1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 16 – Pilatus Verhoor (Deel 2)

Deur Sy Wonde Deel 16 – Pilatus Verhoor (Deel 2)

JESUS SE SEWENDE VERHOOR VOOR PILATUS

Joh 19:1-16

Die uitgeputte, hartverskeurde Jesus is vanaf die verhoor voor Herodus weer na Pilatus gebring. Die sewende en laaste verhoor sou nou plaasvind. Kan u Jesus sien? Sy wit kleed is met bloed bevlek. Die 26 houe wat die Sanhedrin Hom oor Sy bors gegesel het, syfer na Sy kleed toe deur. Elke keer as Hy asemhaal is dit baie seer.

PILATUS

Goewerneur Pilatus was teleurgesteld toe hulle Jesus na hom toe gebring het. Hy het so gehoop dat Herodus Jesus sou vryspreek of dan laat kruisig. Pilatus het gehoop dat hy nie nodig sou hê om ‘n besluit tov Jesus te neem nie.

Maar dis een besluit wat niemand kan vryspring nie. Ek moet Jesus laat leef of ek moet Hom kruisig. Die posisie waarin Pilatus hom bevind het, is ook die posisie waarin ek my daagliks bevind. Gaan ek Jesus wegstuur om gekruisig te word? Gaan ek vir die selfstugtige ek leef en Jesus wegstuur om te sterf? Of gaan ek sterf sodat Hy kan leef? Wat maak ons met Jesus?

Met ‘n oneindige liefde stap Jesus weer ‘n keer in Pilatus se lewe in. Hy wil hierdie man weer ‘n keer die geleentheid gee om Hom aan te neem.

En met groot oneindige liefde stap Jesus weer ‘n keer vandag in my lewe in en Hy gee my weer die geleentheid om Hom aan te neem. Kom ons luister wat Pilatus aan die mense sê wat Jesus na Hom toe terugbring:

Lukas 23:13-16 “Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep en vir hulle gesê: Julle het hierdie man voor my gebring as ‘n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. Herodus het ook nie; want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. Ek sal hom dus laat gesel en dan loslaat.”

KOMPROMIE

Het Pilatus gedoen wat hy gesê het? Nie heeltemal nie. Hy het Jesus laat gesel maar hy het Hom nie losgelaat nie. Uiteindelik het hy Jesus laat kruisig tenspyte van die feit dat hy gesê het dat hy Hom sou loslaat. Hoe is dit dat sy goeie voorneme misluk het? Waarom misluk so baie van ons goeie voornemens?

Die antwoord lê in die woorde: “Ek sal hom dus laat gèsel en dan loslaat.”

Hy wou eers Jesus se haters tevrede stel en dan vir Jesus loslaat. Hy wou eers ‘n kompromie ten koste van Jesus aangaan en Hom dan laat loslaat.

Maw Pilatus wil eers sy eie ding doen, maak nie saak hoe seer hy Jesus maak nie, en dan wou Hy Jesus vrylaat.

Hy sou Jesus met sekere voorbehoude laat vrygaan. En toe misluk alles.

ILLUSTRASIE

‘n Vrou in Parys het na die pragtige waarheid geluister. Die Heilige Gees het haar oortuig dat sy ‘n gehoorsame volgeling van Jesus moes word. Net soos Pilatus was sy oortuig. Maar haar man was nie baie gelukkig oor sy vrou se nuwe ontdekking nie. Sy het toe ‘n baie interessante besluit geneem. “Ek sal Jesus die hele ent pad volg die dag wanneer my man nie meer daar is nie.” Soos Pilatus he sy gesê: “Ek sal Hom gèsel en dan loslaat.” Dis eintlik waarop dit neerkom.” Ek sal vir ‘n ruk ongehoorsaam wees en daarna sal ek gehoorsaam wees.

Vir baie jare is Jesus gegèsel omdat sy Hom nie gevolg het nie maar haar man tevrede gestel het. En toe op ‘n dag het hy gesterf. Op hierdie stadium het ek in die prentjie gekom. Mense het my van hierdie vrou en haar vroeëre besluit vertel en ek is baie opgewonde daarheen.

Dis ‘n ondervinding wat ek nooit sal vergeet nie. Die vrou was geestelik morsdood. Toe ek daar wegstap het ek gewonder of die Heilige Gees nog met haar gepraat het. Dis moontlik dat nadat ons Jesus laat gèsel het ons Hom ook sal laat kruisig.

