Metafisies

METAFISIES

Hoe vorm ‘n mens ‘n opinie van iemand? In die eerste plek luister jy na wat mense van die persoon sê. Dan sit jy die gegewens bymekaar en vorm jou opinie.

In die tweede plek kom jy persoonlik met die persoon in aanraking en leer hom eerstehands ken. En dan neem jy al die gegewens, oordink dit en vorm dan ‘n opinie.

Hoe vorm ‘n mens ‘n opinie van God? Jy hoor wat ander van Hom sê of jy maak ‘n persoonlike studie van Hom.
Baie Christelike teoloë het hulle begrip van God by Griekse filosowe soos Aristoteles gekry.

Die Griekse metafisici het geglo en geleer dat die “fundamentele” werklikheid, die “finale” werklikheid, die “primêre” werklikheid, tydloos is.

Metafisika is ‘n beskouing oor die aard van vryheid, die aard van die mens, van kennis, van die lewe en nog baie ander dinge.

Die Griekse filosowe het baie tyd gehad om oor hierdie dinge te filosofeer. Een van die plekke waar hulle dit gedoen het, was op die Areopagus by die Partenon in Atene.

Vandag sit die grootste gedeelte van die teologiese wêreld met ‘n klomp heidense verwarrende konsepte wat die pragtige, persoonlike, liefdevolle beeld van God skaad.

‘n Uitvloeisel van PRIMERE WERKLIKHEID IS TYDLOOSHEID, DIE TEORIE VAN EVOLUSIE.

DIE TWEE SKOLE

Daar is eintlik net twee hoofskole met betrekking tot die Godsbeeld:

“God en primêre werklikheid is tydloos en geestelik.”

Die Genesis verhaal moenie letterlik opgeneem word nie. God het nie die wêreld in ses letterlike dae geskep nie want Hy is tydloos. “Sien die skeppingsverhaal as mite,” leer hulle.

Dis Griekse metafisika.

Die ander skool leer die volgende:

“God en primêre werklikheid is histories en persoonlik.” God het deel van ons geskiedenis kom word. Hy het uit Sy Goddelike dimensie van ewigheid in ons dimensie van tyd en ruimte kom instap.

Dis die Bybelse openbaring van God.

DIE KANDIDATE

Ons verwelkom voortdurend nuwe geestelike familielede in ons gemeente.

Nie die God van tydloosheid nie, maar die persoonlike God van die geskiedenis, het in hulle lewens ingestap en ‘n persoonlike, intieme verandering te weeg gebring.

NUWE STATUS

Ons as gemeente wil vir julle baie welkom heet. Elke persoon wat in hierdie kerk gedoop word, ontvang ‘n nuwe status.

2 Korintiërs 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Die ou lewe, die ou dinge, is verby. Julle geskiedenis is oorgeskryf in die geskiedenis van Jesus.

Niemand het die reg om na julle verlede te verwys nie. Nie eers julle self nie. Toe julle gedoop is, het die ou lewe vir ewig verdwyn. Daardie ou lewe is saam met Jesus aan die kruis genael en totaal vernietig, uitgewis.

Julle mag julleself nooit oor die vorige ou lewe verwyt nie. Jesus het selfs hierdie verwyt op Golgota hanteer.

INKLUSIEF

Een van die baie mooi karaktertrekke van God, is Sy inklusiwiteit. Almal is welkom in Sy tempel, Sy kerk. Hy is nie eksklusief nie. Hy laat nie sommige uit nie.

Kom ons lees wat Jesaja hieroor skryf:

Jesaja 56:1,2 So sê die Here: Laat reg geskied, doen reg, want die verlossing wat Ek bring, is al aan die kom, en die redding wat Ek bewerk, gaan nou geopenbaar word. 2 Dit gaan goed met die mens wat die Sabbat onderhou en dit nie ontheilig nie, wat sorg dat hy niks verkeerds doen nie. Dit gaan goed met die mens wat hom hieraan hou.
Ons kyk hier na ‘n beskrywing van die wederkoms en die heerlike redding wat die Here gaan bewerk. En dan word daar na mense verwys wat aan die einde van die tyd die Sabbat gaan hou.
Wie presies is hierdie mense?

Vers 3 ’n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ’n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ’n droë boom nie.

Hier luister ons na die pragtige Godsklanke van inklusiwiteit.

Ragab die Kanaänitiese prostituut is welkom en word die groot moeder van die Messias. Rut die Moabitiese wat die Moabitiese god Kemos aanbid het, word ingesluit. Later word Dawid, en nog later, Jesus uit haar nageslag gebore.

God is ‘n God van INKLUSIWITEIT. Dit sluit jou en my ook in.

Hoe intiem wil die Here ons in Sy lewe en in Sy kerk insluit? Ons as mense wil nie altyd ander mense te na aan ons toelaat nie. Kom ons luister na die intimiteit van God se inklusiwiteit:

Vers 4,5 So sê die Here: Aan die ontmandes wat my Sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ’n teken gee, ’n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie.

Wanneer mens na die reliewe van krygsgevangenes op die tempelmure kyk, kan die jy ontmandes maklik uitken. Hulle het nie baarde gehad nie.

Die manne sonder baarde word in Gods kerk verwelkom. Dis skokkend, sê die behoudende lidmate van die destydse kerk.

Maar dis presies waaroor God se inklusiwiteit gaan. Dis skokkende genade.

Kom ons luister verder na waarheen die Here die randfigure van die antieke heidense wêreld wil bring:

Vers 6 Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê, en om my dienaars te wees, almal wat my Sabbatte onderhou en dit nie ontheilig nie, en wat lewe volgens my verbond, na my heilige berg toe bring.

