Abram: Deel 2

1. In ons vorige lesing het ons plekke soos Ebla en Ugarit besoek. Hier het ons die naam van Abram ontdek.

Die feit dat die naam in die antieke tye algemeen gebruik is, maak die Bybel se inligting oor Abram outentiek.

2. Wanneer mens deur die groot museums van die wêreld stap, kom jy op merkwaardige fondse af.

In die Babiloniese geskrifte kry mens ook die naam Abram.

3. Argeoloë het ‘n baie interessante ontdekking in Egipte gemaak.

In ‘n 19de eeu vC. Egiptiese teks word daar na ‘n prins in Palestina verwys. Raai wat was sy naam? Abram. Was dit miskien die Abram van die Bybel?

4. Hier iewers tussen die ruïnes van Ur het Abram die stem van die Here duidelik gehoor.

Wat was die boodskap?

Trek weg van Ur. o

Hoekom?

5. Sien jy die maan?

Die invloed van maanaanbidding asook sy vriende, kon sy geestelike groei belemmer.

6. Handelinge 7:1-3 Toe sê Stefanus: “Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’

7. Ek het in ‘n museum by Kayserie op hierdie bad afgekom. Dis hoe maar een van die geriewe waaraan Abram en Sara gewoond was. Hoe het hulle gereageer toe die Here hulle geroep het om Ur met sy geriewe te verlaat?

Hebreërs 11:8 Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 

KULTUURHISTORIESE AGTERGROND VAN UR

8. U kyk hier na die naam Ur-namu wat ek op die ziggoerat ontdek het.

Hy is ‘n koning wat net voor Abram se geboorte die indrukwekkende ziggoerat of tempeltoring voltooi het. Urnamu was ook die stigter van die beroemde derde dinastie van Ur. (2135 tot 2025 vC.)

9. Terwyl ek na die beste preserveerde ziggoerat in die wêreld kyk, dink ek aan Abram.

Abram kon saam met die massas die maangod Sin aanbid het.

Hy word die enigste manspersoon wat besluit om uitsluitlik die God te aanbid wat die hemel en aarde geskep het.

10. Wat van Tera, Abram se pa? het saam met ander afgodedienaars die trappies van die ziggoerat opgeklim om die maangod Sin te aanbid. Kom ons lees dit in

Josua 24:2 Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders – onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor – anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien.

11. Wat ‘n godsman! Tenspyte van die feit dat Tera die maangod Sin aanbid het, was Abraham gehoorsaam aan die gebooie van die Here.

Soos die Here destyds mense soos Abraham tot volkome toewyding geroep het, so roep Hy ons ook vandag tot volkome toewyding.

DIE ROETE NA HARAN

12. Die roete wat die geselskap van Abram na Haran geneem het, was heeltyd langs die Eufraatrivier. Een van die plekke wat hulle by aangedoen het, was Babilon.

13. Asgevolg van die watervlak wat gestyg het, kon argeoloë tot dusver nie by die heel vroegste beskawings uitkom nie.

Hopelik sal ons later meer aangaande die Babilon van Abram se dag ontdek.

14. Op pad na Haran het hulle by Mari aangedoen.

Was daar regtig ‘n plek soos Haran?

Op een van die tablette word daar na die stede van Nahor en Haran verwys.

15. Uiteindelik het die geselskap hier by Haran uitgekom. Dit was ‘n baie lang ent wat hulle gereis het.

Genesis 11:31 Tera het sy seun Abram geneem en ook sy kleinseun Lot seun van Haran, en sy skoondogter Sarai die vrou van sy seun Abram, en saam met hulle uit Ur van die Galdeërs weggetrek om na Kanaän toe te gaan. Maar hulle het net tot by Haran getrek en in die stad gaan woon.

16. Tera en Abram het langs die Eufraat- en Tigrisriviere na Haran getrek. En soos u sien, daar was volop water en volop kos.

17. Waarom het die geselskap by Haran tot stilstand gekom? En waarom gebeur dit met tye met ons?

18. Dit mag ook wees dat die mooi omgewing hulle daar laat vertoef het. Die waterrykheid van Haran het my nogal opgeval. Ek glo nie Abraham sou omgegee het om permanent in hierdie kultuurstad te bly nie.

