DIE KRUISIGING DEEL 5 -JESUS SE STERWE EN BEGRAFNIS Joh 19:28-42
Die sterwenswoorde van Jesus “Dit is volbring” smelt saam met die gerommel van die aardbewing. Die mense om die kruis, sien hoe Jesus se kop op Sy bors val. Sy stem verstil maar die gedreun van die skudding bly nog ‘n rukkie langer rommel.
Matt 27:54 sê vir ons: “Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
BEGRAFNIS
Wanneer laas was u op ‘n begrafnis? Dis wanneer ‘n mens die geleentheid kry om aan die mooi dinge in die lewe van die oorledene te dink. Dit is asof die dood die mooi karaktertrekke van die persoon nog mooier na vore bring.
En ‘n geharde Romeinse offisier kyk hoe Jesus sterf, en met ‘n knop in sy keel, sê hy: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
STEM IN DIE HEMEL
Maar die dood van Jesus het nie alleen ‘n effek op mense hier op aarde gehad nie. Open 12:10 gee vir ons die volgende interessante feite: “Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.”
Met die sterwe van Jesus is die laaste masker van die Satan afgeruk. Toe Jesus sterwe het die Satan in al sy naakte afskuwelikheid gestaan. U sien die Satan het God daarvan beskuldig dat Hy Homself nie kan verloën nie. Dat HY die mens sekere dinge vra om te doen wat Hyself nie bereid is om te doen nie.
En die kosmos het gewonder! Sal God Homself verloën en in skande kom leef en sterf? En toe gebeur dit. En die heelal sien hoe die Satan en sy engele die mense aanhits om Jesus te spoeg, te slaan en te bespot. Hulle sien hoe Jesus aan die kruis hang en hoedat Hy sterf.
Open 12:10 sê hy is uit die hemel gegooi. Hy is uit die simpatieke harte van ongevalle wesens uitgegooi.
Satan het finaal sy aansien verloor. Tot Vrydagmiddag 3 uur het hy ‘n houvas op die aarde gehad, maar met Jesus se sterwe, is sy houvas gebreek. Die teks sê: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde.” Open 12:10
VERSLAAN
Ek wil u vandag die versekering gee dat die Satan ‘n verslane vyand is. Al mag wat hy besit, is dit wat ek hom in my lewe toelaat. Op Golgota het hy ‘n uitklop-hou ontvang en hy lê op die planke en is besig om uitgetel te word. Vrees hom nie. Al wat ons moet vrees is die sonde in ons lewe.
By die poorte van die tuin van Eden het God die volgende voorspelling gemaak. Gen 3:15: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Op Golgota het die slang sy tande deur Jesus se hakskeen geslaan. Die gif was verskriklik dodelik en die letsels ewig. Die gif van hierdie adder het dwarsdeur Jesus gebrand – dit was onbeskryflik vreeslik. Hy het bedoel om Jesus vir ewig dood te byt, maar dank God, dit het nie gebeur nie.
Op Golgota is Satan, die slang se kop vermorsel. Sy lyf gee nog net ‘n paar doods-styptrekkings, maar spoedig sal hy vir ewig in ‘n beweginglose uitwissing verdwyn.
MOENIE
Moenie van sy krag praat nie! Praat van die almag van Jesus. Moenie van sy versoekings praat nie, praat van Jesus se mag om ons van elke struikeling te bewaar.
Moenie jouself op sy terrein begeef nie. Laat u voete u altyd na plekke neem waar u in die atmosfeer van die hemel kan wandel.
Moenie na die dinge kyk wat hy vertoon nie. Laat u oë rus op dit wat skoon en mooi en heilig is – die dinge van die koninkryk.
Moenie na dinge luister wat hy geïnspireer het nie. Spits eerder u ore om na die klanke van die hemel te luister.
SY AANTUIGINGS
Hy het verklaar dat geregtigheid en genade onverenigbaar is. Hy het beweer dat as die wet gebreek word, dit onmoontlik is om die sondaar te vergewe. Want, sê hy, geregtigheid vereis die doodstraf. Toe die mens in sonde val het die Satan gesê dis onmoontlik vir God om terselfdertyd regverdig en genadig teenoor die mens op te tree. En toe kom staan Jesus in die plek van die sondaar en ons sien hoe regverdiglik God die sonde haat en straf. Op Golgota het God se toorn teen sonde wreed op Jesus neergeblits en Hom doodgeslaan. Maar in hierdie daad openbaar God ook Sy liefde en genade teenoor sondaars deurdat Hy hulle vergewe. Op Golgota het geregtigheid en genade mekaar gekus.