As ek my besluit om Hom te gehoorsaam uitstel is die moontlikheid baie sterk dat ek Hom nooit sal gehoorsaam nie.

VRAAG

Pilatus se woorde laat my ernstige vrae vra: Weet ek dat sekere dinge in my lewe verkeerd is? Weet ek wat reg is? Sê ek vir myself dat ek dit later sal regmaak?

As ek so redeneer is ek op baie gevaarlike grond want dit is hoe Pilatus geredeneer het. Hy wou nog regdoen.

As ek weet iets is verkeerds, moet ek dit nou los. As ek weet wat reg is, moet ek dit nou doen. Pilatus wou maar hy het nie.

Die woorde van Lukas 23:16 is vreeslike woorde: “Ek sal hom dus laat gèsel en dan loslaat.” Dis iets wat nooit uitwerk nie.

DIE GEPEUPEL

Die gepeupel het Pilatus se ONBESLISTHEID en HUIWERING uitgebuit en besluit dat as hy gewillig is om ‘n onskuldige mens te gèsel, hy uiteindelik gewillig sal wees om Hom te kruisig. En dis presies wat gebeur het. Sy huiwering en onbeslistheid het Jesus se dood beteken en Pilatus se eie ondergang bewerkstellig.

CLAUDIA PROCLA

In ‘n pragtige slaapkamer met die duurste meubels en beddegoed het Pilatus se vrou, Claudia Procia, die Donderdagnag aan die slaap geraak. Min het sy besef voor watter geweldige keuse haar man vroeg daardie Vrydagoggend te staan sou kom. En toe droom sy. Maar voor ons by haar droom kom, wil ek net noem dat Jesus net een groot verlange vir elke mens het, en dit is dat ons Hom moet aanneem en gered word. En ek glo dat Jesus gebid het dat sy daardie nag in ‘n droom die verhoor sou sien.

En Claudia Procla droom sy sien vir Jesus en sy praat met Hom. Sy is nie ‘n Jodin nie maar in haar droom sien sy Jesus se pragtige goddelike karakter en sy besef dat Jesus gekom het om sondaars te red. Sy erken hom as die Prins van God.
En dan sien sy Jesus waar Hy verhoor word. Sy sien hoe Sy hande soos ‘n misdadiger s’n vasgebind is. Toe sien sy hoe Herodus en sy soldate Jesus onmenslik behandel. In haar droom sien sy die priesters en Joodse leiers wat met ‘n sataniese haat gevul is.

Sy hoor hoe hulle kranksinnige beskuldigings uitskreeu. Sy hoor hoe hulle uitroep: “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf.” Sy sien hoe Pilatus haar man, Jesus laat gèsel nadat hy verklaar het dat hy geen fout in Hom vind nie. Dis iets vreesliks.

En toe hoor sy hoe Pilatus Jesus aan die Jode oorgee om gekruisig te word. Op die heuwel van Golgota sien sy Jesus aan die kruis. In haar droom sien sy hoe duisternis toesak en hoor sy Jesus se laaste reop “Dit is verby”.

Maar nou sien sy ‘n ander toneel. Dieselfde Jesus is met heerlikheid bekleed en Hy kom met ‘n groot wolk van glansende engele na hierdie aarde toe. Sy sien hoe Jesus se moordenaars voor Sy majestieuse heerlikheid wegvlug.

Met beangste gille skreeu sy haarself wakker. Claudia Procla huil. Sy neem ‘n skryfding en stuur ‘n boodskap na haar man. Matt 27:19 sê: “En terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou na hom gestuur en gesê: “Moet tog niks te doen hê met diè regverdige man nie, want ek het vandag in ‘n droom baie gely om sy ontwil.”

Pilatus lees sy vrou se pleitende brief. Hy word bleek, hy sluk ‘n paar keer. Sy eie botsende emosies verwar hom. Moet hy Jesus nog laat gësel? Is daar nie iets anders wat hy kan doen om Jesus vry te spreek nie? Iets wat vir hom maklik sou wees nie?

“Die goewerneur het die gewoonte gehad om elke paasfees vir die mense een gevangene van hulle eie keuse los te laat. In daardie tyd was daar ‘n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas. Aangesien die mense tog bymekaar was, het Pilatus hulle gevra: Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus genoem word?” Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het.”

SLIM PLAN

Pilatus is baie seker dat hy nou ‘n slim plan het. Hy ht die leiers van die volk deurgekyk.

Hulle het geen grondige rede waarom hulle Jesus wil teregstel nie, dis bloot net uit afguns. Maar met sy blink gedagte sal die volk, so glo hy, liewer Jesus vrygestel wil hê as vir Barabbas die skurk. Maar Pilatus het die Joodse leiers onderskat. Luister wat sê Matt 27:20:

“Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood.”

Josefus die Joodse geskiedskrywer sê dat die gepeupel van Jerusalem ten volle onder die beheer van die godsdienstige leiers was. Hierdie mense was meer as gewillig om in enige betoging en opstand vir die geestelikes deel te neem.

KEUSE

Pilatus haal die asem. Hy is gereed om te hoor hoe hulle op sy blink plan gaan reageer om Jesus vry te spreek.

Matt 27:21 “Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?

“Barabbas!” antwoord hulle.

Die geskreeu was oorverdowend. Orals skreeu die gepeupel net een woord. BARABBAS! BARABBAS! Dit klink soos wilde diere.

Pilatus is seker dat hulle hom verkeerd verstaan het. Mark 15:9 “Toe antwoord Pilatus en sê vir hulle: Wil julle hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?”

Hy wag vir ‘n antwoord – ‘n positiewe antwoord. Maar weer ‘n keer word hy teleurgestel. Lukas 23:18 sê “Maar soos een man het hulle geskreeu: Weg met hom. Laat Barabbas vir ons los!”

Kan u dink wat hierdie woorde aan Jesus moes doen? Hy was iemand met teer gevoelens. Hy was ‘n sensitiewe mens.

Is u al verwerp?

IEMAND BETER

Ek het op ‘n keer met ‘n hartverkeurde vrou gepraat.

Haar man het haar gelos en ‘n baie swak tipe vrou bo haar verkies. Sy sê vir my as hy iemand beter bo haar verkies het, sou dit nie vir haar so seergemaak het nie. Het iemand u al verwerp: Het u al gehoor hoe mense uitroep: Weg met hom, weg met haar? Het u gehoor hoe hulle iemand anders bo u verkies?

Jesus is deur so ‘n ondervinding. Hulle skreeu dit uit dat Hy gekruisig moet word. Hulle skreeu dit uit dat hulle Hom verwerp. Hulle skreeu dit uit dat hulle die skurk Barabbas bo Jesus verkies.

DERDE PROBEERSLAG

Lukas 23:22,23 “Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gësel en dan loslaat”. Hulle het egter met ‘n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu eht hulle die oorhand gekry.”

GESELING

In Joh 19:1 lees ons net ‘n paar woorde: “Toe neem Pilatus dan vir Jesus en laat Hom gesel.”

Jesus se klere word uitgetrek. Romeinse soldate plaas Sy liggaam oor ‘n lae pilaar. Aan die voorkant van die pilaar word Sy hande aan twee ysterringe vasgemaak. Jesus se rug is uitgestrek oor die pilaar. Sy kop hang vooroor en Sy rug is nou styf gespan.

‘n Groot fris Romeinse soldaat trek sy regterarm agertoe, en met groot fors plant hy die eerste katshou op Jesus se rug. Stukkies vleis word uitgeruk en die bloed begin te loop. Die tweede katshou val, die derde. Die kats maak ‘n fluitgeluid as hy deur die lug trek. Die stukkies been en loot wat in die riempies vasgemaak is, ruk elke keer vleis uit Jesus se rug.

Hier so teen die twintigste katshou, neem die fors van die hoon af want die geselaar word moeg. Die offisier in bevel van die katsing, skreeu in Italiaans: ADDE VIRGAS. ADDE VIRGAS. ADDE VIRGAS. Dit beteken dat die soldaat met groter krag moet slaan.

Elke keer wanneer ‘n katshou Jesus se rug verder oopkloof kan mens sien hoe vertrek Sy gesig van pyn. Dis vreeslik. Antieke bronne sê vir ons dat die meeste slagoffers flou geword het. Ander weer het asgevolg van die vreeslike pyn, heeltemal kranksinnig geword. En dan was daar baie gevalle waar mense onder die katshoue gesterf het.

