Adam

Ek was die gelukkiste mens op aarde. Ek was sondeloos en het binne in die paradys gewoon. Solank as wat ek van die boom van die lewe geëet het, kon ek vir ewig gelukkig lewe.
Dis alles weg.
Ek staan voor die lyk van my kind. Hy is vermoor. Maar wat dit vir my so verskriklik erg maak, is die feit dat sy eie broer hom vermoor het.
Kan jy probeer begryp watter gedagtes en emosies deur my kop maal?
Abel my kind, Abel my kind, my kind, my kind.
Kain…hoe kon jy dit aan jou broer en aan ons gedoen het?
Kain Kain Kain.
Eva is histeries van verdriet. Sy val langs Abel neer en hou hom styf vas. Sy vat aan daardie gesig, sy praat met hom maar Abel reageer nie. Abel is dood.
VRAAG
My liewe vriend het jy al langs die lyk van jou eie kind gestaan? Het jy aan daardie lewelose liggaam gevat?
DIE TOEKOMS?
Die pyn is so groot. Hoe kan ‘n mens van hierdie seer dag na die volgende een stap? Wanneer gaan die pyn verdwyn?
DIE LAM
Terwyl ek langs langs die lyk van my seun staan, kyk ek na die oorblyfsels van die lam wat hy geöffer het. Wat beteken dit?
My gedagtes gaan onwillekeurig na die heel eerste dood wat ek in die Paradys ervaar het. Dit was ook die dood van ‘n lam.
EVA OORTREE
Toe Eva na my toe kom en my vertel dat sy van die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad geëet het, het my hart in duisend stukkies gebreek.
Ek het geweet lot van my vrou is beslis. God het gesê dat die dag wanneer ons dit doen, ons gaan sterf. Dis my laaste dag saam met die vrou vir wie ek baie baie lief is.
Vir die eerste keer ervaar ek ‘n vreemde seer hier binne in my. Ek kyk in Eva se pragtige gesig en besef dat ek my vrou daardie selfde gaan verloor.
Ek gryp haar in my arms en vir die eerste keer vloei daar trane uit my oë. Dit rol ook oor Eva se mooi wange.
Ek sal daardie gebeurtenis nooit vergeet nie. Ek huil omdat ek haar gaan verloor.
Haar valse vreugde van die eet van die verbode vrug, verander in ‘n uitdrukking van pyn en skuldgevoelens.
Vir die eerste keer sien ek die vernietigende resultate van ongehoorsaamheid op my vrou se gesig.
ADAM SE SELFMOORD
Moet sy daardie dag alleen deur die onbekende pyn van die dood gaan?
“Eva, gee dat ek ook van die vrug eet en dan sterf ons saam.”
Terwyl ek haar snikkend vashou verdwyn die kleed van blinkende glans wat ons aangehad het.
VYE BLARE
En toe doen ons iets wat ons nog nooit vantevore aan ‘n boom gedoen nie. Ons breek die blare van die pragtige vyeboom om ons ongemaklike naaktheid te verberg. Ons het die dood van pragtige onsterflike blare veroorsaak.
WAAR IS JY?
“Eva wat gaan ons maak wanneer God in die aandwindjie by ons kom kuier?”
“Eva kom ons gaan kruip vir Hom weg.”
En toe hoor ons Sy stem. Maar dit was ‘n hartseer stem wat gehuil het.
“Adam waar is jy?”
Ek het nie geweet dat ons Skepper kan huil nie.
Ek het besef dit was die einde van ‘n mooi, diep persoonlike verhouding met ons liefdevolle, dierbare Skepper. En toe Hy huil het ek ook begin sommer begin te huil.
DOODSVONNIS
Toe Hy ons in die paradys geplaas het, het Hy uitdruklik gewaarsku dat ons gaan sterf as ons van die verbode vrugte sou eet.
Ek wag in spanning dat Hy die doodsvonnis oor ons moet vel.
Dis met ontsettende hartseer dat Hy na ons kyk. En dis met skaam hartseer dat ons na Hom kyk.
HARTSEER IN ALMAL SE Oë
In Sy oë lees ons ‘n hartseer boodskap: “Ek het julle so lief ek sien net nie kans om julle met die dood te straf nie.”
Voordat Hy vir ons sê: Van stof is julle gemaak, en na stof sal julle terugkeer, praat hy met die slang en sê vir hom dat Hy sy kop gaan vermorsel omdat hy Eva verlei het.
DOODSTRAF
En toe volg die doodsvonnis. God is liefde maar Hy is ook regverdig. Sonde kan nie ongestraf gelaat word nie. Hoe gaan Hy dit hanteer? Hoe gaan Hy straf en genade gelyktydig toepas?
En daar in die tuin vel Hy toe die doodstraf. Nie op ons nie. Hy voltrek die doodstraf op Homself.
Hoe het dit gebeur?
“Adam. Bring vir my die mooiste skaap in die paradys. Die een vir wie jy die liefste is.”
Nadat ek die skaap vir Hom gebring het, verduidelik Hy wat Sy liefde vir ons gaan doen.
“Adam omdat ek nie julle sonde ongestraf kan laat nie, sal ek liewer vandag sterf. Die doodstraf wat julle moet ontvang, sal ek in julle plek ontvang.
Wat ek met hierdie lam gaan maak, sal verduidelik hoe ek in julle plek sal gaan sterf.

