1. Home
  2. Boeke Van Die Bybel
  3. Die Boek Daniël
  4. Daniël 6 – Daniël In Die Leeukuil

Daniël 6 – Daniël In Die Leeukuil

DANIëL IN DIE LEEUKUIL – HOOFSTUK 6

Skriftuur: Daniël 6:11

Ons draai die horlosie twee-en-‘n-half duisend jaar terug. Ons bevind ons in die stad Babilon wat so pas deur die Meders en die Perse verower is.

Koning Kores het ‘n dekreet uitgevaardig wat alle Hebreeuse ballinge toegelaat het om na hulle geboorte land terug te keer. Daniël was al oor die tagtig jaar en kon die lang reis fisies nie meer maak nie.

Kom ons lees aangaande die nuwe koning wat deur Kores die Grote in Babilon aangestel het:

Daniël 6:1-3 “Darius die Mediër het die koningskap oorgeneem toe hy twee en sestig jaar oud was. Hy het besluit om honderd en twintig goewerneurs-generaal aan te stel om oor sy hele koninkryk te regeer. Oor hulle was daar drie ministers, van wie Daniël een was en aan wie die goewerneurs-generaal verantwoordelik was sodat die koning se belange behoorlik behartig kon word.”

Dink jy nie koning Darius het ‘n administratiewe fout begaan nie? ‘n Mens kan mos nie sommer ‘n Hebreeuse uitlander oor al die ander ministers en goewerneurs-generaal aanstel nie. Op een of ander manier het koning Darius Daniël se Curiculum Vitae (CV) in die hande gekry en gelees.

Drie doktorsgrade in die regte; twee doktorsgrade in Administrasie en nog ‘n ander klomp ander diplomas, te veel om op te noem. Maar dit waarin die koning die meeste belanggestel het, is die getuigskrif wat Nebukadnesar oor Daniël geskryf het.

Kom ek lees dit vir jou:

HEIL DIE LESER

“Hierdie is die eerlikste mens wat nog ooit in die koning se administrasie gewerk het. Hy het in al die jare nie ‘n sent van die staat se geld verduister nie. Wanneer dit by pligsgetrouheid kom, is hy sonder weerga. Sy godsdienstige beginsels is van so ‘n aard dat hy nooit iemand sal ondermyn nie. Hy het ook nog nooit van sy mede-amptenare sleg gepraat nie. Daniël is nie ‘n man wat sommer van die werk af wegbly nie en hy is een van die hardwerkenste amptenare in my diens.

Ek Nebukadnesar kan hom vir enige verantwoordelike pos enige plek in die wêreld aangeveel.”

DIE AANSTELLING

Koning Darius sou ‘n groter verlies ly as hy nie vir Daniël aangestel het nie. Die teks sê hy het die koning se belange behoorlik behartig. Daar was kere dat die twee ministers met interessante voorstelle na Daniël toe gekom het.

“Luister meneer, ons het sopas R100 miljoen meer belasting van Egipte ontvang. As ons elkeeen R25 miljoen vir onsself neem, sal die koning dit nie agterkom nie.”

Daniël kon nie omgekoop word nie. Die belange van die koning was vir hom baie belangriker as sy eie selfsugtige behoeftes.

“Maar Daniël, jy kan hierdie geld gebruik om Jerusalem se tempel op te bou. Niemand sal skade ly as ons hierdie geld vir onsself gebruik nie.”

Daniël het nie ‘n milimeter van strenge eerlikheid en integriteit afgewyk nie. Hy is ‘n tipe van die eind-tyd Daniëls wat in elke besigheidstransaksie honderd persent deursigtig is.

Vers 4 “Hierdie Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid so uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs-generaal dat die koning van plan was om hom oor die hele koninkryk aan te stel.”

Ons kry ou mense en ou mense. Daniël kon seker op 60 al sy pakket gevat het, maar hy het nie. Hy kon op die N1 net buite Babilon Aircon gas verkoop het. Hy kon met die oorname van regering besluit het dat regstellende aksie aan die kom was en vir vervroegde pensioen gevra het. Maar Daniël het bly werk so lank as wat hy kon.

Hy kon vir hom ‘n kamer by die Nabonidus Ouetehuis gekry het en vir ure op die stoep gesit het, maar Daniël het nie. Hy het Job se boek: “Growing old Gracefully” gelees, en sy lewe voluit geleef.

JOB SE VOL LEWE

Kom ons hoor wat met Job gebeur het nadat hy al sy kinders aan die dood afgegee en toe bankrot gespeel het. Hy is nie opgeneem nie en hy het ook nie op permanente mediksasie gegaan nie.

