1. Home
  2. Boeke Van Die Bybel
  3. Die Boek Daniël
  4. Daniël 9 (Deel 2) – Die Boodskap Van Die Heiligdom In Daniël 8 En Levitikus

Daniël 9 (Deel 2) – Die Boodskap Van Die Heiligdom In Daniël 8 En Levitikus

DIE BOODSKAP VAN DIE HEILIGDOM IN DANIëL 8 EN LEVITIKUS

Dis weereens ons voorreg om die Bybel, soos die Godsmanne van ouds, biddend te bestudeer. Dis in die geïnspireerde Woord waar ons die heerlike wonders van God se reddende genade te ontdek.

Ons moet ook altyd onthou dat Jesus die middelpunt van elke profesie is, en as ons Hom misgekyk het, het ons die wese van die Skrif misgekyk. Ons moet die woorde van Petrus nooit uit die oog verloor nie.

2 Petrus 1:19 En ons het ‘n profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte.

REGVERDIGING

In die boek van Daniël ontdek ons drie van Jesus se pragtige verlossingskaraktertrekke. In hoofstuk 9 is Hy die Lam wat vir ons sondes geslag word. Sy regverdiging is onmiddellik op aanvraag vir die boetvaardige sondaar beskikbaar.

Daniël 9:27 En hy sal een week lank met baie >n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou…

Die Joodse nasie het ongelukkig die aanbod van die verbond verwerp, nl. Om deur die soendood van Jesus gered te word. Mag die Here ons daarenteen help om dit met dankbaarheid te aanvaar.

HEILIGMAKING

In hoofstuk 8 word Jesus as ons ewige Hoëpriester voorgestel. Wanneer ons struikel en val, kan ons na Hom toe gaan om op die regte tyd genade en hulp te ontvang. Deur Jesus ons Advokaat kan ons op ‘n pad van heiligmaking wandel.

VERHEERLIKING

In Daniël 7 word Jesus as die Koning voorgestel.

Vers 14 En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.

Ons moet Jesus nie net as ons Verlosser en Priester aanneem nie, maar ook as ons Koning. Wanneer Hy binnekort Sy koninkryk van glorie gaan oprig, gaan Hy Sy gehoorsame onderdane op ‘n baie besondere wyse verheerlik.

Ons sal deur die ewigheid vir Koning Jesus as die heerlike bewerker van ons saligheid loof.

HERHALING

In Daniël 9 het ons ‘n paar onheilspellende voorspellings ten opsigte van Joodse nasie ontdek. Kom ons verfris ons gedagtes met ‘n paar van hierdie mooi tekse.

Daniël 9:24 Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddelossheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.

Wie is Daniël se volk wat nog net 490 jaar genade tyd oor het?
Die Jode. Van watter stad praat die profesie? Jerusalem. Soos ons in die vorige lesing gesien het, pleit die Here hier profeties met Sy volk om met hulle sondes te breek en vir die koms van die Messias gereed te maak.

Hy was op pad om versoening vir die sondes van die hele aarde te bring. Hy sou ‘n ewige geregtigheid vir elke bankrot sondaar bewerkstellig.

BEGIN VAN DIE 2300 JAAR PROFESIE

Daniël 9:25 sê vir ons wanneer die profesie van die 2300 aande en mores begin.

Vanaf die uitgang om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, n Vors….

Geskiedenis en argeologie sê vir ons dit was in 457 v.C. dat koning Artasasta die bevel uitgevaardig het dat Jerusalem herstel en opgebou word.

JESUS SE DOOD VOORSPEL

Daniël 9:26 En na die twee-en-sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoesting.

In hierdie teks sê dit nie presies vir ons wanneer die Gesalfde, die Messias, die Vors, uitgeroei sal word nie. Dit sê net dat dit na die eerste 69 weke of 483 jaar sal gebeur. Met ander woorde na die jaar 27 n.C.

Vir die presiese datum van Jesus se kruisiging moet ons na die volgende teks toe gaan.

Daniël 9:27 En Hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou…

Presies drie-en-half jaar na 27 n.C. in die lente van die jaar 31 n.C. het Jesus aan die kruis gesterf.

Die onbegryplike genade van God sou na die kruisiging van Jesus vir nog drie-en-‘n-halwe jaar met hierdie hardnekkig Joodse volk pleit. In die jaar 34 nC het hulle onherroeplik die rubikon van God se lankmoedigheid finaal oorgesteek

STEFANUS SE STENIGING IN DIE JAAR 34 N.C.

Die Stefanuspoort heriiner mens aan die profesie van Daniël 9:24 wat die dood van hierdie heel laaste profeet voorstel.

Aan die einde van die 490 jaar profesie het Stefanus ‘n finale oproep op die Joodse leiers en die volk gedoen om met hulle sondes te breek en Jesus as die Messias te aanvaar.

