1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 1 – Van Die Krip Tot Die Kruis (Deel 1)

Deur Sy Wonde Deel 1 – Van Die Krip Tot Die Kruis (Deel 1)

VAN DIE KRIP TOT DIE KRUIS – DEEL 1

1. Eeue voor die geboorte van Jesus het die profeet Miga voorspel dat die Messias in ‘n dorpie met die naam Betlehem Efrata gebore sou word.

2. Die Arabier wat besig is om koring te dors laat my aan die paslike naam van Betlehem dink: “Bet” beteken “Huis” en “Legem” brood. Die naam beteken “Huis van Brood.”

3. Die verhaal van Rut die Moabitiese weduwee wat met Boas die losser getrou het, het ook hier afgespeel. Dit het van Jesus die komende Verlosser vertel wat die mensdom van hulle geestelike weduweeskap sou kom verlos.

4. Opgrawings sê dat pelgrims vanaf die vroegste tye hier kom besoek het. Dit vertel vir ons dat die verslag van die vleeswording van Jesus deur die eeue miljoene mense se harte aangegryp het.

5. Twee doodgewone mense het laat een middag hier kom by Betlehem aangekom. Josef, ‘n wewenaar en sy jong verwagtende vrou, Maria. Hulle was doodmoeg van ‘n baie lang reis.

6. “Maria, hoe voel jy? Hou nog net so ‘n klein rukkie uit. Ek sal binne die volgende paar minute vir ons ‘n baie gerieflike blyplekkie kry.”

Ongelukkig was daar nie ‘n ordentlike plek vir die Messias om in gebore te word nie. Iewers in ‘n plakkerskamp tussen sinkplaat en plastiek, is die Skepper van die heelal gebore.

7. Lukas 2:6,7 “Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.”

8. Toe ek die geboortekerk die eerste keer besoek het, het ek gewonder hoe die krip moes lyk waarin Jesus gebore is.

9. Gelukkig het die graaf van die argeoloog ‘n antieke krip by Megiddo opgegrawe.

10. ‘n Soortgelyke krip word tans in die Rockerfeller museum in Jerusalem uitgestal. Beeste is aan die regop pilare vasgemaak terwyl hulle uit die klip krip gevreet het.

11. Ek was net so opgewonde toe ek dieselfde krip by antieke Ebla in Sirië ontdek het.
12. God die Vader het Sy Seun vir jou en my in so ‘n nederige voerbak in ‘n stal in Betlehem kom neerlê om die honger van ons harte te stil. Jesus verkies nog steeds om in stal-nederige harte om in gebore te word. Hy kan nie in koue marmerpaleisharte van hoogmoed gebore word nie.

13. Dis hier in Betlehem waar die Majesteit van die hemel vir jou en my ‘n koringgerf kom word het. In Getsemane is Hy met die klippe van ons sondes gemaal en in die oond van Golgota in die oond van ons gevallenheid gebak.

14. Jy moet laag buk wanneer jy Jesus se geboorte kerk besoek. Dis iets wat my getref het toe ek die eerste keer hier besoek het. Kom ons buk laag terwyl ons Jesus bepeins.

15. By die Blou Moskee in Istanbul het ek dieselfde buk-motief van nederigheid raakgeloop. .

16. Daar is ‘n ketting voor die ingang gespan. Die sultan kon nie trots en regop met sy perd hier inry nie. Hy moes laag buk om te gaan aanbid.

17. Kan u nog onthou wat die duiwel so lelik gemaak het? Hoogmoed.

18. En wat is dit wat Jesus so onbeskryflik mooi maak? Sy onselfsugtige nederigheid. Kom ons buk laag in nederige diens.

19. Terwyl ek bo in die toring van die geboorte kerk staan, dink ek aan die ontsettende afstand wat Jesus gekom het om die pragtige klokmusiek van verlossing vir ons te kom lui.

20. Hy reis deur galaksies van Sy skitterende kosmos. Uiteindelik kom Hy by ‘n dowwe, tranbenatte stofdeeltjie van Sy heelal uit.

21. En hier op ons pyngeteisterde planeet trek Hy vir nege maande in ‘n donker baarmoeder van ‘n jong meisie in.

22. Oorlewering sê dit was hier in die geboortekerk in Betlehem waar Hy as pasgebore baba Sy eerste huiltjie gegee het. Hy het na ons eensaamheid gekom het en saam met ons kom huil en bibber.

23. Daar was nie ’n ooievaarspartytjie vir Jesus gereël nie. Die Sanhedrin het Hom nie amptelik kom verwelkom nie. Gelukkig was daar ‘n paar eenvoudige skaapwagters wat Hom kom opsoek het nadat hulle ‘n lied van ‘n engelekoor gehoor het:

24. “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mens in wie Hy ‘n welbehae het.” Hemelse engele het vir die skaapwagters beduie waar die Messias gebore is.

NASARET

25. Wanneer ek Nasaret besoek, maak ek seker dat ek by die Sinagoge uitkom waar Jesus volgens oorlewering besoek het.

26. Die ander plek is die reuse kerk wat oor die grotte gebou is waar die arme mense gewoon het.

27. U kyk na ‘n tipiese grot waarin Maria gewoon het toe die engel met die volgende boodskap na haar gekom het:

28. Lukas 1:35: “Die engel antwoord haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilige genoem word, die Seun van God.”

