Emigrasie

EMIGRASIE – DOOPDIENS

Skriftuur: Rut 1:16,17

Die afgelope paar jaar het baie mense na die buiteland geimigreer. Tydens huisbesoeke by hierdie mense het ek agtergekom dat dit een van die pynlikste en moeilikste besluite is wat ‘n mens kan maak.

Dit vat nogal aan ‘n mens om vir alles wat vir jou bekend en dierbaar is, totsiens te sê. Dit verg ongekende moed om ‘n onsekere nuwe begin tussen vreemde mense op ‘n vreemde plek te gaan maak.

Dis teen hierdie agtergrond dat ons na die verhaal van Rut en Naomi kyk.

Asgevolg van ‘n kwaai droogte verlaat Elimelek en sy vrou Naomi hulle plaas op Bethlehem en gaan vestig in Moab.

Hulle twee seuns Maglon en Kiljon trou met twee Moabitiese meisies met die name Orpa en Rut.

Eers het die Elimelek die pa gesterf en toe sy twee seuns. Die drie weduwees het met groot hartseer alleen agtergebly.

Toe Naomi na tien jaar in die vreemde hoor dat die Here aan Sy volk uitkomste gegee het en daar weer oeste op die lande was, het sy besluit om na haar geboorteland terug te keer.

Op ‘n dag het sy ernstig met haar skoondogters gepraat:

“Kinders. Ma gaan terug na haar geboorteland. Dit sal goed wees as julle na julle ouerhuise terugkeer. En toe sê sy vir hulle die volgende:

Rut 1:9,10 Mag die Here vir julle elkeen weer ‘n goeie man en ‘n heenkome gee.” Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.”

Naomi het geweet hoe swaar dit is om te emigreer. Jy word maar altyd as ‘n uitlander en vreemdeling behandel. Jy sukkel met die taal en die kultuur en bly volksvreemd.

Orpa het haar skoonma gegroet en na haar godsdiens en haar mense teruggekeer.

Skriftuur: Rut 1:16,17 Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

NAOMI SE KARAKTER

U het sopas van die mooiste woorde in die hele Bybel gelees.

“Waar u gaan, sal ek gaan.” Rut was daarvan oortuig dat Naomi waarheid nagestreef het. Sy wou in haar skoonma se voetspote loop. Besef jy wat die impak van hierdie woorde is?

“Waar u bly, sal ek bly.” As jy die waarheid volg bly jy nie altyd in weelde nie. Rut was bereid om vir die waarheid van die Here op te offer. Dit vat baie om hierdie woorde te sê.

“U volk is my volk.” Rut wou by ‘n nuwe geestelik familie aansluit. Dis nie maklik om jou volk vir ‘n vreemde volk ter verruil nie.

Rut wou doen wat reg was en sou die prys daarvoor betaal.

En nou kom Rut met die heel belangrikste stelling:

“U God is my God.”

Rut het grootgeword met die idee dat die Moabitiese god Kemos die enigste ware god was. Sy is geleer om baie trots te wees op hierdie god.

Selfs die beroemde stad Karkemis langs die Eufraatrivier beteken: “Die Kaai van Kemos.”

Maar deur die jare het sy van haar skoonmoeder van Jahwe geleer. Hy was anders as haar god Kemos. Sy gebooie was volmaak en logies. Haar skoonma se God het nie verwag dat ouers hulle kinders vir Hom moes offer om van hulle sondes verlos te word nie.

Haar skoonma Naomi se God roep Sy volgelinge om op die sewende dag Sabbat mense en diere te laat rus wat deur die week hard gewerk het. Yahweh sê dis die teken dat Hy nie net ‘n Skepper is nie, maar ook ‘n Herskepper.

Rut se skoonma was nie ‘n volmaakte mens nie. Toe die teëspoede haar tref, het Sy God daarvoor blameer. Hoor wat sê sy vir haar skoondogters:

Rut 1:13 My lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai.

Toe Naomi uiteindelik in Bethlehem aankom, het sy haar verdraaide Godsbeeld ook met haar volksgenote gedeel.

Rut 1:20 Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21 My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.”

TENSPYTE

Hierdie verhaal leer vir my baie groot lesse. Tenspyte van Naomi se skewe Godsbeeld, het die waarheid waarvoor sy gestaan het, nogtans ‘n diep indruk op mense om haar gemaak.

Tenspyte van jou en my se gebreke, sien mense ons opregte strewe om God se waarheid uit te dra.

Rut 1:17 Waar Ma ook al heen gaan, sal ek saamgaan en waar Ma gaan bly, sal ek ook bly. Van nou af is Ma se volk ook my volk en Ma se God is my God. 17Waar Ma eendag te sterwe kom, kan ek ook maar doodgaan en daar begrawe word. Ek sweer voor die Here dat net die dood ons sal skei.”

Ten spyte van die gebreke in die aanbidders van die ware God was, het Rut besluit om by hulle aan te sluit.

Ons is nie altyd so wats wonders nie, maar ons waarheid en ons God is wonderbaar.

Rut se besluit om by die ware kerk van die dag aan te sluit, het verstommende en heerlike gevolge gehad.

Dawid en Salomo is uit haar nageslag gebore. Maar dis nie al. Eeue later is Jesus ook uit haar nageslag gebore.

Wanneer mense van waarheid oortuig raak en dit aanneem word Jesus op ‘n baie unieke wyse uit hulle besluit gebore.

KANDIDATE

Die kandidate wat gedoop gaan word, het kennis gemaak met die Naomis van jou gemeente. Hulle het nie volmaakte mense ontmoet nie, maar ‘n volmaakte waarheid.

Die kandidate wat gedoop word, sê vir hulle nuwe broers en susters:

“Die profetiese leerstellings wat julle aanhang, wil ons ook aanhang.”

“Julle waarheid, word ons waarheid; word ons deel van die adventvolk waaraan julle behoort.”

Rut, die nuwe kandidate, sê vandag vir Naomi, die gevestigde lidmate iets baie mooi. Wanneer Jesus binnekort Sy gehoorsame kinders hemel toe haal, wil hulle saam hemeltoe gaan.

Was this article helpful?

Related Articles