1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 18 – Kruisiging (Deel 2)

Deur Sy Wonde Deel 18 – Kruisiging (Deel 2)

DIE KRUISIGING (2) Joh 19:28-30

Die sterwende mans wat aan kruise hang, kyk na die mense hier om hulle. Hulle kyk ook na die menigtes wat in die straat oorkant hulle heen en weer na die pragtige tempel loop. Dis paasfees.

Die son wat vroeër daardie dag opgekom het, skyn vol in hulle gesigte. Dis baie ongemaklik want daar is geen manier om sy helder strale te keer nie.

Stadig skuif hierdie groot lig oor die hartseer gebeure van Golgota. Dis amper 12 uur. Die drie veroordeeldes hang nou al amper drie uur aan hulle kruise.

Ons stel meer belang in die middelste kruis waar Jesus hang. So nou en dan kry ‘n druppeltjie bloed ‘n paadjie en dan hardloop hy daarmee af tot hy langs die ander bloedkolle op die wit kalkklip van Golgota val. Jesus is baie bleek want met die baie katshoue het Hy vreeslik gebloei. Die spykers het die bloedfontein nog verder oopgebreek en orals uit Sy liggaam syfer die bloed deur die wonde.

Tot dusver het Jesus die rol van profeet, priester en Koning vervul. As profeet het Hy met die dogters van Jerusalem gepraat.

As priester het Hy by Sy Vader vir vegifnis vir Sy vervolgers ingetree. Hy is Verlosser-Priester want Hy vergewe die dief aan die kruis.

Hy hang daar as koning en bokant Hom sien ons Sy koningstitel in drie tale.

Maar Jesus word nou ook die lam, die offerlam wat vir die sondes van die wêreld kom sterf. Hy is besig om Sy bloed vir die sondes van ons almal te stort.

VRAE

Wat maak Jesus aan die kruis? Hoe raak dit my? Hoe belangrik is dit dat ek die wetenskap van die kruis bestudeer? Iemand het die volgende geskryf: “Dit sou vir ons heilsaam wees om elke dag ‘n uur aan die bepeinsing van die lewe van Christus te bestee.

Ons moet dit punt vir punt neem en die verbeelding toelaat om elke toneel te begryp, veral die slottonele. As ons oor Sy groot opoffering vir ons peins, sal ons ‘n standvastiger vertroue in Hom kry, sal ons liefde opgewek word en sal ons in ‘n voller mate deur Sy gees vervul word. As ons eindelik gered wil word, moet ons die les van boetvaardigheid en ootmoed aan die voet van die kruis leer.” KE 83

Kom ons kyk weer vanoggend na die grootste offer wat die hemel aan ons geskenk het.

DINGE WAT JESUS AAN DIE KRUIS GETEISTER HET

1. Die feit dat mense die kwaad so gewoond geraak het dat hulle hulle vir die verskriklikheid daarvan blindstaar.

2. Die fisiese pyn aan die kruis was nie so erg as die pyn van die wete dat baie mense nie gewiilig gaan wees om die groot offer van genade te aanvaar nie.

3. Die sondeskuld van elke mens het op Hom gedruk.

4. Terwyl Jesus daar hang, het Hy iets ondervind wat Hom verskriklik ontstel het. Hy het die Vader se misnoë met sonde gevoel. Jesus het die sondes van die hele mensdom op Homself geneem, en nou ondervind Hy Sy Vader se afsku teen sonde. God straf vir Jesus omdat Hy my sondes dra en daar is konsternasie in Sy hart wat besig is om Hom te breek.

5. By die put van Jakob het Jesus vir die slegte vrou van die Vader se vergewende liefde vertel. Dit was die tema van Sy boodskappe. En nou hang Jesus aan die kruis met al daardie slet se smerige sondes. Hy ondervind die besoedeling. Maar die ergste van alles is die feit dat God die Vader Sy gesig van Jesus wegdraai. Ons kan sê Hy verag Jesus.

