1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 17 – Kruisiging (Deel 1)

Deur Sy Wonde Deel 17 – Kruisiging (Deel 1)

DIE KRUISIGING Matt 27:32-56

Dit was ‘n koelerige oggend, daardie 27ste April in die jaar 31 nC. Dit was ongeveer 9 uur en duisende paasfeesgangers was besig om voorbereidings vir die groot paasfees te tref.
Die Joodse leiers het so pas Pilatus so ver gekry om Jesus tot die dood te veroordeel. Kom ons stap na Pilatus se ampswoning om te sien wat met Jesus gaan gebeur.
Matt 27:31 sê vir ons: “En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word.”
Die Latynse uitspraak van Pilatus wat Jesus tot die dood veroordeel het, weerklink in Jesus se ore: “Ibis ad crucem” x 2. Jy sal na die kruis gaan. X 2. “Ibis ad crucem.” X 2.
Boodskappers hardloop deur die stad om die nuus te vertel dat Jesus gekruisig gaan word. Mense begin na die kruisroete stroom.
Dit was Romeinse wet dat die veroordeelde self sy kruis moes dra. Sterk Romeinse soldate bring drie kruise nader. Die twee ander wat saam met Jesus gekruisig sal word, dra hulle kruise
met gemak. Maar toe hulle die kruis op Jesus plaas, knak Hy. U sien, Sy worsteling in Getsemane met my sonde was verskriklik. Dit het Hom verswak. Die sewe verhore wat agter die rug is, het Hom uitgeput. Die klappe, die vuishoue, die 3 keer se gekats was net te veel.
Hy wou baie graag die kruis vir ons dra, maar Sy bloedverlies was te groot. Die soldate tel die kruis op, wag ‘n rukkie tot Jesus bykom en probeer toe weer ‘n keer dat Hy die kruis moes dra, maar Jesus knak net weer. Hy sak net eenvoudig onder
die gewig van die kruis weg. Ek kan my voorstel hoe hulle Hom skop en vloek, maar dit help nie, Hy is te swak.
Matt 27:32: “En toe hulle uitgaan, kry hulle ‘n man van Cirene, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om Sy kruis te dra.”
Ek veronderstel dat Simon na die paasfees gekom het en toe op die skouspel van Jesus se vernedring afgekom het. Die soldate kon die simpatie in Simon se oë gesien het en het hom toe gegryp en aangesê om Jesus se kruis te dra.

Luk 23:27-31 “En ‘n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het. Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders; want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie. Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! En vir die heuwels: Bedek ons! Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!”

Jesus was so anders. Hoe sou ons gereageer het as ons in Jesus se plek was? Vir die eerste keer is daar ‘n paar vrouens wat hulle simpatie toon. Ek sou myself nog net meer jammer gekry het. Ek sou my simpatiseerders van ander onregverdighede vertel het wat my oorgekom het.

Ons moet baie versigtig wees om nie te veel van ons leed te praat nie. Ons moet versigtig wees om nie ons leed te gebruik om ander mense se simpatie te ontlok nie. Kom ons doen wat Jesus gedoen het. Hy het die aandag van Sy seer afgetrek en dit op die seer van ander geplaas.

Wat ‘n mooi voorbeeld. Dink aan ander mense se hartsser en nie aan jou eie nie. Daar bestaan ‘n baie groot gevaar dat jy naderhand daarin behae kan skep om aan ander mense jou leed te vertel.

Kom ons sê soos Jesus: “Moenie oor my ween nie, kom ons ween liewer oor julle en oor julle kinders.”

Dit is vernietigend om oor my hartseer te ween, dis sielsgenesend om oor iemand anders se hartseer te huil.

Ek is so dankbaar vir die groot lesse wat ons uit die lewe van Jesus kan leer: “Moenie oor my ween nie.” Kom ons vra vir genade om hierdie gesindheid te openbaar. Die enigste manier waarop iemand wat baie seergekry het, genesing kan vind, is om die seer van iemand anders raak te sien.

