1. Home
  2. Doopgedagtes
  3. Die Evangelienet

Die Evangelienet

DIE EVANGELIENET

Skriftuur: Matteus 13:44-48

‘n Skare mense luister met onverdeelde aandag na ‘n soort preek waarna hulle nog nooit van te vore na geluister het nie. Dit was asof die prediker alles geweet het wat hier in hulle binneste aangegaan het.

Die Boodskapper was Jesus self. Deur die pyn van verwerping en swaarky het hy die taal van die stukkende mens se hart kom aanleer. Hy kon goed preek omdat Hy ook diep seergekry het.

In die bestek van drie kort gelykenisse som Jesus die mens se geestelike reis van bekering tot die wederkoms op. Kom ons lees die eerste gelykenis:

Matteus 13:44 Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. As iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

Voordat ons die mooi boodskap van hierdie gelykenis kan waardeer, moet ons eers vasstel wat die belangrikheid en die betekenis van die koninkryk van die hemel is.

Matteus 6:33 Beywer julle allereers vir die koninkryk van God, en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Die soeke na hierdie koninkryk is belangriker as ‘n goeie annuteit of ‘n gesonde mediese fonds. My sekuriteit moet ek in ‘n ernstige soeke na die koninkryk gaan bekom.

Matteus 3:1,2 In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Pragtig! Dis iets wat naby ons wil kom. Dit was Johannes die Doper se boodskap. Kom ons hoor of Jesus saamstem:

Matteus 4:17 Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Die volgende groep mense wat ons oor die aard en dringendheid van die koninkryk gaan raadpleeg, is die dissipels. Kom ons hoor watter opdrag Jesus aan hulle gegee het:

Matteus 10:7 Gaan verkondig: “Die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

DIE BELANGRIKHEID VAN DIE KONINKRYK

Kom ons kyk na die samestelling van ‘n koninkryk. Eerstens moet daar ‘n koning, ‘n regeerder wees wat oor ‘n sekere gebied regeer.

Wie dink jy is die koning van die koninkryk van die hemele? Jesus. En wat is die gebied waaroor Hy wil heers? Die hele oppervlakte van ons lewens.

DIE KONINKRYK VAN DIE HEMELE

Wat ‘n heerlike gedagte. Die groot Uivoerende Direkteur van die ordelike heelal is so nederig dat Hy gewillig is om die Bestuurder van my verwarde deurmekaar lewe te kom word.

Charles Wesley kyk na sy opstandige, onregeerbare hart en hy bid

’n Hart wat sag en teder is – maak dit, o Heer, U troon;
waar net my God alleen kan spreek en Jesus in kan woon.

HOE WORD JESUS DIE KONING VAN MY HART?

Hoe word Jesus die koning van my hart? In die gelykenis verneem ons van ‘n boer wat ‘n stukkie huurgrond bewerk. Hy ploeg diep en deeglik en hy maak seker dat hy selfs die onbelowendste gedeeltes ook omploeg.

Skielik is daar ‘n ruk aan die ploegie en die donkie steek vas. Hy buk om die klip uit te grawe maar ontdek ‘n trommel vol kosbare skatte.

Omdat die wet hom verbied het om die skat sy eie te maak, maak hy die skat weer versigtig toe, en stap gou huis toe.

Matteus 13:44 …En omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

Voordat hierdie arm man die wettige eienaar van die skat kon word, moes hy eers die stukkie grond koop waarin dit begrawe was.
Dit het beteken dat hy alles wat vir hom kosbaar was moes verkoop teneinde genoeg geld vir die koopsom bymekaar te kry.

DIE SKAT IN DIE SAAILAND

Wie is die skat en die saailand in hierdie gelykenis? Die skat is niemand anders as Jesus nie. Hoe ontdek ek Hom? Wanneer ons die ploegskaar van ernsitge Bybelstudie in die grond van die Woord insteek en die tekse deur bepeinsing begin oopbreek.

Elke keer wanneer ek en jy die Bybel bestudeer, is Jesus daar om ontdek te word.

EIENAARSKAP GAAN “VERKOOP VAN ALLES” VOORAF

Maar voordat die man die skat uit die land kon haal, moes hy alles verkoop het wat hy besit het. Daar was sentimentele items.
Daar was sekere skadelike items in die kombuis. Op die boekrak het daar ‘n paar verkeerde boeke gestaan. En dan was daar ‘n polis wat hy moes afkoop.

Die Bybel sê hy het alles verkoop. Sal en ek jy dit kan regkry?

Jesus is nie goedkoop nie. Hy is nie teen ‘n afslagprys beskikbaar nie. Die prys wat op Hom staan, is die woordjie ALLES. Maar as jy Hom teen hierdie prys kan kry, bly dit nog steeds die grootste winskoop in die heelal.

DIE PêREL

In die eerste gelykenis sien ons die mens in ‘n aktiewe rol en Jesus in ‘n passiewe rol. Die mens doen die handeling en Jesus laat Homself deur die mens ontdek en besit.

DRANG OM BESIT TE WORD

Maar behalwe vir die drang in elke mens om iets kosbaars te besit, is daar ook die drang om besit te word. Ons wil behoort.

Ek wil aan ‘n klub of organisasie behoort. Ek wil aan my kerk behoort. Ek wil ook aan iemand baie spesiaals behoort.

Die drang om te besit vind sy hoogste vervulling in die besit van Jesus. En die drang om besit te word, vind ook sy hoogste vervulling in die gadagte dat ek deur Jesus besit word.

Die behoefte van die mens om besit te word, word in die gelykenis van die pêrel uitgebeeld.

Matteus 13:45,46 Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

DIE KOOPMAN EN DIE PêREL

Wie is die koopman, en wie is die kosbare pêrel waarna hy soek?

