JESUS SE NAGVERHORE – DEEL 2
Skriftuur:
1. In die vorige preek het ones na ‘n verskriklike vernedering gekyk wat Jesus moes deurmaak. Hy is deur die gesig geklap.Dit het met die profeet Miga gebeur (1 Kon 22:24). Job sê dit het met hom gebeur. (16:10).
Op skool het ek dit dikwels gesien. Dis weersinwekkend, dis absoluut vernederend.
Het iemand u al deur die gesig geklap? Het iemand naby u dit gedoen? Dan sal u weet. Die geklaptes staan nie alleen nie. Een Donderdagnag is Jesus met ‘n stok deur die gesig geslaan.
Baie vrouens het al hulle mans gelos omdat hulle mishandel is. Ek is so dankbaar dat Jesus my nie gelos het toe ek Hom mishandel het nie.
2. Johannes 18:23 “Jesus antwoord hom: As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?”
Die woord wat Johannes hier vir slaan gebruik, dui eintlik op kneusing. Dit moes ‘n vreeslike hou gewees het.
Jesus het nie op die man geskreeu of Sy humeur verloor nie. Hy het ook nie in ‘n bui gegaan nie. Daar was geen bitsigheid in Sy stem nie. Jesus het geweier dat die slegte behandeling wat mense Hom gee, Hom ‘n lelike mens sou maak. Jesus het geweier om kwaad met kwaad te vergeld.
3. En nou doen Sy optrede ‘n beroep op my en vra my om nie verbitterd te raak nie en om nie kwaad met kwaad te vergeld nie.
ONTTREK
Kom ons dink vir ‘n oomblik hoe Jesus moes gevoel het. Hy was baie beslis vernederd en diep seergemaak. Die man wat Hom geslaan het, het Jesus self gemaak. En nou kom Hy om vir hierdie man te sterf en hom te verlos en dis die behandeling wat Hy ontvang.
Die mense in die geregsaal van Annas het hulle soos duiwels gedra en hulle het as regter oor Hom gesit. Jesus kon sy goddelike krag gebruik het en Sy wrede vervolgers in een oomblik doodmaak. Dis nie maklik om terug te staan as jy die mag het om dinge te verander nie.
4. Dis nie so maklik om enduit te ly nie; maar dis wat Jesus kom doen het. Nie vir een oomblik het Jesus van slegte mense af weggeloop nie.
BROER GROENEWALD
Op Kroonstad het daar ‘n Groenewaldgesin gewoon. Die moeder van die gesin het hierdie waarheid wat ons liefhet, gehoor en aangeneem. Haar man was woedend. Vreeslike tye het op hierdie suster gewag.
5. Menige dag was die versoeking daar om haar kinders te vat en te loop. Maar daar was ‘n ander begeerte in haar hart wat sterker was as die begeerte om pad te gee en dit was die begeerte dat haar man saam met haar die Here moes dien.
‘n Jaar het verbygegaan, vyf jaar, 10 jaar. “Ag Here, wees met my man. Red hom in U koninkryk.” Alleen het sy met haar kinders kerk toe gegaan. Dit was moeilike jare. Twintig jaar het verbygegaan. Nog steeds het sy vir haar harde man gebid. Vyf-en-twintig jaar. Sy het besluit om haar hele lewe lank vir hom te bid.
Toe ek hulle leer ken het, was dit 27 jaar wat suster Groenewald vir haar man gebid het. Na al die jare het hy nou as pensionaris af en toe saam met haar kerk toe gekom.
Ek sal nooit die aand in hulle huis vergeet toe ek die oom gevra het om ‘n algehele oorgawe aan Jesus te maak nie. Vir 27 jaar het die tannie gebid. Vir 27 jaar het die Heilige Gees gepleit. Saam op ons knieë het Oom Groenewald sy gebed uitgesnik en sy hart aan die Here gegee.
Die dag met sy doopdiens sal ek nooit vergeet nie. Die tannie het gehuil vandat die diens begin het totdat sy die oom by die deur gelukgewens het. Ek het nooit geweet ‘n mens kan soveel trane stort nie. Ek het hier langs hulle gestaan toe die twee ou mense, albei in hulle sewentigs, mekaar in omhelsing vasgehou en gesnik het.
Sy het geweier om ‘n lelike mens wat haar beledig en vervolg het op te gee.
6. Elke keer wanneer die versoeking gekom het om haar tasse te pak en te loop het sy geweier om die maklike uitweg te volg. Sy wou by hom bly en aanhou bid totdat hy die Jesus ontdek wat sy ontdek het.
WOORDELOOS
Terwyl hierdie twee bejaardes mekaar met trane en snikke omhels het, het hulle niks gesê nie, maar tog het hulle baie gesê.
7. In sy hart het die oom vir die tannie gesê: Ou vrou, baie dankie dat jy my nie opgegee het nie. Dankie vir jou verdraagsaamheid wanneer ek lelik was. Dankie dat jy my alles vergewe het.
