna kom Jesus met sy dissipels by ’n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” 37 Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword 38 en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.”

3. Vers 39 Hy het ’n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil

TONEEL

4. Sien Hom daar terwyl Hy met ons sondeprobleem worstel! In Sy verskriklike angs gryp Hy die koue grond aan. Dit is asof Hy daaraan wil vashou sodat Hy nie van Sy Vader verwyder sal word nie. Die dou van die bome om Hom val op sy sidderende liggaam, maar Hy voel dit nie.

5. Ongevalle wêrelde en engele hou die toneel met intense belangstelling dop. Is die gevolge van sonde werklik so vreeslik!

Uit ‘n angsbevange, benoude, verslae worstellende hart word die vreemste pleitende kreet gehoor:

6. “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan” Matteus 26:39.

Verskriklik is die versoeking om die mensdom aan hulle eie lot oor te laat en terug te gaan hemel toe.

7. Maar worstellend bid Jesus verder “nogtans nie soos ek wil nie, maar soos u wil.” Matteus 26:39.

SLAPENDE DISSIPELS

8. Met ‘n groot gesukkel kom Jesus orent en begin na die plek te waggel waar Hy Sy dissipels agtergelaat het. Hy soek na ‘n greintjie menslike simpatie in hierdie vreeslike uur.

Maar die slapende dissipels het geen woord van aanmoediging vir hulle Meester nie. Hulle kyk hoe Hy met groot inspanning troosteloos na Sy bidplek terug strompel, vallende, struikelend.

TWEEDE WORSTELING

In die tweede worsteling was Jesus se lyding nog groter. Lukas gee vir ons die volgende inligting:

9. Lukas 22:45 “Hy het in doods angs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.”

10. Dis onmoontlik vir ons beperkte taalgebruik om die onbeperkte sielsangs en lyding te beskryf wat Jesus moes deurmaak. Geen menslike dieplood kan die dieptes van daardie pynlike sondenag meet waarin my sondes Jesus gedompel het nie.

In Sy angs en worsteling begin die bloed op sy voorkop pêrel. Dis vreeslik. Kan u dit sien? Die menslike natuur van Jesus worstel met my sondeprobleem en Hy sweet bloed. Sal ons ooit besef wat ons sonde aan Jesus gedoen het.

Weer roep Hy uit:

11. “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg.” Lukas 22:42.

Maar gelukkig vir u en my sê die volgende gedeelte van Sy gebed:

“Nogtans nie My wil nie maar U wil geskied.” Lukas 22:42.

SLAPENDE DISSIPELS

Jesus strompel van boom tot boom tot Hy by Sy slapende dissipels uitkom. Markus 14:40 sê vir ons:

12. “En toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar; en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie.”

Hoekom nie? Jesaja 52:14 gee vir ons die antwoord:

13. “Baie mense was ontsteld oor Hom, hy was so misvormd dat Hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie, nie meer die voorkoms van ‘n mens gehad het nie.”

Die teks sê hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Hulle was te geskok, te ontsteld. Sy hele gesig was bloedbevlek.

Het die dissipels begryp wat Jesus deurmaak toe Hy bang en verskrik en verskeurd vir die tweede maal van hulle wegstap? Het hulle begryp waarom Hy strompelend het? Het hulle die betekenis van die bloedsweet verstaan?

14. Verstaan ons wat Jesus deurmaak as Hy vir die derde keer deur angs en depressie op die grond neersuig? Weet ek waarom Jesus in hierdie vreeslike uur sidder?

15. Dis ek! Dis my sonde. Dis almal se sonde. Dis ‘n beker vol sonde wat so groot soos die wêreld se ellende is. En as Jesus hierdie beker sonde gaan drink, sal die gif daarvan Sy dood veroorsaak. Maar die dood sal nie so vreeslik wees nie. Dis die skeiding wat die drink van die sondebeker tussen Hom en die Vader gaan veroorsaak.

Jesus worstel. Die vreeslike oomblik het aangebreek – die oomblik waarin die lot van die wêreld beslis sou word. Bewend kom die woorde oor die bleek lippe van Jesus:

16. “My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.”

JESUS SE BESLUIT

Wat het Jesus die finale besluit laat neem om die gifbeker met al ons liederlike sondes te drink? Hy het u gesien en my gesien.

17. En Hy het besef dat as Hy nie deurgaan met Sy lyding nie, ons vir ewig verlore sou wees. En Hy besef dat as Hy die beker van my sondes leegdrink ek vir ewig gered sal wees.

