Volharding

VOLHARDING

Skriftuur: Filipense 1:6

BLYDSKAP IN DIE HEMEL

Ons kry dit in die gelykenis van die verlore skaap in Lukas 15. Dit vertel van een skaap wat in die donker koue klowe verdwaal het.

Hy het nie geweet hoe om weer by die kraal uit te kom nie.

Die herder het aangehou soek totdat hy sy verlore skaap gekry het.

Hy was verskriklik bly toe hy op die verlore, sterwende skaap afgekom het. Met dankbare blydskap het hy die bewende skaap styf teen sy hart vasgedruk en liefdevol huistoe gedra. Hy het almal gevra om saam met hom bly te wees.

Die gelykenis verduidelik die Here se BLYDSKAP wanneer Hy ‘n verlore mens vind en hom of haar huistoe neem.

Die gelykenis verduidelik watter groot blydskap daar vandag in Jesus se hart is oor julle doopdiens.

VERDWAAL VANAF GEBOORTE

‘n Mens is verdwaald vanaf jou geboorte af.

Vir die eerste jaar of wat het jy nie geweet wie jy is en waar jy is nie. Pappa en Mamma moes jou gedurigdeur oppas.

Toe begin die kruip. Jy kort-kort weggeraak. Met die loop het jy dinge van die tafels afgetrek en na gevaarlike plekke weggeloop.

Eers later toe jy meer verstand gekry het, het jy geweet waar jy is en wie jou Pa en Ma was.

Dit was ‘n heerlike ontdekking om te besef dat jy ‘n huis met ‘n adres en ‘n telefoonnommer het. En dis nog heerliker om te ontdek dat jy aan twee mense, ‘n Pappa en ‘n Mamma behoort wat vir jou oneindig, verskriklik liefhet.

Onlangs het jy ‘n ander ontdekking gemaak. Julle het ontdek dat jy ‘n bietjie verlore is en ‘n behoefte het om deur Jesus gevind te word en om ten volle aan Hom te behoort. Jesus self het daardie behoefte om Hom in jou hart geplant.

En toe op ‘n dag het Hy jy gevra of Hy in jou hart kan kom woon. Ek is so bly jy het vir Hom JA gesê. Ek is so bly jy het jou harte ten volle vir Hom te gee.

Ek sal die Sabbat nooit vergeet toe jy vir my die goeie nuus vertel het nie. Jou mamma en ouma het nogal baie gehuil.

Maar hulle trane het nie sout van hartseer in gehad nie. Ek het daardie trane getoets. Hulle trane was vol suiker van blydskap.

Daar is niks wat ‘n ouer se hart so bly maak as wanneer ‘n mens se kind sy hart aan die Here gee nie.

HEMELSE MUSIEK EN BLYDSKAP IN DIE HEMEL

Lukas 15:7 sê daar is op hierdie oomblik groot blydskap in die hemel.

Ek wens ek kon vanoggend na die hemelse musiek en sang tydens jou doopdiens geluister het.

Ek dink jou bewaarengel het gou vir ‘n miljoen ander engele van die doopdiens gaan vertel. En weet jy wat? Hulle was ook net so opgewonde toe hulle daarvan hoor. En die oomblik toe julle in die doopwater ingestap het, het daardie magtige koor losgetrek en met al hulle mag begin sing.

Die pragtige klanke van harpe en trompette het die sang van die engele net nog mooier laat klink.

Terwyl jy gedoop is, het die mooiste klanke en melodieë deur die hemel gesweef. Dink net daaraan. Jou doop het engele laat sing.

Oor en oor is jou naam saam met die Name van Jesus en die Vader in hierdie magtige engelekoor gehoor.

Ek wil net weer ‘n keer vir jou sê. Vanoggend is daar ontsettende groot blydskap in die hemel.

VIDEO OPNAME

Ek het ook baie ander goeie nuus. Die hemelse videospan het die hele doopdiens opgeneem. Nie net wat vandag hier in die kerk gebeur het nie, maar ook wat vandag in die hemel gebeur het.

Sodra ons in die hemel kom, sal ons daarna kan kyk. Die kwaliteit gaan hemels wees.

Ek kan nie wag om daarna te gaan kyk nie. Julle ouers wat al soveel hartseer deurgemaak het, kan ook nie meer wag om daarna te kyk nie.

HOE KAN JY SEKER MAAK DAT JY IN DIE HEMEL KOM?

Hoe kan ons honderd persent seker maak dat ons eendag daar sal kom?

Matteus 24:12,13 Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.

