1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 10 – Nagverhoor (Deel 1)

Deur Sy Wonde Deel 10 – Nagverhoor (Deel 1)

JESUS SE NAGVERHORE – DEEL 1

Matteus 26:57-68

TE MOEILIK?

Is die pad van dissipelskap vir jou te moeilik? Is die versoeking daar om Hom te verlaat en weg te vlug? Miskien het u reeds in die duisternis van teleurstelling van Jesus weggevlug.

Terwyl Jesus daar van Getsemane weggelei is, het Hy nie aan Homself gedink nie. Daar was iets anders as die pyn en vernedering wat Sy gedagtes besig gehou het, en dit was Sy dissipels.

1. “Vader, ek bid vir My dissipels wat die nag ingevlug het. Bring hulle asseblief terug op hierdie lydensweg. Help hulle om te besef dat om te lewe moet hulle sterwe.”

Dis ‘n pragtige verhaal. Goddelike liefde het elkeen van Sy dissipels teruggebring. En as u miskien deur teleurstelling Jesus verlaat en weggevlug het, wil ek net sê dat Sy liefde u in die donkerte van u teleurgesteldheid kan bereik. En wanneer u Sy stem liefdevol tot u hoor roep, antwoord Hom dan asseblief.Hoor hoe klink Sy roepstem:

2. “…As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” Matteus 16:24,25.

DIAMANTE

3. So ‘n ruk gelede het die wetenskap ‘n metode ontdek om diamante te vervaardig. Hulle neem ‘n sekere substans en dan plaas hulle dit onder geweldige groot druk. Eers ‘n 1000 lb drukking per vk duim. Dan ‘n honderdduisend lb gewig, drukking per vk duim. Dan ‘n honderdduisend lb gewig, drukking per vk. duim. Dan 500,000 en dan 1,000,000.

Die diamante word nog nie gevorm nie. Die drukking word na 1 en ‘n half miljoen lb per vk. duim verhoog. Ampertjies, maar nog nie. Uiteindelik met ‘n drukking van 1,800,000 lb per vk duim, vorm die diamant.

Maar dis nie alleen drukking wat ‘n diamant maak nie, daar moet nog hitte bykom. Eers styg die temperatuur na 212° F. Dis die hitte waarop water kook.

Kookpunt is baie warm. Maar voordat ‘n diamant gevorm word, moet die hitte baie meer wees. 500 – 1000 – 2000 – 3000 – 4000°. ‘n Mens kan jou amper nie indink hoe warm dit is nie. Dis amper 19 keer warmer as kookpunt. Maar dis nog nie warm genoeg om ‘n diamant te maak nie. Uiteindelik op 4400° en met ‘n drukking van 1,800,000 lb per vk duim, word ‘n diamant gevorm.

4. Die gevolg van geweldige hitte en ontsaglike drukking, is ‘n pragtige skitterende diamant.

5. Die Here se plan vir ons is nie ‘n vaalklippie plan nie. Hy soek skitterende diamante. Moet Hom nie verlaat as die lewensdruk toeneem nie. Moet nie wegvlug as die temperatuur van lewenskrississe te warm word nie. Hy is besig om ‘n diamant te maak.

PERELS

6. Skielik ontdek die oester dat ‘n sandkorreltjie tussen sy sagte vleis en sy skulp ingekom het. Dis nogal ‘n taamlike irritasie. Wat maak mens daarmee? Die oester huil ‘n soort traan om die harde sandkorreltjie en ‘n dun filmpie vorm.

7. Maar dit hou aan om te irriteer en nog meer oester trane word om die sandkorreltjie gehuil. ‘n Mooier filmpie vorm. Die irritasie duur voort, nog meer oester trane en ‘n nog mooier filmpie om die irritasie. En so hou dit aan totdat ‘n pragtige pêrel verskyn.

8. ‘n Pêrel kan net uit frustrasies gebore word. ‘n Oester omskep die ding wat krap in ‘n pêrel. Die Nuwe Testamentiese Grieks het ‘n mooi naam vir ‘n pêrel – margaritys, vanwaar die naam Margaret of Magriet.