DINGE WAT OP GOLGOTA GEBEUR HET
MOORD GEPLEEG
Gestel nou u het ‘n moord gepleeg en u word gearresteer. Dit was alles u skuld gewees. U word in ‘n maksimum sekuriteits gevangenis geplaas. Terwyl u daar in die sel sit, dink u na oor alles. As u maar net na u ouers geluister het! As u maar net na die predikant geluister het. As u maar net meer u Bybel gelees het. Maar nou is dit vir ewig te laat.
Sal dit help as u vir die regter sê dat u jammer is? Kan hy u op grond van u berou vryspreek? Nee. Berou kan nie vryheid verdien nie.
En as u vir die regter sê dat u voortaan ‘n mooi lewe sal lewe, kan die regter u op grond van goeie voorneme vryspreek? Nee.
Feit is, u het ‘n moord gepleeg en dit word van die regter verwag dat hy u die doodstraf moet oplê. As daardie regter u sommer goedsmoeds vryspreek, is hy ‘n gevaar vir die samelewing.
VONNIS
Op ‘n dag kom daar ‘n paar polisiemanne u uit die sel neem en hulle lei u na die hooggeregshof. Dis ‘n ongemaklike atmosfeer, vreeslik gespanne. U wag vir die regter om die doodstraf te voltrek. Die getuies word aangehoor. U saak lyk baie sleg. Die regter is nou gereed om sy uitspraak te gee. Toe hy begin praat, besef u dis verby. In ‘n diep, ernstige stem, spreek hy die doodstraf uit. U word yskoud. Dis ‘n gevoel wat u nie kan beskryf nie.
WENDING
Maar skielik kom daar ‘n wending in die hele saak. Die regter praat weer. “Mnr. Die Moordenaar, ek sien jy het diepe berou. Ek voel baie jammer vir jou. Ongelukkig kan ek nie die doodstraf verander nie, maar ek het besluit om in jou plek tereggestel te word. Jy is vry. Jy kan maar huistoe gaan.”
U sien hoe die regter homself aan die polisie oorgee en hoe die laksman hom na die galg toe lei. U hoor die geraas van die galg en u besef hy is dood.
Hierdie regter het twee dinge gedoen. Hy was regverdig. Die wet sê as jy moord pleeg, moet jy sterf. Hy het die doodstraf toegedien. Maar hierdie regter was ook genadig. Hy het die moordenaar vrygespreek. Maar die vryspraak, het sy lewe gekos. Om sy regverdigheid te bewys, het hy die vonnis op homself laat neerkom.
GOLGOTA
En dit is wat op Golgota gebeur het. U en ek het gesondig. Ons verdien die
doodstraf. En as God die Regter nie die doodstraf uitgevaardig het nie, is Hy nie ‘n regverdige regter nie. Spreuke 17:15 sê dis ‘n gruwel om die goddelose regverdig te verklaar.
Maar nadat God my die doodstraf opgelê het, het Hy gesê dat Hy in my plek sou sterf. En daar op Golgota het die Drie-Eenheid kom ly. Wat ‘n lyding!
Rom 3:26 sê: “Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe.”
Hy kon hierdie sondes alleenlik vergewe deur dit op Homself te neem en te sterf.
Golgota nooi elke sondaar om sy skuld daar te kom plaas. Dit maak nie saak hoe swart my rekord is nie, ek kan alles na Golgota toe bring. Dis daar waar Jesus my vuilheid neem en vir my Sy volmaakte reinheid gee.
GEES VAN PROFESIE
Ek deel ‘n paar setate met u wat vir my baie kosbaar is:
“In die hemelse raadsittings, lank voordat die wêreld geskep is, het Vader en Seun besluit dat as die mens ontrou teenoor God sou raak, Jesus wat een met die Vader is, die plek van die sondaar sou inneem en die regverdige straf sou verduur wat op die mens neerkom.” 6 BC 1070
Wat ‘n gedagte. My verlossing is ouer as die aarde. Liefde vir verlore sondaars is die belangrikste besigheid van die hemel.
Ons moenie dink, wanneer ons in sonde val, dat ons die Here onverhoeds verras nie. Hy het reeds daarvoor voorsiening gemaak, lank voordat die wêreld gebore is. Die duiwel sê vir die mens jy het te ver gegaan, vergifnis is onmoontlik. Moet hom nie glo nie. Die magtige God van hemel en aarde kan die sonde probleem volkome hanteer.