Maar net soos hierdie Arabier beswaar maak omdat ek hom afneem, net so het die Jode teen Stefanus se oproep tot bekering beswaar gemaak. Terloops. Paulus was teenwoordig toe Stefanus in 34 n.C. gestenig is.

Toe Stefanus buite die Stefanuspoort gestenig is, het die Sanhedrin en die Joodse volk, God se pleitende genade finaal saam met Stefanus gestenig.

Daniël 9:24 verwys ook na die hoogheilige wat gesalf sal word. Na Jesus se hemelvaart word Hy as ons nuwe Hoëpriester deur die Vader gesalf. Hierdie gebeurtenis is deur die Pinkster ondervinding in Jerusalem gekenmerk.

WIE IS NOU DIE ISRAEL VAN DIE NUWE TESTAMENT?

Wie is nou die nuwe Israel waarvan die Nuwe Testament praat? Wie is nou die mense wat die onverdiende genade van die Here aan die wêreld uitdra? Ons moet toelaat dat die Bybel homself verduidelik:

Galasiërs 3:26-29 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.

Wat was die belofte wat God aan Abraham gemaak het? As ek dit weet, dan weet ek wat ek as lid van die Nuwe Testamentiese kerk die nuwe geestelike Israel gaan bëerf.

Toe ek onlangs Abraham se geboorteplek by Urin Irak besoek het, het ek aan die volgende teks gedink:

Hebreërs 11:10 Want hy (Abraham) het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.

Dis die hemelse Jerusalem wat Jesus vir Abraham en vir elke gelowige gaan bou het. Dis ‘n stad sonder sekuriteitshekke en assuransie polisse. Dis ‘n stad sonder ambulanse met skreeuende alarms. Dis ‘n stad sonder buite pasiënte en intensiewe sorg eenhede. Dis jou en my stad as ons aan Jesus behoort.

NUWE SKEPSEL

Maar voordat ek deel van die nuwe geestelike Israel kan word, moet daar eers ‘n hartsverandering in my lewe plaasvind. Kom ons lees daarvan:

Galasiërs 6:14-16 Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld. Want in Christus Jesus het nog die besnydenis nog die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, (die reël van die nuwe skepsel) en oor die Israel van God!

As jy nog nie toegelaat het dat die Heilige Gees van jou ‘n nuwe skepsel gemaak het nie, moenie talm nie. Jesus, die antitiepiese Israel, staan by jou hartsdeur en klop.

As ons Hom inlaat, word ons nuutgemaak en word ons deel van Sy kerk, van die nuwe Israel.

Ons gaan net verlore wanneer ons Hom doelbewus buite ons hartsdeur hou.

GEVOLGE VAN DIE VERWERPING VAN DIE MESSIAS

Wanneer mens die Bybel lees, val die tragiese gevolge van die verwerping van God se genade deur ou Israel jou dadelik op.

Wanneer jy die antieke stede besoek wat tans in puin lê, besef jy daar is geen toekoms buitekant ‘n intieme verhouding met die
Here nie.

Kom ons lees wat Daniël t.o.v. die toekoms van die Jode en hulle hoofstad Jerusalem voorspel het. Die verwoesting van Jeruselam word baie sterk beklemtoon:

Daniël 9:26 En na die twee-en-sestig sewetalle sal ‘n Gasalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.

Vir hoe lank sal daar oorlog in Jerusalem wees? Tot die einde toe. Jesus verwys na die tragiese lot van Jerusalem, en dan sê Hy die volgende:

Lukas 21:24 En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.

Wat word met uitdrukking bedoel: “totdat die tye van die nasies vervul is?” Daniël gee vir ons die antwoord en sê dit dui op die tyd van die einde.

Daniël 9:27 En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; (en nou lees ons van die verwoesting wat Rome aangerig het) en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

Die stad wat Jesus, die Prins van vrede verwerp en gekruisig het, sal die gevolge van hierdie verwerping moet dra. Vir hoe lank sal daar oorlog en onrus in Jerusalem wees? Tot aan die einde van tyd.

DIE NUWE GEESTELIKE ISRAEL

Gelukkig kan God se plan om Sy mooi boodskap van verlossing na die hele wêreld uit te dra, deur geen nasies verongeluk word nie. Toe Israel van ouds Hom gefaal het, het Hy ‘n nuwe Israel in die lewe geroep. Wie is hulle?

1 Petrus 2:9,10 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, (om wat te doen?) om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen bramhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.

Die Israeli Parlement, die Knesset, sê die Palestein is nie welkom in Jerusalem nie. Mag die Here verhoed dat ons eksklusief soos hulle en die ou Israel sal word en net plek in ons harte vir ons eie mense sal maak. Mag ons toelaat dat die sonstrale van ons genade op almal rondom ons sal skyn.

