1. Home
  2. Boeke Van Die Bybel
  3. Die Boek Daniël
  4. Daniël 7 (Deel 3) – Die Klein Horinkie

Daniël 7 (Deel 3) – Die Klein Horinkie

DIE KLEIN HORINKIE

In ‘n vorige lesing het ons aangaande Nebukadnesar se vergete droom studeer. Toe hy die volgende oggend wakker word kon hy dit nie onthou nie. Daniël het die droom toe herroep en uitgelê.

Dis ‘n visioen van die opkoms en val van vier antieke beskawings. Babilonië, Medo Persië, die Griekse ryk en Rome. Die voete van yster en klei het die verbrokkelde Romeinse ryk voorgestel wat na 476 n.C. ontstaan het. Dit sou voortbestaan totdat ‘n groot klip op ‘n bonatuurlike wyse die beeld vernietig. Nooit weer sou daar ‘n een wêreld regering wees wat oor almal regeer nie.

Daniël 2:44 “Maar in die dae van die konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”

Die Rots wat op pad is, is Jesus met al Sy heilige engele. Hy kom ‘n einde maak aan die hartseer geskiedenis van ons planeet. Jesus nooi elkeen wat deel van Sy koninkryk wil word, om op Hom die Rots te val sodat sy sondige natuur verpletter kan word.

HERHALEND

Wanneer jy die profesieë van Daniël en Openbaring bestudeer, kom jy agter dat die een visioen die inligting van die vorige profetiese visioen herhaal. Ons noem dit rekapitulasie.

So byvoorbeeld herhaal die visioen van die vier diere van Daniël 7 die inligting oor die vier wêreldryke van die beeld van Daniël.
Albei begin by Babilon en eindig by die wederkoms van Jesus.
Maar daar is een verskil. Addisionele inligting kom telkens by.

In die profesie van Daniël 8 verskyn daar ‘n skaapram en ‘n bokram. Die profesie begin ook in die tyd waarin die profeet leef en eindig by die wederkoms. Die inligting van die twee vorige profesieë word herhaal en meer inligting word verskaf.
Die beginsel van rekapitulasie kom ook in Openbaring voor. Die visioen van Jesus tussen die sewe kandelare of sewe gemeentes begin by die tyd waarin Johannes leef, en eindig by die klimaktiese wederkoms van Jesus.

Die visioen van die sewe seëls begin by die wit perd, die rein kerk, die kerk van die apostels. En waar dink u gaan hierdie profesie eindig? By die wederkoms van Jesus, die sewende seël.

En wanneer ons by die profesieë van Openbaring 12, 13, 14, 15, 16 en 17 kom, sal ons ook dieselfde patroon sien. Daniël en Openbaring bring die goeie nuus dat Jesus binnekort gaan kom.
HERHALING VAN DIE VISIOEN VAN DANIEL 7

Daniël sien een nag in ‘n visioen hoe ‘n leeu verskyn. Kan u nog onthou wat die wind en die water in hierdie profesie beteken? Wind staan vir oorlog en water vir mense. En die leeu? Babilon.

Die beer met drie ribbes in sy bek was hoër aan die een kant as aan die ander. Hy het die Medo-Persiese ryk voorgestel.

‘n Luiperd met vier koppe en vier vlerke het toe verskyn. Watter koninkryk het hy voorgestel? Die Grieke. Soos wat die eerste drie diere met die eerste drie metale van die beeld ooreenstem, so stem die vierde dier ook met die vierde metaal ooreen.

DIE VIERDE DIER

Maar hierdie dier was eienaardig en Daniël kon nie vir hom ‘n naam kry nie. Hy was baie verskillend van die diere voor hom.

Daniël 7:7 “Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ‘n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.” Waar gaan ons die uitleg kry? In die Bybel.
Vers 23,24 “So het hy gesê: Die vierde dier die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. En die tien horings uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal na hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.”

Kan jy die beginsel van rekapitulasie hier waarneem? In hoofstuk twee verbrokkel Rome, die yster bene in tien koninkryke. Daniël sien dieselfde verbrokkeling in hoofstuk sewe.

DIE KLEIN HORINKIE

Terwyl Daniël op die tien horings let, die verbrokkelde Romeinse ryk, sien hy hoe ‘n astrante klein horinkie sy verskyning tussen hulle maak. Wanneer moes dit gebeur? Na die val van die Romeinse ryk in 476 n.C.

Vers 8 “Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.”

Die aard van kleikomponent van die voete gaan nou verduidelik word.

Om te verhoed dat ons ‘n fout maak met die identifisering van die horinkie, gee die profeet vir ons tien kenmerke.

ENMERKE VAN DIE KLEIN HORINKIE PUNT I

(1) Hoofstuk 7:8 sê hy kom tussen die ander horings op.

“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op…” Watter mag het rondom 476 n.C. sy verskyning tussen die vroeë Europese nasies gemaak het?

“To the succession of the Ceasars came the succession of the Pontiffs in Rome. When Constantine left Rome he gave his seat to the Pontif.” Lebanca, history prof. University Rome. Die Roomse Katolieke kerk maak sy verskyning in Italië op Europese grondgebied. Nou weet ons wie die klein horinkie is.

PUNT 2. Daniël 7:24 sê vir ons die klein horinkie maak sy verskyning eers na die verbrokkeling van die Romeinse ryk.

“En die tien konings uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal na hulle opstaan…” Kom hoor of die Roomse Katolieke kerk hierdie profetiese feit bevestig:

American Catholic Quarterly Review, April 1911. “Eeue gelede, toe die nalatige Westerse keisers Rome aan die genade van die barbaarse hordes oorgelaat het, het die Romeine hulle na een man gewend vir hulp en beskerming, en vir hom gevra om oor hulle te heers.

So het die burgerlike heerskappy van die pouse begin. Die plaasvervanger van Christus het die troon van die keiser bestyg en die septer opgeneem waarvoor Europese keisers en konings eerbiedig deur soveel eeue heen sou buig.” Pouslike Rome is beslis die klein horinkie.

Terwyl ek na die lang lys name van pouse kyk wat deur die eeue geleef het, dink ek aan die betroubaarheid van die profesie. Die profeet het voorspel dat pouslike Rome na die verbrokkeling van die Romeinse ryk sou verskyn, en dit was net so.

PUNT 3. Die derde karaktertrek van die klein horinkie is sy ontworteling of verowering van drie van die destydse tien Europese nasies. Kom ons lees wat Daniël 7:8 hieroor sê:

“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel…”

In 493 n.C. verower hy die Heruli, in 534 n.C. die Vandale en in 538 n.C. die Oos Gote. Pouslike Rome voldoen aan al die kenmerke van die klein horinkie
Nêrens in die Bybel kry mens soveel kenmerke wat ‘n spesifieke mag identifiseer nie. Waarom? Ons leef op die vooraand van groot profetiese vervullings en die Here wil verhoed dat ons in hierdie laat uur mislei word. As ek en jy nalaat om die Bybel te studeer en Jesus ten volle te gehoorsaam, sal ons deur die antchris mislei word.

PUNT 4. Daniël 7:24 sê vir ons dat hy verskillend van die ander koninkryke sou wees. Kom ons lees dit:

“En die tien horings uit daardie konkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal na hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp.”

Ek kyk hier na Switserse wagte wat St. Peters en die Vatikan beskerm. Gedurende die Middeleeue was al die ander nasies sekulêre magte. Maar die Roomse kerk was anders in die opsig dat hy ‘n godsdienstig sekulêre mag was.

PUNT 5. Die vyfde kenmerk wat die profeet noem, is die feit dat die klein horinkie toonaangewend sou wees. Met ander woorde hy sal diktatoriale magte aanneem. Kom ons lees vers 20:

“En die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en ‘n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander.”

Weet u wat vir my so fantasties is van Bybelprofesie? Geskiedenis bevestig alles wat voorspel is. Luister na hierdie sitaat oor die mag van die pousdom gedurende die middel eeue.

“Die Plaasvervanger van die Seun van God, gesalfde hoëpriester en opperste heerser op tydelike gebied (die pous) het op sy troon gesit om onpartydig te oordeel tussen volk en volk, tussen vors en vors, tussen heerser en onderdaan.” Henry Cardinal Manning, “The Temporal Power of the Vicar of Jesus Christ (1862), bl. 46.

Elke keer wanneer ek hier by St. Peters in Rome besoek, dink ek aan die akkurate vervulling van die profesie van Daniël 7. Konings het deur die eeue voor die kerk van Rome gesidder. Vir eeue het die kerk die vorste van Europe gehiet en gebied.

PUNT 6. Die volgende kenmerk is skokkend. Daniël 7:25 sê: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste…”

Wat sou u sê beteken hierdie uitdrukking? Dit klink amper soos godslastering. Maar kom ons hoor wat die Bybel daarvan sê.

In Openbaring 13 lees ons van ‘n luiperd agtige dier met 7 koppe en 10 horings wat ook sy verskyning uit die see maak. Hy besit al die kenmerke van die vier diere van Daniël 7.
Johannes sê vir ons dat hierdie dier groot woorde spreek wat “godslastering” beteken. Kom ons lees dit:

Openbaring 13:5 “En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen.”

Voordat ons die Katolieke bronne oor hierdie ernstige aantuiging van godslastering raadpleeg, moet ons eers vasstel wat die definisie daarvan is. Wie gaan dit vir ons vertel?

Johannes 10:33 “Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.” Maak Rome hom aan hierdie verskriklike sonde skuldig? Ja.

“Ons beklee op hierdie aarde die plek van God Almagtig.” “The Great Encyclical Letters of Pope Leo XIII”, omgaande brief van 20 Junie 1894. Hierdie sitaat laat my aan die ernstige waarskuwing van 2 Thessalonicense 2:3,4 dink. Kom ons lees dit:

“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God sal sit en voorgee dat hy God is.”

Die Griekse preposisie “anti” beteken ook “in die plek van.” Die klein-horinkie is ‘n valse godsdienstige mag wat homself in die plek van Christus plaas. Mag die Here jou en my van die sonde bewaar om die plek van Jesus te wil inneem.

Ek lees vir u wat in 1512 tydens die Vyfde Lateraanse konsilie in die kerk van St. John Lateraan in Rome besluit is: “Want u (die pous) is die herder, u is die geneesheer, u is die bestuurder, u is die landman; u is werklik ‘n ander God op aarde.” Christopher Marcellus op die vyfde Lateraanse Konsilie, 1512. Wat ‘n skokkende vervulling van Bybelprofesie.

Kom ons luister ook wat Markus 2:5 7 aangaande godslastering sê:

“En toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Seun, jou sondes is jou vergewe! En sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en in hulle harte geredeneer: Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?”

Wanneer mens St. Peters besoek, merk jy dat hulle hokkies het waar mense hulle sondes teenoor ‘n priester kan bely. Maar ons wil weet of hierdie kerk daarop aanspraak maak dat hulle sondes kan vergewe. Kom ons hoor:

“Die regterlike gesag sal selfs die mag insluit om sonde te vergewe.” “Catholic Encyclopedia, boek 12, art. POUS, bl. 265.

SEWENDE PUNT. Daniël voorspel dat die klein horinkie, die Roomse Katolieke kerk mense gaan vervolg. Wat leer die geskiedenis?

Terwyl ek na ‘n voorstelling van vervolging by ‘n Jesuïtiese kerk kyk, dink ek aan Daniël 7:25: “En hy sal…die heiliges van die Allerhoogste mishandel.” Sommige geskiedskrywers sê vir ons dat die kerk van Rome ongeveer 150 miljoen mense ‘n marteldood laat sterf het. Apologie gemaak

Die gevierde Katoliek, Thomas Aquinas, het verklaar dat ketters wat skuldig bevind is, net soos ander misdadigers doodgemaak moet word, aangesien hulle vervalsers is. Maar wat van jou en my? Hoe tree ons teenoor mense op wat met ons verskil? Het ek die gesindheid van Jesus of het ek die gesindheid van die Antichris?

PUNT 8. Die volgende kenmerk van die klein horinkie is sy aanslag op die heilige wet van die Here.

Daniël 7:25 “…En hy sal probeer om tye en wet te verander…” Kon so ‘n skokkende iets werklik gebeur het?

“Die pous kan goddelike wet wysig.” Prompta Bibliotheca, PAPA, art. 2. Het u dit gehoor? Dis verskriklik! Dis ‘n direkte aanval op die konstitusie van die hemel. Dis vir God so ‘n verskriklike sonde dat die profesie van Daniël 7:25 dit ‘n duisend jaar voor dit gebeur het, voorspel het en hier sien u die vervulling daarvan.

Voor ek te krities teenoor Rome raak, moet ek na my eie lewe kyk. Hoe dikwels kap ons die Here se gebooie met die beitel van rebelse ongehoorsaamheid stukkend? En elke keer wanneer ek dit gedoen het, was ek ‘n verloorder.

Kom ek wys vir jou wat die klein horinkie met die wet gedoen het.

As mens vinnig na die Katolieke katkisasie boek kyk, sien jy nie ‘n probleem nie, maar as jy versigtig lees, kom jy agter dat hulle die tweede gebod uitgehaal het. Wat leer daardie gebod? Jy mag nie gesnede beelde maak en voor hulle neerkniel nie. Die laaste gebod het hulle in twee verdeel om weer tien te kry. Die vierde gebod word die derde een.

By ‘n kerk met die naam van Aracoeli het ek gesien hoe ‘n groep nonne voor Bambino kniel. Dis nie vir hulle ‘n probleem nie want hulle kerk het hierdie gebod uit die wet gehaal.

Toe die heidense keiser Konstantyn ‘n kompromie met die kerk aangegaan het, is daar ooreengekom dat die heidense gode behoue sou bly maar dat hulle Christelike name sou kry.

Bv. Die argeoloë gaan haal die oorsprong van die moeder kind aanbidding by die Hetiete, Babiloniërs, Egiptenare, Perse, Grieke en Romeine. En weet u wat? Die moeder het telkemale meer aandag as die kind gekry. En dis presies wat tans in Rome gebeur.

Die beeld van Petrus in Rome is vroeër as die heidense afgod Jupiter aanbid. Die kerk skraap die gebod wat sê jy mag nie gesnede beelde maak en voor hulle neerbuig nie en miljoene mense oortree daagliks hierdie heilige gebod.

Terloops, voordat die Katolieke hierdie tone kon wegsoen, het heidene alreeds hierdie Jupiterbeeld se tone weggesoen.

Daniël 7:25 het voorspel dat die klein horinkie, die Antichris aan die heilige wet van die Here sou peuter, en geskiedenis bevestig hierdie gruweldaad. Maar dis nie al nie.

Op 7 Maart in die jaar 321 n.C. proklameer Keiser Konstantyn die eerste Sondagwet vir die Romeinse ryk. Die wet verbied dorpsbewoners om op die eerbiedwaardig dag van die son te werk.

Kom saam met my na die ruïnes van antieke Laodicea. Dis hier waar die Middeleeuse kerk, in navolging van Konstantyn, Sondag as amptelike rusdag ingestel het.

‘n Endjie hiervandaan is die beroemde warmwaterbronne van Pumakale met hulle kleurvolle sedimente. Waarom het Rome die Sabbat van Here na Sondag, die dag van die heidene verander?

Op bladsy 50 “The Convert’s Cathechism of Catholic Doctrine” staan die volgende: Vraag. Watter is die Sabbatdag? Antwoord. Saterdag is die Sabbatdag. Vraag. Waarom hou ons Sondag plaas van Saterdag? Antwoord. Ons hou Sondag in plaas van Saterdag omdat die Katolieke Kerk by die Konsilie van Laodicea (336 n.C.) die plegtigheid van Saterdag na Sondag oorgeplaas het.

Die probleem van die Katolieke kerk wat die Sabbat hier by Laodisea verander het, en die probleem van die toeriste wat hier besoek, en jou en my probleem is maar een en dieselfde. Ons besit ‘n gevalle sondige natuur wat van nature ongehoorsaam is. Kan die Here ons help met ons probleem? Ja. Romeine 8:4 sê vir ons die Heilige Gees gee ons die krag om die gebooie van die Here te gehoorsaam.

Ek het ons Turkse gids gevra om by een van die huise by Laodicea te klop. En toe vertel ek haar van Openbaring 3:20 waar die Here sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”

Die oplossing vir my ongehoorsaamheidsprobleem, is om Jesus my hart te hê.

PUNT 9. Daniël 7:25 vertel ons van die tydperk wat die klein horinkie sal regeer: “…En hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.”

Hierdie tydsuitdrukking kom sewe keer in Daniël en Openbaring voor. Elke keer word dit konsekwent met Rome gekoppel.

Die woord vir TYD is Idan en dit staan vir 360 dae. TYE is meervoud, 720 dae. ‘n HALWE TYD is gelyk aan 180 dae. Wanneer mens alles bymekaar tel kry jy 1260 dae of 1260 letterlike jare.

In ‘n profetiese konteks staan een dag altyd vir een jaar. Kom ons lees twee tekse waar profete hierdie beginsel toepas. Numeri 14:34 “Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar…veertig jaar lank.” Esegiël 4:6 “Vir elke jaar lê Ek jou een dag op.”

Om vas te stel wanneer die lang tydperk van pouslike oorheersing begin het, moet ons na Istanbul toe gaan? Vroeër was die naam Bisantium en toe Konstantinopel.

‘n Pilaar is opgerig ter ere van keiser Justinianus. Waarom? Omdat hy in 536 n.C. ‘n dekreet uitgevaardig het waarin hy die biskop van Rome as hoof van die Katolieke kerk aangestel het.

Terwyl ek na hierdie geskiedkundige pilaar van keiser Justinianus kyk het, ek besef dat ek na die vervulling van die profesie van Daniël 7:25 kyk. Sy dekreet het amptelik in 538 n.C. in werking getree.

As jy 1260 by 538 tel, kom jy by 1798 uit. Wat het in die jaar 1798 gebeur? Geskiedenis sê vir ons dit was die jaar dat Napoleon die pous gevange geneem het. Toe die groot profetiese horlosie in 1798 slaan, tree Daniël 7:25 in vervulling en ontvang die pousdom ‘n dodelike wond. En nou vertel Daniël 7:26 vir ons van ‘n hemelse gebeurtenis wat net hierna gaan plaasvind.

PUNT 10. “Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig.”

Na 1798 sal daar ‘n baie interessante oordeel in die hemel begin. In ‘n volgende lesing gaan ons meer daaromtrent ontdek.

In 1617 het ‘n hervormer met die naam van Leonard Kern Daniël se vier diere in pragtige beeldhouwerk vir ewig. Die verbygangers moes weet dat die klein horinkie of te wel die Antichris Rome is. Die hervormers sê vir ons dat die vertolking van die profesie van Daniël 7 wat hulle uit klip gebeitel het, net so onveranderlik soos die tien gebooie is wat ook uit klip gekap is.

Het jy geweet dat al die hervormers geleer het dat die klein horinkie die pousdom of die Antichris is? Ek haal net vlugtig vir Calvyn aan:

“Daniël en Paulus het voorspel dat die Antichris in die tempel van God sal sit. Sover dit ons aangaan, maak ons die Roomse Pous die leier en vaandeldraer van daardie goddelose en gruwelike koninkryk.” Institutes of Christian Religion” Bk. IV, hf. 2, afdeling 12.

Iets skokkend het die afgelope tyd gebeur. Die Protestante waarsku nie meer die wêreld aangaande die Roomse gevaar nie. Die boodskap van die hervormingsmuur by Geneva word geïgnoreer. Skielik het die hele wêreld pro Rooms geword. Het die profesie so ‘n dramatiese wending voorspel? Baie beslis.

Die profesie van Openbaring 13:3 wat die opkoms van die pousdom voorspel, word op ‘n dramaties wyse voor ons oë vervul.

“En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter hom aangegaan.”

Nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het die Roomse katolieke kerk soveel aansien en mag gehad as in ons dag nie. Wêreldleiers raadpleeg hom. Amerika ondersteun hom.

Wat gaan hy met sy nuwe magsposisie in die wêreld maak? U mag die volgende paar lesings nie misloop nie.

U kyk hier die “Basilica of the national shrine of the immaculate conception.” Dis die grootste Katolieke kerk in Amerika en is aan Maria opgedra.

Maria verskynings neem eksponensieel toe. Eers het mense skepties gestaan en gedink dis hallusinasies. Nie meer nie.

Wie is hierdie sogenaamde Maria wat aan derduisende mense verskyn? Wat is haar boodskap? Hoe beïnvloed dit die Katolieke kerk se aansien in die wêreld?

Binne in die kerk was daar ‘n uitstalling van Ted en Maureen Flynn se boek “The Thunder of Justice”

Op die agterblad skryf Michael Brown die volgende oor die Maria verskynings: “A roadmap to the near future.”

Deur wie gaan jy jou laat lei? Deur die profetiese woord of deur die Antichris? Daar is groot en gewigte besluite wat elke mens binne kort sal moet neem.

Ons het aan die einde van die lang pad van hierdie planeet se hartseer geskiedenis gekom. Jesus se koms is voor die deur. Kom ons maak gereed. Kom ons bestudeer die profesieë soos nog nooit van te vore nie.

‘n Konfrontasie met Jesus die rots is onvermydelik. Of ek val met die hardheid van my sondige natuur op Hom en word gered, of ek word binnekort saam met die sondige planeet uitgewis. Ag, mag die Here gee dat ek en jy daagliks op Jesus die Rots met ons groot behoeftes val, en daagliks deur Hom gered word.

Was this article helpful?

Related Articles