GEREGTIGHEID DEUR DIE GELOOF
“Wanneer die berouvolle sondaar in ootmoed voor God, Christus se versoening vir hom besef, en hy hierdie versoening as sy enigste hoop vir hierdie lewe en die toekomstige lewe aanneem, word al sy sondes vergewe.” 6 BC 1070
Solank as wat ons leef moet ons Jesus se versoeningsdaad aan die kruis as ons enigste hoop beskou. Ek moet vashou aan die gedagte van Golgota. Ek mag dit nooit uit my gedagtes laat gaan nie.
OOGGETUIE SE VERSLAG
Kom ons lees ‘n ooggetuie se verslag van die volgende gebeurtenis op Golgota: Joh 19:31-37 “Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die Sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie Sabbatdag was ‘n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook die van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom. Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En verder sê die Skrif op ‘n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”
Die Jode wou nie hê dat Jesus ‘n oomblik langer aan die kruis hang nie. Die Satan wou dit ook nie hê nie. Want Jesus aan die kruis is die grootste uitdrukking van God se liefde vir die mens.
Hulle kry toe Pilatus om te beveel dat die drie gekruisigdes se bene gebreek word, sodat hulle nog voor die Sabbat verwyder kan word. Eintlik het hulle die gekruisigdes doodgeslaan.
Met ‘n groot ysterhamer slaan ‘n Romeinse soldaat die bekeerde dief se bene stukkend. Nie lank nie of ook hy, blaas die asem uit en laat sy kop vooroor val. Toe begin die Romeinse soldaat by die ander misdadiger slaan. Hy hou aan slaan totdat hy ook dood is.
Maar by die middelste kruis staan die soldaat stil. “Hy is reeds dood” sê hy aan die Joodse priesters en leiers. “Steek jou spies in Sy linkersy op, en deurboor Sy hart” skreeu hulle vir hom.
Bloed stroom saam met water uit Sy sy. En Johannes sien dit en baie jare later skryf hy: “Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo.” Joh 19:35.
So vroeg as 1847 het Dr. Stroud in sy boek, Physical Cause of the death of Christ, beweer dat Jesus van ‘n fisiese oopskeur van Sy hart gesterf het. William Barcley beweer dat die fisiese en emosionele wroeging van Jesus so erg was, dat Sy hart letterklik geskeur het. Toe die soldaat die spies deur Jesus se hart steek, het hy die perkardium deursteek en bloed en water het vrylik gevloei.
Ons sal seker nooit op hierdie aarde die presiese antwoord kry nie. Wat ons wel weet, is dat die spykers en die doringkroon nie Sy dood veroorsaak het nie. My sondes het Hom laat sterf.
Toe Jesus aan die einde van die drie-uur lange duisternis die vreeslike God-verlate gevoel nie langer meer kon vat nie, het Hy met ‘n stukkende, sterwende hart uitgeroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat.”
En in Sy verskriklike verworpenheid, voel Hy hoedat ons sondes Hom doodmaak. Hy voel hoedat ons sondes Hom verder en verder van Sy Vader af wegskeur.
In Sy vreeslike hartseer alleenheid probeer Hy aan iets vashou maar daar is niks nie. Alleen, alleen, alleen. En die misterieuese tragedie van die sonde breek vir Jesus en Hy sterf van ‘n gebroke hart.
En Johannes kyk hoe water en bloed uit Jesus se sy vloei en hy besef wat gebeur het.
WATER EN BLOED
Weet u wat die boodskap van die water en bloed is? Dis die boodskap dat my sondes Sy hart gebreek het. Dis die boodskap dat die Vader en die Seun my liefhet.
William Cowper het geskryf:
There is a fountain filled with blood, drawn from Immanuel’s veins and sinners plunged beneath that flood, lose all their guilty stains.
E’er since by faith I saw that stream Thy flowing wounds supply, redeeming love has been my theme, and shall be till I die.”
Augustus Toplady skryf:
Rock of Ages, cleft for me, let me hide myself in Thee; Let the water and the blood, from Thy riven side which flowed, be of sin the double cure, cleanse me from its guilt and power.
DEUR AANSKOUING WORD ONS VERANDER
Hoe langer ons na Jesus kyk, hoe meer verander ons. Die beste nuus in die wêreld, is die nuus van Jesus aan die kruis. Sy pyn is die waarborg dat ek in die hemel nooit meer pyn gaan voel nie. Nie fisiese pyn nie, en ook nie emosionele pyn nie.
Sy skande is die waarborg dat my skande vir ewig verban gaan word. Sy dood is die waarborg dat ek eendag vir ewig gaan leef.
PAULUS
Paulus sê in 1 Kor 2:2 vir ‘n klompie mense: “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as die gekruisigde.” Paulus kyk na die gekruisigde, hy preek die Gekruisigde en Paulus skep moed om aan te gaan.
Het u al ooit gevoel om tou op te gooi? Ek het. Maar daar is een iets wat my elke keer red. Ek gaan staan in my verbeelding by Golgota en dan kyk ek. En hoe langer ek kyk hoe skamer kry ek. En hoe langer ek kyk hoe meer word ek geïnspireer.
BEGRAFNISREëLINGS
Maar wat van die begrafnisreëlings? Die paar volgelinge van Jesus staan verslae langs die Gestorwe Heiland. Toe Hy gesterf het, het hulle hoop saam met Hom gesterf. Met hartseer kyk hulle na Sy kop met die doringkroon wat vooroor geval het. Sy stukkend-geslaande liggaam, Sy hande en voete en nou die wond aan Sy sy. Hulle foltering en sielesmart is onbeskryflik.
Tot op die laaste het hulle gehoop dat Hy iets sou doen om nie te sterf nie. Kan u hulle daar in hulle patetiese hartseer sien staan? Die toekoms lyk so leeg want hulle geloof in Jesus het saam met sy sterwe verdwyn. Maar nog nooit het hulle so ‘n liefde vir Hom gevoel nie.
Hulle wou nie die kruis verlaat nie. Hulle kan net nie sien hoedat ongevoelige sodlate hulle geliefde Meester se liggaam iewers in ‘n skandgraf gaan gooi nie. Nee, nooit nie.
JOSEF EN NIKODEMUS
Johannes wat deel van hierdie veleentheid was, vertel vir ons van ‘n heerlike uitkoms:
“Hierna het Josef van Arimatea, wat ‘n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent 50 liter mire en aalwyn gebring. Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafns uit te lê.”
BLYDSKAP
Vir die eerste maal is daar blydskap in die paar dissipels se harte. Hier kom hierdie twee skatryk lede van die Sanhedrin om vir Jesus ‘n luukse begrafnis te gee. Dit was lanklaas dat Jerusalem so ‘n begrafnis gesien het.
Met groot versigtigheid het hulle die spykers uitgetrek en Jesus se liggaam liefdevol van die kruis afgehaal. Hierdie twee ryk mense kan nie hulle trane bedwing terwyl hulle na Jesus se verminkte liggaam kyk nie.
TUINGRAF
Die tuingraf van Josef is baie na aan Golgota. Met groot teerheid dra hulle Jesus teen die heuwel af.
Joh 19:41,42 “By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ‘n tuin en in die tuin ‘n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die Sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.”
Versigtig stap hulle met Jesus die grafkelder binne. Hy word liefdevol neergelê Die doeke en die 50 liter mirre word nadergebring en Jesus se liggaam word in die duurste materiaal en met die duurste reukmiddel toegedraai.
Drie-en-dertig jaar gelede is ‘n klein liggaampie in ‘n paar goedkoop babadoeke toegedraai. Dis al wat die wêreld vir sy Keiser en sy Verlosser kon aanbied. Hy was baie meer werd. Dwarsdeur Sy lewe het Hy ‘n armmanskleed gedra. Daardie Vrydagmiddag besluit twee ryk mense dat hy beter geklee moes wees en toe bring Josef en Nikodemus die beste grafklere wat geld kan koop. Ongelukkig was Jesus reeds dood.
Ek wonder wat dit aan Jesus sou gedoen het as hierdie manne hierdie mooi daad aan Hom gedoen het terwyl Hy nog gelewe het?
HET U DUUR LINNE EN WELREUKENDE MIRRE?
Kom ons maak nou mense toe met die mooi duur linne wat ons besit. Moenie dit vir hulle begrafnis bêre nie. Het u mirre, welreukende mirre? Gee dit nou aan u lewende geliefdes.
Daar is iets wat ek sonder uitsondering na elke begrafnis hoor: “Ag, het ek maar meer gedoen terwyl my pa/ma/kind/man/vrou geleef het.”
Jesus sê dat alles wat ons aan ander doen, ons dit eintlike aan Hom doen. Langs u sit iemand. Miskien sal dit goed wees om daardie hand te neem en dit ‘n drukkie te gee en sodoende u waardering en liefde uit te spreek.
Ek weet nie of ek dit more vir iemand kan doen nie, kom ons doen dit vandag terwyl ons geliefdes nog leef.