En in haar hart het die tannie gesê: Baie dankie my ou man dat jy jou hart aan Jesus gegee het. Hierdie 27 jaar se bid en uithou was die moeite werd.
Oom Groenewald is ‘n paar jaar later oorlede. Hy het in Jesus gesterwe en sal weer in Jesus opstaan. Hy is vir ewig gered omdat daar iemand was wat hom nie wou opgee nie.
Ek sal graag iewers naby wil wees wanneer hierdie twee mense mekaar in die hemel weer gaan ontmoet.
MOENIE OPGEE NIE
8. Die lewe van Jesus doen ‘n beroep op ons en dit is dat ons mekaar nie moet opgee nie. Kom ons hou aan om vir mekaar goed te wees. Partykeer kos dit jou dood om aan te hou goed wees vir iemand.
LEWENSMAAT
9. U is heel moontlik met ‘n moeilike lewensmaat getroud. Ek is en my vrou ook. Jesus se voorbeeld sê vir my om nie my vrou op te gee nie, al is sy ook hoe moeilik. En Jesus se voorbeeld sê vir haar om my nie op te gee nie, al is ek hoe moeilik. Kom ons besluit om by ons lewensmaats te staan en om net aan te hou goed wees.
10. Moenie van lyding, beledigings en slegte behandeling weghardloop nie. Besluit om dit deur die genade van die Here te aanvaar en toe te laat dat hierdie dinge ‘n mooier mens van jou maak.
AANBRANDSEL
Die mens is baie soos ‘n pot met aanbrandsel. Dit vat baie skuurwerk om daardie aanbrandsel af te kry maar dis die enigste manier. Eers krap jy die harde stukke swart aanbrandsel af en dan skuur jy die res wat hardnekking aan die bodem vassit.
Ons lewensmaats moet ons krap en skuur sodat ons skoongemaak kan word om beter diens te lewer.
Die mens is baie soos ‘n kar wat in ‘n ongeluk was en nou deur paneelkloppers herstel word. Die hamer moet baie duike uitslaan. Sonde het ons inmekaar geduik en die hamer van genadelose beproewings probeer om weer vorm aan ons te gee. Moenie uself van Jesus die Hoof paneelklopper onttrek nie. Hy doen ‘n goeie werk. Hy werk gewoonlik deur moeilike mense. Hulle is Sy hamers.
USELF
11. Dit gebeur dikwels dat ‘n mens deur jou eie swakheid en mislukkings oorweldig word. Moenie uself sommer goedsmoeds opgee nie. Solank jy jouself nie opgee nie, het jy nog nie verloor. Onthou, my mede swakke broeder en suster, Jesus het ons nog nie opgegee nie.
Sy lyding in Getsemane, die aand voor Annas en Sy dood aan die kruis, vertel ons dat Hy nie ‘n mens opgee nie.
12. As u ‘n duisend keer geval het, staan maar weer op en probeer weer. Laat toe dat Jesus weer ‘n keer met u bemoeienis maak. Al is ek klaar met myself, Hy nog nie. Laat Hom asb. toe om met u te werk.
PINKSTER
Handelinge 2 vertel ons van ‘n kragtige preek wat Petrus tydens pinkster gegee het. Hy het vir die Jode vertel dat die Jesus wat hulle so wreed behandel het, opgestaan het. Luister hoe sluit hy sy preek af:
13. “Die hele Israel moet nou vas en en seker weet: God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” Handelinge 2:36
Ek wonder of die wag van Annas wat Jesus met die stok deur die gesig geslaan het, onder die gehoor was?
14. Handelinge 2:41 “Die mense is op daardie dag by die getal gelowiges gevoeg.”
Dis baie moontlik dat hy onder die 3000 was. Jesus het ook vir hom kom sterf. Geen sonde is vir Hom te groot om te vergewe nie.
Ek weet nie of daar by u ‘n kwelling is oor iets wat u in die verlede gedoen het. Indien dit so is, wil ek net vir u die versekering gee dat die bloed van Jesus ons van ALLE sondes reinig.
15. Johannes 18:24 “Annas het Hom toe geboei en na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.”
Jesus se eerste onregverdige verhoor is afgehandel.
16. Johannes 18:12-14 ”Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.”
Die verhoor van Jesus voor Annas het tussen 1 en 2 uur in die oggend plaasgevind. Nou het die gewapende bende Jesus na Kajafas se paleis geneem. Dit was natuurlik nog pikdonker en in die lig van die fakkels het hulle die gevangene vasgebind en na die volgende tragiese verhoor gelei.
17. ‘n Mens kan vandag nog die plek besoek waar Kajafas se paleis gestaan het. Hier het hy en Annas weer probeer om Jesus te ondervra sodat hulle Hom skuldig kon bewys, maar hulle het net nie daarin geslaag nie. Stadig het die tyd van 2 tot 3 uur verbygesleep.