Jes 59:1 sê dat ons sondes ‘n skeidsmuur tussen ons en God geword het. Verder sê die teks: “Julle sondes het sy aangesig vir julle verberg.” En terwyl Jesus daar sterwende met al ons sondes hang, draai Sy Vader Sy aangesig van Jesus weg.

Aan die kruis het my sonde God die Vader en God die Seun van mekaar geskei. (x2) Ek het tussen hulle gekom.

Sal ons ooit die vreeslikheid van sonde besef! ‘n Verdriet wat geen mens nog ooit ondervind het nie, deurboor die hart van Jesus. Die fisiese pyn en lyding van die kruis, die worsteling met die sondes van die wêreld word kwalik gevoel. Want ‘n vriendskap van ‘n ewigheid word deur My sondes gebreek en Jesus tuimel ‘n afgrond van verdriet binne waarvan daar geen bodem is nie.

6. Die bose arms van my sonde ruk Jesus van Sy Vader af weg. Die bose arms van my sonde slinger Jesus in ‘n middernagtelike duisternis in. Verder en verder slinger my sondes Hom van die Vader af weg. En terwyl dit donkerder en donkerder om Jesus word, pak ‘n vrees Hom beet dat die afkskuwelikheid so walglik vir Sy Vader is, dat hulle vir ewig geskei gaan word.

Sy Vader wat ‘n liefde van ‘n ewigheid op Hom uitgestort het, stort nou Sy toorn op Hom uit, en dis so vreeslik dat Jesus se hart van verdriet begin breek. Het iemand vir wie jy baie lief was jou al verwerp. Dis wat met Jesus gebeur het.

ENGELE

Die hemelse engele kyk met verbasing, met verbystering hoe Jesus besig is om wanhopig in die slyksee van mense sondes te verdrink. Hoe is dit moontlik dat Hy toelaat dat Hy so gefolter word? Het Hy ondankbare sondaars dan so lief? En terwyl hulle geliefde Prins van lig en reinheid in die donker modderpoel van sondebesoedeling wanhopig worstel, kyk hulle ook weg. En Jesus hang alleen, o so alleen. Was u al verskriklik eensaam? Jesus was dit baie meer!

DUISTERNIS

Mat 27:45 “Van 12 uur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur.”

Die son het tot regoor Golgota beweeg. Hy skyn nou op Sy helderste. Jesus se wanhoopsworsteling met die sonde het nou iets vreesliks geword.

Jes 53 gee ons ‘n kykie oor hoe Jesus op hierdie stadium moes gelyk het. “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.” x2.

Dis ‘n vreeslike gedagte. Toe my sondes Hom van die Vader skei, het Sy gesig so vertrek dat mense nie na Hom wou kyk nie. Hy wat die mooiste was het deur my sondes die lelikste geword.

Vers 3 sê: “Iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.”

WERE YOU THERE?

Die Neger liedjie sê: “Were you there when they crucified my Lord. Were you there when they crucified my Lord? Oh sometimes it causes me to tremble, tremble, tremble! Were you there when they crucified my Lord?

Were you there when the sun refused to shine x2

Oh, sometimes it causes me to tremble, tremble, tremble. Where you there when they crucified my Lord?

Matt 27:45 “Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur.”

GOD DIE VADER

Waar pas God die Vader in hierdie grootste drama in? Iewers in die kosmos op Sy verhewe troon? Nee! 2 Kor 5:19 sê dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het.

God die Vader skakel die helder lig van die middagson af en Hy kom staan langs die kruis van Golgota waar Jesus besig is om onder my sondelas te bewyk. Wat ‘n oomblik. Paulus sê God het in Christus die wêreld met Homself versoen. Die Vader het langs Jesus kom staan en Hom gestraf. Dit was so vreeslik dat die Vader se hart ook gebreek het. Die grootste pyn is die pyn wat kom wanneer jy iemand straf vir wie jy baie lief is.

Ek sal altyd daardie betraande, pleitende ogies van my klein dogtertjie onthou. Ek sal altyd haar betraande pleitende stemmetjie hoor: “Asb. tog Pappie, moet my nie pak gee nie. Pappie asb. tog, ek sal dit nooit weer doen nie! Asb. tog…!”
En u weet, elke keer wanneer ek na daardie traantjies gekyk het, en elke keer wanneer ek na daardie pleitstemmetjie geluister het, het iets hier in my binneste gebreek.