In Matteus 13:45,46 vertel Jesus van ‘n koopman wat op soek is na goeie pêrels. Die koopman is Jesus. Die pêrels, wie is hulle? Dis mense wat die irritasies van die lewe met ‘n lagie gebed en trane toegemaak het.

9. Pêrels is mense wat nie weghardloop en Jesus verlaat nie. Nee, pêrels is mense wat toelaat dat die lelik van die lewe in iets moois in hulle eie lewens omskep word.
Wat maak u met die sandkorrel wat pynlik in u sagte hart insny? Daardie mens, daardie teleurstelling, daardie moeilikheid. Jesus is op soek na pêrels.

10. In ons diepste pyn kan ons Jesus die groot Pêrel ontdek. Moenie pyn en verlies en vernedering vermy nie. Al hierdie dinge wil pêrels word. Vou elkeen van hulle toe in ‘n lagie gebed en nog meer gebed. Vou elkeen toe in ‘n lagie vergewensgesindheid in ‘n lagie liefde, in ‘n lagie verdraagsaamheid.

NUWE JERUSALEM

11. “Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak…” Openbaring 21:21.

12. Sal dit nie heerlik wees wanneer hierdie klompie pêrels een van die dae deur daardie reuse pêrelpoorte gaan stap nie. Elke pêrelpoort is ‘n simbolies van hoe haat in liefde omskep is, hoe irritasies in die pêrel van stille aanvaarding omskep is, en hoe teleurstellings in vriende omskep is.

13. Elke pêrelport is ‘n verhaal van hoe Jesus vir my die groot sondaar, die groot irritasie, met Sy lae en lae liefde en vergifnis kom toevou het en van my ‘n pêrel gemaak het.

Sy verlossingsplan het my so volkome met Sy geregtigheid kom toevou, dat daar nou net een pragtige pêrel is.

Wanneer die pad van dissipelskap vir u moeilik raak, hou aan. As die weg wat u ingeslaan het, u teleurstel, hou net aan. As ons net aanhou om op Jesus se spoor te bly, gaan ons diamante en pêrels word.

14. As u miskien saam met die dissipels die nag van teleurstelling ingehardloop het, nooi die liefdevolle Jesus u terug om Hom weer opnuut te kom volg.

15. Kom saam met my na die land van Israel. Kom staan saam met my op die Olyfberg. Voor ons lê die ou stad van Jerusalem.

Waar die pragtige tempel eens op ‘n tyd gestaan het, staan daar nou ‘n Mohamedaanse heiligdom met ‘n goue koepel.

16. Aan die regterkant van die goue koepel, wat betreklik na aan die stadsmuur lê, is daar ‘n poort. Vandag word dit die Stefanus of Leeupoort genoem.

17. Tussen die Olyfberg waar ons staan en die ou stad van Jerusalem, lê daar ‘n vallei met die naam van Kidron. Wanneer ‘n mens afkyk met die Olyfberg, sien jy twee pragtige kerke.

18. Die een is ‘n Russiese kerk met ‘n paar goue koepels en die een net onderkant hom is ‘n Katolieke kerk. Hierdie twee mooi geboue is opgerig in die tuin van Getsemane en pelgrims van oor die hele wêreld besoek hierdie beroemde tuin waar Jesus geworstel het.

19. Wanneer ‘n mens met die steilte van die Olyfberg afstap en onder by die tuin van Getsemane kom, kyk jy na die groot bruin stadsmuur op die hoogte hier voor jou. Wanneer jy teen die steilte uitstap kom jy by die Stefanuspoort uit. Dis net buite hierdie poort waar Stefanus gestenig is.

2000 JAAR GELEDE

20. Ons verplaas onsself 2000 jaar terug in tyd en lees dan die verslag van ‘n ooggetuie van wat een Donderdagnag net na middernag in Getsemane plaasgevind het.

21. “Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. Hulle het Hom eers na Annas gebring…” Johannes 18:12.

22. Die grootste profesie van alle profesieë is besig om in vervulling te tree. Alles wat omtrent Jesus in die Ou Testament voorspel is, word haarfyn bewaarheid. Tot op hierdie oomblik het die offerlam na Jesus verwys maar nou word Hy die offerlam.

