Nadat die Israeliete Basan verower het, het hulle by die Jordaan gaan laer opslaan. Aan hulle linkerkant was die Dooisee en reg voor hulle was Jerigo.
Hulle het gereed gemaak om so gou as moontlik Kanaän binne te val. encamped beside the river, above its entrance into the Dead Sea, and just opposite the plain of Jericho.
Hulle was op die grens van Moab en dit het die Moabiete baie bang gemaak.
Israel het die Moabiete nie gemolesteer nie, nogtans het hulle met voorgevoelens vol vrees alles dopgehou wat in die omliggende nasies plaasgevind het.
Die Amoriete voor wie hulle moes padgee, is deur die Hebreërs verslaan. Nou het die gebied wat vroeër aan hulle behoort aan Israel behoort.
Basan het voor die misterieuse mag wat in die wolkkolom verskuil is, geval. Die reuse vestings is nou deur Israel beset.
Die Moabiete het dit nie gewaag om Israel aan te val nie. Geen wapentuig kon teen die bonatuurlike magte wat vir Israel veg, sukses behaal nie.
Hulle was vasberade om soos farao, die mag van die toorkuns in te span om die werk van God te veryderl. Hulle sou ‘n vloek oor Israel bring.
Numeri 22:1 Daarna het die Israeliete verder getrek en kamp opgeslaan in die Moabsvlakte teenoor Jerigo, oos van die Jordaan.
Alhoewel die Amoriete hierdie vlakte van Moab afgeneem het, het dit die ou naam behou.
Ons weet nie presies in watter maand Israel hulle tente in die Moabsvlakte opgeslaan het, maar dit was baie na aan die 40ste jaar.
Numeri 21:20 Van Bamot af na die vallei in die gebied van Moab, naby die top van Pisgaberg wat afkyk op die droë wêreld. (wildernis)
Die vlakte beslaan sowat 150.4 vierkante kilometers.
Numeri 22:2 Balak seun van Sippor het gehoor van alles wat Israel aan die Amoriete gedoen het.
Balak beteken “Verwoester,” van die stam “om te verwoes,” “om te plunder”. Daar word na hom in Josua 24:9; Migah 6:5; en Rigter 11:25 verwys maar sonder dat daar melding van Bileam gemaak word.
Ons sal later sien watter geestelike vewoesting hy aangerig het.
Vers 3 Die Moabiete het baie groot geskrik vir die Israeliete, want hulle was baie. Die Moabiete het bang geword vir die Israeliete.
Waar het hulle vir die eerste keer begin bang word?
Eksodus 15:15 Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe.
Die wonderwerk van die deurtog deur die Rooisee het die antieke wêreld geruk.
Hoekom was dit nie nodig vir Moab om bang te wees nie?
Deuteronomium 2:9 Toe het die HERE vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ’n besitting gegee het.
Vers 4 Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ’n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab.
Die “oudstes“ was manne van ondervinding wat met die ouderdom saamkom.
Die Midianiete was afstammelinge van Abram en was destyds ‘n herdersvolk en rondtrekkende handelaars. Dis hulle wat vir Josef by Dotan gekoop het.
Vers 5 Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my.
Kan argoelogie vir sê of daar ‘n plek soos Petor was?
Dit was my voorreg om op ‘n paar geleenthede die ruïnes van Karkemis in Sirië te kon besoek het.
Hier langs die Eufraatrivier dink ek aan Bileam.
Kom ons vra vir Moses om vir ons meer inligting oor Bileam te gee.
Deuteronomium 23:4 Omdat hy (Moab) Bíleam, die seun van Beor, uit Petor in Mesopotámië, teen jou gehuur het om jou te vloek.
Bileam was ‘n bekende profeet in die omgewing. Ongelukkig het hy hom tot die okult en waarsêerye gewend. Sy boodskappe het van die bose gekom. Is daar vandag nog valse profete?
Die antieke geskiedenis van die Assiriërs en die Arameërs bevestig die teenwoordigheid van waarsêery van daardie tye.
Op die Kurkstela van Salmanser III in die Britse museum het ek die volgende inligting gekry:
Hy skryf: “Ek het die Eufraat oorgesteek en die stad van Ana-sjurutir-asbat verower… die Hetiete noem dit Pitru.” (Schrader, “K. B.” i. 133, lyne 37-40; 173, lyne 85-86).
Die geleerdes verduidelik dat Pitru is dieselfde as Petor van die Bybel. Kom ons lees die teks:
Vers 5 Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor (Pitru) wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my.
Abraham en Balaam was albei van die Haranomgewing wat minder as 80 kilometers uitmekaar was. Petor waar Bileam gewoon het, was bekend vir sy “baru” (priester-waarsêers)
Wat het Abram gedoen wanneer hy getrek het en sy tent by die plek opgeslaan het?
Het daar mense die pragtige boodskap van die lam wat die komende Messias gesimboliseer het, aangeneem?
Sedert 2000 het Deense argeoloë opgrawings by Tell Aushariye in noord Sirië gedoen. Aushariye is ‘n antieke versting wat op ‘n strategiese roete by die Eufraatrivier geleë is.