OP PAD NA GOLGOTA

Swak, bleek, bebloed, vermink, loop Jesus agter Simon van Cirene wat Sy kruis dra. Dit lyk nie of Hy by Golgota sal uitkom nie. Nadat die Romeinse soldate en die Joodse geestelikes Hom by die Skaapspoort uitgelei het, draai hulle links na die heuwel vn Golgota. Toe hulle teen die bultjie begin uitstap, knak Jesus se bene en Hy val op die grond. Hy het baie seergekry. Wat ‘n toneel. Die God van die hemel en aarde is so swak Hy kan nie meer loop nie. Hoekom verduur Hy hierdie pynlike vernedering. Wat wil Hy aan die kruis gaan maak? Wil Hy nie liewer oombliklik hemel toe gaan nie? Hy het moes reeds Sy bloed vir die sondes van die wêreld gestort. Sy bors en sy rug is mos reeds oopgeslaan? Sy wonde het mos reeds genesing gebring? Hy kan dadelik na Sy hemelse glorie terugkeer.

Maar nee, Hy wil nie. Hoekom nie? Hy wil aan die kruis gaan hang om vir u en vir my te vertel hoeveel Hy regtig vir ons omgee. Hy wil hê ons moet waaragtiglik glo dat al ons sondes wel vergewe is en dat dit Sy erns is wanneer Hy ons nooi om Sy vergifnis te kom kry. Sal ons Sy liefde ooit kan begryp?

Jesus wou kruis toe gaan, want daar kon Hy die verlossingsplan nog duideliker aan ons illustreer. Hy wou vir ons gaan sterf.

Maar op hierdie stadium lê Hy inmekaargesak op die grond. Hy probeer opstaan, maar Hy is te swak. Hy moes seker met sommige van die soldate gepraat het. “Kan julle my asb. tot bo-op Golgota dra?”

Mark 15:22 “En hulle het Hom GEBRING op die plek Golgota, dit is, as dit vertaal word: Plek van die Hoofskedel.”

Die woord GEBRING in Grieks is FEROU, en dit beteken om te dra. Ek wonder wat het alles deur Maria se hart gegaan toe sy haar Seun se lyding so moes aanskou? Soldate dra vir Jesus na Golgota.

VOELTJIES

Dis ongeveer 9 uur die oggend. ‘n Paar voëltjies wat op die heuwel tussen die bome gesit het, fladder singende deur die blou lug. Waarom? Drie mans met kruise kom die heuwel uitgestap. Soldate dra ‘n wreed verwonde man nader. ‘n Klomp mense mompel onderlangs.

So ‘n endjie verder tjirp die voëltjies in die bome sonder om te besef dat die grootste drama van die eeue besig is om af te speel. Hulle Skepper en hulle Instandhouer het kom sterf. Die getjirp van die voëls vervaag en ons luister na ander klanke.

“Bring vir my die hamer en die spykers,” skreeu die Romeinse soldaat vir die slaaf daar naby hom. En die Skepper van die magtige woude van die aarde word aan die kruishout vasgenael. Geen woord van klagte kom uit Sy mond nie. Kan u uself die pyn voorstel. Met ‘n stukkende geslaande rug lê Hy op die kruis terwyl die onsettende brandpyn van die spykers deur Sy voete Hom met pyn verlam.

Sy linkerhand word op die dwarsbalk geplaas. Die soldaat hou die spyker mooi regop in die middel van Jesus se handpalm. Die mense daar naby hoor ‘n paar dowwe houe terwyl die spyker deur Sy hand en dieper in die kruishout ingeslaan word.

Dis verbasend maar Jesus se gesig is kalm. Al wat mens sien is die groot druppels sweet wat uit Sy voorkop pêrel en langs Sy kop af waggel, dis sweetdruppels van pyn.

Jesus is besig om ‘n 700 jaar oue profesie te vervul. Jesaja skryf: “Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer…” Jes 49:16.

Toe die tweede spyker deur Sy regterhand geslaan word, is een van die mooiste maar pynlikste profesieë vervul. My naam, u naam is in Sy hande gegraveer.