KAJAFAS
Kan u die deftige Kajafas met sy pragtige hoëpriesterlike kleed sien sit? Jesus kom bleek onder begeleiding van die gewapendes die verhoorsaal binnegestap en Hy gaan staan voor die hoëpriester. Is dit nie verskriklik nie!
18. Die Regter van die heelal staan in die beskuldigingsbank.
19. Toe Kajafas se oë op Jesus val, word hy dadelik deur die edele waardigheid en heiligheid van Jesus getref. Nog nooit het Hy homself in so Iemand se geselskap bevind nie. Jesus was anders, baie anders as die gewone mens. Kajafas raak oombliklik oortuig dat die gevangene hier voor hom, die Seun van God is.
Maar hy verhard sy hart net daar en dan en laat toe dat ‘n sataniese woede hom oorweldig.
Voor hom staan Iemand wat hy as ‘n mededinger beskou. Al hoe meer mense het eerder na Jesus as na Kajafas geluister en dit kon hy nie vat nie. En hier vind ons ‘n situasie waar Jesus aan die genade van ‘n jaloerse mededinger oorgegee word. Was u al in so ‘n situasie?
20. Dis nie moeilik om iemand te verdra wat slegter is as jy nie, maar dis baie moeilik om iemand te verdra wat beter is as jy.
Het jy al die ondervinding gehad dat iemand jaloers is op jou? Iemand wat jou as ‘n mededinger beskou? Jy het absoluut niks aan daardie persoon gedoen nie, maar jy merk ‘n lelike venynige houding teenoor jou? Ek het troos vir jou. Jesus het dit ook vir u deurgemaak.
Hy het nie weggehardloop nie, hy het dit verdra. Hy is ons voorbeeld in alles. As dit miskien met jou gebeur, doen net wat Jesus gedoen het. Bly waardig en gaan aan met jou taak.
PREDIKANTE
21. Het ‘n predikant jou al teleurgestel? Dit het ook met Jesus gebeur. Kajafas wat veronderstel was om Jesus se predikant te wees, was besig met planne om hom dood te maak. Kajafas, Jesus se predikant wat Hom moet vertroos en versterk, is besig om hom af te breek.
Maar Jesus word nie moedeloos nie en Hy gee ook nie op nie. Hy verdra dit stil. Wat ‘n pragtige voorbeeld. Jesus gaan voort met Sy groot werk van verlossing en die redding van mense.
22. Mag die Here ons help dat wanneer ons geestelike leiers of predikante ons teleurstel, ons nie ons rug op die Here sal draai nie.
VOOR DIE SANHEDRIN
23. Na ‘n vreeslike uur van mishandeling en valse beskuldiging is Jesus teen ongeveer 3 uur die oggend na die Sanhedrin geneem. Hulle het ook in Kajafas se paleis vergader. Met die steun van 70 lede het Kajafas nou met groter venyn en woede teenoor Jesus opgetree.
24. Matteus 26:59-61 “Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom en gesê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.
25. Vers 62 Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”
Wat was Jesus se reaksie op hierdie verdraaide vals beskuldiging?
26. Matteus 26:63 “Maar Jesus het niks gesê nie…”
Die Griekse werkwoord sê Hy het voortdurend stilgebly. Vir ongeveer ‘n uur bestook hulle Hom met vrae om Hom uit te lok om iets te sê, maar Jesus swyg.
Hoe reageer ek wanneer ek uitgelok word om iets te sê? Glip die woorde miskien onbeheersd uit?
Jesus het stilgebly. Wat ‘n pragtige voorbeeld. Toe Hy onskuldig vals beskuldig is, het Hy stilgebly. Hy het nooit Sy onskuld probeer bewys nie.
27. Daar is sekere dinge wat sekere mense vir ons sê wat ons onmiddellik ontstel. En gewoonlik is dit die mense wat die naaste aan ons is. Ek nooi u uit om stil te bly. Nie ‘n dikmond stilbly nie, maar ‘n hoflike, selfbeheerde swygsaamheid.
28. Sewehonderd jaar tevore het Jesaja geprofeteer: “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.” 53:7
29. Die Psalmis bid: “Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.” 141:3.
30. In die ou dae net soos vandag, was daar wagte aangestel om misdadigers te bewaar. ‘n Ontsnapte bandiet kan baie skade aanrig.
31. Kriminele woorde is net so skadelik. Dit ontsnap uit die breinselle en wanneer hulle uit is, saai hulle verwoesting. Dis byna onmoontlik om hierdie rampokker woorde ooit weer weer te arresteer.
Daar is sekere dinge wat mense vir jou en my gesê het wat jou tot vandag toe seermaak. En daar is sekere dinge wat ons gesê het wat vandag nog pynlik in die ore van mense klink.
32. Kom ons vra die Heilige Gees om die wag voor ons mond te wees. Kom ons vra Hom vir groter tong selfbeheersing.
Volgende keer gaan ons meer aangaande Jesus se vlekkelose optrede voor demoongevulde mense hoor. Mag Sy voorbeeld en Sy lewe ons besiel om meer soos Hy op te tree.