1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Blindgebore Man

Blindgebore Man

Johannes 9:1-7

“En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af.

Dit was ‘n lieflike Sabbatoggend in die laatsomer van die jaar 30 nC. Die son het helder geskyn en die lug was pragtig blou.

Jesus en Sy dissipels was op pad kerk toe.  Lukas 4:16 sê vir ons dat dit Sy gewoonte was. Dit het nie saak gemaak hoeveel Skrifgeleerdes en Fariseers daar gesit het nie; dit het ook nie saak gemaak hoe dood die kerk was nie; en dit het ook nie saak gemaak of die kerksmense planne bedink het om Hom dood te maak nie, Hy het elke Sabbat kerktoe gegaan.

Dis ‘n baie goeie voorbeeld wat Hy vir ons gestel het.

“En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af.”

Op die Sabbat was Sy gedagtes nie net by Sy Vader nie, nee, Sy gedagtes was ook by mense wat Sy hulp nodig gehad het. So dikwels beperk die mens hom net by die aanbidding van die Here sonder om die behoeftes van mense rondom hom te sien.

JESUS SE OOG

Jesus het ‘n oog gehad wat mense in hulle behoeftes raakgesien het. Die dissipels het nie hierdie man raakgesien nie. Maar die oog van Jesus tel hom op. Ook vir ons

Miskien het hierdie arme blinde teen die toe deur van ‘n winkeltjie gesit. Die Fariseërs met hulle 587 mensgemaakte Sabbatwette het hom seker nie toegelaat om sy blikkie op die Sabbat te skut nie en die man het maar gehoop dat die mense wat op pad kerk toe is, hom sou raaksien en ‘n geldjie in sy blikkie of sy hoed sou gooi.

Min het hierdie bedelaar wat van sy geboorte af blind is, geweet dat daar die Sabbat die grootste Sabbat van sy hele lewe sou word.

Die mense het hom nie raakgesien nie, of die mense wou hom nie raaksien nie, maar daar was ‘n ander oog wat hom raakgesien het, dit was die liefdevolle, bedagsame, reddende oog van Jesus.

“En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af.”  Hy was bet blind tot Jesus by hom uitgekom het.
VERBAND

Dit is baie goed, om wanneer ons die Bybel lees, onsself in die plek van die karakters te stel met wie Jesus te doene gehad het.

Hoe kan ek myself met hierdie man identifiseer wat blind gebore was?

Ek glo in die eerste plek is ons baie soos hierdie man totdat ons ons harte aan Jesus oorgee. Die mens wat nog nie wedergebore is nie, leef in duisternis. Hy sien nie die pragtige liefde van God soos geopenbaar in Jesus Christus nie.

Die onbekeerde hart sien nie die wonders van ‘n vergewens- gesindheid nie. Die onbekeerde hart sien nie skoonhede in die Woord van die Here nie.

Gelukkig kom Jesus op een of ander stadium by die blinde mens verby, die mens wat blind is in sy sonde, en Jesus sien hom raak.

ANDER BLINDHEID

Dan is daar ook ander soort blindhede. Dit mag wees dat ek Jesus as my persoonlike Saligmaker aangeneem het, maar daar is nog areas van waarheid wat ek nie raaksien nie. Ek is blind vir sekere waarhede.

En ‘n mens wat blind is vir sekere waarhede is net so pateties soos ‘n blinde bedelaar wat iewers sit en bedel.

JESUS SIEN ONS

Maar Jesus sien my in my blindheid raak, Hy loop nie verby nie, Hy wil my help.

Daar is ‘n pragtige teks in 2 Kronieke 16:9 wat so lui:

“Want die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.”

Ek wil jou die versekering gee, dat die Here ons raaksien en dat Hy vir ons wil help. Ek is die blinde man wat een Sabbatoggend lank gelede in blindheid gesit en bedel het.

DISSIPELS SE GESPREK

Luister na die gesprek van die dissipels.  Pleks dat hulle die man help, raak hulle gewikkeld in ‘n teologiese stryd.

“En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?

Jy sien die dissipels het geglo dat wanneer een of ander ramp ‘n mens getref het, dit die direkte straf van God was omdat die persoon een of ander vreeslike sonde gedoen het.

Jesus help hulle reg, vers 3

“Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.”

Daar is baie ellendes wat ons oor onsself bring, maar dis nie noodwendig dat alles wat oor ons kom, ons oor onsself gebring het nie.

Nadat Jesus hierdie vraag geantwoord het, gaan Hy voort en sê:

Vers 4 “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.”

IDENTIFISEER MET JESUS

Kan ons onsself tot ‘n mate met Jesus identifiseer? Ja. Sover dit diens aan ander mense is. Jesus het vir ons ‘n voorbeeld kom stel om soos Hy op te tree.