Mag die Here gee dat ons inklusief sal wees en anders- denkende mense ‘n plek in ons harte gee. Soos die Here jou en my nooi om ‘n plekkie in Sy hart te hê, so moet ons ook mense nooi om onverdiend in ons harte te kom woon.

DIE EINDE VAN DIE 2300 AANDE EN MORES

Ek vertrou dat ons ‘n deeglike studie van die eerste 490 jaar van die 2300 jaar profesie gedoen het. Ek vertrou dat Jesus vir ons kosbaarder geword. Kom ons kyk na die res van die profesie.

Daniël 8:14 En jy het vir my gesê: Tweeduisend-driehonderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.

Die hoogtepunt, die klimaks van hierdie profesie lê vir Daniël diep in die toekoms. Kom ons doen ‘n bietjie sommetjies. Die eerste 490 jaar van die profesie gee vir ons die afsny datum van die Joodse nasies as uitverkore volk.

Hoeveel jaar bly oor wanneer mens 490 van 2300 aftrek? 1810. En wanneer jy 1810 by 34 tel, kom jy by 1844 uit. Wat is so belangrik omtrent hierdie datum? Die profeet sê dat die heiligdom aan die einde van die 2300 jaar in sy regte staat herstel gaan word.

GEREINIG WORD

Die Engelse vertaling praat van die “Reiniging” van die hemelse heiligdom. Waarom moet daar ‘n reiniging plaasvind? Iets moes dit besoedel het.

Om die reinigingswerk van die hemelse heiligdom te verstaan, moet ons ‘n studie van die reiniging van die aardse heiligdom maak. Kom saam met my na die woestyn.

DIE VERBAND TUSSEN DANIëL 8 EN LEVITIKUS

Die boeke van die Bybel is nie in isolasie geskryf nie. Daar is ‘n fantastiese interessante verband tussen elke boek. Kom ons kyk kortliks na die verband tussen Daniël 8 en die boek van Levitikus.

In die eerste plek is Daniël 8 ‘n profesie aangaande die hemelse heiligdom. Levitikus daarenteen is ‘n boek wat ons vertel wat in die aardse heiligdom plaasgevind het. Albei verwys na die heiligdom.

(1) Die woord heiligdom word drie keer in Daniël 8 gebruik. (Verse 11,13 en 14). Dis ons eerste skakel tussen Daniël en Levitikus.

(2) Die woord Tamid, die voordurende offer word meer male in Daniël 8 genoem. Dit dui op die daaglikse priesterlike diens waarvan ons in Levitikus lees.

(3) Daniël gebruik ‘n skaapram om Medo-Persië voor te stel. Dit was nie ‘n verskeurende dier soos wat ons in Daniël 7 vind nie. Die skaapram was een van die diere wat vir offerdoeleindes in die aarde heiligdom gebruik is.

(4) Die bokram het die Grieke voorgestel. Maar ook hy was een van die diere wat vir offerdoeleindes gebruik is.

(5) Dan vind ons ‘n baie interessante koppeling met die heiligdom in die gebruik van die term: aande en mores. Wat beteken dit? Ons kry die uitdrukking vir die heel eerste keer in die skeppingsverhaal van Genesis 1.

Genesis 1:13 En dit was aand en dit was more, die derde dag.
Hier dui dit op ‘n letterlike 24 uur dag.

Ons lees in Numeri 14:15-23 iets baie interessants. Toe Israel deur die woestyn getrek het, is hulle deur ‘n wolk gelei. As die wolk stilgestaan het, het hulle stilgestaan. As die wolk getrek het, het hulle getrek.

Saans het die wolk wat bedags vir hulle koelte gemaak het, in ‘n vuurkolom verander. Wanneer dit gebeur het, het die priester die aand offer geslag. Wanneer die vuurkolom die volgende oggend in ‘n wolk verander, het die priester die oggend offer geslag.

Wanneer mens op die roete reis waar langs Israel getrek het, dan dink jy aan hierdie pragtige simbole wat Jesus ons Leidsman voorstel. In die hitte van die lewens krisisse, is Hy die wolk wat vir ons die koelte van Sy genade voorsien.

In die koue nagte van eensaamheid en verwerping, is Hy die warm vuurkolom wat vir ons die hitte van vertroosting bring. Kom ons ontdek die troos wat Jesus in die bladsye van Sy heilige Woord bied.

KONSTRUKSIE EN GEBRUIK VAN DIE HEILIGDOM

In Eksodus 25-40 lees ons aangaande die konstruksie, die bou van die tabernakel.

In die boek Levitikus lees ons aangaande die twee soorte dienste wat in die heiligdom plaasgevind het. Die daaglikse en die jaarlikse.