Jy het vandag op pad na die hemel weggespring. Wat sê die teks, wie sal uiteindelik gered word? Mense wat tot die einde toe volhard. Jy moet net nooit weer omdraai nie.

Jy is nou soos ‘n nuwe kar wat uit die vertoonlokaal kom. Jou lewens kan met ‘n nuwe karretjie vergelyk word wat mettertyd ‘n paar skrapies en stampe gaan opdoen.

My dierbare jong sustertjie in Jesus. Ek moet net vir julle sê dat die moontlikheid baie sterk is dat jy hier en daar ‘n skrapie gaan opdoen.

Die blink verf van jou wedergebore hartjie kan lelike skraapmerke van teleurstellings opdoen.

Elke sabbatoggend wanneer ek kerk toe kom sien ek hopies gebreekte glas in die pad lê. Dit vertel my dat twee motors gebots het.

Die moontlikheid dat jy in iemand se gevoelens kan vasry en iemand in julle gevoelens kan vasry, is nie uitgesluit nie.

En soos daar vanoggend rooi en wit glasstukkies op die pad lê, so gaan daar ook stukkies rooi glas van hartseer op die teerpad van jou lewe lê wanneer julle met mense gaan bots.

PANEELKLOP

Wat maak ‘n mens met ‘n kar wat ‘n stampie opgedoen het? Jy kry een van hierdie vinnige insleep mense om jou paneelkoppers toe te neem? Het julle al gesien hoe vinnig hulle ry?

Jy is nou op die snelweg hemel toe en gaan deur mense gestamp word. Hulle gaan jou van die pad van geluk afdruk. Moenie moedverlore langs die hoofweg van die lewe staan nie. Kontak die vinnige insleepdiens van die hemel. Neem jou stampwonde en seer na Jesus die slim Paneelklopper. Hy weet hoe om ‘n duik in jou hart weer reg te kry.

Die teks sê hy wat tot die einde toe volhard, sal gered word.

DIE RUIK VAN SPUITVERF

Toe my pa ouer geword het, het hy sy Peugeot 504 gereeld gestamp. Elke keer as ek vir my ouers gaan kuier het, het ek die reuk van spuitverf in my neus gekry. (Duco)

Dan het ‘n hond in hom vasgehardloop of dan het hy iemand anders gestamp.

Maar elke keer het hy die ou Peugeot 504 na die Paneelklopper geneem. Ek het nooit ‘n stukkende kar by die huis gekry nie. Al wat ek gekry het, was die reuk van spuitverf.

As ek dit geruik het, het ek geweet die kar was weer in vir ‘n stamp van een of ander aard.

Liewe jongmense.

Dis moontlik dat julle meer as een keer onderstebo gery gaan word. Moenie moed verloor nie. Gaan na Jesus die groot paneelklopper. Hy sal julle regmaak.

Liewe jongmense.

Dis ook moontlik dat julle iemand anders onderstebo gaan ry. Dis nog erger as om omgery te word. ‘n Mens voel verskriklik sleg as jy iemand anders seergemaak het. Jy voel lus om sommer moed te verloor. Moenie. Neem die mens wat jy gestamp het, wat jy seergemaak het na Jesus die groot Paneelklopper. Hy kan julle altwee se seer, se duike, heelmaak.

In die hemel wag daar ‘n video van jou doopdiens. Moenie asgevolg van ongelukke moedeloos word nie, gaan na Jesus die Paneelklopper. Hy raak nooit moeg om gestampte mense reg te maak nie.

DIE REUK VAN SPUITVERF

Ek sal die reuk van spuitverf op my pa se Peugeot 504 nooit vergeet nie. Die reuk het my vertel die kar is reggemaak.

Liewe jongmense. Julle gaan gestamp word. Maar mag dit wees dat ons die reuk van spuitverf, die reuk van volharding, die reuk van Jesus se vergifnis, tot die einde, by julle sal ruik.

Moet nooit dat die duiwel vir julle vertel dat die sonde julle so sleg gestamp het, dat julle nooit weer reggemaak kan word nie.
Jesus kan enige sondewrak wat deur mense afgeskryf is so mooi regmaak dat niemand ooit sal agterkom dat hy of sy in ‘n vreeslike ongeluk met sonde betrokke was nie.

Mag julle die Jesus wat ‘n goeie werk in julle begin het, toelaat om daarmee aan te hou totdat julle in die nuwe Jerusalem na die video van julle doopdiens gaan kyk.

Was this article helpful?

Related Articles