1 Petrus 2:21 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg.

Die voetstappe van Jesus het altyd na iemand in nood gely.  Jesus het altyd na siele gesoek wat besig was om in hulle sonde te sterf. Sy groot werk was die werk vir ander mense.  Hy het altyd gekyk hoeveel Hy vir ander mense kon doen.

En wanneer Jesus van my lewe besit neem, sal die belange die hartseer en behoeftes van ander mense, vir my die grootste besigheid in die wêreld word.

LIG VAN DIE WêRELD

Vers 5 “So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.”  Ek is so dankbaar dat Jesus die lig van die wêreld is. Ek is so dankbaar dat Hy gewillig is om die duisternis in my lewe te verdryf.
GLENCOE

Een aand was ons op pad van Ladysmith na Glencoe toe die ou Peogeot se ligte ewe skielik ingee. Dit was pikdonker, maar gelukkig kon ek betyds tot stilstand kom.

In ‘n stikdonker nag sonder die maan wat lig gee, is ‘n mens hopeloos verlore. Met groot gesukkel het ek die ligte weer aan die brand gekry en ons kon verder ry.

So is die mens ook. Ons is iewers langs die hoofweg van die lewe gestrand. Dis pikdonker en ons het geen lig nie.

En dan kom Jesus, die Lig van die lewe, en Hy skyn op die pad hier voor ons en stel ons in staat om ons bestemming te bereik.

SNAAKSE OPDRAG

Kom ons let nou op die snaakse opdrag van Jesus:

Verse 6,7 En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom:  “Gaan was jou in die badwater Siloam, wat vertaal word:  Uitgestuur.  En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.”

Jesus stap na die blinde bedelaar, neem hom aan die hand en lei hom ‘n endjie weg. By ‘n plekkie waar daar los grondjies is, stop Hy. Hy buk af, spoeg in die grond, maak ‘n modder pasta, en begin dit aan die man se oë te smeer.

Vir ons wat hier in die twintigste eeu leef, klink dit darem ‘n bietjie verregaande en verspot. Maar die mense van daardie tyd het dit nie as snaaks beskou nie. Hulle het geglo dat daar medisionale waarde in so ‘n kleipasta was.

WAAROM?

Mens wonder waarom Jesus dit gedoen het. Miskien wou Hy vir Sy dissipels wys dat daar geen genesende krag in so ‘n modder pasta was nie.

Ek sien ‘n ander moontlike rede vir Jesus se optrede.

DIE MAN

Probeer in jou verbeelding hierdie man sien. Hier oor sy twee oogholtes sit daar nou twee groot bruin kolle. Ek wonder of Petrus nie so ‘n bietjie gelag het nie. Dit moes snaaks gelyk het.
Maar Jesus gaan nog verder. Hy sê vir die man om deur die strate van Jerusalem te loop en die modder by die badwater van Siloam te gaan afwas.

WAT SAL DIE MENSE Sê

Ek dink die eerste vraag wat by hierdie man opgekom het was wat sal die mense sê. Blindes is gesteld op hulle voorkoms.

“Wat sal die mense sê as ek hier deur die strate met modderbeplakte oë stap? Ek kan al hoor hoe die tieners met my spot en vir my lag? En wat sal ek vir die Fariseërs sê as hulle my vra wat aangaan? En sê nou maar ek kom by Siloam en ek was die modder af en ek is nog net so blind soos altyd?  Hoe sal die mense nie dan met my spot nie.

Ek glo daar was ‘n rede waarom Jesus hierdie toets aan hierdie man gestel het. Alhoewel hy blind was, was die opdrag van Jesus vir hom belangriker as die opinie van mense.

En hierdie man is op hierdie Sabbatmore met ‘n keuse gekonfronteer. Gaan hy Jesus se woord aanvaar al maak dit hom belaglik in die publieke oog, of gaan hy toelaat dat menslike opinie hom terughou.

Verskillende toetse: Ryk jongman “gaan verkoop” Ryk Nokodemus “bekering”.

NAAMAN

Daar is ‘n interessante parallele tussen hierdie blinde man en Naaman. Naaman moes ook iets doen wat onaanvaarbaar in die publieke oog was. Hoe sou dit lyk, as hy, so ‘n belangrike man, sewe keer in die Jordaan op en af spring?

Die pad vir Naaman na genesing, was die pad van gehoorsaamheid aan die woord van die Here. Al was dit ‘n snaakse opdrag, dit was die opdrag van die Here. En alleenlik in die uitvoering daarvan, sou Naaman van sy melaatsheid genees word.

En die pad na sig vir hierdie blindgeborene was die pad van gehoorsaamheid aan die stem van die Here. Afgesien van menslike opinies.