In die volmaakte hiernamaals gaan daar net een herinnering aan die sonde wees, die merke in Jesus se hande, voete en sy. Ek weet nie hoeveel miljoenste ek in die ry gaan wees om Jesus eendag te gaan bedank nie, maar ek weet wat ek gaan doen as ek by Hom uitkom. Ek gaan Sy hande neem en na die spyker merke kyk. En dan gaan ek vir Hom baie dankie sê dat Hy my naam, my onwaardige naam op Sy waardige handpalms geskryf het.

VERGEEF HULLE

Daar is sewe kruiswoorde wat Jesus gedurende die ses ure op Golgota gespreek het.

Die eerste een vind ons in Lukas 23:34: “Toe sê Jesus: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Met wie praat Jesus hier? Hy praat met ‘n hele wêreld want dis ons almal se sondes wat Hom kruis toe geneem het. Jes 53:5 sê “Hy is terwille an ons oortreding deurboor.” Hy praat met u en my want ons het die spykers deur Sy hande geslaan. Maar toe dit gebeur het, het Hy gesê: Vader, vergeef hulle.

Tans weet ons nie presies wat ons doen wanneer ons sondig nie. Eendag in die hemel sal ons eers ten volle besef watter vreeslike iets sonde is. Wanneer ons sien wat Jesus alles moes verlaat het om na hierdie wêreld te kom en hier vir ons te kom sterf, sal ons begin om te verstaan hoe verskriklik lelik sonde eintlik is. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Ons sal nooit weet nie hoe sonde, ons sonde die Vader se hart gebreek het nie. Ons weet nie ‘n miljoenste van wat Jesus vir ons deurgemaak het nie.

Daar is een boodskap wat baie helder vanaf Golgota deurkom. Dis die boodskap dat al my sondes vergewe is, alles. (Dis die pragtige boodskap dat my naam in Sy handpalms gegraveer is. Met die pynlike spykers is my naam in Sy handpalms geskryf.)

KONING VAN DIE JODE

Nadat Jesus stewig aan die kruishout vasgenael is, het sterk manne dit opgelig en in die gat laat val wat daarvoor gemaak is. Kan u Jesus daar sien hang? Bokant sy kop staan die woorde: Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode.

Joh 19:20 sê: “Hierdie opskrif dan het baie van die Jode gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was; en dit was geskrywe in Hebreeus en Grieks en Latyns.”

DIE PLEK GOLGOTA

Wanneer ‘n mens Jerusalem besoek, wil jy graag weet waar Jesus gekruisig is. Na baie jare se oorweging het dit vir my duidelik geword dat dit die heuwel net buitekant die stadsmuur is. Tans is daar ‘n Moslem begraafplaas. Net onderkant hierdie heuwel wat soos ‘n kopbeen van ‘n mens lyk, is daar ‘n Arabiese busstasie met baie verkeer. Dan is daar ‘n straat en dan die groot stadsmuur van ou Jerusalem.

Dit was my voorreg om op ‘n keer op Golgotasheuwel rond te staan en oor die gebeure van daardie Vrydag te peins. Terwyl ek daar gestaan het, het ek na die goue koepel van die “Dome of the Rock” gekyk. Dis waar die tempel van Salomo vroeër gestaan het. Dis ook dieselfde plek waar Abraham vir Isak soveel eeue vantevore moes kom offer het.

En hier op Golgota, dieselfde rif, het God die Vader Sy Seun vir ons kom offer. Dit wat Abraham en Isak deurgemaak het, was ‘n floue voorstelling van dit wat later op Golgota sou kom afspeel.

Terwyl ek bo-op Golgota gestaan het, het ek na die geraas van die mense stemme geluister wat tussen die stadsmuur en die heuwel heen en weer beweeg het. Dit het my laat terugdink aan die Vrydagoggend toe Jesus gekruisig is. Dit was paasfees gewees en duisende Jode oor die hele wêreld het na Jerusalem vir die fees gekom.

AANSKOU

Kan u sien hoe sommige van hulle vassteek en na die drie kruise hier bokant hulle kyk. Bo aan die middelste kruis lees hulle hierdie eienaardige opskrif: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Party kan net die Latyns lees, ander weer net die Grieks en ander weer net die Hebreeus, aangesien die verbygangers van verskillende lande kom. Die paasfees het besoekers oor die hele wêreld getrek.