Job 42:16 “Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. Job het toe gesterf. Hy was oud en het ‘n vol lewe gehad.”

Dis baie moontlik dat Daniël al die psalms uit sy kop geken het. Ek glo hy kon volkome met die volgende gedagte uit Psalm 71:18,19 identifiseer.

“Nou dat ek oud en grys geword het, moet U my tog nie alleen laat nie, o God, dat ek nog aan die geslagte wat kom, kan vertel van u werk en u mag. U verlossingswerk, o God, is oneindig groot; groot is die dinge wat U gedoen het! Wie is soos U, o God?”

Die mooiste iets wat die bejaarde kan doen, is om aan die jonger geslag te vertel hoe goed die Here is. Wanneer mens net op die ouderdom konsentreer, verloor die lewe sy sin. Daniël se groot passie was om aan jonger mense te vertel watter wonderbaarlik God hy gedien het.

Dit mag ook wees dat Daniël die volgende psalm ook uit sy kop geken het.

Psalm 92:13-15 “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God. Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.”

Het julle gehoor van Wally Hayward wat die Comrades gehardloop het? Het julle gehoor hoe oud hy was? In die tagtig. Daniël het nie opgehou lewe toe hy sestig of sewentig of tagtig jaar oud geword het nie. Sy grootste verantwoordelikhede het gekom toe hy diep in sy tagtigs was.

Ons word verskriklik lelik wanneer ons ouer word maar ons hoef nie treurig te word nie. Wat se soort raad gee die Nuwe Testament vir mense wat begin oud word?

Titus 2:1-3 Maar julle moet verkondig wat in ooreenstemming is met die gesonde leer. Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees, eerbaar, verstandig, gesond en vas in geloof, liefde en volharding. Net so moet jy ook vir die ouer vroue sê hulle gedrag moet die wees van mense wat ‘n heilige lewe lei.

Verse 4,5 Hulle moenie kwaadpraat of aan drank verslaaf wees nie. Hulle moet goeie raad kan gee, sodat hulle die jonger vrouens kan leer om liefdevol teenoor hulle mans en kinders te wees, verstandig en kuis, goeie huisvrouens, onderdanig aan hulle mans. Dan sal die woord van God nie in diskrediet kom nie.”

DIE BYBEL EN DIE WETENSKAP

Wanneer mens die Bybelse opdragte aan die bejaardes lees, ontdek jy dat groei nie mag ophou nie. Daar is sekere gebiede waar die mens net kan aanhou groei en groei en groei.

Lees hierdie Bybelgedeeltes versigtig deur en streef om God se ideaal in jou oudag te bereik. Wat sê die moderne boeke oor die proses van veroudering? Stem hulle ooreen met die Bybel se raad? Baie beslis. Daar is onteenseglik bewys dat die beste terapie vir die ouderdom volgehoue aktiewiteit is.

DANIEL DIE MODEL

Kom ons lees verder oor die standaard wat Daniël in sy tagtigerjare gehandhaaf het. En onthou, hy is ‘n tipe van die eindtyd Daniëls.

Vers 5 “Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie.”

Wat ‘n man van integriteit. Sy jaloerse vyande kry die beste ouditeursfirme in Babilon om Daniël se boeke te oudit. Hy was nie ‘n sent uit nie. Hulle ondersoek sy reisuitgawes en die kilometers wat hy vir sy kameelritte gerapporteer het, en kry nie fout nie.

Hulle kyk of hy al sy afsprake betyds nagekom het, en Daniël slaag die ondersoek met lof. Hulle trek sy leêr by die ontvanger van inkomste maar vind absoluut geen onreelmatigheid nie.

DIE GEVAAR VAN JALOESIE

Een van die gevaarlikste vyande in hierdie lewe, is die vyand van jaloesie. As jy daardie gees besit, sal jy alles doen om die persoon op wie jy jaloers is te vernietig. En as iemand op jou jaloers is, gaan jy baie ongerief verduur.

Luister wat sê Spreuke 27:4 “Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is ‘n onkeerbare vloed; teen jaloesie is niemamd opgewasse nie.”

Het jy die probleem wat Daniël se afgunstige kollegas gehad het? As daar naywer, jaloesie en afguns in jou hart is, gaan dit jou vernietig. Het die Here vir ons raad oor hierdie swakhede? Kan ‘n mens van jarelange wrokke verlos word?

Galasiërs 5:14-16 “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dit: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.”

