Abraham – Inleiding

Skriftuur: Hebreërs 11:8-17

1. Dit was die jaar 1955 vC. Die sondvloed (2407 vC) het 352 jaar terug in die verlede gelê. Noag se dood, 102 jaar gelede was nog vars in die meeste mense se geheue.

Die enigste voorsondvloedse persoon wat nog op hierdie stadium gelewe het, was Sem, een van Noag se drie seuns. Hy was 452 jaar oud.

GODSDIENSTONEEL

Voordat ons na die geboorte van ‘n baie besondere babatjie kyk, net iets aangaande die godsdienstige toneel.

2. Na die sondvloed het die nageslag van Gam en Jafet opstandig geword en politeïste geword, afgode aanbid. Net Sem en sy nageslag het monoteïsties gebly, een God aanbid.

3. Maar die vloedgolf afgodery het ook by hulle ingespoel en baie gou het hierdie mense ook afvallig begin raak. Dis ‘n baie hartseer verhaal. Die mens is tot die ergste sondes in staat.

4. Sem moes toekyk hoe selfs Tera, sy agter agter kleinkind begin het om die maangod van Ur te aanbid. Dit moes hom ontsettend ontstel het. Hoe moes hy nie met die Here oor hierdie afvalligheid geworstel het nie.

5. Sou die draers van waarheid heeltemal uitsterf? Nee. God het nog altyd ‘n oorblyfsel gehad wat gewillig was om Hom te verteenwoordig.

Is jy deel van Sy oorblyfsel? Is ek deel van Sy oorblyfsel? Draers van Sy waarheid?

DIE GEBOORTE VAN ABRAH

6. “Tera” roep die gelukkige vrou wat so pas ‘n kindjie in die wêreld gebring het. “Kom kyk. Dis ‘n pragtige ou seuntjie. Wat gaan ons hom noem? Miskien sal Abram ‘n goeie naam wees.”

7. “Jy weet my vrou, ek het etlike sakemanne van Qatna, Ebla, Mari en Aleppo met die naam van Abram ontmoet.

“Selfs van plekke soos Ugarit het ek mense met die naam Abram raakgeloop. Kom ons gee vir ons hierdie internasionale bekende naam.”

8. “My man, wat beteken die naam Abram?” Tera verduidelik vir sy vrou dat die naam beteken: Abram = Die vader is verhewe.

Dit was die ouers se wens dat hulle seun eendag ‘n verhewe vader sou wees. Kom ons lees wat die Bybel aangaande hierdie baie interessante familie skryf:

9. Genesis 11:27 Hier volg die familiegeskiedenis van Tera. Tera het die vader geword van Abram.

OPVOEDING VAN ABRAH

10. Wat se opvoeding dink jy het Abram gekry? As jou ouers dubbel standaarde gehad het, sal jy verstaan. Aan die een kant het hulle vir Abram van die Skepper God van Sem en Noag, Metusalem, Henog, Set en Adam vertel.

11. Maar aan die ander kant het hulle vir hulle kind van die Sumeriese gode en van die maangod van Ur van die Chaldeërs vertel.

Hulle het hulle kind aangemoedig om die God van die skepping te dien, maar terselfdertyd ook die gode van die Sumeriërs. Die woord vir hierdie godsdienstige vermenging, is sinkretisme.

12. As jy geestelik bankrot wil speel, destyds en vandag moet jy ‘n kompromie met die verkeerde godsdiens aangaan. Dit is die beste resep vir ‘n mislukte godsdiensbele- wenis.

Wat se voorbeeld sien jou kind in jou? Kom ons lees wat die Bybel oor Tera skryf:

13. Josua 24:2 Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders – onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor -anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien.

WAT HET ABRAM GEHELP OM DIE WARE GOD TE GEHOORSAAM?

14. Wat dink u het Abram gehelp om die regte keuse te maak en die ware God te aanbid?

Ek staan by die reuse ziggoerat by Ur. In my verbeelding kan ek sien hoe Tera en sy gesin teen die trappies uitstap om die maangod te aanbid.

“Abram. Kom jy saam met ons? Dis heerlik hier bo. Almal is gelukkig en ‘n mens kry ‘n lekker gevoel as jy die maangod aanbid.”

“Nee Pa. Ek het besluit om die God van Sem en die ander godsdienstige voorvaders te dien.”

SET SE INVLOED OP ABRAM

Vanaf Abram se geboorte het oupa Sem nog 148 jaar geleef. Die Bybel sê nie vir ons of Sem met Abram kontak gehad het nie maar ek glo hulle het met mekaar gesels.

15. Sem het vir hom vertel hoe die wêreld voor die sondvloed gelyk het. Hy het ook vir hom van Metusalem vertel wat so oud geword het.

“Oupa Sem. Het Metusalem regtig 969 jaar oud geword?”

