1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 19 – Kruisiging (Deel 3)

Deur Sy Wonde Deel 19 – Kruisiging (Deel 3)

DIE KRUISIGING DEEL 3

Skriftuur:

In die vorige studie oor die lyding van Jesus aan die kruis, het ons na ‘n baie eienaardige verskynsel gekyk. Die
son het skielik opgehou om sy glans te gee.

DUISTERNIS

1. Matteus 27:45 “Van 12 uur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur.”

Die son het tot regoor Golgota beweeg. Hy skyn nou op Sy helderste. Jesus se wanhoopsworsteling met die sonde het nou iets vreesliks geword.

2. Jesaja 53:2 gee ons ‘n kykie oor hoe Jesus op hierdie stadium moes gelyk het. “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.” X 2.

Dis ‘n vreeslike gedagte. Toe my sondes Hom van die Vader skei, het Sy gesig so vertrek dat mense nie na Hom wou kyk nie. Hy wat die mooiste was het deur my sondes die lelikste geword.

3. Vers 3 sê: “Iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.”

WERE YOU THERE?

Die Neger liedjie sê:

4. “Were you there when they crucified my Lord. Were you there when they crucified my Lord? Oh sometimes it causes me to tremble, tremble, tremble! Were you there when they crucified my Lord?”

5. “Were you there when the sun refused to shine? Were you there when the sun refused to shine? Oh sometimes it causes me to tremble, tremble, tremble! Were you there when they crucified my Lord?

GOD DIE VADER

Ek en jy was nie daar nie. Maar nou wil ons weet. Waar pas God die Vader in hierdie grootste drama in? Iewers in die kosmos op Sy verhewe troon? Nee!

6. 2 Korintiërs 5:19 sê dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het.

7. God die Vader skakel die helder lig van die middagson af en Hy kom staan langs die kruis van Golgota waar Jesus besig is om onder my sondelas te beswyk.

Wat ‘n oomblik. Paulus sê God het in Christus die wêreld met Homself versoen. Die Vader het langs Jesus kom staan en Hom gestraf.

Dit was so vreeslik dat die Vader se hart ook gebreek het. Die grootste pyn is die pyn wat kom wanneer jy iemand straf vir wie jy baie lief is.

8. Ek sal altyd daardie betraande, pleitende ogies van my klein dogtertjie onthou. Ek sal altyd haar betraande pleitende stemmetjie hoor: “Asseblief tog Pappie. Moet my nie pak gee nie. Pappie asseblief tog. Ek sal dit nooit weer doen nie! Asseblief tog, asseblief tog!”

Op Golgota word ‘n seun se pynlike gekreun gehoor: “My Vader, My Vader. Die pak slae wat U My gee, is onbeskryflik seer. My Vader. Asseblief tog. Asseblief tog.”

9. Elke keer wanneer ek na daardie traantjies van my dogtertjie gekyk het, en elke keer wanneer ek na daardie pleitstemmetjie van my dogtertjie geluister het, het iets hier in my binneste gebreek.

10. En wanneer ek my kindjie oor my skoot getrek het en ek haar ‘n pak slae moes gee, was dit vir my die grootste pyniging. Ons was so besonder na aan mekaar.

Ek het nege jaar vir haar gewag. En nou is daar pyn in ons verhouding. En vir ‘n klein dogtertjie was dit moeilik om te begryp waarom haar Pappie wat vir haar so lief was, haar nou moes slaan.

11. En wanner ek my hartseer snikkende dogtertjie klaar geslaan het, het ek daardie bewende rukkende ou lyfie styf vasgehou en saam met haar gehuil.

God die Vader wou dit so graag vir Jesus Sy Seun doen. Hy wou Hom styf vas hou. Waarom het Hy nie? My sonde het verhoed dat Hy dit doen. Jesus sterf nie in Sy Vader se arms nie. Nee. Hy sterf in Sy Vader se ontsettende straf en toorn.

12. En die Vader mag Hom nie vashou en ondersteun nie, want die prys vir ons sondes laat dit net nie toe nie. Kan u uself indink wat die Vader moes deurmaak? Op Golgota het nog ‘n hart gebreek, die van God die Vader. God die Vader veroorsaak Sy eie Seun se dood.

GOD LANGS CHRISTUS

13. In daardie drie-uur lange duisternis het God die Vader langs Jesus kom staan. Van die magtige engele het saam met Hom daar gestaan.

Die kleed van duisternis wat oor Golgota gehang het, het twee dinge gedoen:

Eerstens het dit Jesus se verskriklike worsteling met die wêreld se sondes, vir die omstanders verberg. Dit wat Jesus in daardie vreeslike ure deurgemaak het, het die Vader genadiglik in duisternis gehul.

Tweedens het daardie duisternis die onbeskryflike, verblindende heerlikheid van God die Vader verberg. Die openbaring van Sy goddelike glans sou hierdie planeet met sy sondaars in ‘n breuk van ‘n sekonde vernietig het.

WAT WAS VIR GOD DIE ERGSTE, DIE MOEILIKSTE?