Die vleeswording van Jesus is die goue ketting wat ons aan God die Vader bind.

BETANIË ANDER KANT DIE JORDAAN

29. Op die ouderdom van 30 het Jesus Sy moeder gegroet en Sy huis in Nasaret verlaat. Die tyd het aangebreek dat Hy met Sy werk as Messias moes begin.

30. Dit was ‘n hele endjie wat Jesus moes stap voordat Hy by die Jordaanrivier uitgekom het.

Dit was hier waar sy neef, Johannes die Doper gepreek het en verkondig het dat die Messias op pad was.

U kyk hier na die Jordaanrivier waar Jesus gedoop is. Kom ons hoor hoe Johannes gereageer het:

31. Johannes 1:29 Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

32. Wat ‘n pragtige boodskap. Sit jy met sondeskuld? Wil jy daarvan genees word? Jesus sal dit graag uit jou lewe wou verwyder as jy Hom die geleentheid gee.

Die Bybel vertel ons presies waar Jesus gedoop is:

33. Johannes 1:28 Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.
34. Kan die argeoloë vir ons vertel waar hierdie spesifieke plek is? Beslis.

35. Sedert 1996 word opgrawings in hierdie gebied gedoen. Een van die plekke waar hulle gekonsentreer is Wadi al-Kharrar.

36. Na baie harde werk, is Betanië of te wel Betabara uiteindelik geïdentifiseer. In hierdie navorsing is daar in die eerste plek van die skrif gebruik gemaak. Ander bronne was Bisantyne en middel-eeuse skrywers.

OORKANT DIE JORDAAN

37. Iets waarop ons moet let, is die uitdrukking “oorkant die Jordaan.” Vanaf Jerusalem is die plek waar Johannes gedoop het, aan die oorkant van die Jordaanrivier.

38. Johannes 10:40 Hy (Jesus) het teruggegaan (vanaf Jerusalem) na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly.

WADI AL-KHARRAR

39. Die graaf van die argeoloog het ‘n reeks antieke plekke in Wadi al-Kharrar opgegrawe. Elkeen hou verband met die tradisie van Johannes die Doper en Jesus.

Kom ons hoor lees wat die pelgrims oor die eeue aangaande Wadi Al Kharrar geskryf het:

40. Theodosius skryf rondom 530 nC. “Aan die verste kant van die Jordaan waar my Heer gedoop is, is daar ‘n klein koppie wat Hermon genoem word. Dis die plek vanwaar Elia opgevaar het.”

41. Argeoloë het die plek van Elia se Hemelvaart as Jabal Mar Elias geïdentifiseer. die heuwel van Elia. Ek was baie opgewonde toe ek hier gestap het.

42. Langs Elia se heuwel sien mens die begin van wadi Al-Kharrar. Op die sesde eeuse mosaiekkaart van die heilige land in Madaba, word die plek “Saphsaphas genoem. Die Russiese pelgrim Abbot Daniël was baie beïndruk met die plek en hy skryf in 1106 die volgende:

43. “Nie te ver van die rivier nie, ‘n afstand wat twee pyle kan trek, is die plek waar die profeet Elia na die hemel in ’n wa van vuur opgeneem is.

44. Dis interessante om daarop te let dat Johannes die Doper verkies het om hier te preek. Hy het dieselfde soort boodskap as die van Elia verkondig.

45. Terwyl ek my hande in hierdie historiese water met sy baie riete geplaas het, het ek aan iets gedink wat Jesus oor Johannes gesê het:

46. Matteus 11:7 Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ’n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?

47. Verse 8,9 Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ’n mens in koninklike paleise. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ’n profeet.

48. Jesus verwys nie na Johannes die Doper se swakhede nie. Hy vertel vir die skare watter besondere mens hy was. Dis ook hoe Jesus oor jou en my gesels. Hy vertel van ons goeie hoedanighede. Kom ons volg Sy voorbeeld.

49. Pragtige skaduryke wandelpaaie is op die argeologiese terrein aangebring. Terwyl ek hier gestap het, het dit my aandag na iets geneem wat Jesus op ‘n keer vir geteisterde mense gesê het:

50. Matteus 12:20 ’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie.

51. Dis interessant dat Jesus na brose riete van die Jordaanrivier verwys. As die wind te sterk waai, kan hulle breek.

52. Met tye waai die wind van pyn te sterk; met tye waai die wind van misverstand te sterk; met tye knak ons.

53. Dit is in oomblikke van geknaktheid dat ons net soos Job, nie meer kans sien vir die lewe nie. So baie geknakte mense skryf hulle self af en versink in diep depressie.

54. Terwyl ek na die riete van die Jordaan kyk, dink ek oor en oor aan die woorde van Jesus: “‘n Riet wat geknak is, sal Ek nie afbreek nie.”