Hebreërs 12:2 sê dat Jesus vir die vreugde wat Hom voorgehou is die kruis verdra het en die skande verag het.

18. “Terwille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins.”

En toe Hy vir my sien en Hy vir u sien, het Hy die beker geneem en dit tot op die bodem leeggedrink.

19. Daar het nie een druppel sonde oorgebly nie. Hy het al ons sondes weggesluk.

Daardie Donderdagnag in Getsemane het Jesus ‘n sprong in die donkerte van my sonde geneem. Jesus het die angs van triljoene verlorenes deurgemaak.

20. Jesus het pynlik ervaar hoedat God die Vader Sy rug op Hom draai. Hy voel hoe die verskroeiende gloed van goddelike toorn Hom verteer.

21. Toe die Seun van God hierdie besluit geneem het, het Hy sterwende op die grond geval. Die Heiland het die wynpers alleen getrap en van die volk was niemand daar om Hom te help nie.

22. Daar was stilte in die hemel. Geen harp is aangeraak nie. As ons maar net die verbasing van die engele kon sien toe die Vader skielik Sy strale van liefde en lig van Sy geliefde Seun afsny sou ons die afskuwelikheid van die sonde beter besef.

23. Sal ons ooit besef wat God die Vader deurgemaak het toe Hy Sy toorn op Jesus moes uitstort? Hy het dit teen die sonde en toe Jesus die sondes van die mensdom op Hom neem, het God die Vader teen Jesus opgetree.

Ek wonder of ons ooit sal besef watter krisis ons sondes in die Godheid veroorsaak het.

ENGEL

Lukus 22:3,4 gee vir ons die volgende inligting:

24. “En ‘n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.”
25. Skielik skrik die dissipels wakker. Hulle sien hoe die glansende engel oor die uitgeputte liggaam van hulle Meester buk.

Hulle sien hoe die engel Jesus se kop oplig en dit op sy skoot plaas. Hulle hoor die engel met Jesus praat en na die hemel wys. Sy stem klink soos die soetste musiek.

26. Die engel het nie gekom om die beker van Jesus weg te neem nie; hy het gekom om Jesus geluk te wens met Sy edel besluit. Hy het Jesus verseker van sy Vader se liefde en die feit dat ‘n ontelbare menigte eendag asgevolg van Jesus se besluit gered sal word.

27. ‘n Kalmte het oor Jesus gekom. Op Sy bebloede gesig het daar ‘n hemelse vrede geskyn. Sy lyding het nie opgehou nie en die storm het geensins afgeneem nie, maar Jesus is versterk om die woede en felheid daarvan te trotseer.

GETSEMANE – LESSE

Wat leer Getsemane ons? Hebreërs 12:4 sê:

28. “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.”

29. Hoe sien ek sonde? Ek kan die aakligheid van sonde beter begryp wanneer ek die tonele van Getsemane en Golgota bepeins. Dis alleenlik Jesus se worsteling met my sonde wat my ‘n weersin daarin kan gee.

30. Is daar vanoggend ‘n sonde in u lewe? Daardie sonde veroorsaak ‘n groot hartseer in die hart van die Vader. Daardie sonde pynig Jesus. Wil u nie na u eie Getsemane toe gaan en die probleem daar uitworstel nie? Laat toe dat Gods wil en nie u wil nie, sal seëvier.

31. Die maan en die sterre het stadig oor die swart fluweel van die nag geskuif. Dit was reeds na middernag. ‘n Uitgeputte, bebloede figuur kom tussen die olyfbome deur aangestap.

32. Hy het so pas die grootste stryd gestry wat ‘n mens nog ooit gestry het, en Hy het so pas die grootste oorwinning behaal wat ‘n mens nog ooit behaal het.
Hy het verduur wat geen mensekind ooit voorheen kon verduur het nie omdat Hy die angste van die ewige dood vir elke mens gesmaak het.

Maar Jesus was kalm en bedaard.

33. Matteus 26:45 sê: “Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee.

34. Ek glo elkeen van u was een of ander tyd van u lewe aan die wreedheid van mense oorgegee. Wanneer iemand jou haat, maak dit nie aan hom of haar saak hoe wreed jy behandel word nie. Wreedheid van mense ken geen perke nie. Dit is iets wat deur die duiwel beheer word en dis iets wat ons almal wil vermy.

35. Maar hier is Jesus en hy sê vir Sy dissipels: “Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee.” Hy het nooit van probleme weggevlug nie.

