Isak

My naam is Isak, die pa van Jakob en Esau. My pa Abraham is ‘n ruk gelede dood.

Ek wil graag ‘n baie besondere insident met julle deel.

My pa Abraham was ‘n baie besondere kind van die Here. Op ‘n keer het ek hom oor die komende Messias hoor bid. Hy het die Here gevra om vir hom te wys hoe die Messias die sonde probleem in die toekoms gaan oplos.

Kom ek vertel jou hoe die Here hierdie gebed beantwoord het.

Een nag terwyl my Abraham geslaap het, het die stem van die Here met hom gepraat.

Abraham  neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.

Die stem het nie na Ismael verwys nie, maar na my.

WORSTELLING

Voorheen het my pa die Here vertrou, maar nie heelhartig nie. Hy het bevoorbeeld vir die heersers van Egipte en die Filistyne gesê my ma Sara is sy suster.

Maar hierdie was ‘n ontsettende toets wat hom uitgedaag het om die Here ten volle te vertrou.

Vroeg die volgende oggend het hy wakker gemaak en gesê: “Isak my kind ek wil hê jy moet saam met my kom. Ons gaan offer.”

Dit was nie vir my vreemd nie want ons het dit al in die verlede gedoen. By sulke geleenthede het hy vir my van die verlossingsplan vertel. Die onskuldige lam stel die Messias, die komende verlosser voor.

Ons het gesondig en ons moet sterf. Die straf vir die oortreding van die wet moet uitgevoer word. Maar die Here het so ‘n pragtige, ongelooflike manier om sondaars te red.

Die lam wat ons hier geöffer het, het vooruitgewys na die Lam van God wat die straf van die sondes op Homself gaan neem.

My pa wou nie vir my ma sê wat die Here hom beveel het om te doen nie. Sy sou dit nie toegelaat het nie. Sy het 25 jaar vir my gewag en sy sou my pa gekeer het om my te gaan offer.

Dis ‘n lang end wat ons vanaf Berseba tot by Moria gestap het. Dit het ons drie dae geneem.

My pa het nie baie gepraat nie. Ek kon agterkom dat daar iets swaars op sy hart gedruk het.

Dis asof hy baie naby aan my wou kom. Kort kort wou hy weet hoe dit met my gaan. Of ek dors is en of die pad nie te vermoeiend is nie.

Ek kon agterkom dat hy my behandel het asof ek nie vir altyd by hom gaan wees nie.

BERG MORIA

Na die lang stap en slaap langs die pad het ons uiteindelik by Moria aangekom.

My pa het die diensknegte gevra om vir hom en vir my daar onder te wag tot ons weer terugkom.

Na die gebeurtenis het ek besef dat my Pa geglo het dat ons altwee gaan terugkom. Al moes ek sterf het hy geglo die Here sou my opwek. Hy was gedetermineerd dat hy aan die Here gehoorsaam wil wees. Die vorige kere het hy nie Here volkome vertrou nie. Hier keer wou hy.

Na ons so ‘n endjie opgestap het, het ek agtergekom dat my pa nie ‘n offerlam by hom gehad het nie. Dit was die eerste keer dat so iets met hom gebeur het.

Ek het gewonder. Het pa aan geheue verlies begin lei. Wanneer gaan hy besef dat hy nie ‘n lam het om te slag nie? Dit gaan nogal vir hom ‘n verleentheid wees as ons die altaar bou en die hout regsit dat hy gaan agterkom dat hy nie ‘n lam het om te offer nie.

Ek kon naderhand nie meer uithou om stil te bly nie.

In ons kultuur kan jy nie sommer met die deur in die huis inval nie. Jy spreek eers net jou pa aan, soos Pa of Vader, en dan bly jy stil. Hy sal dan besluit of hy met jou in gesprek wil tree.

Dis maar net ‘n gebaar van respek vir jou Pa.

Kom ek vertel jou hoe ek die gesprek begin het:

“My vader!” ek bly toe stil. Na ‘n ruk antwoord hy my.

“Hier is ek, my seun!”

En toe vra ek hom:

Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ’n brandoffer?

My pa het toe vir my gesê:

“My seun die Here sal voorsien.”

Dit was vir my baie eienaardig. Gaan die Here skielik ‘n offerlam hier laat opdaag.

Ons het ‘n altaar van ongekapte klip gebou, die hout reggepak. Maar geen lam het opgedaag nie.

En toe begin my pa vir my te vertel watter opdrag die Here vir hom gegee het.

“Sakkie my dierbare ou seun die Here het vir my gesê ek moet jou offer.”

Ek het baie groot geskrik. Maar toe besef ek dat as die Here wil hê ek moet so tot my einde kom en Sy Naam te verheerlik, dan doen ek dit.

Ons het mekaar gegroet. Jy sal nie besef hoe my pa van hartseer gesnik het nie. Terwyl ek op die hout gelê het het sy trane orals op my geval.

Ek het ook gehuil. Ek sal die oomblik nooit vergeet toe hy daardie lang mes bokant my lig nie. Ek het die dood in die oë gestaar.

Net voor my pa die mes met al sy mag in my hart steek, hoor ons skielik ‘n stem wat uit die hemel kom:

“Abraham, Abraham!”

Hy vries behoorlik net daar en dan.

Hy antwoord toe: “Hier is ek!”

Ek sal die volgende woorde van God nooit vergeet nie

“Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.”

OMHELSING

Daar was weer ‘n omhelsing. Ons het mekaar lank vasgehou.

DIE VERLOSSINGSPLAN

Op pad huistoe het my pa die verlossingsplan verduidelik. Die hartseer wat ons deurgemaak het, is die hartseer wat God die Vader en Sy Seun eendag gaan deurmaak.

Al verskil is dat Sy Seun geöffer gaan word. Daar gaan nie  ‘n stem gehoor word wat keer dat Sy Seun geöffer word nie.

Sy Seun gaan sterf. Hy gaan ons sondes op Homself neem en in ons plek sterf.

As jy met sondeskuld sukkel nooi ek jou uit om dit in geloof aan die Seun van God oor te laat en die heerlikheid vryheid van Sy vergifnis te geniet.

Was this article helpful?

Related Articles