1. Home
  2. Jesus
  3. Gelykenisse Van Christus
  4. Ontmoed Die Bruidegom Deel 2 – Gelykenis 51

Ontmoed Die Bruidegom Deel 2 – Gelykenis 51

Die gelykenis van die tien maagde

Dit is tydens ‘n krisis dat die karakter openbaar word.

‘n Plegtige aankondiging is een nag gemaak:

Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Matteus 25:6. Toe maagde wakker word kon mens sien wie voorbereidings vir die troue gemaak het.

Altwee partye was onverwags betrap; maar een het voorsiening vir noodgevalle gemaak en die ander een het nie. Net so kan ‘n skielike en onverwagte ramp ons ook tref. Ons mag dan op daardie oomblik die dood in die oë kyk. Dis dan wanneer ons sal agterkom of ons nog geloof in die beloftes van God het.

Dis dan wanneer ons sal sien of ons deur die genade van God onderskraag word of nie. Die groot finale toets kom aan die einde van die wêreld se geskiedenis wanneer dit laat gaan wees om vinnig geestelike bates , olie, die Heilige Gees kan kry.

Die tien maagde wag in die aand van hierdie aarde se geskiedenis. Almal gee voor dat hulle Christene is. Almal voel geroepe; almal het ‘n naam, ‘n lamp en almal sê hulle dien God. Almal wag op Jesus verskyning. Vyf is nie gereed nie. Hulle sal nie in die banketsaal toegelaat word nie.

Op daardie laaste dag sal baie op toegang tot Christus se koninkryk aandring en sê: “Ons het voor U geëet en gedrink en U het in ons buurt geleer.”

“Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My.” Matteus 7:22,23 

En Jesus gaan baie baie baie trane stort.

Omdat hulle nie ‘n verhouding met Jesus opgebou het nie, het hulle nie die taal van die hemel aangeleer nie. Hulle is vreemdelinge vir die hemel se vreugde. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. 1 Korintiërs 2:11. Die hardseerste woorde wat ‘n mens kan hoor, is die woorde van oordeel: “Ek ken julle nie.” Hoekom nie?

Dis net omdat ons die stem van die Heilige Gees geïgnoreer het dat ons nie by die vreugdevolle skare by die bruilofsfees sal kan aansluit nie. Jy kan nie deel van daardie fees wees nie want die glans sal jou oë verblind en die hemelse musiek sal op jou dowe ore val. Sy liefde en vreugde sal geen koord van blydskap in die wêreld-verdoofde hart wakker maak nie. Jy word deur jou eie ongeskiktheid vir die geselskap van die hemel gediskwalifiseer.

In die gelykenis het die wyse maagde addisionele olie by hulle gehad. Hulle lampies het dwarsdeur die lang nag se gewag, helder geskyn. Dit het tot bruidegom se eer bygedra. En nog iets. Die lig het ook die pad na die huis van bruidegom en na die bruilofsfees verlig.

Dis hoe ons ook die helder mooi lig die Woord in ‘n donker wêreld moet laat skyn. Deur die Heilige Gees word Sy Woord ‘n lig wanneer dit ‘n veranderende krag in die mens se hart teweegbring. Deur die beginsels van Sy Woord in ons harte te plant, ontwikkel die Heilige Gees die karaktereienskappe van die Here. Dis baie belangrik dat die lig van Sy heerlikheid, van Sy karakter, in ons lewens moet skyn. Ons moet God verheerlik. Ons moet die pad na die Bruidegom se huis, die stad van God, die feesmaal van die Lam verlig.

Die koms van die bruidegom het om middernag, die donkerste uur, plaasgevind. So sal die koms van Jesus ook tydens die donkerste uur van hierdie aarde se bestaan plaasvind. Die dae waarin Noag en Lot geleef het, vertel vir ons hoe dit net voor die wederkoms gaan wees.

Satan se bose optrede kan duidelike in die toenemede morele duisternis gesien word. Die Duiwel is nie net besig om die hele wêreld gevange te neem nie, sy mislyding infiltreer ook die kerke gemeentes waar mense voorgee om God te dien.

Die mislyding gaan die donkerste geesteliek en kriminele toestand veroorsaak. Vir God se kinders gaan dit ‘n nag van benoudheid, beproewing, trane en vervoling terwille van die waarheid wees. Maar God se lig sal die duister verdryf. God “Laat lig uit die duisternis skyn.” 2 Korintiërs 4:6.

Toe die aarde woes en leeg was, en duisternis op die wêreldvloed was, het die Gees van God op die waters gesweef. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 

Tydens die komende geestelike duisternis, sal God se Woord weer kragtig uitgaan en daar sal geestelike lig wees. Hy sal weer sê  “Laat daar lig wees!” Hy sê aan Sy volk:  Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Jesaja 60:1.

“Want kyk”, sê die Bybel “die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.” Dit is die duisternis van ‘n verdraaide begrip van God wat die wêreld omhul. Die mensdom het die kennis van Sy liefdevolle karakter verloor. Dit is verkeerd verstaan ​​en verkeerd geïnterpreteer.