Wat sou deur u gedagtes geflits het as u een van daardie verbygangers was? Ek sou vir die priesters hieroor gaan uitvra het. Ek sou die Skrifte gaan ondersoek het. En dis presies wat gebeur het. Jesus het daardie dag met Sy kruisiging meer mense laat dink as op enige dag van Sy lewe. Alhoewel dit gelyk het of Sy invloed gebreek is, het Sy invloed in werklikheid ‘n toppunt bereik.

‘N LES VIR MY

Ons dink so dikwels dat as ons die minste is, ons nie invloed sal hê nie. Die kruis sê nee. Dis nie so nie. Ons bereik nie mense wanneer ons raas en te kere gaan oor die onreg wat teenoor ons gepleeg is nie. Dit is wat Lucifer in die hemel probeer doen het. Gepraat van sogenaamde onreg teenoor hom gepleeg.

Nee, ons bereik mense wanneer ons soos Jesus gekruisig word en dan uitroep: Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie. Ek nooi u om uself te verloën, u kruis op te neem en Jesus te volg. Ek bereik mense nie deur te lewe nie, maar deur te sterwe.

PROFESIE VERVUL

Terwyl Jesus daar aan die kruis hang en die sekondes stadig een vir een aftik, het die Messiaanse profesieë ook een vir een in vervulling gegaan.

Ps 22:16,17: “My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef an my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. Want honde het my omsingel; ’n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.”

Die sterk, kragtige Jesus, wat duisende kilometers gestap het, en nagte deur gebid het, het nou so swak en broos en breekbaar soos ‘n nietige stukkie potskerf geword. Soos dit geprofeteer is, so het dit gebeur. “My krag het verdroog soos ‘n potskerf.”

Die vier groot spykers wat deur Sy hande en voete geslaan is, getuig ook van die akkuraatheid van die profesie. “Hulle het my hande en my voete deurgrawe.”

Ps 22:19. “Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot op my gewaad.” Honderde jare voor Golgota het die profesie dit voorspel. In Johannes 19:23,24 kry ons die vervulling van hierdie profesie: “Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle Sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.” Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kon word waar dit sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot. Dit is wat die soldate gedoen het.”

VIER SOLDATE

Vier soldate het gesorg dat Jesus se klere uitgetrek en Hy vasgespyker word. Hulle het Jesus se klere onder hulle vier verdeel.

Een het die tulband gekry, die hoofbedekking. ‘n Ander het die gordel gekry. Die een wat die bokleed gekry het, het goed gedoen. Miskien het hulle gekyk vir wie die sandale die beste gepas het en dit toe vir hom gegee.

Die onderkleed wou hulle nie in vier dele skeur nie en toe begin hulle daaroor te loot.

Kan u die geklank van vallende dobbelsteentjies op die wit kalkklip met rooi bloedvlekke hoor? Eers gooi die een en toe die ander een. Een van die soldate kry die hoogste telling en vat die kleed.

Maar bokant die gooi van die dobbelsteentjies, het ‘n ander soort spel afgespeel. Jesus het met Sy lewe kom dobbel. Wat ‘n geweldige dobbel was dit nie. Wat ‘n waagstuk. Hy moes ‘n ses kom gooi het anders sou ons verlore wees. Maar Hy het ‘n ses gegooi. Hy het gewen. Sy lewe wys net een kant, en dit is die wenkant.

Later daardie Vrydagmiddag het ‘n soldaat met die pragtige kleed van Jesus huistoe gestap. “My man, en waar kry jy hierdie kleed wat in een stuk sonder naat geweef is?”

“Ons het vandag iemand op Golgota gekruisig en toe die lot oor sy onderkleed gewerp. Ek het die hoogste gekry en die kleed gevat. Hierdie sandale is deel van die ander klere wat ons onder die vier van ons verdeel het.”

