‘n Bietjie later gaan ons kyk hoe Moab en Amelek verantwoordelik was vir die dood van duisende van God se kinders.
Hoe reageer die Here teenoor hierdie slegte mense? Hy wil hulle red.
Dawid se ouma was ‘n Moabiet. Kan jy haar naam onthou? Uiteindelik is Jesus uit die geslag van Rut die Moabiet gebore.
Terwyl Bileam op die kamp van die kinders van Israel gekyk het, het hy die pragtigste gebed gebid:
Vers 10 Wie het die stof van Jakob getel? En wie, volgens getal, die vierde deel van Israel? Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees!
Hoe het Balak gereageer?
Verse 11,12 Toe sê Balak vir Bíleam: Wat het jy my aangedoen? Ek het jou laat haal om my vyande te vloek, en kyk, jy het net geseën! 12En hy antwoord daarop dít: Moet ek dan nie sorgvuldig alles spreek wat die Here in my mond lê nie?
Balak moes geweet het dat Bileam net dit sou sê wat die Heilige Gees op sy lippe sou plaas.
Bileam se tweede profesie
Ons kyk nou na Bileam se tweede profesie:
Vers 13 Daarop sê Balak vir hom: Kom tog saam met my na ’n ander plek vanwaar jy hom kan sien—net sy kant sal jy sien, maar heeltemal kan jy hom nie sien nie—en vervloek hom daarvandaan vir my.
Hier was ‘n geleentheid vir Bileam om hom te onttrek, maar die sug na rykdom het dit verhoed.
Ander plek.
Miskien het Balak gedink dat Bileam met die blik op die hele kamp oorweldig was en gehoop dat ‘n ander plek waar hy minder gaan sien, hom met meer vrymoedigheid sou laat praat.
Deur die kamp op verskillende plek hoeke te bekyk, kon die vloek uiteindelik die hele kamp tref.
Vers 14 En hy het hom saamgeneem na die Veld van die Wagte, op die top van Pisga, en sewe altare gebou en ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer.
Pisgah.
‘n Hoë berg vanwaar mens baie van die omliggende gedeeltes kon sien.
Sewe altare
Die oorspronklike prosedure is herhaal. Bileam moes besef het dat hy nie die eerste boodskap van God onklaar kon maak nie. Hy het egter alles in sy vermoë gedoen om Balak se guns te wen en die beloning te ontvang.
Vers 15 Daarna sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by jou brandoffer, terwyl ek eenkant toe gaan om van God ’n openbaring te vra.”
Letterlik: “Staan op jou eie.” Hy sê nie vir Balak waar om te staan nie maar hoe om op te tree. Miskien het hy probeer sê dat Balak tot ‘n mate vir die mislukking te blameer was.
Vers 16 En die Here het Bíleam ontmoet en ’n woord in sy mond gelê en gesê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.
Dit was onmoontlik vir Bileam om ‘n vloek op Israel uit te spreek solank as wat hulle aan God getrou gebly het.
Vers 17 En hy het by hom gekom terwyl hy daar staan by sy brandoffer, en die vorste van Moab by hom. En Balak sê vir hom: Wat het die Here gespreek?
Balak het besef dat die boodskap van God afkomstig was, want Bileam se lyftaal het daarvan getuig.
Vers 18 Toe hef hy sy spreuk aan en sê: Staan op, Balak, en hoor! Luister na my, seun van Sippor!
Luister na my. Die Hebreeus dui daarop dat daar nie net geluister word nie, maar dat die belangrikheid van die boodskap bepeins moet word.
Vers 19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
Dit tref ‘n mens dat Bileam die Here hanteer het asof Hy ‘n mens is wat na willekeur Sy gedagtes sal verander. Hier het ons die invloed van die heidense godsdienskonsep.
Die plekverskuiwing en ekstra altare met die offers daarop het die Here nie daarvan oortuig dat Hy die eerste keer ‘n fout gemaak het nie.
Wat alleen kan God van gedagte laat verander?
Jeremia 18:7,8 In een oomblik sal Ek spreek oor ’n nasie en oor ’n koninkryk om dit uit te ruk en om te gooi en te vernietig;8 maar as dié nasie waaroor Ek gespreek het, hulle bekeer van hul boosheid, sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan was om hulle aan te doen.
Vers 20 Kyk, ek het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie.
Die Here het Israel as Sy eiendomsvolk geseën en geen bose mag kan dit verander nie.