“Ja my kind. Oupa Metusalem het my van Adam vertel wat toe nog geleef het. Hy sê Adam het hom alles vertel van hoe dit was voordat hulle in sonde geval het.

16. “Oupa Adam het hom vertel hoe hy in ouma Eva dikwels na die paradys toe geloop het en daar gaan staan en huil het. Ongelukkig was daar ‘n engel met ‘n swaard by die tuin en hulle kon nooit weer terug gaan nie.”

OPROEP TOT GETROUHEID

17. Meer as eenmaal het oupa Sem vir Abraham uitgedaag om aan die ware God te aanbid en Sy gebooie te bewaar. Hy het hom vertel hoe God eendag vir die mensdom sou kom sterf.

Sem het vir Abram geleer om ‘n lam te offer en vir hom die pragtige boodskap van verlossing deur genade verduidelik. In Abram se later lewe het hy altare ter ere van die ware God gebou en daarop geoffer.

TORING VAN BABEL

18. Wanneer mens Babilon besoek, kan jy na die fondasies van die toring van Babel gaan kyk. Het oupa Sem vir die jong Abram van die verhaal van die vernietiging van hierdie ziggoerat vertel? Ek dink so.

“My kind. Kort nadat ons uit die ark gekom het, het die mense al begin afvallig word.”

En as oupa Sem ‘n kopie van die boek Patriarge en Profete gehad het, sou hy vir Abram die volgende sitaat op bladsy 116 gelees het:

19. “’n Tyd lank het Noag se nakomelinge tussen die berge gebly waar die ark tot rus gekom het. Namate hulle vermenigvuldig het, het afvalligheid verdeeldheid veroorsaak.

20. “Diegene wat geneig was om hulle Skepper te vergeet en al die beteuelinge van Sy wet af te skud, was steeds gekwel deur die leer en die voorbeeld van hulle godvresende bure, en mettertyd het hulle besluit om hulle van die aanbidders van God te skei.

21. “Hulle het toe na die vlakte van Sinar, aan die oewers van die Eufraatrivier, gereis. Die skoonheid van die omgewing en die vrugbaarheid van die grond het hulle bekoor, en hulle het besluit om hulle op daardie vlakte te vestig.”

VERNIETIGING

Oupa Sem vertel vir Abram hoe die bou van die toring van Babel ‘n uittarting van God se gesag was. Hierdie mense wou vir hulle self ‘n naam maak, pleks van God te aanbid.

Luister hoe het God in hierdie saak opgetree:

22. Genesis 11:13 Die hele wêreld het net een taal gepraat. Toe die mense ooswaarts getrek het, het hulle uitgekom by ’n vlakte in Sinar en daar gaan woon.Hulle het op ’n keer vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene en ons brand hulle hard.” Hulle het toe stene in plaas van klip gebruik en asfalt in plaas van klei.

23.Vers 4 Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

24. Verse 5,6 Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het, en toe sê Hy: “Hier is hulle een volk en almal het een taal. Hulle het nog maar net begin om iets te doen. Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie.

25. Verse 7,8 Kom laat Ons afgaan en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie.” Die Here het hulle toe van daar af verstrooi oor die hele aarde, en hulle het opgehou met die bou van die stad.  

26. Vers 9 Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.

27. Die duiwel wou die kennis van die ware God heeltemal uitwis. Maar die Skepper van hemel en aarde sou dit nie toelaat nie.

Hy wou aan die inwoners van die nuwe goddelose wêreld wys dat Hy ‘n God van liefde is en dat net Sy wette en Sy beginsels ware geluk bring.

Hy wou ‘n volk uitroep wat Hom sou verteenwoordig. Hy sou nie toelaat dat die Satan in die ganse mensdom invaar en hulle verwoes nie.

Miskien het Sem ook vir Abram die volgende sitaat uit die boek Patriarge en Profete gelees:

28. “God het nog altyd ‘n oorblyfsel behou om Hom te dien. Adam, Set, Henog, Metusalem, Noag, Sem, het die kosbare openbaringe van Sy wil onafgebroke van eeu tot eeu bewaar. Tera se seun Abram het hier heilige pand geërf.

29. “Die afgode het hom van alle kant gelok, maar tevergeefs. Onder die ontroues was hy getrou. Hy het nie toegelaat dat die heersende afvalligheid het hom besoedel nie. Abram het met standvastigheid aangehou om die ware God aanbid.” Patriarge en Profete Bld. 122.

30. Wanneer mens by Ur in Irak besoek, wys die gids vir jou waar die woonbuurtes was. Terwyl ek hier gestap het, het ek aan ‘n baie interessante gedeelte in die boek Handelinge gedink wat op hierdie plek afgespeel het:

31. Handelinge 7:1,2 Die hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar?” Toe sê Stefanus: “Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het.

32. Verse 3,4 God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’ Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon.

WAAROM WEGTREK

Waarom moes Abram van Ur af wegtrek? Wat was met sy Babiloniese omgewing verkeerd?

