Keuses

DOOPDIENS – KEUSES

Handelinge 22:14-16

Daar is een iets wat elke mens gedurigdeur moet maak en dit is om te kies.

Partykeer is dit baie moeilik om ‘n keuse te maak. Twee mense nooi jou uit om saam op vakansie te gaan. Die een wil jou see toe neem en die ander een wil jou na die wildtuin neem. Jy is vir die see en die wildtuin ewe lief.

Partykeer moet ons tussen twee moeilike dinge kies. Of jy moet iemand vergewe wat jou kwaad aangedoen het, of jy moet met ‘n bitter gevoel teenoor daardie persoon rondloop. Elkeen is baie moeilik.

En as jy besluit om glad nie iets te doen nie, het jy ook ‘n besluit geneem.

JOSUA SE BESLUIT

Baie jare gelede het ‘n jongman met die naam van Josua by ‘n kruispad in sy lewe gekom.

Hy moes besluit of hy sy lewe aan die Here gaan vertrou. En hy het.

Aan die einde van sy lewe het hy nog steeds besluit om die Here met sy lewe te vertrou.

Josua 24:14,15 “Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die Here. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: of die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”

KANDIDATE SE BESLUITE

Ek is so dankbaar vir mense wat besluit geneem om die Here te dien.

My gebed is dat hulle aan die einde van julle lewe ook soos Josua sal aanhou sê:

Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.

AFDRAAI PAAIE

Wanneer mens na die Kruger wildtuin toe ry, is daar net een manier om daar te kom. Bly op die pad en moenie ‘n afdraai pad vat nie.

Die pad na die ewige lewe, is ‘n reguit pad. As jy aanhou met hierdie pad sal jy daar uitkom. Die duiwel sal jou gedurigdeur nooi om ‘n afdraai pad te neem. Moenie vir hom luister nie. Afdraaipaaie is paaie van die dood.

Luister wat sê die Woord van die Here:

Spreuke 16:25 Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, mar die einde daarvan is weë van die dood.

Dis lewensbelangrik om die regte keuses te maak. Wanneer jy kies om die Here in gehoorsaamheid te dien, leef jy uiteindelik vir ewig. Wanneer jy kies om die pad van ongehoorsaamheid te neem, sterf jy vir altyd.

Hoe belangrik is dit nie om elke dag die regte pad te kies nie.
Jesus sê in Johannes 14:6 dat Hy die weg is. Kies die Jesus pad elke dag van jou lewe.

Deuteronomium 5:32 Sorg dan dat julle doen soos die Here julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie.

Oor en oor maan die Here ons om asseblief tog nie van die pad van gehoorsaamheid af te draai nie.

Hy wil nie hê ons moet verlore gaan nie. Hy is te lief vir ons om die ewigheid sonder ons deur te bring.

Was this article helpful?

Related Articles