Vers 21 ‘n Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob en sien geen onheil in Israel nie. Die Here sy God is met hom, en die gejubel tot eer van die Koning is by hom.
Dis baie duidelik. Solank as wat Israel aan God getrou bly, sal geen onheil hulle tref nie.
“Ongeregtigheid” beklemtoon die feit dat sonde die lewe vir ‘n mens baie moeilik maak. Dit het die gewone take van die lewe ‘n swaar las gemaak.
Die woord was as “moeite” Genesis 41:51; “smart” Job 3:10; “stryd” Job 7:3; “ellende” Psalm 25:18; en “verdriet” Psalm 90:10.
Verse 22,23 God wat hulle uit Egipte uitgelei het, is vir hulle soos die horings van ’n buffel. Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie. Nou sal van Jakob en van Israel gesê word wat God gedoen het.
Omdat Israel waarsêery en toorkuns vermy het, het hulle sterk gebly want dit lei mens weg van die Here.
Sagaria 10:2 Want die huisgode spreek bedrog, en die waarsêers sien leuens en verkondig nietige drome, hulle troos met wind. Daarom het hulle weggeswerwe soos ’n kudde; hulle verkeer in verdrukking, omdat daar geen herder is nie.
Vers 24 Kyk, ’n volk wat opstaan soos ’n leeuin, en soos ’n leeu verhef hy hom. Hy gaan nie lê voordat hy roof eet en die bloed van die wat verslaan is, drink nie.
In die Semitiese en ander ander antieke tale word kenmerke van diere aan die mens se gedrag gekoppel.
Vers 25 Toe sê Balak vir Bíleam: Jy moet hulle glad nie vloek nie, en jy moet hulle glad nie seën nie.
Balak is so bang dat die seëninge van Bileam net so kragtig kan wees as hy gehoop het die vloeke sou wees.
Vers 26 Maar Bíleam antwoord en sê vir Balak: Het ek nie dit met jou gespreek nie: Alles wat die Here spreek, dit sal ek doen?
Bileam besef dat hy nie kan stilbly as die Here hom beveel het om te sen nie.
Bileam se derde profesie
Kom ons luister na Bileam se derde profesie. Dit wil voorkom asof dit net mooier en mooier word.
Vers 27 Verder sê Balak vir Bíleam: Kom tog, ek sal jou na ’n ander plek saamneem; miskien sal dit reg wees in die oë van God dat jy hulle vir my daarvandaan vervloek.
“Ag Balak, weet jy wat. Ek het ‘n groot sonde begaan. Ek moes nooit na jou geluister het nie. Die Here praat met my en ek gaan terug huistoe. Jammer vir al jou moeite. Gebruik die geld wat jy vir my wou gee vir behoeftige mense.”
Dit het nie gebeur nie en Balak het na ‘n ander plek gesoek vanwaar Bileam die volk kan probeer vervloek.
Verse 28,29 Toe neem Balak Bíleam saam na die top van Peor wat oor die wildernis afkyk. Daarop sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare, en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme.
Hier word dieselfe porsedure gevolg as die wat in verse 1 en 14 voorkom. Hulle het nou al twee vorige mislukkings gehad en kon nie aan ander enige ander offermanier dink nie.
Vers 30 En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het en ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer.
Hierdie keer het Bileam homself nie van Balak onttrek nie. Hy het nie gemaak of hy een of ander geheime toorkuns gebruik nie.
Balak het Bileam se opdragte pynlik presies uitgevoer.
Numeri 24:1 TOE Bíleam sien dat dit goed was in die oë van die Here om Israel te seën, het hy hom nie soos die vorige kere tot towery gewend nie, maar sy gesig na die woestyn gedraai.
Terwyl hy na die tentedorp van Israel kyk, was hy gereed om te hoor wat die Here vir hom sê. Hy besef hy moet oorvertel wat die Heilige Gees vir hom sê.
Vers 2 Toe Bíleam sy oë opslaan en Israel sien soos hy volgens sy stamme in die laer staan, het die Gees van God op hom gekom.
God beperk Homself nie tot wie die boodskapper is nie. Dink maar aan Nebukadnesar wat ‘n visioen van die wederkoms gehad het.
Vers 3 En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek.
Die mees algemene woord vir man is Adam en dit kom 450 keer voor.
Dan kry ons Isj. Dit word in kontras met vrou gebruik; ‘n man in kontras met die vrou; ‘n meester in kontras met ‘n dienskneg; ‘n persoon van aansien in kontras met ‘n verlaagde persoon. Hierdie Hebreeuse woord belemtoon individualiteit.