33. Wanneer mens die argeologiese gegewens van Abram se tyd lees, raak jy geskok.

Mense het die offer van die lam vir die offer van hulle eie kinders verruil. Oral in die antieke wêreld vind jy die altare waar ouers hulle kinders geoffer het.

34. God wil nie hê ons moet ‘n menslike offer vir Hom bring vir ons verlossing nie. Die verlossingsplan sê Hy wil vir ons ‘n goddelike offer bring – die Seun van God.

Maar dis wat valse godsdiens doen. Hy verwoes jou edelheid en hy bring jou by die plek dat jy selfs dit wat vir jou die dierbaarste is, jou eie kind, sal prysgee om jou gevalle drange te bevredig.

Die aanbidding van Abram se dag het met tempelprostitusie gepaard gegaan.

Sonder dat ‘n mens dit agterkom, het jou omgewing ‘n subtiele invloed op jou. Dit wat jou aanvanklik ontstel het, ontstel jou later nie meer nie.

Wanneer dit gebeur, is dit tyd om weg te trek.

KOM UIT HAAR UIT MY VOLK

35. En hier in die suide van Babilon word die eerste oproep op God se ware kinders gemaak: “Kom uit haar uit my volk.”

Abraham het geluister en die stad van Ur met al sy besoedeling verlaat en voortaan net in tente gewoon. Hy het ‘n swerwer geword – ‘n beduin.

36. Wanneer ek hierdie mense in die midde ooste sien, dan dink ek aan Abram. Hy het al die geriewe van die mees gesofistikeerdste stad van die dag verlaat, en tot sy dood geswerf.

OPENBARING SE OPROEP

Daar is ‘n baie interessante parallel tussen God se oproep dat Abram Babilonië destyds moes verlaat, en ‘n oproep aan jou en my in hierdie laat uur:

37. Openbaring 18:4,5 Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.Haar sondes het tot aan die hemel opgehoop, en God het haar ongeregtighede onthou.

38. Indien jy in ‘n omgewing is waar jy aan die sondes van Babilon blootgestel word, is jy op baie gevaarlike grond.

Babilon gaan vir haar sondes gestraf word en as ek en jy deel van hierdie goddelose stelsel is, gaan ons saam met haar gestraf word.

“Kom uit haar uit” my volk, sê die Here. Breek met alles wat verkeerd en vuil is.

Gaan bly in ‘n tent soos Abram terwyl jy wag vir die stad waarvan God die boumeester en oprigter.

Moenie in Babilon tuis voel nie.

OPROEP

39. Handelinge 7:3,4 God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’ Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon.

Net nadat die Here persoonlik vir Abram geroep het om uit Ur weg te trek, het hy dit met sy Pa Tera gaan bespreek.

40. Eers het die pa die seun genooi om afgode te aanbid. Nou nooi die seun sy pa uit om weg te trek en die ware God te gaan aanbid.

41. “Pa. Die Here het my geroep om uit hierdie goddelose stad pad te gee. Die invloed van my vriende gaan teen die opleiding indruis wat die Here my wil gee.

“Omdat ek nou in ‘n spesiale sin aan die Here behoort, wil ek onder vreemdelinge gaan woon. Hulle moet sien dat my godsdiens ‘n verskil in my lewe gemaak het.

“Pa. Op hierdie stadium is ek die enigste mens op aarde wat net een God aanbid, en dis die ware God, die Skepper van Hemel en aarde.”

Kom ons lees hoe Tera op Abram se oproep gereageer het:

42. Genesis 11:31,32  Tera het sy seun Abram geneem en ook sy kleinseun Lot seun van Haran, en sy skoondogter Sarai die vrou van sy seun Abram, en saam met hulle uit Ur van die Galdeërs weggetrek om na Kanaän toe te gaan.

43. Vers 32 Maar hulle het net tot by Haran getrek en in dié stad gaan woon. Tera was twee honderd en vyf jaar oud toe hy in Haran gesterf het.

TWEEDE OPROEP

44. Ons weet nie hoe lank Abram en sy familie in Haran vertoef het nie. Ons weet nie waarom hulle nie sommer aangehou trek het nie.

Terwyl ek by Haran besoek het, het ek aan die tweede oproep gedink wat die Here op Abram gemaak het:

45. Genesis 12:1,2 Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees.

46. Verse 3,4 Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het.

47. By die graf het dieselfde Goddelike stem wat in Ur met Abram gepraat het, weer ‘n keer met hom gepraat. Hy kon nie in Haran bly nie want die maankultus was ook daar beoefen.

Hierdie keer moes hy ook van sy familie afskeid neem en dit was nie so maklik nie.

48. Abram word die vader van die gelowiges genoem. Mag ons deur Gods genade gewillig wees om die pad van absolute gehoorsaam te bewandel wat Abram gewandel het.

Volgende keer stap ons verder op hierdie geloofsheld se spore.

Was this article helpful?

Related Articles