23. Jesaja voorspel in hoofstuk 53:7: “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”

24. Die eerste iets wat hulle met Jesus doen, is om Hom te boei, vas te bind. Dis presies wat hulle destyds met die offerdier gedoen het. Ons lees dit in Ps 118:27 “Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.”

25. Levitus 17:5 sê dat die offerlam na die priester gelei is. Daardie Donderdagnag is hierdie profesie vervul.

Geboeid, soos ‘n offerlam word Jesus na die priester gelei wat sou sorg dat Jesus die Offerlam op die altaar van Golgota sou sterf.

26. Die naaste poort waardeur Jesus in die stad ingelei kan word, is die Skaapspoort (tans die Stefanuspoort genoem). Destyds was hierdie poort so genoem omdat alle skape wat in die tempel geoffer is, deur hierdie poort gelei is.

27. Johannes 5:2 gee vir ons die volgende inligting oor hierdie poort. “En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betesda genoem word.”

28. Wanneer mens vandag deur hierdie poort stap, lê die tempelaria aan jou linkerkant en die ruïnes van Betesda aan jou regterkant.

Die gepeupel lei Jesus deur die Skaapspoort. Kan u Hom sien? Ek wonder wat alles deur Jesus se gedagtes gemaal het toe Hy deur hierdie poort gelei is.

29. Die man wat Jesus by Betesda genees het wat vir 38 jaar ‘n invaliede was, is nou gesond, vergewe en gered. Maar Jesus wat die wonderwerk verrig het, is nou met die sonde en siekte belaai wat Hy bestraf het. Hy is nie vry soos die geneesde man nie, nee Hy is nou die gevange offerlam op pad na die slagplek.

En dis presies wat Jesus kom doen het. Dis wat die profesie voorspel het. Ek is so dankbaar vir die baie bewyse van ons redding.

30.Na so ‘n klein endjie se stap word Jesus voor die hoëpriester Annas gebring. Soos die priesters destyds die offerlam ondersoek het, so word Jesus nou ondersoek en ondervra.

ANNAS

Annas was die skoonpa van die dienende hoëpriester, Kajafas. Jesus se vyande het Hom na Annas gebring want hulle wou seker maak dat hierdie geslepe, gefynsde diplomaat, Jesus se veroordeling vinnig sou bewerkstellig. Hy het Jesus gehaat. Annas wou Jesus dood hê.

31. Is daar ‘n Annas in jou lewe? Is daar mense wat jou glad nie kan verdra nie? Mense wat daarop uit is om met alles wat jy doen, fout te vind? As u op hierdie oomblik so iets beleef, onthou Jesus het dit deurgemaak, Hy verstaan. Hy bemoedig.

32. Annas het ‘n florerende besigheid in Jerusalem gehad. Jode wat uit die buiteland by die tempel kom offer het, moes hulle offerdiere in Jerusalem koop en die pryse was net mooi twee keer soveel as buite Jerusalem. Die winkels waar mense hulle offerdiere kon koop, was die Basaars van Annas genoem.

Kan u nog onthou hoe Jesus op ‘n keer die temeplhof van handelaars gereinig het? Hy het aan Annas se sak gevat en Annas het dit onthou. Annas kon Jesus nie verdra nie want Jesus het hom op sy fout gewys.

33. Het dit al met jou gebeur dat jy iemand op sy fout gewys het en dat daardie persoon jou van toe af nooit meer kon verdra nie? Jesus is deur so ‘n ondervinding.

ANNAS SE TAAK

Annas moes twee dinge bewys om Jesus se teregstelling te verseker. Eerstens moes hy Jesus van godslastering aankla. Dis iemand wat verklaar dat Hy aan God gelyk is. Tweedens moes hy bewys dat Jesus die volk teen die Romeine aanhits.

34. Annas het die tweede beskuldiging eerste probeer bewys. Johannes 18:19: “Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer.”

