DIE KRUISIGING DEEL 4
Skriftuur: Johannes 19:28-42
In ons vorige studie oor die lyding en dood van Jesus, het ons na die pyn van die Vader in die hele gebeurtenis gekyk.
Ons het gelees hoe Jesus uiteindelik die asem uitgeblaas en toe gesterf het.
Die sterwenswoorde van Jesus “Dit is volbring” smelt saam met die gerommel van die aardbewing. Die mense om die kruis, sien hoe Jesus se kop op Sy bors val. Sy stem verstil maar die gedreun van die skudding bly nog ‘n rukkie langer rommel.
Kom ons neem die verhaal verder:
1. Matteus 27:51 “Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars.”
Kan u die klompie spotters langs die kruis sien? Hulle word bleek van angs. Orals word die gedreun van die aardbewing gehoor. Die aarde snik en ruk soos hy huil, want sy Skepper het gesterf.
2. Matteus 27:54 “Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
DIE OFFISIER
Kan u hierdie geharde offisier sien? Hy staan langs die kruis en kyk na die man wat sopas gesterf het. Iets het in sy hart gebeur.
3. Die lelike hardheid en onverskilligheid is weg. Goddelike liefde loop soos strome water deur sy hart. Hy ondervind ‘n vreemde, goddelike blydskap. Die Jesus aan die kruis het deur Sy sterwe, sy hart verower.
Terwyl u na Golgota kyk, kan u ook soos die Romeinse offisier sê: “Waarlik, Hy was die Seun van God!”
4. Kom ons kyk en kyk en kyk. En terwyl ons kyk, sal iets ook in ons binneste gebeur, iets sal verander. Jesus aan die kruis help my om te besef dat al my sondes werklikwaar vergewe is.
Elke keer wanneer ek Jesus aan die kruis sien hang, help dit my om ander mense wat teen my oortree, heeltemal te vergewe.
5. Terwyl ek die sterwende Lam van God aan die kruis hang, skep ek moed. Dit besiel my om aan te hou werk vir Hom. Terwyl ek met kere wil afdwaal, kyk ek na die Offer wat vir my gemaak is. En wanneer ek in my gees daar staan, dan sê ek: “Vader help my om altyd aan U getrou te bly.”
BEGRAFNIS
6. Wanneer laas was u op ‘n begrafnis? Dis wanneer ‘n mens die geleentheid kry om aan die mooi dinge in die lewe van die oorledene te dink. Dit is asof die dood die mooi karaktertrekke van die persoon nog mooier na vore bring.
En ‘n geharde Romeinse offisier kyk hoe Jesus sterf, en met ‘n knop in sy keel, sê hy: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”
STEM IN DIE HEMEL
Maar die dood van Jesus het nie alleen ‘n effek op mense hier op aarde gehad nie. Openbaring 12:10 gee vir ons die volgende interessante feite:
7. “Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.”
8. Die Satan het God daarvan beskuldig dat Hy Homself nie kan verloën nie. Dat HY die mens sekere dinge vra om te doen wat Hyself nie bereid is om te doen nie. Met die sterwe van Jesus is die laaste masker van die Satan afgeruk. Hy het in al sy naakte afskuwelikheid gestaan.
9. En die kosmos het gewonder! Sal God Homself verloën en in skande kom leef en sterf? En toe gebeur dit. Die heelal sien hoe die Satan en sy engele die mense aanhits om Jesus te spoeg, te slaan en te bespot. Hulle sien hoe Jesus aan die kruis hang en hoedat Hy sterf.
10. Openbaring 12:10 sê hy is uit die hemel gegooi. Hy is uit die simpatieke harte van ongevalle wesens uitgegooi.
Satan het finaal sy aansien verloor. Tot Vrydagmiddag 3 uur het hy ‘n houvas op die aarde gehad, maar met Jesus se sterwe, is dit gebreek. Die teks sê:
11. “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde.” Openbaring 12:10
VERSLAAN
12. Ek wil u vandag die versekering gee dat die Satan ‘n verslane vyand is. Al mag wat hy besit, is dit wat ek hom in my lewe toelaat.
Op Golgota het hy ‘n uitklophou ontvang en hy lê op die planke van verloor en is besig om uitgetel te word. Vrees hom nie. Al wat ons moet vrees is die sonde in ons lewe.