Assiriese-inskipsies van die 9de eeu vC. noem Pitru (Bybelse Petor) as sou dit op dieselfde plek gebou is waar Aushariye was.
Die kleitablette word tans ondersoek. Ek het net gewonder of Bileam se naam nie op een van hulle gevind gaan word nie.
Vers 5 Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor (Pitru) wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my.
Die reis vanaf Pitru (Bybelse Petor) was 640 kilometers en moes twee weke geneem het.
Vers 6 Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ’n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.
Balak en sy mense het toorkuns en duiwelbesetenheid in hulle afgodediens bedryf.
Kan ‘n mens ‘n vloek op ‘n ander mens plaas? Balak het so geglo.
Het Goliat dit met Dawid probeer?
1 Samuel 17:4 En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek ’n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode.
Vers 7 Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel.
Dit was in antieke tye wettig om waarsêersloon te ontvang.
Vers 8 Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos die Here aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly.
Hierdie afvallige profeet speel met vuur teneinde aardse gewin te bekom. Bileam was vertroud met Gods volk en Sy gesindheid teenoor hulle.
Wat is die implikasie van die woorde: ek julle berig Soos die Here aan my sal sê
“Yahweh” die heilige naam vir God. Dit sê vir ons dat hy vroeër ‘n ware profeet van die Here was maar toe afvallig geword het.
Melgisedek en Jetro was ook verteenwoordigers van die ware God.
Vers 9 En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou?
Wou God iets geweet het? Nee. Hy wou Bileam van die gevaarlike pad waarsku waarop hy wou loop.
Verse 10,11 En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet:11Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe.
Uit hierdie teks kan ons agterkom dat Balak die sterker venoot was en Midian naas hom.
Kan ‘n mens die seën wat God op iemand uitgespreek het in ‘n vloek verander?
Moenie dat mense jou met vloeke intimideer nie.
Vers 13 Toe staan Bíleam die môre op, en hy sê aan die vorste van Balak: Gaan na julle land, want die Here het geweier om my saam met julle te laat gaan.
Weer gebruik Bileam die naam van Yahweh soos in vers 8. Hy sê nie vir die boodskappers dat die Here Israel geseën het nie.
Vers 14 En die vorste van Moab het klaargemaak en by Balak gekom en gesê: Bíleam het geweier om saam met ons te gaan.
Die prinse het Bileam se motiewe verkeerd oorgedra en kon nie vir Balak ‘n ware verslag gee nie.
Vers 15 En die vorste van Moab het klaargemaak en by Balak gekom en gesê: Bíleam het geweier om saam met ons te gaan.
Hier kry ons ‘n tipiese benadering onder sulke omstandighede. Balak het gedink Bileam soek meer agting. ‘n Groter afvaardiging met groter aanbiedinge sou miskien die ding doen.
Vers 16 en hulle het by Bíleam gekom en aan hom gesê: So spreek Balak, die seun van Sippor: Laat jou tog nie terughou om na my te kom nie.
Soos die jongmense sal sê: Bileam laat waai. Ons het vir jou ‘n baie vername klomp mense afgevaardig en ons offer jou nou tweekeer soveel
Vers 17 Want ek sal jou baie hoog vereer en alles wat jy my sê, sal ek doen; daarom kom tog, vervloek hierdie volk vir my.
Balak sal enigiets doen wat Bileam hom mbt die vervloeking van Israel vra.
Vers 18 Toe antwoord Bíleam en sê aan die dienaars van Balak: Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die Here my God nie oortree om klein of groot te doen nie.
Hier het ons ‘n baie skynheilige uitspraak.
Bileam het geweet dat God sy dade kan beheer alhoewel Hy nie sy gedagtes kan beheer nie.
Vers 19 Nou dan, bly julle tog ook vannag hier, dat ek mag weet wat die Here verder aan my sal sê.
Dis ook wat hy vir die eerste afvaardiging gesê het. Bileam het geweet wat die Here sou sê maar hy maak of God se besluite onderhandelbaar is.
Vers 20 En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen.
Die Here doen darem baie moeite om ons van selfvernietiging te red.
Bileam het geweet dat hy nie toegelaat sou word om Israel te vervloek nie. En as hy saam met die boodskappers sou gaan, sou hy dit onder valse voorwendsels doen. Dit alles vir geld.
Vers 21 Toe maak Bíleam die môre klaar en saal sy eselin op, en hy het weggetrek saam met die vorste van Moab.
In ‘n hele paar gevalle in die Ou Testament het die opsaal van ‘n donkie tot rampspoed gelei.
Volgende keer gaan ons verder na die tragiese verhaal van Bileam kyk.
Daar was ‘n tyd toe Bileam gesing het: “Doen net U wil Heer, U wil met my. U Pottebakker, ek is die klei…
Hoe is dit dat iemand wat die stem van die Here baie duidelik gehoor het, van Hom afvallig raak?
Mag die Here ons help om Hom met ‘n groter toewyding te dien en ons teen geldsug sal beskerm.