Terwyl ek oor hierdie aangeleentheid gepeins het, het ek die prag van die verlossingsplan gesien. Jesus se letterlike klere is uitgetrek sodat iemand anders aangetrek kon word. Maar op Golgota het Jesus ook Sy ander kleed uitgetrek, die kleed van Sy geregtigheid, en dit aan elke sondaar gebied.

Die gebeure van Golgota sê dat elke sondaar wat in die naaktheid van sy skande staan, ‘n pragtige kleed van geregtigheid by Jesus kan kry.

Moenie in die yswind van sondeskuld bibber nie. Kom trek die warm kleed van Jesus se geregtigheid aan. Moenie in die dun rokkie van eiegeregtigheid staan nie, u sal baie siek word. Trek gou Sy vollengte kleed van geregtigheid aan.

VERDERE MESSIAANSE PROFESIE

Dis nie net die vier evangelies wat vir ons van Jesus se lyding op Golgota vertel nie. Baie eeue voor die tyd het die psalmis dit so beskryf:

Ps 69:21 “Beledigings het my gebreek, ek is gedaan. Ek het gehoop op meegevoel, maar tevergeefs, op mense om my te troos, maar daar was nie een nie.. Toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.”

Het ‘n belediging al u hart gebreek. Dit het met Jesus gebeur. Hy verstaan en Hy kan vertroos. Het u al na meegevoel gesoek, maar niks gekry nie? Dis wat met Jesus gebeur het. Hy kan u versterk. Hoe het Jesus onder hierdie omstandighede opgetree? Hy het mooi gebly. Ons moet mooi bly, al gebeur wat ookal. In ons diepste verdriet en verplettering kan Jesus met ons identifiseer. Hy is daar deur en Hy weet net hoe om ons te help.

Ons mag nie toelaat dat hierdie dinge ons lelik maak nie. Dit het Jesus net mooier en mooier gemaak.

‘n Mooi karakter kan net onder moeilike omstandighede ontwikkel. Moenie lelik en verbitterd raak as mense jou sleg behandel nie. Sien dit as ‘n geleentheid om mooier te word.

Matt 27:34: “Daar het hulle Hom ‘n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.”

Geen pyn doder vir Jesus nie. Hy het gekom om ons krankhede op Hom te neem. Hy weet hoe dit voel as elke spier in die liggaam pyn. Hy weet hoe dit voel om die doodsjordaan binne te gaan.

Matt 27:39-44 “Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!” Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: “Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou, laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!” Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom geskruisig is, Hom ook beledig.”

WAT HET JESUS AAN DIE KRUIS GEHOU?

Wat is dit wat Jesus aan die kruis gehou het? Was dit die spykers? Nee. Was dit die teregstellingsbevel van Pilatus? Nee, Weet u wat het verhoed dat Jesus van daardie wrede kruis afkom?

‘n Onverstaanbare, diepe goddelike liefde. ‘n Liefde vir u en vir my. Hy het bly hang totdat Hy nie langer kon hang nie, en toe is Hy dood. Wat ‘n liefde.

As ons in Jesus se voetstappe volg, gaan ons baie beslis voor die Sanhedrin en voor Pilatus verskyn. Ons gaan onregverdiglik veroordeel en verwerp word. En dit deur ons eie mense. As ons Jesus volg sal ons op Golgota beland. Ons sal aan ‘n kruis van sielepyniging met spykers van menslike venyn vasgenael word.

Hier in my binneste sal iets in opstand kom. Iets sal weier om te sterf. Ek wil nie deur mense seergemaak word nie. Ek wil nie deur mense vertrap word nie. Ek wil nie die minste wees nie.

Jesus se voorbeeld maak ‘n oproep op my hart. Daar is dinge in my lewe wat gekruisig moet word. Ek moet aan die kruishout van selfverloening bly hang totdat my selfsug heeltemal gesterf het.

Anderkant die dood van selfverloëning wag daar ‘n heerlike opstanding. ‘n Opstanding van ‘n nuwe mens, ‘n nuwe lewe, ‘n gelukkiger lewe, ‘n oneindige lewe, ‘n ewige lewe.
Ek nooi u uit om te sterf, sodat u kan leef.

Was this article helpful?

Related Articles