En wanneer ek my kindjie oor my skoot getrek het en ek haar ‘n pak slae moes gee, was dit vir my die grootste pyniging. Ons was so besonder na aan mekaar. Ek het nege jaar vir haar gewag. En nou is daar pyn in ons verhouding. En vir ‘n klein dogtertjie was dit moeilik om te begryp waarom haar Pappie wat vir haar so lief was, haar nou moes slaan.

En wanner ek my hartseer snikkende dogtertjie klaar geslaan het, het ek daardie bewende rukkende ou lyfie styf vasgehou en saam met haar gehuil.

Maar God die Vader kan dit nie met Sy Seun Jesus doen nie, en Hy sterf nie in Sy Vader se arms nie, maar in Sy Vader se straf en toorn. En die Vader mag Hom nie vashou en ondersteun nie, want die prys vir ons sondes laat dit net nie toe nie. Kan u uself indink wat die Vader moes deurmaak? Op Golgota het nog ‘n hart gebreek, die van God die Vader. God die Vader veroorsaak Sy eie Seun se dood.

GOD LANGS CHRISTUS

In daardie drie-uur lange duisternis het God die Vader langs Jesus kom staan. Van die magtige engele het saam met Hom daar gestaan. Die kleed van duisternis wat oor Golgota gehang het, het twee dinge gedoen. Eerstens het dit Jesus se verskriklike worsteling met die wêreld se sondes, vir die omstaanders verberg. Dit wat Jesus in daardie vreeslike ure deurgemaak het, het die Vader genadiglik in duisternis gehul.

Tweedens het daardie duisternis die onbeskryflike heerlike glans van God die Vader verberg.

Ek wonder wat was vir die Vader die vreeslikste terwyl Hy daar langs Jesus gestaan het? Miskien die feit dat Hy Jesus nie kon troos nie. Miskien die feit dat Hy nie Sy heerlikheid aan Sy Seun kon openbaar nie. Of, sy vreemde daad om Sy toorn op Jesus uit te stort?

Ek wil vir u ‘n vraag vra? Wie het die meeste gely? So dikwels kyk ons na dit wat Jesus deurgemaak het. My ondervinding met my kind het my geleer dat dit baie swaarder is om ‘n geliefde te sien ly, as wat dit is om self te ly. Hoe dikwels sê ouers nie: Ag my kind as ek maar in jou plek kon swaarkry.

Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het.”

TWEE KRUISIGINGS

Op Golgota is daar twee gekruisig. God die Seun, en God die Vader. Wat ‘n plegtige gedagte! Dis pikdonker. Jesus is besig om onder die sondelas van ‘n bose wêreld te sterf. Jesus is besig om die grootste eensaamheid deur te maak – ‘n eensaamheid sonder Sy Vader. Al metgesel wat Jesus het, is Gods toorn wat besig is om Hom te verteer.

En elke sekonde van hierdie drie ure in stikke duisternis is vir Jesus soos ‘n ewigheid. En langs Hom staan die Vader van ewigheid- vasgevang in tyd. En terwyl die hart van Jesus breek, breek ook die hart van God die Vader.

Jesus en die Vader is een en Jesus en die Vader word saam gekruisig.

IN DIE HEMEL

Eendag in die hemel, as ek mag, sal ek by Jesus meer omtrent hierdie drie uur duisternis wil weet. En as ek mag, sal ek graag ook met God die Vader oor Sy ondervinding langs die kruis wil praat.

Ek dink ons gaan deur die eeue Hulle net liewer en liewer kry. Ons gaan Hulle net meer en meer bewonder. Eendag in die hemel sal ons ontdek hoe groot Gods liefde werklik is en hoe baie daar vir ons betaal is om ons in die hemel te kry. Moet tog nooit dink dat u ‘n opoffering vir die Here maak nie. Wanneer ek na die kruis kyk, verdwyn daardie woord.