DIE DAAGLIKSE – TAMID

Soos ons in ‘n vorige lesing gesien het, word die daaglikse dienswerk van die priesters in die heiligdom, die Tamid genoem. Die Bybel praat van die “voortdurende offer.” Dit was ‘n indra in beeld van belyde sondes in die heiligdom. (Levitikus 1-15 praat hieroor.)

Daniël voorspel dat Jesus op een die werk sal doen wat die priesters tydens die daaglikse offerwerk gedoen het. Soos wat hulle belyde sondes na die aardse heiligdom ingedra het, so sal Jesus ook belyde sondes in die hemelse heiligdom ontvang en hanteer.

DIE JAARLIKSE – DIE GROOT VERSOENDAG

En dan praat Levitikus 16 ook van ‘n offerdiens wat een keer per jaar plaasgevind het. Dit word die groot Versoendag, of die Yom Kippur genoem. Op hierdie dag is die heiligdom van die rekord van sondes gereinig. Die sondes wat gedurende die jaar in beeld hier ingedra is, is op hierdie dag van die heiligdom verwyder. Meer hieroor in ons volgende lesing.

Daniël 8:14 verwys na hierdie versoendag. Tydens hierdie antitipiese versoendag sal Jesus die hemelse heiligdom van alle sonde rekords reinig.

Soos ek vroeër genoem het, word die “daaglikse offer” die Tamid in Levitus 1-15 beskryf. Aardse priesters het die middellaarswerk gedoen. In Daniël 8 begin Jesus ons hemelse Hoëpriester gedurende die 2300 jaar profesie met hierdie werk. Om presies te wees. Dit was 50 dae na Sy opstanding dat Jesus met Sy Hoë-priesterlike werk begin het.

Die details van die “Jaarlikse” word in Levitikus 16 beskryf. In Daniël 8 vind die hemelse jaarlikse, die versoendag, aan die einde van 2300 jaar profesie plaas.
Moenie die volgende lesing misloop wanneer ons die onderwerp in diepte gaan behandel nie.
VERLOSSING IN DIE AARDSE TABERNAKEL

Kom ons lees aangaande die eerste en die tweede gedeeltes.

Exodus 26:33 “En jy moet die voorhangsel onder die hakies ophang; en bring die ark van die Getuienis daar, binnekant die voorhangsel moet vir julle ‘n skeiding maak tussen die Heilige en die Allerheiligste.”

EERSTE AFDELING

Hebreërs 9:6 beskryf die eerste afdeling asvolg: “En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die eerste tabernakel ingegaan om die dienste te vervul.” Tamid.

Wat se soort dienste het hulle verrig? Die sondaar van destyds het geweet dat die oortreding van die wet die dood beteken. Maar die goeie nuus het gesê dat hy ‘n onskuldige lam in sy plek kon laat sterf. Die lam het vooruit gewys na die Messias, na Jesus wat eendag in die sondaar se plek sou kom sterf.

Die eerste iets wat die priester gedoen het, was om die offerdier te ondersoek om te sien of daar nie gebreke aan hom was nie. Daarna het die sondaar sy hande belydend op die dier se kop gedruk en sy sonde in beeld oorgedra. Die priester het hom ‘n mes gegee en hy het self die lam geslag.

En terwyl daardie lam homself doodbloei, het die sondaar ‘n dramatiese illustrasie van die gevolge van sonde gesien. Sy eie sonde sou eendag die dood van die komende Messias veroorsaak.

Het jy geweet dat Jesus ons antitipiese Offerlam ook ondersoek is voordat Hy vir ons gesterf het? Wat was Pilatus se uitslag nadat hy Jesus ondersoek het? Johannes 19:6 ”..Ek vind geen skuld in Hom nie.”

BLOED WORD NA DIE HEILIGDOM GENEEM

Die priester het die bloed na die eerste afdeling, die heilige geneem. Versigtig het hy die bloed aan die horings van die reukofferaltaar geplaas. Met kere is dit ook aan die onderkant van die voorhangsel besprinkel. Watter boodskap het die boetvaardige sondaar uit hierdie hele ondervinding gekry?

Sowel die sonde as die aanspreeklikheid daarvan, is na die heiligdom oorgedra. Sy sondige rekord was nie meer syne nie. Daardie rekord was nou die verantwoordelikheid van die heiligdom.

Wat gebeur wanneer ek en jy vandag ons sonde bely? 1 Johannes 1:9 sê dat al ons sondes vergewe word. Maar wat word van die verslag van die sondes wat vergewe is? Die Bybel praat van die boeke waarin al ons dade in opgeskryf staan. Jeremia 2:22 sê ons sondes bly soos ‘n vlek voor die Here se aangesig.

Wat leer die aardse heiligdom? Gaan daar ‘n dag aanbreek wanneer nie net my sondes vergewe sal wees nie, maar selfs die rekord van my sonde uitgewis sal word?

Was this article helpful?

Related Articles