Wanneer mens die godsdiensgebruike van die antieke nasies van Jesaja se tyd kyk, dan skrik jy. Ek en jy sou hulle uit die kerk uit probeer hou het.

Maar God is inklusief. Die mens wat hom bekeer en die Sabbat hou, kry ‘n nuwe status.

Sal hierdie bekeerde heidene ooit ‘n pos in die kerk kan kry? Ek meen sommige van hulle het hulle eie kinders aan heidense gode geoffer. Almal van hulle het deelgeneem aan die immorele tempelrituele.

Gaan God se inklusiewe genade hulle toelaat om volwaardige werkers in Sy diens te wees?

Verse 7 Ek sal aan hulle vreugde gee in my huis van gebed, hulle brandoffers, hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees, want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke.

Wat beteken dit om offers op God se altaar te plaas? Dit was die uitsluitlike dienswerk van die priester en die Leviet. Dit was die hoogste eer wat iemand te beurt kon val.

Maar wat gebeur hier? Hierdie heidene, hierdie bekeerde goddeloses sal opgeneem word in die diens van die Here.

In Jesaja 56:7 luister ons luister die na mooiste klanke van goddelike inklusiwiteit in die hele Bybel. God wil hê dat elkeen wat Hom aanneem, sy Sabbat moet hou en dan by evangelistiese aktiwiteite betrokke moet raak.

Wat sou jy sê is die belangrikste werkwoord in God se leksikon? Dis verstommend bemoedigend. Dis een van die mooiste openbarings van God se karakter van inklusiwiteit.

Vers 8 Die Here my God wat die verstrooides van Israel bymekaarmaak, sê: Ek sal nog ander byvoeg by dié wat reeds bymekaargemaak is.
God se uitverkore volk was destyds oor die hele grondgebied van Babilon verstrooi. Hulle was ver weg van Jerusalem. God maak verstrooides bymekaar. Kom ons trek die parallel:

Die grootste meerderheid van God se volk is tans ook in Babilon. Hulle is ver weg van die Jerusalem van God se uitverkore volk.

God gaan hulle bymekaar maak. Hoe gaan Hy dit doen? Hy werk gewoonlik deur bekeerde sondaars. Hy werk deur mense wat nou inkom het. Maar dis nie al nie. Die teks lui:

Vers 8 Ek sal nog ander byvoeg by dié wat reeds bymekaargemaak is.

God se belangrikste werkwoord is BYMEKAARMAAK.

Mag die Here ons help om vir Hom kosbare siele bymekaar te maak. Dis nie maklik nie. Baie wat ons gaan uitnooi, gaan ons harte breek wanneer hulle negatief besluit.

Dit mag ook wees dat van die bekeerdes wat al lankal deel van die oorblyfselkerk is, ongemaklik gaan voel wanneer hierdie “ANDER VOLKE” kerk toe kom.

Van nature is die mens “eksklusief”. Ek voel tuis by my eie mense en dis al wat ek om my wil hê. Ek is nie met die gedagte in “inklusief” gemaklik nie.

Ek onthou die keer toe die hoofouderling gebid het dat ons nie moet evangeliseer nie. Die tyd was nie reg om nuwe mense in te bring nie.

Ek onthou nog hoe een tannie gebid het dat daar tog nie nuwe mense ingebring moet word nie want hulle is gelukkig soos hulle is.

Ek daag julle uit om ten alle koste God se werkwoord van BYMEKAARMAAK, ook julle werkwoord te maak. Dit maak nie saak hulle pyn by die uitreikaksie betrokke is nie.

Die Bybel sê: Hy wat met trane saai, sal met gejubel maai.

Dit sal heerlik wees wanneer die Meester van die oes binnekort kom en jy het ‘n paar gerwe in jou hand. Dit gaan ‘n blydskap wees wat deur die ewigheid gaan voortduur.

Josua 1:7 Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan.

As jy by die Kruger wildtuin wil uitkom, moet jy nie regs of links afdraai nie.

As jy by die wildtuin van God se ewige geluk wil uitkom, sal jy ‘n reguit pad moet neem, die pad van gehoorsaamheid aan die gebooie van die Here.

AS JY DIE REGTE KOERS VERLAAT

Wat gaan met julle gebeur wanneer julle miskien iewers vorentoe die regte pad gaan verlaat?

Sal die Here jou maar verlore laat gaan? Nee. Hy gaan dit vir jou baie moeilik maak om verlore te gaan.

Kom ons hoor wat sê een van die profete oor hierdie saak:

Jesaja 30:21 Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: Hier is die pad, loop hierlangs.

Jesus staan aan die einde van die pad wat julle nou ingeslaan het. Hy wag vir julle.

In my geestesoog kan ek sien hoe Hy jou gaan omhels, en met trane van blydskap sê:

“My kind. Ek is so bly jy het hier by my aangekom. Ek is so bly dat jy my gekies het en jou laat doop het. Ek is so bly dat jy My stem gehoor het toe jy een of twee keer die verkeerde pad wou neem en toe weer op die pad van gehoorsaamheid kom loop het.”

Ek dink Jesus gaan jou ‘n ekstra drukkie gee en jou nooi om in die heerlike hiernamaals in te stap.

Dis nie net Hy wat vir jou aan die einde van die pad van gehoorsaamheid wag nie.

Deur die genade van die Here gaan ander vir jou daar wag. Moet hulle nie teleurstel nie, moet ook nie vir Jesus teleurstel nie.

Was this article helpful?

Related Articles