U sien hy wou net ‘n woord of twee van Jesus kry wat hy kon verdraai sodat hy vir die Romeine kon sê dat Jesus in die geheim besig was om ‘n koninkryk op te rig wat dan kwansuis die Romeinse heerskappy omver wou gooi.

35. Is dit miskien in u geval so dat mense u woorde wil verdraai sodat hulle u in onguns by ander mense wil bring? Jesus is deur hierdie onaangename ondervinding. Hy kan u versterk en vertroos. Kom ons lees oor Jesus se reaksie:

36. Johannes 18:20,21 “Jesus het hom geantwoord: Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Ondervra die wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

Die Joodse wet het gesê dat iemand onskuldig is, totdat hy skuldig bewys is. Maar hier tree Annas in stryd met die wet op. Jesus staan as ‘n gevange skuldige voor hom. Pleks dat Annas getuies teen Jesus inroep, probeer hy Jesus self vastrek. Jesus se antwoord het Annas spraakloos gelaat.

Daar was ‘n ongemaklike stilte in die vertrek. Annas se verleentheid was groot.

37. Johannes 18:22 “En toe Hy dit sê, het een van die dienaars wat daar staan, Jesus in die aangesig geslaan en gesê: Antwoord U die hoëpriester so?”

Kan u dit sien? Die Griekse woord wat Johannes gebruik kan of ‘n hou met die hand wees of ‘n hou met ‘n stok of kierie. Wat dink u was dit? Baie eeue voor hierdie hartseer aand toe my sonde en u sonde Jesus so verneder het, het Miga 4:14 hierdie voorspelling gemaak:

38. “Met ‘n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen.”

‘n Mens wil amper nie kyk nie. Die stok fluit deur die lug en met ‘n dowwe slag vang dit Jesus aan die kant van Sy gesig. Jesus se kop ruk met die geweldige slag.

In die tuin het Hy bloed gesweet, nou sit daar ‘n bloedhaal oor die eenkant van Sy gesig.
Waarom doen hulle dit met Hom? Is dit nodig? Het Hy nie reeds genoeg gely nie? Weet u wie Hom met daardie stok deur Sy gesig geslaan het? Die man wat hier voor u staan. Dis my sondes, dis jou sondes. Dis is wat vir ons sê:

39. “Terwille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel.” Jesaja 53:5
VREESLIKE VERNEDERING

Dis seker een van die grootste vernederings wat ‘n mens kan deurmaak, die vernedering om deur die gesig geslaan te word. Dit het met die profeet Miga gebeur (1 Konings 22:24). Job sê dit het met hom gebeur. (16:10).

Op skool het ek dit dikwels gesien. Dis weersinwekkend, dis absoluut vernederend.

40. Het iemand jy al deur die gesig geklap? Het iemand naby jou dit gedoen? Dan sal jy weet. Die geklaptes staan nie alleen nie. Een Donderdagnag is Jesus met ‘n stok deur die gesig geslaan.

Baie vrouens het al hulle mans gelos omdat hulle mishandel is. Ek is so dankbaar dat Jesus my nie gelos het toe ek Hom mishandel het nie.

41. Johannes 18:23 “Jesus antwoord hom: As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?”

Die woord wat Johannes hier vir slaan gebruik, dui eintlik op kneusing. Dit moes ‘n vreeslike hou gewees het.

Jesus het nie op die man geskreeu of Sy humeur verloor nie. Hy het ook nie in ‘n bui gegaan nie. Daar was geen bitsigheid in Sy stem nie. Jesus het geweier dat die slegte behandeling wat mense Hom gee, Hom ‘n lelike mens sou maak. Jesus het geweier om kwaad met kwaad te vergeld.

En nou doen Sy optrede ‘n beroep op my en vra my om nie verbitterd te raak nie en om nie kwaad met kwaad te vergeld nie.

Jesus se voorbeeld daag ons uit om nie kwaad met kwaad te vergeld nie. Jesus se voorbeeld daag ons uit om die kwaad met die goeie te beloon.

Volgende keer studeer ons verder aangaande Jesus se vlekkelose optrede onder baie moeilike, onregverdige omstandighede.

Was this article helpful?

Related Articles