55. Hou moed my vriend. Ons dien ‘n Here wat nie breek nie maar heelmaak; ‘n Here wat nie verwyt nie, maar genees. ‘n Here wat nie oortredings teen ons hou nie, maar dit vergewe.
56. Terwyl ek na die reuse nuutontdekte doopvont by Wadi al-Kharrar kyk, peins ek oor die antieke mens se intense passie om skuldgevoelens te bely en gereinig te word. Kom ons lees dit:

57. Markus 1:5 Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

58. Die Jordaniese owerheid het ‘n moderne doopvont hier ingerig. Baie hedendaagse pelgrims laat hulle hier doop. Daar is nog steeds ‘n behoefte aan ‘n simbool wat verkondig dat ons sondes vergewe is.

59. Daar is ook voorsiening gemaak om in die Jordaan gedoop te word. Dit moet ‘n roerende belewenis wees om in die water in te stap en gedoop te word waar Jesus gedoop is.

60. Voor ek hier weg is, het ek weer na een spesifieke plek gaan kyk. Volgens die argeoloë is dit hier waar die Jordaan vroeër gevloei het en waar Jesus gedoop is.

61. Die mosaïek, kleitablette, geldstukkies en vloer teels dateer uit die Bisantynse tydperk van die 5de – 6de eeu nC. Is hierdie opgrawings toevallig gemaak, of is daar iets wat ek en jy moet leer?

62. Argeoloë het ook ‘n gebedsaal in die suidoostelike hoek van Wadi al-Kharrar ontdek. Dis die vroegste gebedsfasiliteit in die omgewing.

Wit mosaïek het die vloer bedek en die plafon was heel waarskynlik van hout. Die ontwerp van die struktuur dui daarop dat die Christene van die Bisantynse tydperk hier kom aanbid het.

63. By die nuutopgegraafde gebedssaal, bid ek: “Here. Maak die verhaal van Jesus ‘n groter werklikheid in my lewe. Mag ek toelaat dat die jongste argeologiese ontdekkings my sal help om U met ‘n groter waardering te dien.”

64. Kom ek deel met u die goeie nuus wat my tydens my besoek aan Betabara bygebly het. Matteus sê vir ons dit was tydens Jesus se doop dat God die Vader Sy tevredenheid met Jesus te kenne gegee het.

Hoe raak dit jou en my? Kom ons lees eers die tekse en dan verduidelik ek:

65. Matteus 3:13 In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word.

66. Kan u Hom hier aangestap sien kom? Hy het die hele pad vanaf Nasaret tot hier gestap. Hy versoek Johannes die Doper om Hom in die Jordaanrivier te doop. Maar Johannes protesteer.

67. Vers 14 Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?”

68. Vers 15 Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Daarna het Johannes ingestem.

69 Vers 16 Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

70. Terwyl ek hier by die Jordaanrivier besoek het, het ek peinsend oor die woorde van die Vader gedink. Dit wat Hy vir Jesus gesê het, sê Hy ook vir jou en my.

Jesus het as die verteenwoordiger van die mensdom in die waters van die Jordaanrivier gestaan. In Jesus is elkeen van ons ‘n geliefde seun of dogter van die Vader.

DIE VOLGENDE LESING

71. In die opvolg lesing gaan ons na nog ‘n paar interessante argeologiese ontdekkings kyk. Matteus verwys na ‘n koning met die naam van Herodus die grote.

Ons gaan sien hoe argeologie die betroubaarheid van hierdie Bybelfeite bevestig.

72. By Kajafas se paleis gaan ons verstommende ontdekkings maak. Vir die eerste keer hoor ons wat Jesus die Donderdagnag deurgemaak het. Die behandeling wat die Sanhedrin hom gegee het, was onmenslik.

73. Die Bybel verwys na die tuin van Getsemane. Ons gaan daar ‘n besoekie aflê.

74. Kyk net hoe groot is hierdie olyfbome. Dis in ‘n soortgelyke tuin dat Jesus met die sondelas van die wêreld geworstel het.

75. En dan besoek ons ook die kopbeen, Golgota. Volgens oorlewering is dit hier waar die hoogste prys vir ons sondes betaal is.

76. In die atmosfeer van die tuingraf, speel die verhaal van Jesus se kruisiging weer opnuut in jou gedagtes af.

77. Ons gaan by die graf besoek waar Jesus die Vrydagmiddag in begrawe is. Dis nogal ‘n belewenis.

78. Gedurende die Sabbature het die Seun van God leweloos hier gelê. Vroeg die Sondagoggend het Hy opgestaan.

79. Die kennisgewing op die deur is so treffend. “He is not here. He is risen.”

80. Ek is een van die min Westerlinge wat die voorreg gehad het om op Golgota te kon staan. Die kruis leer ons hoe om pyn te hanteer. Die kruis leer hoe om na die teleurstellings van die lewe te kyk.

Laat mense en jou eie mislukkings jou soms waardeloos voel? Kom na die kruis en ontdek jou eintlike waarde.

81. Dit is net by Golgota dat jy jou waarde kan bepaal. Dis hier waar God in Jesus vir jou sê hoe ongelooflik waardevol jy is. As jy die enigste sondaar was, sou Jesus net vir jou kom sterf het

Was this article helpful?

Related Articles