13. By die poorte van die tuin van Eden het God die volgende voorspelling gemaak. Genesis 3:15: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
14. Op Golgota het die slang sy tande deur Jesus se hakskeen geslaan. Die gif was verskriklik dodelik en die letsels ewig. Die gif van hierdie adder het dwarsdeur Jesus gebrand – dit was onbeskryflik vreeslik. Hy het bedoel om Jesus vir ewig dood te byt, maar dank God, dit het nie gebeur nie.
Op Golgota is Satan, die slang se kop vermorsel. Sy lyf gee nog net ‘n paar doods-styptrekkings, maar spoedig sal hy vir ewig in ‘n beweginglose uitwissing verdwyn.
MOENIE
15. Moenie van sy krag praat nie! Praat van die almag van Jesus. Moenie van sy versoekings praat nie, praat van Jesus se mag om ons van elke struikeling te bewaar.
Moenie jouself op sy terrein begeef nie. Laat jou voete jou altyd na plekke neem waar jy in die atmosfeer van die hemel kan wandel.
Moenie na die dinge kyk wat hy vertoon nie. Laat jou oë rus op dit wat skoon en mooi en heilig is – die dinge van die koninkryk.
Moenie na dinge luister wat hy geïnspireer het nie. Spits eerder jou ore om na die klanke van die hemel te luister.
SY AANTUIGINGS
16. Hy het verklaar dat geregtigheid en genade onverenigbaar is. Hy het beweer dat as die wet gebreek word, dit onmoontlik is om die sondaar te vergewe. Want, sê hy, geregtigheid vereis die doodstraf.
Toe die mens in sonde val, het die Satan gesê dis onmoontlik vir God om terselfdertyd regverdig en genadig teenoor die mens op te tree. En toe kom staan Jesus in die plek van die sondaar en ons sien hoe regverdiglik God die sonde haat en straf.
17. Op Golgota het God se toorn teen sonde wreed op Jesus neergeblits en Hom doodgeslaan. Maar in hierdie daad openbaar God ook Sy liefde en genade teenoor sondaars deurdat Hy hulle vergewe. Op Golgota het geregtigheid en genade mekaar gekus.
DINGE WAT OP GOLGOTA GEBEUR HET
MOORD GEPLEEG
18. Gestel nou jy het ‘n moord gepleeg en in ‘n maksimum sekuriteits sel opgesluit. Terwyl jy daar in die sel sit, dink jy na oor alles.
19. As jy maar net na jou ouers geluister het! As jy maar net na die predikant geluister het. As jy maar net meer jou Bybel gelees het. Maar nou is dit vir ewig te laat.
20. Sal dit help as jy vir die regter sê dat jy jammer is? Kan hy jy op grond van jou berou vryspreek? Nee. Berou kan nie vryheid verdien nie.
En as u vir die regter sê dat jy voortaan ‘n mooi lewe sal lewe, kan die regter jou op grond van goeie voorneme vryspreek? Nee.
Feit is, jy het ‘n moord gepleeg en dit word van die regter verwag dat hy u die doodstraf moet oplê. As daardie regter jou sommer goedsmoeds vryspreek, is hy ‘n gevaar vir die samelewing.
VONNIS
21. Op ‘n dag kom daar ‘n polisieman jou uit die sel na die hooggeregshof lei. Dis ‘n ongemaklike atmosfeer, vreeslik gespanne. U wag vir die regter om die doodstraf te voltrek. Die getuies word aangehoor. Jou saak lyk baie sleg.
22. Die regter is nou gereed om sy uitspraak te gee. Toe hy begin praat, besef jy dis verby. In ‘n diep, ernstige stem, spreek hy die doodstraf uit. Jy word yskoud. Dis ‘n gevoel wat jy nie kan beskryf nie.
WENDING
23. Maar skielik kom daar ‘n wending in die hele saak. Die regter praat weer. “Mnr. Die Moordenaar, ek sien jy het diepe berou. Ek voel baie jammer vir jou. Ongelukkig kan ek nie die doodstraf verander nie, maar ek het besluit om in jou plek tereggestel te word. Jy is vry. Jy kan maar huistoe gaan.”
24. Jy sien hoe die regter homself aan die polisie oorgee en hoe die laksman hom na die galg toe lei. Jy hoor die geraas van die galg en jy besef hy is dood.
25. Hierdie regter het twee dinge gedoen. Hy was regverdig. Die wet sê as jy moord pleeg, moet jy sterf. Hy het die doodstraf toegedien.