Terwyl Jesus nog praat, word die stilte van die nag deur die geskuifel van voetstappe en gedempte stemme gebreek.

Jesus praat:

36. “Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is naby.” Matteus 26:46.

37. Waarheen wil Jesus met Sy dissipels stap? Is dit miskien iewers waar hulle kan gaan wegkruip? Nee! Hy stap na die gepeupel wat Hom kom arresteer het. Hy stap in die rigting waar honderde voetstappe al harder en duideliker word.

38. Matteus 26:47. “Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was ‘n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.”

39. Die teks sê hulle het ‘n groot klomp swaarde en stokke gehad. Wie was hulle? Dit was die hoëpriester saam met sekere Joodse leiers (DA 695,696).

Daar was Fariseërs (Johannes 18:3), tempel polisie asook ‘n afdeling Romeinse soldate (DA 694,695). Bo en behalwe hierdie groep was daar ook die gepeupel wat kom kyk het watter sensaie hulle uit die inhegtenisneming van Jesus kon kry.

JOHANNES

Kom ons blaai vir ‘n oomblikkie na Johannes se beskrywing van Jesus se inhegtenisneming:

40. “Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens.” Johannes 18:3.

Kan u hierdie groot klomp mense sien? Die fakkes gooi sporadiese lig op hulle en op hulle gesigte sien ons ‘n vreeslike haat.

41. Johannes 18:4 “Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: Vir wie soek julle?”

Kan u vir Jesus in die lig van al die brandende fakkels sien? Daar is nie haat op Sy gesig nie. Hy haat nie Sy vyande nie. Nee, Hy het vir hulle kom sterf en dit beteken oneindige liefde.

Met groot beleefdheid praat Jesus:

42. “Vir wie soek julle?” Die skare antwoord: “Jesus van Nasaret “Dit is Ek!” sê Jesus vir hulle. Judas, Sy verraaier het ook daar by hulle gestaan. Toe Jesus dan vir hulle sê: Dit is Ek! Het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.” Johannes 18:5,6.

Hoekom?

Skielik word die donker nag in ‘n oogverblindende helder lig verander. Die voorstes in die groot skare retereer en die helderheid van die lig slaan hulle op die grond neer.

43. Waar het die lig vandaan gekom? Was dit Jesus se Godheid wat deur Sy mensheid geflits het? Was dit die magtige engel wat ‘n rukkie van te vore Jesus kom versterk het? Of was dit albei?
Een ding is baie seker. Hierdie mense het ‘n onmiskenbare bewys gekry dat hulle besig was met duiwelse planne om die onskuldige Jesus te wil verwoes.

44. En hier vind ons ‘n skokkende waarheid oor hoe ver die mens in sy blinde woede kan gaan. Die jaloesie teen Jesus het groter en groter geword totdat daar later geen keer was aan hulle bose planne om die regverdige Jesus dood te maak nie.

Mag die Here ons van afguns en jaloesie bewaar. Dit groei soos onkruid in ‘n mens se lewe en dit verstik al die mooi plantjies van teerheid en groei onbeheersd.

Dis ‘n skokkende feit dat woede gewoonlik teenoor mense ontvlam wat regverdiger as ek is. Dit het by Kain begin wat sy broer Abel doodgeslaan het omdat hy ‘n beter mens was. Openbaring 12:17 sê dit gaan binnekort weer herhaal word.

ORENT GEKOM

45. Toe die goddelike lig verdwyn, het die skare opgestaan. As Jesus wou, kon Hy ontsnap het, maar Hy het nie. Toe Jesus besluit het om my te kom verlos, het Hy op geen stadium aan Sy eie gerief gedink nie. Ons verlossing was bo aan Sy lys van prioriteite.

Terwyl ek aan Jesus se lyding in die donker tuin dink, moet ek vir myself ‘n paar vrae vra:

Is dit moontlik om ook so mooi te bly soos Jesus wanneer mense my valslik beskuldig?

Is ek gewillig om deur wrede hander verniel te word sonder om verbitterd te word?

Is ek, soos Jesus, ook gewillig om my eie gerief, my eie gemaksone te versaak? Is ek gewillig om alles te done om die geesterlike gerief en voorspoed van mense om my te verseker?

Mag die Heilige Gee gee dat ons deur die studie van Jesus se lewe van egosentrisme verlos sal word. Mag die Heilige Gees ons in staat stel o die redding van ander mense die grootste prioriteit in ons lewens te maak.

Was this article helpful?

Related Articles