Haran het op die handelsroetes tussen Sirië en Babilon en tussen Egipte en klein Asië gelê. Dit mag ook wees dat Abram eers ‘n bietjie ekstra geld wou maak voordat hy na die beloofde land sou gaan.

19. Daar is een iets wat ‘n mens opval wanneer jy Haran besoek, en dis hierdie interessante kegeltipe modderhuisies. Dit mag wees dat Abraham en sy familie vir hulle sulke huisies gebou het. Kom ons lees wat die argeoloë hieroor skryf:

20. “Were built with the bricks gathered from the ruins of historic Haran.” Dis baie interessant. Om te dink dat die bakstene wat hier gebruik is, uit die tyd van Abraham dateer.

21. Die toeris kan tans van hierdie tradisionele Haran wonings besoek en kyk hoe dit binne lyk. Is dit miskien hoe Abraham en sy pa Tera se huis gelyk het?

ABRAHAM SE TWEEDE TOETS

22. Maar Abram was al reeds 75 jaar oud. Kom ek lees vir u  wat die Here vir Abram gevra het om op daardie ouderdom te doen:

Genesis 12:1 Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.”

23. Die muurprente van die antieke beskawings vertel ons dat families ontsettend na aan mekaar was. Jy breek nie sommer familiebande nie.

Abram word gevra om sy mense wat vir hom dierbaar was, vir goed te verlaat. Hy gehoorsaam.

24. Ek kyk na ‘n skaapwagter in hierdie mooi omgewing en ek dink aan die felheid van die toets

Met intense pyn verlaat hy die koestering van geliefdes vir die ongemak van vreemdelinge. Waarom?

Waarom het God in Jesus die hemel verlaat?

25. Hy sou die hoogtes van sy eie kultuur verlaat net om kennis te maak met ‘n baie laer kultuur. Waarom?

Hy moes God se karakter met ‘n lam op die altaar gaan openbaar. Tipologies?

26. Hebreërs 11:8 Omdat Abram geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.

ABRAM TREK NA KANAAN

27. Naby Haran het ek ‘n baie interessante stad met die naam van Sanliurfa besoek.

Die Muslims noem die plek Peyganberler Sehri en dit beteken “Stad van die profete.”

Wanneer jy met die inwoners praat sal hulle vir jou sê dat profete soos Job, Abram, Jetro, Josef en Moses hier besoek het.

28. Net agter die Hason Pasa Camil-moskee kan mens die sogenaamde graf van Abram besoek. Dit word die Mevlid Halil Camil genoem. Is dit korrek?

29. Wat sê die Bybel? Waar is Abram begrawe?

In die spelonk van Magpela in Hebron.

30. Genesis 25:8,9  Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.  En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,  die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara.

31. Terwyl ek hier staan en peins, dink ek aan Abram:

“Dit was nie ‘n ligte beproewing om te trek nie. Dit was nie ‘n geringe opoffering waaraan Abram onderworpe was nie. Sterk bande het hom aan sy land, sy familie en sy huis gebind.

32. Hier by Nemrut in Turkye kan ‘n mens na uitstalling van standbeelde van belangrike mense kyk.

Maar nie een van hulle is gevra om hulle land en geliefdes te verlaat nie.

Kom ons lees verder aangaande Abram se reaksie toe die Here hom geroep het:

33. “Nogtans het hy nie geaarsel om die roepstem van die Here te gehoorsaam nie. Hy het geen vrae aangaande die beloofde land gehad, soos: is die grond vrugbaar en die klimaat gesond; is die omgewing aangenaam en kan mens daar ryk word nie.

34. Wanneer mens na die standbeelde van die mense by Nemrut kyk, dan lyk dit nie of hulle baie gelukkig was nie. Kom ons hoor hoe Abram sy geluk ervaar het toe God hom geroep het:

“God het gespreek en Sy dienskneg moes gehoorsaam; vir hom was die gelukkigste plek op aarde die plek waar God hom wou hê.” PP 126

ABRAM VERTREK NA KANAAN

35. Terwyl ek hier by Haran staan, dink ek die dag toe Abram en sy mense hier weggetrek het. Luister hoe beskryf Moses dit:

Genesis 12:4 Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abraham was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het.