26. Maar hierdie regter was ook genadig. Hy het die moordenaar vrygespreek. Maar die vryspraak, het sy lewe gekos. Om sy regverdigheid te bewys, het hy die vonnis op homself laat neerkom.
GOLGOTA
En dit is wat op Golgota gebeur het. U en ek het gesondig. Ons verdien die doodstraf. En as God die Regter nie die doodstraf uitgevaardig het nie, is Hy nie ‘n regverdige regter nie. Spreuke 17:15 sê dis ‘n gruwel om die goddelose regverdig te verklaar.
Maar nadat God my die doodstraf opgelê het, het Hy gesê dat Hy in my plek sou sterf. En daar op Golgota het die Drie-eenheid kom ly. Wat ‘n lyding!
27. Romeine 3:26 sê: “Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe.”
Hy kon hierdie sondes alleenlik vergewe deur dit op Homself te neem en te sterf.
28. Golgota nooi elke sondaar om sy skuld daar te kom plaas. Dit maak nie saak hoe swart my rekord is nie, ek kan alles na Golgota toe bring. Dis daar waar Jesus my vuilheid neem en vir my Sy volmaakte reinheid gee.
GEES VAN PROFESIE
Ek deel ‘n paar sitate met u wat vir my baie kosbaar is:
29. “In die hemelse raadsittings, lank voordat die wêreld geskep is, het Vader en Seun besluit dat as die mens ontrou teenoor God sou raak, Jesus wat een met die Vader is, die plek van die sondaar sou inneem en die regverdige straf sou verduur wat op die mens neerkom.” 6 BC 1070
30. Wat ‘n gedagte. My verlossing is ouer as die aarde. Liefde vir verlore sondaars is die belangrikste besigheid van die hemel.
Ons moenie dink, wanneer ons in sonde val, dat ons die Here onverhoeds verras nie. Hy het reeds daarvoor voorsiening gemaak, lank voordat die wêreld gebore is.
Die duiwel sê vir die mens jy het te ver gegaan, vergifnis is onmoontlik. Moet hom nie glo nie. Die magtige God van hemel en aarde kan die sonde probleem volkome hanteer.
GEREGTIGHEID DEUR DIE GELOOF
31. “Wanneer die berouvolle sondaar voor God in ootmoed Christus se versoening vir hom besef, en hy hierdie versoening as sy enigste hoop vir hierdie lewe en die toekomstige lewe aanneem, word al sy sondes vergewe.” 6 BC 1070
32. Solank as wat ons leef moet ons Jesus se versoeningsdaad aan die kruis as ons enigste hoop beskou. Ek moet vashou aan die gedagte van Golgota. Ek mag dit nooit uit my gedagtes laat gaan nie.
OOGGETUIE SE VERSLAG
Kom ons lees ‘n ooggetuie se verslag van die volgende gebeurtenis op Golgota:
33. Johannes 19:31 “Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die Sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie Sabbatdag was ‘n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word.
34. Vers 32 Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook die van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is.
35. Verse 33,34 Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.
36. Verse 35,36 Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” En verder sê die Skrif op ‘n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”
37. Die Jode wou nie hê dat Jesus ‘n oomblik langer aan die kruis hang nie. Die Satan wou dit ook nie hê nie. Want Jesus aan die kruis is die grootste uitdrukking van God se liefde vir die mens.
Hulle kry toe Pilatus om te beveel dat die drie gekruisigdes se bene gebreek word, sodat hulle nog voor die Sabbat verwyder kan word. Eintlik het hulle die gekruisigdes doodgeslaan.
Met ‘n groot ysterhamer slaan ‘n Romeinse soldaat die bekeerde dief se bene stukkend. Nie lank nie of ook hy, blaas die asem uit en laat sy kop vooroor val. Toe begin die Romeinse soldaat by die ander misdadiger slaan. Hy hou aan slaan totdat hy ook dood is.
Volgende keer gaan ons hoor wat gebeur het toe ondersoekspan by Jesus uitgekom het. Ons gaan ook hoor wat sommige Christoloë oor die oorsake van Jesus se dood geskryf het.
Mag die Here met ons wees terwyl ons die pragtige wetenskap van die verlossingsplan bestudeer. Mag dit wees dat hierdie studie ons sal aanspoor om net so ‘n bietjie meer soos Jesus te wil lewe.