JESUS STERF EERDER AS OM ONS TE VERLOOR – DOOPDIENS
Skriftuur: Romeine 8:31-39
Een van die grootste wonderwerke is die wonderwerk van spraak. Jy neem ‘n gedagte na jou tong toe en op een of ander onverklaarbare wyse sit jou tong die gedagte ‘n klank oor.
En ek en jy het die vermoë om gedagtes te verklank.
Jakobus 3:5 So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.
MY VROU SE WOORDE
Elke keer voor ek die huis verlaat, bid ek en my vrou saam. Ek vra dat die Here haar moet beskerm en sy bid ‘n soortgelyke gebed vir my.
Nou die dag net voor ek ry, sê sy vir my die volgende:
“My man. Ek is verknog aan jou. Ek sien nie kans om sonder jou te lewe nie.”
Dit was ‘n groot oomblik. Want dit is nie elke dag wat sulke spesiale mooi woorde uit haar mond kom nie.
Terwyl ek wegry, trap ek die petrol so ‘n bietjie dieper in as gewoonlik. Die refs van my hart en die refs van die kar hardloop so ‘n bietjie hoër as gewoonlik.
“My man. Ek is verknog aan jou. Ek sien nie kans om sonder jou te lewe nie.”
Ek ry na my afspraak toe en my vrou se aardse woorde laat my aan die Here se hemelse woorde laat dink:
Jeremia 31:3 Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het
Ek jou getrek met goedertierenheid.
Ek wonder watter effek hierdie woorde op ons sou gehad het as ons die Here se stemintonasie en Sy lyftaal kon sien?
7% persent van enige boodskap word deur die gedrukte woord oorgedra; 38% deur stem-intonasie en 55% deur lyftaal.
Binnekort gaan ons die volle omvang van God se liefde vir ons in die hemel ervaar wanneer ons Sy stem hoor en Sy lyftaal sien.
Die profeet Hosea gee vir ons meer inligting oor die aard van God se liefde wat ons trek:
Hosea 11:4 Met mensebande, met koorde van liefde het ek hulle getrek.
Met watter soort liefdesbande trek die Here my na Hom toe? Hosea sê met mense bande. Wat impliseer dit?
Hy moes eers ‘n mens kom word het voordat ek Sy Goddelike liefde op my vlak kon begryp.
Die Vader se goddelike liefde vir sondaars word in Jesus se menslike optrede verduidelik.
Ons sien Sy lyftaal waar Hy ‘n mens-verlate melaatse in Sy arms neem, styf vashou en vergewe.
Ons sien die Vader se liefde terwyl Jesus saam met die uitvaagsels van die samelewing sit en eet. Hy waag dit om sy hand op die skouer van ‘n tollenaar te plaas.
Die Fariseërs sou nie eers met ‘n tang aan ‘n prostituut gevat het nie. Jesus raak hierdie HIV’s met Sy reinheid aan.
God word ‘n mens sodat Hy my met die onbegryplike bande van Sy vleeswording na Hom kan trek.
Mense kon aan Jesus vat. Hulle het Hom sien huil. Hulle het gesien hoe Hy vir hulle bid en vir hulle sterf.
Voor ek by die huis wegry, sê my vrou vir my:
“My man. Ek is verknog aan jou. Ek sien nie kans om sonder jou te lewe nie.”
Terwyl ek aan my vrou se mooi woorde dink, dink ek aan ‘n teks wat sê dat die Here ook nie sonder ons wil leef nie. ‘n Teks wat sê dat Hy aan ons verknog is:
Hosea 11:8 Maar hoe kan ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan ek jou vernietig…? My liefde brand te sterk.
GOD SE LIEFDE VIR SONDAARS HET SY DOOD GEKOS
Godelike liefde vir sondaars was so intens dat dit Jesus aan die kruis vernietig het.
Johannes 19:29,30 En daar het ‘n kan vol asyn gestaan; en hulel het ‘n spons met asyn gevul en op ‘n hisopsingel gesit en aan sy mond gebring. En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
Wat presies beteken die woorde: “Dit is volbring?”
Die grondteks, “Tetelestai” sê dat ons verlossing volkome afgehandel is. Toe Jesus uitroep: “Dit is volbring”, tetelestai het die grootste boodskap ooit, die kosmos deurpriem.
God se liefdespoging om sondaars te red het getriomfeer. Sy dood aan die kruis het dit vir elke gevalle sondaar moontlik gemaak om gered te word.
Dit beteken dat my verloorgeskiedenis nou in Jesus se wen-geskiedenis oorgeskryf is.
Dit beteken dat God ons so liefgehad het, dat Hy Jesus gegee het om in ons plek te sterf voordat Hy sou toelaat dat ons vir ewig verlore moet gaan.
Voor ek by die huis wegry, sê my vrou vir my:
“My man. Ek is verknog aan jou. Ek sien nie kans om sonder jou te lewe nie.”
Voordat Jesus die laaste asem aan die kruis uitblaas, sê Hy vinnig vir jou en my:
“My dierbare gevalle sondaarskinders. Ek is verknog aan julle. Ek sien nie kans om sonder julle te lewe nie.”
DIE DOOP EN DIE KRUIS
Die pragtige instelling van die doop verduidelik wat op Golgota gebeur het
Openbaring 15:17 sê vir ons dat waters o.a. die sondige, gevalle mensdom voorstel.
Op Golgota het Jesus die besoedelde oseaan van die mensdom se sondes binnegestap. Na ses ure se sparteling het Hy in die branders van my besoedeling verdrink.
Toe Hy na die bodem van die dood afsak het Hy ‘n profesie vervul wat sê:
Miga 7:19 U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.
As die duiwel jou ooit versoek om jou sondes van die verlede te gaan opdiep, wys hom op die kennisgewing-bordjie wat sê: Visvang is verbode.
God self gaan haal nie eers weer my sonde uit die oseaan van Sy vergifnis nie. Wie is ek of jy of die duiwel om dit te doen?
ONDERDOMPELING
Wanneer die sondaar in die doopwaters begrawe word, beteken dit dat sy sondige verlede in Jesus se vergifnis begrawe is.
Wanneer die doopkandidaat uit die waters gelig word, verwys dit na die nuwe lewe wat hy saam met Jesus begin het.
Terwyl die doopkandidaat na die oewer van die doopfont stap, simboliseer dit sy wandel na die oewer van die ewigheid saam met Jesus.
In een van die reeks dienste wat ek in Amrika gehou het, het ek die gehoor ‘n liedtjie laat sing: “Kind words will never die, never die, never die. Kind word will never die. No. Never die.
Mag God se woorde van liefde en vergifnis nooit in julle harte sterf nie.
“My kind. Ek is verknog aan jou. Ek sien nie kans om sonder jou te lewe nie.”