VIERDE UITROEP

Net voor die stikke duisternis van die drie ure ten einde geloop het, het Jesus woorde geuiter wat net so donker was soos die donkerte om Hom. “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Sal ons ooit hierdie eensame uitroep begryp?

Ek het met ‘n dokter se vrou van so ongeveer 30 jaar oud gepraat. Haar hart was stukkend. Sy wou weet waarom haar man haar verlaat het. Hulle was vir 10 jaar gelukkig getroud.

Orals op hierdie hartseer planeet word die vraag gevra: Waarom het hy my verlaat? Waarom het my vrou my verlaat? Hoekom het my vriende hulle rug op my gedraai? Daar is baie stukkende harte wat net eendag in die graf gaan ophou huil.

As u miskien met so ‘n soort hartseer rondloop, wil ek net noem dat Jesus dit kan verstaan. Dit was nie net mense wat uit Sy lewe gestap het nie, God die Vader het dit ook gedoen.

Vir ‘n ewigheid lank het hulle saam wêrelde geskep. Vir ‘n ewigheid lank het hulle saam ‘n kosmos beplan, geskep en in stand gehou. Hulle was vir ewig saam. ‘n Goddelike liefde en begrip het tussen Hulle gevloei.

En skielik met die sondes van die wêreld op Jesus, sondes wat Hom benoud maak, draai die Vader Sy rug op Jesus. My God, my God waarom het U my verlaat?

O, wat ‘n vreemde hartseer! Wat ‘n wroeging. Al geselskap wat Jesus het, is my besoedeling. Hoe verskriklik moes Sy verlange nie na Sy Vader gewees het nie! My God, my God waarom het U my verlaat?

Hoekom maak Jesus dit alles deur? Omdat Hy in my plek as ‘n verlore sondaar sonder troos en met Gods wraak op Hom moes sterf. Jesus sterf sonder hoop en sonder God net soos wat elke verlore sondaar eendag gaan sterf. Die loon van die sonde.

As Jesus nie so kom sterf het nie, sou ons almal eendag so moet sterf.

BESEF

Besef ons mooi wat ons alles ontvang wanneer ons Jesus as ons persoonlike Saligmaker aanvaar? Ons ontvang Sy volkome geregtigheid! Maar meer nog, ons spring ook ‘n vreeslike straf vry. Die straf van die sonde.

Hy is vir ‘n tyd van die Vader geskei, sodat ons vir ewig in die Vader se teenwoordigheid kan leef. Hy is deur die Vader verlaat, sodat ons vir ewig deur die Vader aangeneem kon word. En dit gaan die hoogste vorm van geluk wees.

“My God, my God, waarom het U my verlaat?” Matt 27:46. Dit was die eensaamste woorde wat nog ooit uitgeroep is.

EK HET DORS

Teen drie uur die middag het die son weer begin skyn. Na ‘n lang worsteling raak Jesus van Sy groot dors bewus. In Psalm 22:16 kry ons ‘n beskrywing van Jesus se dors: “My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte.” G’n wonder dat die mense Hom nie mooi gehoor het nie, hoe kan ‘n mens met so ‘n opgehewe, verdroogte tong praat.

Wat ‘n verskriklike dors! Met al die bloedverlies en die warm son wat nou op Hom neerbrand, moes dit iets vreesliks gewees het.

Joh 19:29 “En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring.”

Het u al by die sterfbed van iemand gestaan? Dis vreeslik om te sien hoe iemand met die dood worstel. Al wat jy kan doen is om met ‘n stukkie nat watte die tong en lippe af te vee. En dis wat nou met Jesus gebeur. Hulle maak Sy lippe nat sodat Hy die grootse woorde van allte tye kan uiter.

SESDE UITSPRAAK

Met Sy laaste bietjie krag, roep Jesus uit: “Dit is volbring!” Joh 19:30

Die woorde rol van Sy sterwende lippe af. Dit sweef deur die Palestynse lug. Die woorde hou aan om deur die heelal te trek. Dit bereik elke planeet met sy ongevalle wesens. Die woorde sweef die Godstad binne: Dit is volbring.