Kom ons laat toe dat die Heilige Gees die mooi gesindheid van Jesus in ons harte plant sodat daar nie plek vir die gees van afguns en jaloesie in ons lewe sal wees nie.

Jy kan op hierdie oomblik vra dat die Here jou van ‘n lelike gesindheid moet verlos, en Hy sal dit graag vir jou wil doen. Probeer dit gerus.

GODSDIENSTIGE VERVOLGING

Kom ons kyk na die volgende stap waarheen hulle afguns hulle gelei het.

Vers 6 “Hulle sê toe vir mekaar: ‘Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.'”

Vir watter tydperk van die wêreld se geskiedenis is die boek Daniël geskryf? Vir die eindtyd. Sal daar weer ‘n vervolging teen toegewyde mense soos Daniël van ouds losbars? Ja. Baie beslis.

Openbaring 12:17 “Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het.”

GODSDIENSTIGE WETTE UITGEVAARDIG

Daniël se sluwe vyande neem ‘n godsdienstige wetsontwerp na die koning en hy onderteken dit. Kom ons lees die inhoud daarvan:

Vers 8-10 “…Die dekreet moet baie streng bepaal dat enigiemand wat gedurende dertig dae enige god of mens aanbid behalwe vir u, U Majesteit, in ‘n leeukuil gegooi moet word…Koning Darius het toe so ‘n dekreet uitgevaardig.”

Kom ons kyk versigtig na hierdie teks. Hoe omvangryk is hierdie wetgewing? Universeel. Wat is die aard daarvan? Godsdienstig. Kan ons ‘n herhaling hiervan verwag? Baie beslis. Kom ons lees wat die land dier van Openbaring 13 gaan doen.

Openbaring 13:15 Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die dier se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie.

Verse 16,17 Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier of die getal van sy naam.

Net soos daar in Daniël se dag ‘n aardse wet uitgevaardig is, wat in botsing met God se wet was, net so gaan daar binnekort weer ‘n wet uitgevaardig word wat met die wet van God sal bots.

Mense wat nie bereid is om die nuwe landswet te gehoorsaam nie, sal van hoogverraad aangekla word. Die geskiedenis van die boek Daniël is vir ons dag geskryf sodat ons presies kan weet wat daar vir ons wag.

DANIëL SE GETROUHEID

Kom ons lees hoe Daniël op hierdie dekreet gereageer het wat hom verplig het om die landswet ten koste van Gods wet te gehoorsaam. Daniël maak die geregistreerde posstuk op sy lessenaar oop, en begin lees. Dit kom van die departement van godsdienssake en korrektiewe dienste.

“Vir die volgende 30 dae mag daar net vir die Koning gebid word. Enigeen wat hierdie wet oortree, sal hy in ‘n leeukuil gegooi word.”

Wat sou jy gemaak het as jy in Daniël se plek was? Wat is vir jou die belangrikste iets in die lewe? Het jy die Here liewer as jou eie lewe? Is gehoorsaamheid aan Hom vir jou belangriker as om te lewe?

Daniël 6:11 “Toe Daniël hoor dat die dekreet uitgevaardig is, het hy na sy huis toe gegaan. Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.”

Het Daniël geweet dat die Here sy lewe in die leeukuil gaan spaar? Nee, hy het nie. Ek kan die ou profeet in my geestesoog op sy knieë sien bid.

“Here, dankie u dat my lewe soveel jare gespaar het. Baie dankie dat u eindtyd profesieë aan my bekandgemaak het. Baie dankie dat u my gehelp het Nebukadnesar tot bekering te kon lei. Ek het 43 jaar lank vir hom gebid. (Daniël haal sy sakdoek uit, vee die trane af wat vrylik oor sy wange rol)

“En nou het ek vir die eerste keer in my lewe by die plek gekom waar ek die dood in die gesig staar. As u my lewe spaar sodat ek nog ‘n rukkie langer vir u kan werk, baie dankie. Maar as U dit toelaat dat ek deur die leeus opgevreet word, dan aanvaar ek dit so. Mag dit wees, of ek leef en of ek sterf, dat U Naam daardeur verheerlik sal word.”

Toe Daniël van sy knieë af opstaan, arresteer die veiligheidspolisie hom en neem hom na die leeukuil toe.

Vers 17 “Die koning moes toe die bevel gee, en Daniël is gebring en in ‘n leeukuil gegooi. Die koning het vir Daniël gesê: Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.”

DIE GESPREK TUSSEN DARIUS EN DANIëL

Ek wonder wat die laaste woorde was wat Daniël met koning Darius gepraat het. Ek glo hy het ‘n beroep op die koning gemaak om sy lewe aan die God van hemel en aarde te gee.