Die derde woord is ’enosj. Dit beklemtoon minderwaardigheid en kom van die werkwoord “om siek te wees” om “terminaal siek te wees.” Hierdie woord vir man word nooit vir die Messias gebruik nie.
Die laaste woord vir man is geber, en dit is wat Bileam vir homself gebruik. Dit kom van die stam “om magtig te wees.”
Waarom dink jy het Bileam hierdie woord vir homself gebruik?
Geopende oog. Bileam se oë was oop terwyl hy die visioen gehad het sonder dat hy om hom kon sien.
Vers 4 Die hoorder van die woorde van God spreek, hy wat die gesigte van die Almagtige sien, wat neerval en geopende oë het.
Die woord God wat hier gebruik word gaan terug na die wortel wat beteken “Om oorvloedig te wees.” Wat sê dit vir jou?
Neerval en geopende oë het
Hierdie tweeledige fenomeen dui op die beheer van die Heilige Gees.
Esegiël, Daniël en Johannes het soortgelyke ondervindings gehad.
In watter posisie hy ookal gewees het, was sy natuurlike persepsies deur die Heilige Gees beheer.
Verse 5-9
Hoe mooi is jou tente, o Jakob, jou wonings, o Israel!
6Soos dale met waterlope wat hulle ver uitstrek, soos tuine by ’n rivier, soos alewees wat die Here geplant het, soos seders by die water.
7Water vloei uit sy emmers, en sy saad is by baie waters. En laat sy koning hoër wees as Agag, en sy koninkryk hom verhef!
8God wat hom uit Egipte uitgelei het, is vir hom soos die horings van ’n buffel; hy sal nasies, sy vyande, verteer en hulle gebeente stukkend breek en met sy pyle verbrysel.
9Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin: wie sal hom opjaag? Geseënd is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek!
Die voorspoed van God se volk word hier met die treffendste natuurtonele uitgebeeld. Die profeet vergelyk Israel met vrugbare valleie wat met ryk oeste bedek is; weelderige tuine wat deur nimmerfeilende fonteine besproei word; welriekende bome en die trotse seder.
Hierdie boom was deur die mense van die Midde-Ooste baie hoog geag. Waar ‘n mens jou ookal op aarde begeef, word die seder aangetref.
Hulle kom die arktiese koue voor waar hulle die ysige weer trotseer tot in die trope waar hulle floreer. Hulle groei welig op die oewers van riviere en toring die lug in by dorre plekke.
Hulle stuur hulle wortels diep rotse in en daag die storms uit. Hulle blare bly vars en groen wanneer die winter alles om hulle tref.
Die seder van Libanon oortref die ander bome in krag en forsheid. Waarvan dink jy is hy ‘n simbool? Van mense wie se lewe “saam met Christus” in God verborge is. Kolossense 3:3.
Die Bybel sê: “Die regverdige sal groei…soos ‘n seder op Libanon”. Psalm 92:13. Die Here het die seder tot koning van die woud verhef. Esegiël 31:8 Daar was nie ’n boom in die godetuin wat so mooi as die seder was nie. 9 Ek het hom ’n mooi boom gemaak met sy baie takke, en al die bome in die godetuin Eden was jaloers op die seder.”
Die seder word herhaaldelik as koninklike embleem uitgebeeld. Die Bybel gebruik die seder om te wys hoe hoog die hemel die regverdige ag wat God se wil doen.
Bileam het voorspel dat Israel se Koning luisterryker en magtiger as die magtige Agag gaan wees. Agag was die koning van die Amalekiete wat destyds baie magtig gewees het. Maar as Israel aan God getrou bly sal hy al sy vyande onderwerp.
Die Koning van Israel was die Seun van God en Sy troon sou eendag op die aarde gevestig word en Sy mag sal bo al die aardse nasies uittroon.
Het jy al gewonder hoe die hemel gaan wees. Om te dink ons gaan in wonings bly wat deur God self, die Argitek van die kosmos, ontwerp is.
Ek dink die Here kan amper nie meer wag om ons met iets onbeskryfliks te bederf nie.
Al wat ons nie sal kan saamneem nie, is moedswillige sondes.
Kom ons ons los dit met die krag van die Here en ons maak gereed vir die grootste ruimtereis in die geskiedenis van die heelal – die reis na ons ewige tuiste.