14. Ek besoek Golgota en my gedagtes loop ver en ek vra ‘n paar vrae wat ek nie antwoorde voor het nie.

Wat was vir die Vader die ergste terwyl Hy daar langs Jesus gestaan het? Miskien die feit dat Hy Jesus nie kon troos nie.

Miskien die feit dat Hy nie Sy heerlikheid aan Sy Seun kon openbaar nie. Of, sy vreemde daad om Sy toorn op Jesus uit te stort?
15. Wanneer ek my dogtertjie getugtig het kon ek haar agterna troos. God se ontsettende toorn teen sonde is besig om Jesus ten dode toe te pynig. Dis vreeslik. As Hy maar net Sy Seun met arms van troos kon omhels – maar terwille van ons verlossing kan Hy nie.

16. Ek wil vir u ‘n vraag vra? Wie het die meeste gely? So dikwels kyk ons na dit wat Jesus deurgemaak het. My ondervinding met my kind het my geleer dat dit baie swaarder is om ‘n geliefde te sien ly, as wat dit is om self te ly. Hoe dikwels sê ouers nie: “Ag my kind as ek maar in jou plek kon swaarkry.”

17. Johannes 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het.”

TWEE KRUISIGINGS

18. Op Golgota is daar twee gekruisig. God die Seun, en God die Vader. Wat ‘n plegtige gedagte! Dis pikdonker. Jesus is besig om onder die sondelas van ‘n bose wêreld te sterf.

Jesus is besig om die grootste eensaamheid deur te maak – ‘n eensaamheid sonder Sy Vader. Al metgesel wat Jesus het, is Gods toorn wat besig is om Hom te verteer.

19. En elke sekonde van hierdie drie ure in stikdonkerte is vir Jesus soos ‘n ewigheid. En langs Hom staan die Vader die God van die ewigheid – skielik vasgevang in die wrede tentakels van tyd. En terwyl die hart van Jesus breek, breek die hart van God die Vader in ‘n duisend pynlike stukkies.

Jesus en die Vader is een en Jesus en die Vader word saam gekruisig.

IN DIE HEMEL

20. Eendag in die hemel, as ek mag, sal ek by Jesus meer omtrent hierdie drie uur duisternis wil weet. En as ek mag, sal ek graag ook met God die Vader oor Sy ondervinding langs die kruis wil praat.

Ek dink ons gaan deur die eeue Hulle net liewer en liewer kry. Ons gaan Hulle net meer en meer bewonder. Eendag in die hemel sal ons ontdek hoe groot Gods liefde werklik is en hoe baie daar vir ons betaal is om ons in die hemel te kry. Moet tog nooit dink dat u ‘n opoffering vir die Here maak nie. Wanneer ek na die kruis kyk, verdwyn daardie woord.

21. Die heerlikheid van God en Jesus se liefde wat ons in die hemel gaan geniet, sal dit vir ons moeilik maak om die swaarkry van hierdie lewe te onthou.

VIERDE UITROEP

22. Net voor die stikke duisternis van die drie ure ten einde geloop het, het Jesus woorde geuiter wat net so donker was soos die donkerte om Hom. “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Sal ons ooit hierdie eensame uitroep begryp?

23. Ek het met ‘n dokter se vrou van so ongeveer 30 jaar oud gepraat. Haar hart was stukkend. Sy wou weet waarom haar man haar verlaat het. Hulle was vir 10 jaar gelukkig getroud.

Orals op hierdie hartseer planeet word die vraag gevra: Waarom het hy my verlaat? Waarom het sy my verlaat? Hoekom het my vriende hulle rug op my gedraai? Daar is baie stukkende harte wat net eendag in die graf gaan ophou huil.

As u miskien met so ‘n soort hartseer rondloop, wil ek net noem dat Jesus dit kan verstaan. Dit was nie net mense wat uit Sy lewe gestap het nie, God die Vader het dit ook gedoen.

24. Vir ‘n ewigheid lank het hulle saam wêrelde geskep. Vir ‘n ewigheid lank het hulle saam ‘n kosmos beplan, geskep en in stand gehou. Hulle was vir ewig saam. ‘n Goddelike liefde en begrip het tussen Hulle gevloei.

En toe ewe skielik word daardie ewigheidsband pynlik geskeur. In die plek van God se onmeetlike liefde vir Jesus, ervaar Hy nou God se onmeetlike toorn teen sonde. Die sondes maak Hom tot die dood toe benoud. Die volgende wroegende woorde rol vanaf Sy gebroke hart oor Sy gebarste lippe: “My God, my God waarom het U my verlaat?”

25. O, wat ‘n vreemde hartseer! O wat ‘n wroeging. Al geselskap wat Jesus het, is my besoedeling. Hoe verskriklik moes Sy verlange nie na Sy Vader gewees het nie! “My God, my God waarom het U my verlaat?”

Hoekom maak Jesus dit alles deur? Omdat Hy in my plek as ‘n verlore sondaar sonder troos en met Gods wraak op Hom moes sterf. Jesus sterf sonder hoop en sonder God net soos wat elke verlore sondaar eendag gaan sterf. Die loon van die sonde is die tweede dood.

As Jesus nie so kom sterf het nie, sou ons almal eendag so moet sterf.