Lukas 19:10 Die Seun van die mens het immers gekom om te soek
en te red wat verlore is.

In elke sondaar sien Jesus ‘n kosbare pêrel wat Hy wil besit.

En hoeveel is Jesus die koopman bereid om vir ons te betaal?
Alles. En hoeveel is daardie alles? Dis iets wat ons deur die ewigheid gaan bestudeer.

DIE NET WAT IN DIE SEE GEGOOI WORD

En nou luister ons na die boodskap van die derde gelykenis.

Matteus 13:47-50 Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.

Hierdie gelykenis dek die tydperk vandat Jesus die Koning van ons hart geword het, totdat Hy eendag op die wolke gaan verskyn.

METODE VAN VISVANG

Die beeld wat Jesus gebruik om die Christen se verbly en heiligmaking in die kerk te beskryf, is baie paslik.

Twee boodjies roei ‘n ent in die water en dan laat hulle ‘n lang net sak. Die een punt is aan die een boodjie vasgemaak en die ander punt aan die ander boodjie.

Na ‘n rukkie begin hulle na die strand toe te roei. Terwyl die net deur die water sleep, versamel dit allerhande visse.

WIE IS DIE VISSE EN WIE IS DIEK VISTERMAN?

Wie sou u sê is die visse en wie is die visterman?

Matteus 4:19 Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en ek sal julle vissers van mense maak.”

Jesus is die primêre Visterman, maar Hy wil graag hê dat ek en jy ook saam met Hom moet visvang.

Die uitgooi van die net is die prediking van die evangelie.
Gelykenisse van Christus, bl. 103.

DIE VANGS

Voor sy wedergeboorte swem die mens rigtingloos in die groot lewenssee. Die strome van wêreldse aanloklikheid en die strome van sy eie gevalle aptyt neem hom net waar hulle hom wil hê.

En dan op ‘n dag bevind jy jouself in die evangelienet. En nou word jy skielik in ‘n nuwe rigting na ‘n hoopvolle toekoms getrek.

BOODSKAP VAN ‘N OU VIS IN DIE EVANGELIENET

Vandag wil ek as ‘n ou vis in die evangelienet van die aangename en die onaangename ondervindings in die net vertel.

Daar is net nie net goeie rein visse in hierdie net nie. Behalwe vir die geelvisse is daar ook babers, palings en krappe. Die goeie en slegte visse sal ongelukkig tot aan die einde in dieselfde net bymekaar wees.

Wanneer jy so oor die gehoor kyk, lyk almal soos pragtige geelvisse. Maar daar kom tye in wanneer die mense ongemaklik naby aanmekaar bring. Jy bevind jouself op ‘n benoemingskomitee of ‘n kerkraad.

Die net word vorentoe getrek en jy stamp teen die ander visse in die net. En dis dan wanneer jy ontdek dat daar nie net geelvisse in hierdie net is nie. Skielik ontdek jy die babers met hulle irriterende snorbaarde. Jy ontdek die krappe wat jy geniepsig knyp. Jy ondek die palings wat jou van agteraf pik.

WEGSWEM

In die verlede het ek gesien hoe pragtige geelvisse wegswem nadat hulle van die slegte visse in die net ontdek het. Hulle het gehoop dat hulle in die sogenaamde waters van vryheid gaan swem maar die roofvisse het hulle opgevreet. Dis baie beter in die net met sy babers, palings en krappe as buite die net in die waters van die dood.

OPROEP

Mag ek ‘n oproep op jou maak om nie uit die evangelienet weg te swem nie. Daar is niks met die net verkeerd nie. Die net word in die regte rigting gesleep, die strand van ewige veiligheid. Op daardie strand wag Jesus die Hoof Visterman om Sy geelvisse te verwelkom.

SLEGTE VISSE KAN GOEIES WORD EN GOEIES KAN SLEGTES WORD

Net nog ‘n woordjie van iemand wat al lank in die evangelienet is. Deur die jare het ek gesien hoe mense wat vir my aanvanklik soos babers, palings en krappe gelyk het, in geelvisse verander het.

Maar ek het ook ontdek dat mense wat vir my aanvanklik soos geelvisse gelyk het, in babers, palings en krappe verander het.

En dan was daar kere dat ek gevoel het ek kan die babers, die palaings en die krappe nie langer vat nie. Maar die geelvisse was altyd in die meerderheid en hulle het dit vir my die moeite werd gemaak om in die net te bly.

Daar was kere dat ek my soos ‘n baber, ‘n paling en ‘n krap gedra het. Ek was so teleurgesteld in myself. Daar was kere dat ek gevole het om maar die net te verlaat en weg te swem. Gelukkig het die geelvisse my aangemoedig om maar liewer in die net te bly.

BLY IN DIE NET

Jong dopelinge, ou lidmate. Bly in die evangelienet. Die snorbaard van die babers sal julle partykeer tot die dood toe irriteer. Maar onthou net eending. Aan die einde van hierdie net se bestemming, wag Jesus vir ons op die strand.

Die krappe gaan van julle vleis van waardigheid afknyp. Dis baie seer. Maar onthou net een ding. Jesus wag vir ons op die strand. Hy sal weet wat om met die krappe te doen.

Die palings in hierdie evangelienet is baie subtiel. Hulle gaan julle op ‘n tydstip wanneer julle dit nie verwag nie, agteraf pik. Party van hierdie palings is baie dom maar party van hulle is baie slim.

Moenie die evangelienet verlaat nie. Laat die palings jou maar pik. En onthou. Jesus wag op die strand van die wederkoms. Mag dit julle grootste motivering wees om in die evangelienet te bly.

Was this article helpful?

Related Articles