1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Bartemeus – Die Blinde Man Van Jerigo

Bartemeus – Die Blinde Man Van Jerigo

Mark 10:46-52

Dit was ‘n tragiese ramp wanneer iemand in Jesus se dag blind was. Hierdie arme mense het ‘n sukkelbestaan gevoer. Die meeste van hulle was bedelaars.

Bartimeus het in Jerigo gewoon. Heel moontlik in ‘n kamertjie in iemand se agterplaas.

Bedags het hy sy weg deur die dorp gebaan en langs die hoofweg gaan sit wat na Jerusalem lei, die N2. Dit was die plek waar die meeste mense verbygeloop het.

Vir baie jare het Bartimeus na dieselfde plek geloop en vir baie jare het hy dieselfde rympie geroep: “Help die blinde asseblief, help die blinde asseblief.”

Tenspyte van sy blindheid het dit darem nie te sleg gegaan nie, want hy het elke dag iets gekry om van te lewe.

Maar die allesoorheersende begeerte in blinde Bartemeus se lewe was net een ding:  hy wou sien.

Hy wou die voëltjies sien wat sing; hy wou die onweerswolke sien wat dreun; hy wou graag sien hoe reëndruppels lyk. En sou dit nie gaaf wees as hy kon sien hoedat mense lyk nie.

NUUS VAN ‘N VREEMDELING

Op ‘n dag terwyl hy besig was om te bedel het ‘n baie vriendelike man na hom gekom. Nadat hy geld in Bartimeus se hand gedruk het, het hy hom iets baie interessant begin vertel.

“Bartimeus,” het die man vriendelik begin gesels, “Ek het die grootste wonderwerk van my lewe gesien. Daar is ‘n man in Galilea met die naam van Jesus wat ‘n melaatse genees het. En dit het ek met my eie oë gesien.”

“En toe het ek gesien hoe dat hulle ‘n man na Hom toe bring wat doof was en glad nie kon praat nie en Jesus het hom gesond gemaak en hy kon praat.”

Bartimeus sit regop en kyk in die rigting van die man wat die goeie nuus vertel, sodat hy elke woord kan hoor.

“Maar,” sê hierdie vriendelike persoon, “dis nie al nie.  Hy het ook die oë van ‘n blinde geopen.”

Teen hierdie tyd was Bartimeus op sy voete van opgewondenheid.

“Meneer, was dit regtig ‘n blinde mens wat Hy genees het.  Dink jy hierdie Jesus sal ook my oë kan oopmaak?”

Die man verseker vir Bartimeus dat hy alles gade geslaan het en dat hy persoonlik met die blinde man wat sy gesig teruggekry het, gesels het.

Bartimeus praat weer: “Dink jy Jesus sal ooit hier na Jerigo kom?”

“Dit sal ek nie kan sê nie, maar as Hy ooit hierheen kom, is ek seker Hy sal jou oë open.”

NUWE HOOP

Vanaf daardie oomblik het daar nuwe hoop in die blinde Bartimeus se eensame hart ontstaan.

Die goeie nuus oor wat Jesus kan doen, bring altyd nuwe hoop aan vermoeide harte.

Van daardie dag af het Bartimeus nie een dag van die hoofpad na Jerusalem weggebly nie.

Miskien sou Jesus net op daardie dag verbygaan wat hy nie daar was nie, en dan verbeur hy sy kans op ‘n gesigsgenesing.

Die engiste hoop op genesing wat Bartimeus gehad het, was ‘n ontmoeting met Jesus.

(Dit is baie interessant dat ons net van een maal lees wat Jesus Jerigo besoek het.)

Bartimeus het Jesus elke dag verwag en elke dat het hy vir die mense gevra of hulle nie gehoor het of Jesus miskien na Jerigo to ekom nie.

JESUS KOM

En toe op ‘n dag het Jesus gekom. Hy stel nooit iemand teleur wat op Hom wag nie.

Hierdie spesifieke dag was dit broeiend warm in die Jordaanvallei.
Daar na die Dooie see se kant het die hitte golwe oor die dorre aarde gedans. Hier en daar het ‘n voëltjie die stilte van die warm agtermiddag verbreek.

Daar was nie mense op die pad nie, en Bartimeus het gewonder wat dan aan die gang was.

En toe hoor hy die geraas van baie stemme wat van Jerigo se kant af kom. Hy kon hoor hoe ‘n groot skare nader en nader na hom skuifel. ‘n Vreemde opgewondenheid pak sy siel beet.