BESEF

26. Besef ons mooi wat ons alles ontvang wanneer ons Jesus as ons persoonlike Saligmaker aanvaar? Ons ontvang Sy volkome geregtigheid! Maar meer nog, ons spring ook ‘n vreeslike straf vry. Die straf van die sonde – die tweede dood in die helse vlamme.

Hy is vir ‘n tyd van die Vader geskei, sodat ons vir ewig in die Vader se teenwoordigheid kan leef. Hy is deur die Vader verlaat, sodat ons vir ewig deur die Vader aangeneem kon word. En dit gaan die hoogste vorm van geluk wees.

“My God, my God, waarom het U my verlaat?” Matteus 27:46. Dit was die eensaamste woorde wat nog ooit uitgeroep is.

EK HET DORS

Teen drie uur die middag het die son weer begin skyn. Na ‘n lang worsteling raak Jesus van Sy groot dors bewus.

27. In Psalm 22:16 kry ons ‘n beskrywing van Jesus se dors: “My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte.” G’n wonder dat die mense Hom nie mooi gehoor het nie, hoe kan ‘n mens met so ‘n opgehewe, verdroogde tong praat.

Wat ‘n verskriklike dors! Met al die bloedverlies en die warm son wat nou op Hom neerbrand, moes dit iets vreesliks gewees het.

28. Johannes 19:29 “En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulle het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopstingel gesit en aan sy mond gebring.”

Het u al by die sterfbed van iemand gestaan? Dis vreeslik om te sien hoe iemand met die dood worstel. Al wat jy kan doen is om met ‘n stukkie nat watte die tong en lippe af te vee.

En dis wat nou met Jesus gebeur. Hulle maak Sy lippe nat sodat Hy die grootse woorde van alle tye kan uiter.

SESDE UITSPRAAK

29. Met Sy laaste bietjie krag, roep Jesus uit: “Dit is volbring!” Johannes 19:30

30. Die woorde rol van Sy sterwende lippe af. Dit sweef deur die Palestynse lug. Die woorde hou aan om deur die heelal te trek. Dit bereik elke planeet met sy ongevalle wesens. Die woorde sweef die Godstad binne: Dit is volbring.

31. Wat is volbring? Wat is afgehandel? Wat is bereik? Baie. ‘n Planeet wat deur sonde uit sy wentelbaan gestamp is, en wat rigtingloos deur die heelal gedryf het, is deur Goddelike liefde opgespoor en teruggebring.

32. Die groot terroris, die duiwel is ontmasker. Nooit weer sal iemand wonder of Lucifer nie miskien tog reg was nie. Die onsekerheid omtrent hierdie uitgeworpe engel is opgeklaar.

33. Die kwessie oor my toekoms is opgeklaar. Daar wag vir my ‘n ewige tuiste waar net geluk en liefde sal heers. Die vraagstuk van die dood is opgelos. Elkeen wat in Jesus gesterf het, sal eendag opstaan.

Dit is volbring! Die rekening vir al my sondes is vereffen. Alles is betaal. Die woorde: “Dit is volbring! Is my kwitansie en ek neem dit met groot dankbaarheid aan.

OU SONDES

Die duiwel het die slegte manier om ons ou sondes weer voor ons te gooi. As hy dit volgende keer weer doen, herhaal Jesus se woorde: “Dit is volbring.” Al ons belyde sondes is vergewe.

SEWENDE UITROEP

34. Dr. Lukas gee vir ons die verslag van die laaste woorde wat Jesus aan die kruis uitgeroep het. “En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” 23:46

35. Kan u sien hoe Sy kop vooroor val en op Sy bors rus? Jesus het so pas gesterf! Hy verdwyn in die donker spelonk van die dood. Die vreeslikheid van die tweede dood. Die dood sonder ‘n hoop op die opstanding. Wat ‘n prys het Hy nie vir my betaal nie.

Op daardie oomblik toe Jesus sterf, het daar twee dinge plaasgevind. Ons kyk eerstens na die gebeure by die tempel.

36. Dis drie uur die middag, tyd vir die aand offer. Die lam wat die komende Messias voorstel, word nader gebring. Soos Abraham van ouds neem die priester die mes om die lam te slag. Maar dit gebeur nie.

37. ‘n Vreeslike geraas kom vanaf die heilige, die voorhangsel skeur misterieus van bo tot onder. Die aarde begin geweldig te skud. Die mes val uit die priester se hand en die lam ontvlug.

38. Op Golgota het die ware Lam op daardie oomblik gesterf. Voortaan sal Hy ons offerlam wees; voortaan sal Hy ons priester wees. Die aardse heiligdom en die aardse priesterdom het Vrydagmiddag om 3 uur geëindig.

Volgende keer gaan ons na die uitwerking van Jesus se dood op die mense kyk wat daar gestaan het.

Mag dit wees dat die aanskouing van Jesus aan die kruis, ‘n pragtige, reddende effek op ons lewens hê. Mag die Here ons die selfdissipline gee om meer en meer na die grootste gebeurtenis van alle gebeurtenisse te kyk, die kruisiging van Jesus.

Was this article helpful?

Related Articles