Wat Daniël ookal gesê het, het so ‘n diep indruk op die koning gemaak dat hy daardie nag nie kon slaap nie. Hy het nie vir die Persiese songod Mitras gebid nie, maar vir Daniël se God.

“O God van Daniël, ek ken U nie maar ek het U karakter in die lewe van U dienskneg Daniël bespeur en dit is mooi. Spaar asseblief sy lewe en vergewe my dat ek toegelaat het dat my administrateurs my in hierdie godsdienstige wetgewing ingedwing het.”

Vers 20,21 “Die volgende môre vroeg toe dit lig word, het hy opgestaan en is hy haastig na die leeukuil toe. Toe hy naby die leeukuil kom, het hy angstig na Daniël geroep en vir hom gevra: ‘Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?'”

Wat ‘n emosioneel gelaaide oomblik. Sou Daniël se God ‘n heidense koning soos hy se gebed beantwoord het? As hy tog maar net weer vir Daniël kon sien. So tussen die gebrul van die leeus, hoor hy Daniël praat.

Verse 22,23 “Toe antwoord Daniël: ‘Mag die koning baie lank lewe! My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.”

Eendag in die hemel gaan ek vir Daniël vra om vir my van sy ondervinding in die leeukuil te vertel. Ek wonder of Daniël die engel kon sien? Wie dink u, was hierdie engel, hierdie boodskapper? Het u geweet dat Jesus, die tweede Persoon van die Godheid dikwels in die gedaante van ‘n engel aan mense verskyn het? Kom ons lees van een so ‘n geval.

Exodus 3:2-4 “Toe verskyn die engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself: ‘Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie’?

Vers 4 Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: ‘Moses! Moses!’ En hy antwoord: ‘Hier is ek.'”

Jesus wat ook God en Here in die Ou Testament genoem word, verskyn met tye aan mense as “Die Engel van die Here.”

Toe Daniël se drie vriende in die brandende vuuroond gegooi is, het Jesus, die tweede Persoon van die Godheid in menslike gedaante tussen hulle verskyn. En dieselfde Jesus wat sy getroue diensknegte in die vuuroond besoek het, het ook vir Daniël in die leeukuil besoek.

Ons dien so ‘n wonderbaarlike Verlosser. Hy ontmoet Sy kinders in die vlamme van vervoling en in die leeukuil van verwerping en dood.

Verse 24,25 “Die koning was bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het. Op bevel van die koning is die mense wat vir Daniël verkla het, gebring en in die leeukuil gegooi…Hulle het nog nie in die leeukuil grond gevat nie of die leeus was op hulle en het hulle verskeur.”

EINDTYD GEBEURE

Wat gaan in die eindtyd met die kinders van God gebeur wat weier om staatswette te gehoorsaam wat met die wet van God bots? Hulle sal die doodstraf ontvang soos ons in Openbaring 13:15 gelees het.

Sal daardie vonnis voltrek word? Wat sê die voorbeelde van Daniël en sy vriende vir ons? Nee. God gaan nie toelaat dat Sy gehoorsame kinders heel aan die einde van die tyd doodgemaak word nie. Wat gaan met die geestelikes gebeur wat die konings, die wetgewers van die aarde gemanipuleer het om wette laat maak om God se kinders te vervolg?

Openbaring 16:12 “Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Die water daarvan het opgedroog…”

Wie word deur die water voorgestel? Die nasies. Wat gaan met hulle ondersteuning aan mistieke Babilon, die gevalle kerk gebeur? Dit gaan opdroog. Dieselfde gedagte word in die volgende hoofstuk herhaal, kom ons lees dit.

Openbaring 18:15,16 “Verder het hy vir my gesê: ‘Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale. Die tien horing wat jy gesien het, en die dier, hulle sal die sedelose vrou haat en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verbrand.”

Wanneer mens aan die einde van tyd gaan ontdek dat die geestelike leiers hulle mislei het, gaan hulle doen wat die misleide Darius gedoen het. Hulle gaan hulle eie predikante in ‘n leeukuil van vernietiging gooi. Daar is net een veilige pad om te loop, en dit is die pad van gehoorsaamheid aan die Here se geopenbaarde wil aan ons.

Daar is ‘n geweldige behoefte aan toegewyde eindtyd Daniëls. Mense wat nie gekoop of verkoop kan word nie. Mense wat so getrou aan beginsel is, soos die kompas aan die pole. Deur die genade van die Here wil ek ‘n Daniël wees, wat van jou?

 

Was this article helpful?

Related Articles