Eusebius die geskiedskrywer vertel van gevalle waar mense in Smirna so gekats is, dat hulle organe sigbaar geword het.

SY WONDE

Kan u vir Jesus oor die pilaar uitgestrek sien lê, terwyl die katshoue Sy rug al hoe dieper oopkloof? Kan u sien hoe Hy Sy oè styf toemaak elke keer wanneer die kats pynlik op Sy verwonde rug inbrand? En onthou Sy bors is net so flenters deur die kats geslaan. Die nag tydens Sy verhoor het hy 26 katshoue oor Sy bors ontvang. Nou lê Hy op daardie rou oop wonde.

Sal ons ooit besef wat Jesus vir ons deurgemaak het? Kan die God van hemel en aarde mense so life hê? Is sonde regtig sò vreeslik?

Waarom laat Jesus dit toe? Jes 53:5 sê “Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Wat ‘n groot prys moes Jesus nie betaal het om my van die siekte van sonde te kom genees nie.

Die teks sê ook: “Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom.” Dis ‘n geweldige gedagte. Ek sou nooit die heerlike emosie van vrede kon geniet het as Jesus nie gegesel was nie.

Ag mag ons tog nooit vergeet watter duur prys Jesus betaal het om ons van sonde te reinig nie. Mag ons die vreeslikheid van sonde in die wrede mishandeling van Jesus sien.

Markus 15:16-19 vertel vir ons wat hierna met Jesus gebeur het.

“Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. Toe trek hulle Hom ‘n pers mantel aan en vleg ‘n doringkroon en sit dit vir Hom op. Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!”

Hulle het Hom herhaaldelik met ‘n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys.”

In Joh 19:3 lees ons dat elke keer wanneer hulle Hom spottend as die koning van die Jode gegroet het, hulle Hom ook geklap het.

Kan u vir Jesus sien? Hulle spoeg Hom aanhoudend. Het iemand al op u gespoeg? Hulle klap Hom aanhoudend. Het iemand u al deur die gesig geklap? Af en toe gryp iemand die riet wat in Jesus se hand gedruk is, en slaan Hom onverskillig oor Sy kop. En dan druk die dorings van die doringkroon nog dieper in Sy slape in en die bloed loop oor Sy gesig. Sy hande is vas en Hy kan nie die bloed uit Sy oë vee nie.

Hulle bespot en beskimp Hom. Die laagste opmerkings word teenoor Hom gemaak. Die Satan is tussen die gepeupel. Hy wil hê Jesus moet een van twee dinge doen. Jesus moet so getreiter word dat Hy by die plek gaan kom dat Hy Homself sal verlos en die verlossingsplan kanselleer.

En moenie dink dat Jesus nie so ‘n versoeking gehad het nie. Sal u al hierdie onmenslike behandeling verduur as u by magte is om dit te laat ophou? Sal u toelaat dat die skuim van die aarde u bespoeg en klap en beskimp as u dit kon verhoed?

Maar Jesus het besluit om die prys vir ons redding te kom betaal en niks kan Hom in Sy doel stuit nie. My redding was vir Hom belangriker as Sy lyding. (x2)

Die tweede iets wqt die duiwel wou sien, is dat Jesus die kwaad met die kwaad moet vergeld. As Jesus net een keer sou faal, sou Sy offer onvolmaak wees en die verlossingsplan ‘n mislukking.

Besef u hoeveel ons aan Jesus te danke het?

TEKEN VAN SY GODHEID

Die grootste teken van Jesus se godheid was nie soseer Sy wonderwerke nie, maar Sy pragtige gedrag tydens die vreeslike mishandeling.

Die wreedheid van die mense wat Jesus mishandel het, het hulle laer as diere laat afsak. In teenstelling met hulle wangedrag het Jesus se gedrag oorvloediglik bewys dat Hy die God-mens was. Die bloed wat uit sy verwonde slape gevloei het, was die vreugde olie wat Hom as ons groot Hoëpriester gesalf het.

SIMPATIEK

Deur die vreeslike geseling en bespotting wou Pilatus die skare se simpatieke gevoelens uitlok, maar dit was tevergeefs. Hulle bloeddorstigheid het net meer toegeneem. Dit was op hierdie stadium dat Pilatus vir Barabbas laat haal en hom langs Jesus laat staan het.