36. Die ruïnes van Haran is deel van Abram se geskiedenis.

Vers 5. Hy het sy vrou Sarai en sy broerskind Lot en al die besittings wat hulle bymekaargemaak het en al die slawe wat hulle in Haran aangeskaf het, saamgevat en hulle het weggetrek na Kanaän toe.

37. Nadat hulle Haran verlaat het, beweeg hulle langs die Balikhrivier in ‘n suidelike rigting totdat hulle by die Eufraatrivier uitkom.

38. Terwyl ek langs hierdie rivier staan, sien ek hoe die Patriarg met sy mense vir die volgende 100 kilometers stroomop stap.

Dis ‘n vreemde ondervinding. Abram bid: “Ag Here. Help my om u te volg al weet ek nie presies wat op hierdie vreemde pad vir my wag nie.”

39. Dis ‘n baie groot belewenis om op hierdie geskiedkundige plekke te stap.

Hoe het Sarai dit gevat?

Hoe intens is Abram se geloof getoets?

40. Ek is seker Abram het vir Sarai so nou en dan ‘n vis uit die Eufraat gevang om haar ‘n bietjie te troos

41. Vanaf Karkemis moes die geselskap oor semi-woestyngebied reis om by die volgende plek, Aleppo uit te kom.

Die sitadel is die middelpunt van belangstelling by Aleppo. Die Arabiese naam is Halab en dit beteken om te melk.

‘n Plaaslike tradisie sê dat Abram sy koei op die sitadel gemelk het. (Halab)

42. Wanneer ek hierdie plekke besoek, dink ek onwillekeurig aan Abram wat ook hier was.

Het Abram in die versoeking gekom het om hier te vestig?

Indien wel, het hy die versoeking oorwin.

43. Vanaf die Aleppo moes Abram vir baie kilometers oor ‘n stuk woestyn trek voordat hy by die Orontosrivier in die noorde van Siriese kon uitkom.

44. Wanneer mens hierdie wêreld besoek, kom jy by plekke uit wat hulle Karavaan Sarai noem. Jy vind hulle in Kapadosië en naby die grens met Sirië.

Hierdie “Ultracities” was so gespasieer dat kamele die afstande gemaklik kon hanteer

45. Ons weet nie of hierdie fasiliteite in Abram se dag bestaan het nie. Moes hy in geloof die 64 kilomoters van Aleppo na die Orontosrivier oorsteek?

46. “Here help my om U onvoorwaardelik te gehoorsaam sonder om te weet waar ek uiteindelik gaan aankom.”

47. Orontosrivier.

Vertel ons van Abram wat hier op pad na Kanaän gestap het.

Ons is ook op pad na ‘n Kanaän. Die hemelse een.

48. Uiteindelik het hy by die El Bekaa vallei uitgekom.

Hier eindig die Orontos by sy oorsprong.

Maar hier ontspring die Litanierivier en vloei in ‘n westelike rigting tot by Tirus.

49. Afgodediens het hom gewink maar hy het vasberade in gehoorsaamheid voortbeweeg.

“Here help my om nougeset U gebooie en insettinge te bewaar. Help my om aan te trek totdat ek in die beloofde land gaan aankom.”

50. Elke keer wanneer ek antieke Tirus besoek, dink ek aan die aangrypende profesieë wat hier vervul is. Maar ek dink ook aan Abram wat hierlangs na Kanaän getrek het.

Volgende keer gaan ons na Abram se aankoms in Kanaän kyk.

Mag God ons help om net soos Abram, deur die onbekende landstreke van pyn en teleurstellings vertrouend op Hom te stap. Mag ons soos Abram, die beloofde land sal binnegaan.

51. Nehemia 9:7,8 U is die Here, die God wat vir Abram gekies het, hom uit Ur van die Galdeërs gebring het en sy naam Abraham gemaak het. U het hom getrou teenoor U bevind, met hom ’n verbond gesluit dat U die land van die Kanaäniete, die Hetiete en Amoriete, die Feresiete, Jebusiete en Girgasiete, aan sy nageslag sou gee, en U het u belofte nagekom; U is betroubaar.

Was this article helpful?

Related Articles