1. Home
  2. Doopgedagtes
  3. DoopBoodskap Vir Doopkandidate

DoopBoodskap Vir Doopkandidate

DOOPBOODSKAP VIR DOOPKANDIDATE

Wanneer jy die brein bestudeer, ontdek jy drie belangrike funksies: Affektief, jy kan voel; kognitief, jy kan dink en konatief, jy het die vermoë om ‘n besluit te kan neem.

Daar is geen groter besluit, as die besluit om aan die Here gehoorsaam te wees nie.

Daar is baie besluite wat ‘n neem, waaroor jy later baie spyt is, maar die besluit om jouself onvoorwaardelik aan Jesus oor te gee, bly vir altyd vir jou kosbaar.

DIE BESTE VRIEND

Dis so ‘n besieling om die verhaal van Jesus te lees. Johannes vertel vir ons hoedat Hy een middag 12 uur met ‘n vrou van Sigar gaan gesels het.

Jy was baie sleg. Die Guiness Book of Records het haar die nr. 1 sondares van die dag gemaak.

Jesus word die eerste man wat sy ontmoet wat vir haar ‘n bietjie water vra.

REPUTASIE

Kan jy vir Jesus saam met die vrou by Jakob se put sien gesels. Sy het die swakste reputasie in die dorp. Langs haar is Jesus. Hy het die beste reputasie, nie net op aarde nie, maar in die ganse kosmos.

Wat ‘n kontras. Hy offer haar Sy reputasie van onbevlekte heiligheid in ruil vir haar bevlekte reputasie van immoraliteit.

Twee liefdes kom bymekaar uit: Haar liefde lê in die eros gesetel. Dis ‘n selfsugtige liefde wat ten koste van iemand anders wil seëvier.

Jesus se liefde is onselfsugtig. Hy is gewillig om self te sterf sodat iemand anders kan leef.

Jesus het uit liefde gekom om ons vuil reputasie met Sy rein reputasie te ruil.

Kan jy die verskil tussen die twee reputasies sien?

DIE KRUIS

Toe die Romeine ‘n rukkie later dik spykers deur Jesus se hande slaan, slaan hulle hierdie vrou se reputasie in Sy handpalm vas. Alles is nou weg van haar en na Jesus oorgeplaas. Dit was so erg, dat Jesus van hierdie sonde- besmetting gesterf het.

SAGGEUS

Saggeus die skelm, sit bo in ‘n vyeboom. Hy het sy reputasie weg gelieg, en weg bedrieg. Niemand het by hom kom eet nie. Wat sal die mense van die dorp sê as hulle jou donkie of kameel voor sy huis geparkeer gesien het?

Sy vrou het baie ingelegde Jerigo vrugte in die kombuis gehad. Die bottels “canned fruit” met die geel perskes het net so op die rak bly staan.

En toe kom Jesus in sy lewe. “Saggeus. Kom dadelik af. Ek en my 12 honger dissipels kom vandag by jou eet.”

Die tannie het die bottels met die geelperskes van die rak afgehaal en oopgemaak. Ek dink Petrus het vir haar gevra of hy ‘n tweede “helping” kan kry. Ek dink die ander dissipels het ook twee keer ingeskep.

Jesus het by sondaars sonder reputasies gaan eet. Kan jy Hom sien? Saggeus het geen reputasie gehad nie. En hier sit Jesus aan sy tafel waar geen mens wou kom sit het nie.

KONTRAS

Sien jy die twee? Jesus gee vir Saggeus Sy onbevlekte reputasie, en hy vat Saggeus se slegte reputasie van hom weg.

Die skelmste sondaar in Jerigo sit langs die Eerlikste in die heelal. Wat ‘n kontras!

GOLGOTA

‘n Sterk Romeinse soldaat met groot spiere slaan dik spykers deur Jesus se voete. Hoe dieper die spykers deur been en vleis dring, hoe dieper dring Saggeus se skelm reputasie in Jesus se wese in.

Aan die kruis word Jesus se onbevlekte reputasie Saggeus se reputasie. Aan die kruis word Saggeus se slegte reputasie Jesus se reputasie.

Dis ‘n klein deeltjie van Jesus se verhaal. Hy ruil met slegte mense.

Maar daar is net een voorwaarde. Dit kos niks. As jy Sy geskenk van vergifnis en reinheid wil bekom, moet jy bereid wees om dit gratis te ontvang. Indien jy dit nie doen nie, word dit ‘n transaksie en is dit nie meer genade nie.

LAURETTA SE KUIER

My kind het vir my kom kuier. Daar is nie vir my ‘n groter geskenk as dit nie. Sy het my toegelaat om vir haar ‘n kleertjie te koop. Daar is nie vir my groter vreugde nie.

Gaan kuier dikwels by jou hemelse Vader. Daar is nie ‘n groter geskenk as ‘n kuiertjie wat jy Hom kan gee nie.

Gaan praat met Hom oor sy ontsteltenis, oor jou waaroms, oor jou vrese oor jou verleentheid en oor jou geluk.

Laat Hom toe om vir jou ‘n kleed te gee. Die kleed van Sy volmaakte geregtigheid. Daar is nie vir Hom ‘n groter vreugde nie.

Was this article helpful?

Related Articles