ADAM SLAG DIE LAM
Adam jy moet hierdie lam slag. Jy moet hom doodmaak.
Ek het met die Here gepleit en vir Hom gesê ek kan nie. Ek het vir die lam sy naam gegee. Ek het die lam lief en hoe kan ek hom doodmaak.
Adam iemand moet vandag sterf omdat julle vandag gesondig het.
As julle doen wat ek vir julle sê, sal julle nie vandag sterf nie.
Ek het in God se oë gekyk en begin huil.
Dit was vreeslik om die onskuldige dier wat my liefhet en vir my kyk, se keel af te sny en te sien hoe hy dood bloei.
Dit was die eerste keer dat ek bloed sien vloei het. Uiteindelik het die lam so swak geword hy kon nie meer op sy voete staan nie. Hy val op die grond en gesterf.
Ek kan nie vir jou vertel hoe dit my geraak het nie. Die lam vir wie ek so lief was, is weg. Ek sal hom nooit weer sien nie. Hy het in my plek gesterf.
Ek buk by die lam, vat aan hom en huil onbeheersd.
En toe sê die Here iets wat my verstand te bowe gaan.
“Adam, Ek jou Skepper, gaan ‘n skepsel, ‘n mens soos jy word. En dan gaan Ek al jou skuld op My neem en net soos hierdie lam gaan Ek in jou plek sterf.”
Ek sê vir Hom nee,nee,nee. Dit mag nie gebeur nie. Ek sal vir my eie sonde gaan sterf. Ek sal dit nog vandag doen maar Hy kan nie eendag in my plek kom sterf nie.
“Adam net as ek vir jou kom sterf, sal ons altwee eendag saam vir ewig leef. Daar sal weer ‘n paradys wees.”
Daardie gedagte het in my kop bly draai. “As ek sterf, sal ons altwee eendag vir ewig saam leef.”
En toe neem Hy die vel van die skaap en maak vir ons klere.
Hy verduidelik dat soos ons nou fisies naak staan, ons ook geestelik naak staan.
En soos Hy vir ons fisiese klere gee, gaan Hy ook vir ons Sy klere van geregtigheid gee dat ons nie geestelik naak sal wees nie.
Wanneer Hy die dag sterf, sal Hy Sy klere van geregtigheid en heiligheid uittrek, en dit vir ons aantrek.
En as Hy dit gedoen het, en ons neem dit aan, sal dit wees asof ons nog nooit gesondig het nie.
Voor ons uit die paradys is, het ons voor Hom neergeval en vir Hom oor en oor dankie gesê dat Hy ‘n tweede Adam gaan word wat in ons plek sou kom sterf.
Hoe sê mens dankie vir so ‘n ongelooflike geskenk? Jy kannie. Net eendag in die hemel, die nuwe paradys gaan ons ‘n ewigheid kry om vir Hom dankie te sê.
TROOS
Terwyl ek na my sy seun Abel se lyk kyk, en terwyl ek die oorblyfsels van die lam sien wat hy geslag het, het ek geweet dat ek Abel eendag weer gaan sien.
En my liewe bedroefte huilende verlangende vriend. Ek het goeie nuus. As jou kind die lam geöfer het, sy sonde bely het, gaan jy hom eendag weer sien.
Ons gaan saam met Hom leef in ‘n land waar ons nie meer gaan huil nie.
KURIKULUM
Ons gaan ‘n studierigting volg waarin ons die grootste openbaring van liefde, Sy liefde vir sondaars, vir ewig gaan studeer.

Was this article helpful?

Related Articles