Dis in hierdie tyd dat ‘n pragtige boodskap van God se karakter verkondig gaan word. ‘n Boodskap van Sy reddende genade moet ‘n globale klank en lig vertoning word. Die lig van Sy glorie, die lig van Sy goedheid, Sy genade en waarheid moet die duisternis van misleiding verdring. Die profeet het hier komende verkondiging van God se karakter so mooi beskryf:

o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. Jesaja 40:9,10

Mense wat vir die koms van Bruidegom wag, moet aan die wêreld verkondig: “Hier is julle God!” Die laaste strale van God se lig van genade, wat aan die wêreld gegee moet word, is ‘n openbaring van Sy karakter van vergewende liefde. God se kinders moet die prag van daardie glorie uitstraal.

Ons lewens moet wys wat die genade van die Here in ons lewens verrig het. Die lig van die Son van Geregtigheid moet in ons goeie dade, ons woorde van waarheid en ons onselfgsugtige dade en heiligheid gesien word.

Jesus, die Uitstraler van die die Vader se heerlikheid, het gekom om die donker wêreld te verlig. Hy het as verteenwoordiger van Sy Vader gekom en van Hom is geskrywe dat Hy gesalf is “met die Heilige Gees en met krag,” en “omgegaan het om goed te doen”. Handelinge 10:38. Luister wat Jesus in die sinagoge by Nasaret gesê het:

Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. Lukas 4:18,19 Dit is dieselfde werk wat Hy disippels gevra het om te doen.

“Julle is die lig van die wêreld.” het Hy gesê. “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik. Matteus 5:14,16. Dit is die werk wat die profeet Jesaja ook oor geskryf het:

Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Jesaja 58:7,8

Dus, in die nag van geestelike duisternis moet God se heerlikheid deur Sy kerk skyn om bedruktes op te beur en die wat treur te vertroos. Oral kan die geween van slagoffers in ‘n wêreld van pyn en hartseer gehoor word. Net waar mens kyk sien jy slagoffers wat deur die wrede houe van sonde gekneus is.

Ons moet  met groot sakdoeke van troos inspring om mense se trane te gaan afdroog. Dieselfde sakdoek kan gebruik word om hulle wonde te verbind. Daar moet meer omgeewerk gedoen word as wat daar gepreek word. Ons moet die hongeres voed, die naaktes met klere voorsien en ‘n plan maak om dakloses te help. Maar ons word gevra om meer as net op ‘n fisiese dimensie te help.

Die pynliker donker behoeftes van die mens se hart kan net deur die liefde van Jesus verlig word. As Jesus in ons hart woon, sal ons harte van goddelike omgee oorloop. Die verseëlde fonteine van goddelike liefde gaan ontseël word.

Die Here vra ons om meer te doen as om net na die fisiese behoeftes van mense om te sien. Soos, ‘n vriendelike glimlag, troos woorde en ‘n warm handruk is medisinaal. Wanneer Jesus siekes genees het, het Hy hulle aangeraak. Ons moet Sy voorbeeld volg.

So baie mense het boedel oorgegge. Bring vir hulle die sonskyn van jou omgeeliefde. So baie het moedeloos geword. Praat hulle moed in en bid vir hulle. Baie soek na die Brood van die lewe. Lees vir hulle ‘n paar van die mooi psalms en die vier evangelies. Baie is sielsiek wat op geen aardse medikasie reageer nie. Bid vir hulle en bring hulle na Jesus.  Vertel hulle van die balsem van Gilead en van Jesus die Groot Geneesheer.

Lig is ‘n seën, ‘n universele seën wat sy skatte op ‘n ondankbare, onheilige en moedverlore planeet uitstort. Net so is dit met die lig van die Seun van Geregtigheid wat Hy op ons wil uitstort. Die hele wêreld is in die kombers van duisternis en sonde en pyn toegedraai. Wat hulle nodig het, is die lig van God se liefde. Niemand mag van die lig van die troon van die hemel uitgesluit word nie. Die boodskap van hoop en genade moet na die einde van die aarde geneem word. Enigeen kan die krag van God bekom en vrede met Hom maak. Hy maak graag vrede met Sy voormalige vyande.

Die nie-gelowige mag nie langer in middernagtelike duisternis verdwaal nie. Die duisternis moet voor die helder strale van die Son van Geregtigheid verdwyn.

Die mag van die hel is oorwin. Maar niemand kan gee wat hy nie ontvang het nie. In die werk van die hemel kan die mens mens niks voortbring nie. Niemand kan uit homself ‘n ligdraer van God wees nie. Dit was die goue olie wat deur die hemelse boodskappers in die goue buise laat vloei het. Vandaar is dit vanaf die goue kan na die  lampe in die heiligdom gelei. Die olie het voordurend die helder lig laat brand.