BESLUIT

Net soos Naaman besluit het om te doen wat die Here deur die profeet aan hom gesê het om te doen, het hierdie blindgeborene ook besluit om te doen wat Jesus hom beveel het.

Die teks sê:  “En hy het gegaan.”

Watter pragtige woorde. Hy het gegaan. Hy was gewillig om die bespotting op die pad na Siloam te verduur. Dit het nou nie meer saak gemaak wat die kerksmense vir hom gaan vra of toesnou nie, hy het besluit om Jesus se bevel te gehoorsaam.

OPMERKINGS

Ek wonder wat se opmerkings die mense alles gemaak het toe hulle hierdie man met sy modderbeplankte oë deur die strate sien stap het?

“Haai, ou Simon. Waar gaan jy heen met jou wit kierie? Wat gaan met jou gesig aan? Vee af die modder man.”

Miskien het van die jongmense gesê: “Kyk daar, ou Simon is nie alleen blind nie, maar dit lyk of hy nou ook mal geword het.”  En dit skater soos hulle lag.

Maar Simon loop aan, versigtig, versigtig. Hy is op pad na Siloam toe. Dit wat Jesus vir hom gesê het, is belangriker as die aanmerkings en die opinies van die mense.

Twee van die geestelikes in wie se wyk die blindgeborene is, keer hom voor.

“Haai, broer Simon. Wat gaan met jou aan? Wie het jou so met die modder beplak?”

En Simon verduidelik hulle wat Jesus gedoen en beveel het.

“Maat het jy nie geweet dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes hierdie Jesus nie herken nie? Het jy nie geweet dat hierdie man die tradisies van die kerk omver wil gooi nie?”

Maar die blindgeborene het sy besluit geneem en hy stap aan na die badwater van Siloam.

SILOAM

Dit was my voorreg om hierdie plek te kon besoek het. Mens klim met ‘n hele klomp trappies af tot onder by die helder skoon water. Hiskia het ‘n tonnel laat grawe vanaf die fontein van Gihon tot by hierdie bad. Die tonnel is ongeveer 2000 meter lank en ek het met ‘n kers van die Gihonfontein tot by Siloam middellyf deur die water geloop.

GENESING

In my geestesoog kan ek die blinde met die trappies sien afstap. Sy een hand is op die reëling.
Nader en nader kom hy na die water. Ek wonder wat alles deur sy gedagtes gaan? Hy het nog nooit gesien nie. Hy wonder hoe die son lyk wat warm op hom bak.

Hoe lyk die voeltjies wat kwetter? Hoe lyk die mense wat hy hoor? Hoe lyk die blomme wat so lekker ruik? Die kos wat hy eet? Die geld wat mense hom gee?

Versigtig buk hy langs die kant. Hy steek sy regterhand in die water en begin om die modder af te spoel.

DIE WONDERWERK

Skielik is die pikdondernag weg. Voor hom sien hy sy hand, die water wat beweeg. Onder in die bad van Siloam sien hy mooi klippertjies. Hy kyk om hom. Vir die eerste keer sien hy geboue en mense. Hy sien bome en gras. ‘n Voeltjie vlieg by hom verby. Hy kyk op na die pragtige blou lug.

Saggies prewel hy:  Dankie Here, dankie Here ek kan sien.

GEHOORSAAMHEIDSLES

Was sy gehoorsaamheid die moeite werd? Het dit saak gemaak dat mense hom op die pad gespot het?

Hier is ‘n pragtige les. Die Here beveel vandag nog dat ons sekere dinge moet doen. Gewoonlik bots Sy bevele met die aanvaarde gebruike van die samelewing.

Mense moet vandag nog kies tussen die stem van die Here en die opinie van die samelewing. Duisende bly sit in hulle duisternis omdat hulle bang is vir wat mense gaan sê.

Dank die Here dat daar duisende ander is wat gewillig is om met modderbeplakte oë deur die strate van die samelewing te loop. Mense wat op pad is na Siloam, mense wat die pad van die Here se gebooie bewandel.

Verse 6,7 En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man en sê vir hom:  “Gaan was jou in die badwater Siloam, wat vertaal word:  Uitgestuur.  En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.”

Mag die Here ons help om te gehoorsaam wanneer Hy ons roep om iets te doen. Mag ons soos die blinde man, nie teruggehou word deur wat mense mag sê nie.

Mag dit wees dat gehoorsaamheid aan wat Jesus vir ons sê, die heel belangrikste saak in ons lewens sal wees.

En dan, in daardie dag wanneer Jesus op die wolke kom, sal ons oë finaal geopen word want ons sal die Koning in Sy skoonheid sien. Ons sal die wonders van die hemel aanskou. En dit sal vir ons wees soos wat dit vir daardie blinde man was – onbeskryflik.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles