1. Home
  2. Boeke Van Die Bybel
  3. Die Boek Daniël
  4. Daniël 8 – Uitspraak Ten Gunste Van Die Heiliges

Daniël 8 – Uitspraak Ten Gunste Van Die Heiliges

UITSPRAAK TEN GUNSTE VAN DIE HEILIGES

Skriftuur: Daniël 8:13,14

Dit sal nie so goed wees as ek net my vrou se arms en hande gehad het nie. Hulle is nou wel baie slim om vir my goeie kos te maak en die tuin netjies te hou. Maar ek het my hele vrou nodig.

Dit sou ook nie goed vir my vrou gewees het as haar man net ‘n paar bene gehad het nie. Sy het ‘n paar arms nodig wat haar kort kort ‘n drukkie kan gee. My vrou het haar hele man nodig om ‘n sinvolle lewe te kan leef.

Ons kan presies dieselfde van die Bybel sê. Ons het nie net die strelende hand van die Psalms nodig nie. Ons het ook die bo-arm van die Bybel se pragtige oorwinningsverhale nodig.

Dis nie genoeg dat ons Jesus se gesig net in die vier evangelies ontdek nie. Ons moet diep in die oë van die profesieë inkyk en Sy blik van liefde daar ontdek.

Daniël 7,8 en 9 moet as afsondelike liggaamsdele van ‘n groter liggaam gesien word. Kom ons doen net vlugtig herhaling van die die vorige studie oor Daniël 7.

In die eerste 8 verse kyk die profeet na die aarde en hy sien ‘n donkerwordende prentjie van wrede, verskeurende diere. In vers 8 word die prentjie pikdonker wanneer hy sien wat die klein horinkie, die antichris, die seun van die verderf, die man van sonde, die gruwel wat verwoes, alles gaan doen.

En dan skielik, verander die inhoud van die visioen. Die profeet kyk op en Hy sien ‘n sinnebeeldige voorstelling van God die Vader in Sy glansende majesteit op Sy troon

Hy sien in vers 9 en 10 hoe die groot hemelse hofsitting begin. Hy sien hoe die hofstukke ondersoek word.

In verse 11,12 kyk hy weer ondertoe en sien hoe die goddelose klein horinkie uiteindelik vernietig gaan word. In vers 13 kyk hy weer boontoe en hy sien die mooiste gebeurtenis in die hele visioen.

Vers 13 “My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ‘n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring.”

Die profeet steek sy pen in ‘n poëtiese potjie ink terwyl hy vertel hoe Jesus, die Advokaat, die Middellaar, die Hoëpriester tot die ondersoekende oordeel toetree. Hy doen dit in decresendo.

Die aanklaer van die broeders, soos Openbaring 12:10 die duiwel noem is ook daar. Wat presies doen hy? Die oordeel wat in 1844 begin het, het die lewens van mense vanaf die skepping begin ondersoek. Gestel nou jy het gesterf en jou naam word in die hemelse hofsitting opgeroep.

Die aanklaer, die duiwel, wys na jou boeke en sê vir die Regter, God die Vader dat jy nie waardig is om gered te word nie. Iewers in 2017 het jy ‘n sonde in die geheim gepleeg.

Die Heilige Gees het met jou gepleit om daarmee te breek. Daar was kere toe jy amper amper die foon opgetel en ‘n einde aan die verkeerde ding gemaak het. Maar ongelukkig het jy nooit so ver gekom nie. Niemand het daarvan geweet nie en jy het gehoop die Here sou hierdie verkeerde ding in jou lewe oorsien. Dit het nooit gebeur nie.

Jesus die Advokaat, is doodstil. Hy vee ‘n traan of twee af. Hy wou jou so baie baie graag gered het. Op grond van die volgende Bybeltekse, maak die hof die volgende beslissing.

Esegiël 18:24 “As iemand wat altyd my wil gedoen het, ophou om dit te doen en onreg pleeg en die afskuwelike dinge doen wat die goddelose doen, sal hy nie bly lewe nie. Nie een van die goeie dinge wat die goddelose gedoen het, sal in sy guns tel nie, want hy het ontrou geword en hy sal sterf op grond van sy sonde wat hy gedoen het.”

Terwyl die Heilige Gees met jou oor die spesifieke sonde in jou lewe gepleit het, het jy ‘n keuse gehad om daarmee te breek of om daarmee aan te hou. Jou verkeerde keuse om aan te hou sondig, het jou ewige dood beteken. Jou verkeerde keuse het trane in Jesus se oë veroorsaak. Jou verkeerde keuse het jou gediskwalifiseer om vir ewig te lewe. En nou gebeur die volgende plegtige iets in die oordeel.

Exodus 32:33 “Wie teen My gesondig het, die sal Ek uitdelg uit my boek.”

Kan jy jouself die hofsitting se ontsteltenis voorstel wanneer jou naam uit die boek van die lewe geneem word? Jy het so ‘n mooi geestelike begin gehad. Tydens jou bekering is jou naam in die boek van die lewe geskryf. Jou doopdiens was ‘n onvergeetlike dag. Deur die jare het jy geestelik gegroei. Die mense in die kerk het jou gerespekteer en liefgehad.

Maar ongelukkig het jy Jesus verloën deur nie met daardie een spesifieke sonde in jou lewe te breek nie.

Mattheus 10:33 “Elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemele is.”

Terwyl jou naam uit die boek van die lewe geneem word, is daar ‘n hartseer oomblik van stilte. Die gedagte dat jy vir ewig verlore is, is vir God die Vader, God die Seun en al die heilige engele verskriklik pynlik. Die volgende naam word opgeroep.

OORWINNEND

Mag die gebeure wat ek nou geskets het, nooit op jou van toepassing wees nie. Kom ek vertel die verhaal ‘n bietjie anders.

Jou naam word in die groot hemelse ondersoekende oordeel opgeroep. Wie is daar om jou beskuldig? Die duiwel. Waarna verwys hy? Hy verwys veral na een spesifieke sonde wat jy in 1990 gepleeg het. Gelukkig het jy dit bely en oorwin.

Kort voor jou dood het die duiwel dieselfde versoeking weer na jou gebring. Die Heilige Gees het met jou gepleit. Ongelukkig het jy geval. Die Heilige Gees het aangehou pleit en pleit en pleit. Jy het berou gekry, met die sonde gebreek en besluit om vergifnis te vra. So ver jou kon, het jy restitusie gedoen.

Nadat die duiwel met sy aantuigings gekom het, staan Jesus voor die miljoene engele op. Die volgende tekse word nou vervul.

Jesaja 43:25 “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.”

Waarom het Jesus jou oortredings uitgedelg? Jy het dit bely en deur Sy genade versaak. Daar is ‘n glimlag op Jesus se gesig. Terwyl die duiwel met Sy beskuldiging besig, maak Jesus nie vir jou sondes verskoning nie. Hy verwys die duiwel na die teks in

Openbaring 3:5 “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.”

Jesus begin te praat. “Vader. Hierdie sondaar het sy sonde bely en laat staan. Hy het om vergifnis gevra. Vader, aan die kruis van Golgotha het ek my bloed gestort en vir sy sondes gesterf. Hy het my verlossing deur geloof aangeneem. Vader. Toe die spykers deur My hande geslaan is, het ek hierdie sondaar se naam in my hardpalms gegraveer. Ek beveel hom aan as ‘n kandidaat vir die ewige lewe.”

APPLOUS

Ek wonder of daar ‘n applous gaan wees wanneer Advokaat Jesus jou saak suksesvol gaan wen? Wat dink jy? Ek dink daardie miljoene engele sal soos een man saam juig omdat daar ‘n besluit geneem is dat jy tydens die eerste opstanding opgewek gaan word.

En ek dink die engel wat jou vir ‘n leeftyd opgepas het, gaan ekstra hard juig. Miskien gaan hy vir die ander engele sê:

“Ek weet presies waar hy begrawe is. Ek kan amper nie meer wag dat Jesus hom moet gaan opwek sodat ek hom weer sal sien.”

UITSPREEK TEN GUNSTE VAN DIE HEILIGES

Ek het onlangs iets ontdek wat vir my nuwe waardering vir die karakter van God die Vader gegee het. In antieke tye het die regter altyd probeer om uitspraak ten gunste van die beskuldigde te gee.

En weet u wat? Die Vader, die Regverdige Regter skep behae daarin om uitspraak ten gunste van sondaars soos ek en jy te gee.

Vers 22 “Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste…”

Dit maak nie saak hoeveel verkeerde inskrywings daar in jou lewensboeke opgeskrywe staan nie. Dis nie die hoeveelheid sonde wat jy gepleeg het wat jou verlore sal laat gaan nie. Dis ook nie die hoeveelheid goeie dade wat jou sal red nie.

Die uitspraak in die hemelse ondersoekende oordeel word deur die meriete van Jesus die bekwame Advokaat bepaal. Dit maak nie saak hoe hopeloos jou saak is nie, wanneer jy Jesus as Advokaat het, is jy veilig. Hy het nog nie een saak verloor nie. Daar is ‘n ander baie belangrike voorwaarde. Ons vind dit in

Spreuke 28:13 “Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.”

Moenie dat moedswillige, onbelyde sonde jou vir die ewige lewe diskwalifiseer nie. Ons hemelse Advokaat vat nie sake aan waar mense nog nie hulle sondes bely het nie.

1 Johannes 1:9 “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongerigtigheid.”

KONINGSKAP NA AFLOOP VAN DIE OORDEEL

Wat gebeur nadat die laaste stel boeke van die laaste belydende Christen nagegaan is?

Daniël 7:14 “Aan die menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.”

Wat ‘n heerlike gedagte! Jesus gaan ‘n koningskap ontvang. Wie gaan die onderdane in Sy koninkryk wees? Die mense wat deur die oordeel regverdig verklaar is.

Vers 18 “Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit.”

DIE REINIGENDE ASPEK VAN DIE OORDEEL

Kom ons blaai na die volgende hoofstuk, hoofstuk 8, om groter persperktief op die ondersoekende oordeel te kry.

In die eerste 12 verse sien Daniël die profeet hoe ‘n bokram ‘n skaapram tot niet maak. Hy verduidelik dat dit die Grieke is wat die Meders en Perse verslaan het. (verse 20,21).

Daarna sien hy vir die hoeveelste maal hoe die klein horinkie sy verskyning maak en die pragtige verlossingsplan vertrap en die getroue kinders van die Here vervolg. En dan sien hy nie meer nie, dan hoor hy.

Daniël 8:13 “Ek het ‘n hemelwese hoor praat, en ‘n ander hemelwese het vir die een wat praat, gevra: ‘Hoe lank sal die dinge van die daaglike offer aanhou: (Tamid, die boodskap van die priesterlike bediening van Jesus), die skrikwekkende sonde, die prysgawe van die heiligdom en die vertrapping van die hemelse leërmag?'”

Wanneer sal die verdraaide verlossingsboodskap van die klein horinkie aangespreek word? Wanneer sal die pragtige boodskap van die heiligdom in sy volheid gepreek word?

Vers 14 “Hy sê toe vir my: ‘Twee duisend drie honderd aande en oggende. Dan sal die heiligdom herstel word.”

‘n Beter woord vir “herstel”, is “gereinig”. Daniël 9:25 sê vir ons dat die tydsberekening van hierdie profesie volgens ‘n sekere dekreet gedoen moet word.

“Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle…”

Die geskiedenis sê vir ons dat die Persiese koning Artasasta hierdie dekreet in 457 v.C. uitgevaardig het. Wanneer mens 2300 jaar hier bytel, kom jy by 1844 uit. Teneinde die reiniging van die hemelse heiligdom te verstaan, moet ‘n mens eers die reiniging van die aardse heiligdom verstaan.

EERSTE AFDELING

Gedurende die jaar het berouvolle sondaars ‘n offerlam na die heiligdom gebring. Nadat die priester die lam ondersoek het en vasgestel het dat die dier sonder gebreke is, het die volgende iets plaasgevind.

Die berouvolle sondaar het sy gewig op die lam gedruk en sy sondes simbolies oor die lam bely. Daarna het die priester vir hom ‘n mes gegee waarmee hy die lam se keel are afgesny het.

Die priester het dan die lam se bloed in die heiligdom ingedra en aan die horings van die reukofferaltaar gesmeer. Die sondaar was nou volkome vergewe maar sy sonderekord is deur middel van die bloed van die lam in die heiligdom geplaas.

Een keer per jaar tydens die groot versoendag het die hoëpriester vir die heiligdom versoening gedoen. Hy het met die bloed van ‘n bok in die allerheiligste ingegaan en die bloed op die versoendeksel van die ark gesprinkel.

Die wet vereis die dood van die oortreder. Die offerdier wat Jesus voorgestel het, het Sy lewe gegee om vir ons oortreding te betaal.

Levitikus 16:16 “So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes…”

Tydens die groot versoendag is die heiligdom van al die sondes van die volk gereinig wat gedurende die jaar in die vorm van bloed daar ingebring is.

Die groot versoendag was terselfdertyd ‘n dag van oordeel en ‘n dag van reiniging. Op daardie dag het die boetvaardige Israeliet nie alleen die vreugde van vergifnis geniet nie, hy het ook die vreugde van die uitwissing van die rekord van sy sondes geniet.

Levitikus 16:30 “Want op die dag moet daar vir julle versoening gedoen word sodat julle rein kan wees. Julle moet in die teenwoordigheid van die Here gereinig word van al julle sonde.”

Iewers in ‘n paar landroskantore lê daar ‘n betaalde spoed- oortreding kaartjie. Die feit dat ek my boete betaal het, is nie vir my goed genoeg nie. Ek hou nie van die feit dat ek op rekord is vir ‘n spoedoortreding nie, al is die boete betaal. Ek verkies dat die rekord liewer vernietig moet word.

Wanneer die boetvaardige sondaar sy sonde bely, word hy oombliklik vergewe. Oor die boetekaartjie word die woorde geskryf: Vergewe.

Maar dis nie goed genoeg nie. Ek wil nie eendag in die hemel as ‘n vergeegde misdadiger leef nie. Ek wil eendag in die hemel leef asof ek nog nooit gesondig het. Daar moenie ‘n rekord van my sondes wees nie.

REINIGING

En dis presies wat in 1944 in die hemelse heiligdom gebeur het. Jesus het begin om die rekords van boetvaardige sondaars uit te wis. Wanneer ek met my rekenaar werk en ek wil iets bêre, dan neem ek die muis en ek wys met die pyltjie op die woord “save”. Al die inligting word dan in een of ander lêer in die rekenaar gebêre.

Die dag wanneer ek hierdie inligting wil verwyder, dan roep ek dit op en plaas dit op die skerm. Dan neem ek die muis en wys met die pyltjie op die woord “Delete”. Ek druk die knoppie op die muis en raai wat gebeur? Daardie inligting is vir altyd weg.

Baie keer wanneer ek inligting van die rekenaar weglaat, dink ek aan die proses wat nou aan die gang is in die hemelse heiligdom.

Op die groot skerm van die hemelse rekenaar word die sondeverslag van elke mens vertoon. Die duiwel wys na die skerm en sê: “Kyk hoe lyk Francois se verslag. Hy mag nie in die eerste opstanding opgewek word nie.”

Maar Jesus die Advokaat staan op en sê vir die Vader: “Hy het my as sy persoonlike Saligmaker aangeneem. Hy het sy sondes bely en deur die krag van die Heilige Gees oorwin. Ek tree namens hom in.”

Op daardie oomblik word die knoppie wat sê “Delete” op die groot hemelse rekenaar gedruk. En oombliklik verdwyn Francois se sondige rekord. Van daardie oomblik beskou die hemel hom as iemand wat nog nooit gesondig het nie.

ASASEL

Tydens die groot versoendag was daar ook ‘n ander bok, sy naam was Asasel. Kan jy raai wie hy voorgestel het? Die duiwel. Het hy ‘n aandeel in die sondes wat ek doen? Baie beslis.

Kom ons kyk wat na afloop van die reiniging van die aardse heiligdom met hom gebeur het.

Levitikus 16:20-22 “Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring. Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy al die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag. So sal dan die bok al hulle sonde met hom saamdra na ‘n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word.”

Die bok dra nie ons sondes verlossend nie. Nee. Hy ontvang net die aandeel van die sondes wat hy my verlei het om te pleeg.

Wanneer gaan die duiwel, die regte Asasel, in ‘n woestynsituasie ingelei word met die aandeel van die sondes wat hy ons laat pleeg het? Nadat die ondersoekende oordeel in die hemel afgehandel is, sal Jesus as die Koning van die konings en die Here van die here verskyn.

Luister na Johannes se simboliese beskrywing van Jesus se koms in

Openbaring 19:11 “Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ‘n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog.”

Vers 14 “Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad.”

Kom ons lees nou in Openbaring 20:1,2:

“Toe het ek ‘n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ‘n groot ketting in sy hand. Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind.”

JESUS DIE HELD VAN DIE HEELAL

Wat het dit moontlik gemaak dat Jesus tans ons Advokaat in die hemelse ondersoekend oordeel is? Wat kwalifiseer Hom om binnekort as Koning en Regter uit die hemelse heiligdom te tree?

Die antwoord kry ons in Daniël 9:24 waar die profeet na Jesus se eerste koms na hierdie aarde verwys.

“…In die tyd sal daar aan die goddeloosheid en die sondes ‘n einde gemaak word en sal daar versoening gedoen word vir die oortredinge. Dit is die tyd waarin ‘n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word…”

Hoe het Jesus al hierdie verlossingsdade reggekry? Vers 26 sê vir ons Jesus ons Gesalfde is “Onskuldig doodgemaak.”

Aan die kruis word Jesus die Lam van God wat die sondes van die wêreld kom wegneem het. Aan die kruis van Golgotha kom hang Jesus in jou plek sodat jy eendag in Sy plek kan wees.

Aan die kruis van Golgotha het Jesus kom verloor en kom sterf sodat ek en jy kan wen en ewig leef. Aan die kruis is Hy verneder sodat ek en jy verhoog kan word.

Hoe goed ken jy die nederige Jesus? Watter verskil het ‘n studie van Sy lewe in jou lewe gemaak? Hoe goed ken jy Jesus die Advokaat wat tans vir jou in die ondersoekende oordeel intree?

Mag dit wees dat ons kennis van Jesus, ons Offerlam, ons Hoëpriester, ons Advokaat, ons komende Koning, sodanig wees, dat ons nie sal toelaat dat daar enige moedswillige sonde in ons lewens sal wees nie. Mag dit wees dat ons name deur die ewigheid in die boek van die lewe geskryf sal wees.

Was this article helpful?

Related Articles