Toe die eerste mense naby hom kom, vra hy vir hulle wat aan die gang was. En toe hoor Bartimeus die woorde waarvoor hy al maande wag. Die woorde waarom sy hele bestaan gegaan het.

“Bartimeus, Jesus van Nasaret gaan verby.”

OPGEWONDENHEID

Ek kan my die opgewondenheid in hierdie blinde bedelaar voorstel. Sy hart begin vinniger klop. Hy begin rondskuif.  Hy prewel iets vir homself.

“Hierdie is die grootste dag van my lewe. Jesus het gekom. Hy gaan my oë open.”

En dis nog steeds die grootste dag wanneer Jesus in ‘n mens se lewe kom.

Bartimeus hoor die gepraat van baie, baie stemme en die geskuifel van baie, baie voete. Nog nooit in sy bestaan het so baie mense by hom verbygestap nie.

Hy besef dat Jesus nou baie naby moet wees. Dit is nou die tyd om na Jesus te roep. As hy nog ‘n minuut wag sal Jesus verby stap en dan is dit vir altyd te laat.

Die blinde trek sy asem diep in en toe roep hy met ‘n groot stem.

“Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig.”

Die verlangende begeerte en die hoop van sy hele lewe is in die uitroepe – hy wil sien.

Hy luister. Hy wag. Maar niks gebeur nie. Net meer mense loop by hom verby. Die rumoer is ook so groot, hy wonder of Jesus hom ooit kan hoor.

En toe roep hy ‘n tweede keer uit. Hierdie keer net so hard en so dringend as wat hy kan.

“Jesus, seun van Dawid, wees my barmhartig.”

Een van die mense in die skare vererg hom bloediglik vir Bartimeus.

“Bly sti, wat skreeu jy so. Daar is meer mense as net jy wat Jesus se aandag wil hê.”

Maar hierdie skropbering kan die blinde man nie afsit nie. Sy behoefte aan Jesus is te groot. Hy het Jesus op daardie oomblik nodig of dis vir altyd te laat.

Hy sal weer probeer. Die Grieks bring die gedagte uit dat hy aanhoudend uitgeroep het. Hy was gedetermineerd om Jesus se aandag te kry.

En met ‘n gebroke hart roep Bartimeus uit:

“O Jesus, help my asseblief”.  En in daardie uitroep is nie net ‘n verlange na fisiese oë nie, maar ook na geestelike sig, geestelike verligting.

Die groot skare kom tot stilstand. Die geraas bedaar.  Bartimeus hoor die vriendelikste stem wat hy nog ooit gehoor het.

“Bring die man na my toe.”  A, dis waar hy wil wees.  Hy wil by Jesus wees.

Vers 49 Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou.

‘n Paar mense loop na Bartimeus.

“Bartimeus, hou goeie moed. Jesus het jou hulpgeroep gehoor en Hy sê jy moet daar na Hom toe kom.”

Hy los die ou verflenterde oorjas net daar terwyl hulle hom na Jesus lei.

Die wonderwerk gebeur. Twee pragtige stralende oë, vol trane van blydskap versier die eens blinde bedelaar se gesig.

Bartimeus het Jesus nie net verder daardie dag op die pad gevolg nie, maar die hele weg van geregtigheid tot aan die einde van sy lewe.

GEESTELIKE BLINDHEID

Hoe heerlik moes dit nie vir Bartimeus gewees het om net te kyk en te kyk en te kyk nie. Hy het dinge gesien wat hy nooit gedroom het bestaan nie.

Die Bybel praat van ‘n ander soort blindheid – geestelike blindheid.

Daar is pragtige dinge in die geestelike lewe wat die Here graag wil hê ons moet sien, maar omdat ons geestelik blind is kan ons dit nie sien nie.

OORSAKE

Sefanja 1:17  Mense sal rondloop soos blindes omdat hulle teen die Here gesondig het.

Sonde in my lewe, maak my geestelik blind.

2 Korintiërs 4:4 Die god van hierdie wêreld  verblind ons sinne

1 Johannes 2:11  As ek my broeder haat.

Eksodus 23:8 Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges.

Spreuke 4:18 Die weg van die goddelose (is) soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.

VERONTAGSAMING VAN TEREGWYSING BRING DUISTERNIS

“Die vernaamste rede waarom Gods volk tans in ‘n toestand van geestelike duisternis verkeer, is omdat hulle teregwysings verontagsaam.  Baie het die vermanings en waarskuwings wat na hulle gekom het, verag.” 3T255

INTROSPEKSIE

Ek moet baie mooi en versigtig in my lewe inkyk en seker maak dat ek nie een of ander teregwysing wat na my kom verontagsaam nie.