Wat is volbring? Wat is afgehandel? Wat is bereik? Baie. ‘n Planeet wat uit sy wentelbaan gestamp is, en wat rigtingloos deur die heelal gedryf het, is deur Goddelike liefde opgespoor en teruggebring.

Die groot terroris, die duiwel is ontmasker. Nooit weer sal iemand wonder of Lucifer nie miskien tog reg was nie. Die onsekerheid omtrent hierdie uitgeworpe engel is opgeklaar.

Die kwessie oor my toekoms is opgeklaar. Daar wag vir my ‘n ewige tuiste waar net geluk en liefde sal heers. Die vraagstuk van die dood is opgelos. Elkeen wat in Jesus gesterf het, sal eendag opstaan.

Dit is volbring! Die rekening vir al my sondes is vereffen. Alles is betaal. Die woorde: “Dit is volbring! Is my kwitansie en ek neem dit met groot dankbaarheid aan.

OU SONDES

Die duiwel het die slegte manier om ons ou sondes weer voor ons te gooi. As hy dit volgende keer weer doen, herhaal Jesus se woorde: “Dit is volbring.” Al ons belyde sondes is vergewe.

SEWENDE UITROEP

Dr. Lukas gee vir ons die verslag van die laaste woorde wat Jesus aan die kruis uitgeroep het. “En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” 23:46

Kan u sien hoe Sy kop vooroor val en op Sy bors rus? Jesus het so pas gesterf! Hy verdwyn in die donker spelonk van die dood. Die vreeslikheid van die tweede dood. Die dood sonder ‘n hoop op die opstanding. Wat ‘n prys het Hy nie vir my betaal nie.

Op daardie oomblik toe Jesus sterf, het daar twee dinge plaasgevind. Ons kyk eerstens na die gebeure by die tempel.

Dis drie uur die middag, tyd vir die aand offer. Die lam wat die komende Messias voorstel, word nader gebring. Soos Abraham van ouds lid die priester die mes om die lam te slag. Maar dit gebeur nie.

‘n Vreeslike geraas kom vanaf die heilige, die voorhangsel skeur misterieus van bo tot onder. Die aarde begin geweldig te skud. Die mes val uit die priester se hand en die lam ontvlug.

Op Golgota het die ware Lam op daardie oomblik gesterf. Voortaan sal Hy ons offerlam wees; voortaan sal Hy ons priester wees. Die aardse heiligdom en die aardse priesterdom het Vrydagmiddag om 3 uur geëindig.

Matt 27:51 “Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars.”

Kan u die klompie spotters langs die kruis sien? Hulle word bleek van angs. Orals word die gedreun van die aardbewing gehoor. Die aarde snik en ruk soos hy huil, want sy Skepper het gesterf.

Matt 27:54 “Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

DIE OFFISIER

Kan u hierdie geharde offisier sien? Hy staan langs die kruis en kyk na die man wat sopas gesterf het. Iets het in sy hart gebeur. Die lelike hartheid en onverskilligheid is weg. Goddelike liefde loop soos strome water deur sy hart. Hy ondervind ‘n vreemde, goddelike blydskap. Die Jesus aan die kruis het deur Sy sterwe, sy hart verower.

Terwyl u na Golgota kyk, kan u ook soos die Romeinse offisier sê: “Waarlik, Hy was die Seun van God!”

Kom ons kyk en kyk en kyk. En terwyl ons kyk, sal iets ook in ons binneste gebeur, iets sal verander. Jesus aan die kruis help my om te besef dat al my sondes werklikwaar vergewe is. Waar ek Jesus aan die kruis sien hang, help dit my om ander mense wat teen my oortree het, heeltemal te vergewe.

Terwyl die sterwende Lam van God aan die kruis hang, skep ek moed, en sien ek kans om aan te gaan. Terwyl ek met kere wil afdwaal, kyk ek na die Offer wat vir my gemaak is. En wanneer ek in my gees daar staan, dan sê ek: Vader help my om altyd aan U getrou te bly.

Was this article helpful?

Related Articles