Kom ons luister hoe Johannes die Barabbas insident beskryf.

Joh 19:4,5 “Pilatus het toe weer buitetoe gekom envir die Jode gesê: “Kyk, ek bring Hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die persmantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

ECCO HOMO

Wanneer ‘n mens Jerusalem besoek, kan jy na die Ecco Homo boeg toe gaan. Dis die plek waar Pilatus Jesus en Barabbas laat staan het sodat die beskuldigers hulle kon sien. Dis die plek waar Pilatus sy hand na Jesus uitgesteek het, en gesê het: “Aanskou die mens.” “Behold the man.” “Ecco Homo”

Terwyl ek op een van die bankies gesit het by die Ecco Homoboog het ek my verbeelding laat gaan.

Voor my geestesoog het die Seun van God gestaan. Hy het ‘n ou verblykte pers kleed aangehad en op Sy hoof was daar ‘n doringkroon. Pilatus ontbloot Sy rug sodat die mense na die wrede katshoue kan kyk. Dit was ‘n bloeiende massa oop wonde. Tekens van verskriklike uitputting en pyn was duidelik waarneembaar. Maar terwyl Jesus daar gestaan het, het Hy mooier as ooit van te vore gelyk. Deur Sy vernielde, geskonde toestand, het daar ‘n teerheid uitgestraal. Hy was nie kwaad vir Sy wrede vyande nie. Deur Sy moeë, hartseer, pyngevulde oë het daar ‘n vloedgolf an diepe meegevoel na die mense hier voor Hom gevloei.

Terwyl ek Jesus in my geestesoog daar sien staan het, het ek nie ‘n lafhartige swakheid in Hom gesien nie. Nee, Hy het soos ‘n Koning met waardigheid, krag en lankmoedigheid langs Barabbas en Pilatus gestaan. In my geestesoog kon ek die teenstelling tussen Jesus en die skurk Barabbas sien. Die kontras het geskreeu. Ek glo dat daar sommige in die gehoor was wat gehuil het. Terwyl die mense na Jesus gekyk het, het hulle besef dat Hy alles was waarop Hy aanspraak gemaak het.

Johannes skets vir ons die laaste paar minute net voor Jesus gekruisig is. 19:6-16.

Matt 27:24 sê: “En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man, julle kan toesien.

Kan u die geraas van die water in die skottel hoor terwyl Pilatus sy hande was? Vir die Jode het die geraas beteken dat hulle hulle sin gekry het. Vir Pilatus dat dit nie sy skuld is nie, en vir Jesus was dit die klank van die dood.

Matt 27:26 “Toe laat hy vir Barabbas los, maar Jesus het hy laat gesel en oorgelewer om gekruisig te word.”

TWEEDE KATS

Oor daardie 39 houe wat Hy ‘n ruk te vore ontvang het, val daar nog 39 katshoue. As Hy nie ‘n spesiale liggaam ontvang het nie, sou Hy doodgeslaan gewees het.

1 Pet 2:24 verwys na Jesus se geseling en sê: “Deur wie se wonde julle genees is.” In die grondteks in die Grieks is hierdie woord nie in die meervoud nie, maar in die enkelvoud MOULOUPI

Daar het nie ‘n klomp katshoue oor Jesus se rug gelê nie. Dit was een groot wond. Sy hele rug was een groot massa oopgeslaande bloeiende vleis.

DIE LES

Watter les kan ons as dissipels uit Jesus se laaste verhoor leer? Net dit. Hoe wreder Hy behandel is, hoe mooier het Hy opgetree. Hoe maak ek wanneer ek wreed behandel word? Word ek mooier?

Hoe meer Jesus vals beskuldig is, hoe groter het die vrede geword wat uit Hom gestral he.

Wat gebeur wanneer ek vals beskuldig word en misverstaan word? Straal ek meer vrede uit of straal ek verbitterheid uit?

Ek het een groot begeerte. Ek wil mooier word wanneer mense met my leliker word. Ek wil meer vergewe wanneer ek meer veronreg word. Wanneer mense om my skreeu en meer humerig word, wil ek meer vrede openbaar.

Mag die Here ons as volgelinge van Jesus help om ook soos Hy op te tree wanneer ons deur soorgelyke beproewings sal gaan.

Was this article helpful?

Related Articles