Die Woord van die Here; die Heilige Gees; selfs deur my huismense, vriende en vyande kom vermaning, teregwysings.

“Doelgerigtheid, heelhartige toewysing aan God, is die voorwaarde wat Christus vereis. As u opreg en onwankelbaar daarna streef om die waarheid te verstaan en te gehoorsaam, al kos dit ook wat, sal u Goddelike lig ontvang. Ware vroomheid begin wanneer alle toegewings aan die sonde gestaak word.” OR 57

“Deur voortdurend sonde te koester en die roepstem van die hemelse liefde te verontagsaam, verloor die sondaar alle liefde vir die goeie, die verlange na God, en selfs die vermoë om die hemelse lig te ontvang. Die uitnodiging van genade bly steeds vol liefde, die lig skyn nog net so helder soos toe dit eers op sy siel geskyn het, maar die stem val op dowe ore, die lig op blinde oë.” OR 58

VERWERPING VAN LIG

“God gee voldoende lig en bewyse sodat die mens tussen waarheid en dwaalleer kan onderskei. Hy forseer nie die mens om waarheid aan ge neem nie. Hy laat die keuse by hom om tussen goed en kwaad te kies. Wanneer die mense die bewyse weerstaan, verwerp wat voldoende is om hom in die regte rigting te lei, en die verkeerde eenkeer kies, sal dit die tweede keer makliker gaan. Die derde keer sal hy homself nog maklike van God onttrek en verkies om aan die kant van Satan te staan. So gaan hy voort totdat hy in boosheid vasgevang is en die leun as waarheid glo. Sy weerstand het ‘n oes opgelewer.”

Andre van der Walt.  Vanjaar iemand besoek wat ‘n opregte verlange gehad het om te weet wat waarheid is, en om dit uit te leef.

Wat maak ons met duidelike lig wat na ons kom? Onthou, wanneer ons lig verwerp word dit die volgende keer makliker totdat ons alle lig verwerp en die leuen glo.

MOEDSWILLIGE BLINDHEID

“Diegene wat die geleentheid het om die waarheid te hoor, maar geen moeite doen om dit te hoor of te verstaan nie, en dan dink dat omdat hulle dit nie hoor nie hulle nie verantwoordelik gehou sal word nie, sal skuldig bevind word voor God asof hulle dit gehoor en verwerp het.”  5BC 1145

In Sy leiding en dood het Jesus voorsiening vir sonde van onwetenheid gemaak, maar daar is geen voorsiening vir moedswillige aanhoudende blindheid gemaak nie.

‘n Man het eenkeer vir my gesê: “Ek wil liewer nie meer hoor nie want net nou hoor ek die waarheid en dan is ek verplig om dit uit te leef. As ek dit nie hoor nie, sal ek nie verantwoordelik gehou word nie.

VRAAG

Is daar sekere waarhede in die Skrif wat ek kan lees maar nog nie gelees het nie?

As daar sekere waarhede in die Bybel is, word ek verantwoordelik gehou om dit te bestudeer en uit te leef.  As ek doelbewus my van studie weerhou en doelbewus in onkunde voortleef, verkeer ek op baie gevaarlike grond.

Ondervinding.  Moes een aand biduur toe gaan. Die HG het met my gepraat. Ek wou nie. Was ‘n stryd. Uiteindelik het ek gegaan. Die boodskap wat ek daardie aand ontvang het, het iets in my lewe gedoen waarvan die resultate blywend was.

As ek nie gegaan het nie, sou ek in blindheid voortgeleef het.

OPROEP

Sit jy miskien soos Bartimeus langs die weg van die lewe in stikke duisternis? Is daar donkerheid in jou lewe?

Die oplossing is presies dieselfde as die oplossing in Bartimeus se tyd. Jesus.

Jesus verklaar in Joh 8:12:

“Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Jesus van Nasaret is weer hier.

Wil jy nie jou kans waarneem en soos Bartimeus uitroep?   “Jesus, seun van Dawid, wees my barmhartig.” As jy nie die eerste maal antwoord kry nie, roep Hom weer, vra Hom om die duisternis, die donkerheid in jou lewe te verdryf en vir jou lig te gee.

As jy mooi luister sal jy die woorde van Jesus hoor wat sê: bring hom na My toe.

En aan jou wil ek sê: Hou goeie moed, staan op, Hy roep jou.

Was this article helpful?

Related Articles