Dit is die liefde van God wat sonder ophou na die mens vloei wat hom in staat stel om lig uit te straal. In die harte van almal wat deur geloof aan God verbind is, vloei die goue olie van liefde vrylik. Stralende goeie werke is die gevolg van opregte hartediens vir die Here. As almal gewillig sou wees om Hom te ontvang sou almal met die Heilige Gees vervul word.

Dit is die voorreg van elke liewe mens om ‘n lewende kanaal te wees waardeur die Here die rykdom van Sy genade, die onnaspeurlike rykdom van Jesus se liefde aan die wêreld kan oordra. Daar is niks wat die Here meer begeer as om verteenwoordigers te hê wat Sy Gees en karakter aan die wêreld voor te hou nie.

Daar is niks wat die wêreld so nodig het as ‘n openbaring deur menslike kanale, van die Verlosser se liefde nie. Die ganse hemel wag op kanale, ek en jy, waardeur die heilige olie gegiet kan word om vreugde en seëninge vir die mensehart te bring.

Jesus het alles vir Sy kerk moontlik gemaak dat Sy kerk ‘n herskape liggaam kan wees. Hulle moet in Jesus die Lig van die wêreld, die glorie van Emmanuel geklee wees. Dit is die Here se doel dat elke Christen met die atmosfeer van lig en vrede omring sal wees. Hy wil hê dat ons Sy eie vreugde in ons lewens sal ervaar. Die inwonende Gees sal deur die uitvloei van hemelse liefde geopenbaar word.

Die goddelike volheid sal deur die toegewydes na ander om hulle vloei. Die Son van Geregtigheid het “genesing onder sy vleuels.” Maleagi 4:2. Van elke ware disippel moet daar ‘n invloed van lewe, moed, ondersteunig en liefdevolle genesing vloei.

Die godsdiens van Jesus bestaan nie niet uit die vergifnis van sonde nie. Dit beteken ook die verwydering van sonde en om die vakuum met die gawes van die Heilige Gees te vul. Dit beteken dat die hart van selfsug gereinig is en met die blywende teenwoordigheid Jesus gevul is. Wanneer Jesus in die hart regeer is daar reiheid en verlossing van sonde.

Die glorie en die volheid van die evangelie word in die lewe vervul. Wanneer ons die Verlosser aanneem is daar volkome vrede, volkome liefde en gerusstellende versekering. Die skoonheid en geur van die karakter van Jesus wat in ons openbaar word, getuig dat God waaragtiglik Sy Seun in die wêreld vir ons redding gestuur het.

Jesus sê ons moet nie streef om te skitter nie. Hy sê: Laat julle lig skyn. Wanneer jy die genade van God aanvaar het, is die lig in jou. Verwyder daardie verkeerde dinge in jou lewe en die heerlikheid sal in jou geopenbaar word. Die lig sal die duisternis penetreer en verwyder.

Die openbaring van God se glorie sal die hemel so naby mense bring dat hulle die skoonheid van die Verlosser sal sien wat in harte van Sy kinders woon.

Mense sal deur die glorie van die inwonende Jesus aangegryp word. En in strome van lof en danksegging van die baie siele wat wat vir God gewen is, sal weer na die Groot Gewer terugvloei.

“Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op.” Jesaja 40:1. Hierdie boodskap is vir almal wat uitgaan om die Bruidegom te ontmoet. Jesus gaan met groot krag en heerlikheid kom. Maar dis nie al nie. Hy word met die glorie van die Vader vergesel. En Hy word deur die triljoene magtige skitterende engele vergesel. Wat ‘n skouspel! Terwyl die hele wêreld in duisternis gehul is, gaan daar lig in elke huis van die kinders skyn.

Hulle gaan die eerste verskyning van die lig van Jesus se koms aanskou. Wat ‘n oomblik! Die rein lig sal uit Sy heerlikheid skyn, en Christus die Verlosser sal bewonder word deur almal wat Hom gedien het. Terwyl die godelose van hierdie onbeskryflike heerliheid vlug, gaan Sy kinders jubel.

Job skryf die volgende oor die wederkoms van Jesus: “Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe.” Job 19:27. Jesus was ‘n daaglikse vriend vir Sy getroue volgelinge. Hulle het intiem naby Hom geleef en die kontak was ononderbroke. Die glorie van die Here het oor hulle verreis.

In hulle is die lig van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus weerkaats.

Nou jubel hulle in die helder strale van die glorie van die Koning in Sy majesteit. Hulle is gereed vir die heerlike geselskap van die hemel want hulle het die hemel in hulle harte. Wat is in ons harte?

Met die helder strale van die Son van Geregtigheid wat op hulleskyn, gaan hulle die Bruidegom met die volgende woorde tegemoet: En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp. Jesaja 25:9

En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. Openbaring 19:6,7   

En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. 

Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. Openbaring 19:8,9   

Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou. Openbaring 17:14  

VOLGENDE KEER

Beloning van genade

Was this article helpful?

Related Articles