1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 12 – Nagverhoor (Deel 3)

Deur Sy Wonde Deel 12 – Nagverhoor (Deel 3)

JESUS SE NAGVERHORE – DEEL 3

Skriftuur:

In ons vorige preek het ons na Jesus se stilswye gekyk. Hy het die vermoë gehad om stil te bly wanneer Sy woorde nie tot stigting kon lei nie.

As Hy nie iets opbouend kon sê nie, het Hy nie gepraat nie.

Kom ons lees verder:

1. “Die hoëpriester sê toe vir Hom: Ek stel jou onder ‘n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God? Matteus 26:63.

Kan u die toneel sien? Kajafas sit op sy troon. Onder hom staan Jesus geboei. Hy is bleek met ‘n lelike rooi hael oor Sy gesig soos Hy deur die wag voor Annas geslaan is.

Die Sanhedrin wag op ‘n antwoord. As Jesus erken dat Hy die Messias, die Seun van God is, sterf Hy. As Hy dit ontken, leef Hy. Dan is Hy vry, dan is daar nie meer ‘n saak teen hom nie.

PRAAT DIE WAARHEID

2. Elkeen van ons beland in situasies waarin ons ‘n antwoord moet gee. As ons die waarheid praat, kom ons in die moeilikheid; as ons ‘n wit leuentjie vertel, dan is ons uit ons moeilikheid.

Ek wil ‘n beroep op u as volgelinge van Jesus doen om die waarheid te praat. Ons wil graag ons reputasie behou en dan gee ons valse getuienis. Ons lieg. Kom ons verloor liewer ons reputasie en praat die waarheid.

Jesus sê as iemand agter Hom wil aankom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en Hom volg. Verloën uself, kruisig uself en praat die waarheid. Hy wat sy lewe wil red sal dit verloor.

3. Openbaring 21:27 Met verwysing na die soort mense wat eendag in die hemel sal wees, sê die teks: “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie…”

Ons mag nie dat ‘n leuen ons uit die hemel hou nie. Vra die Here vir oorwinning.

GEWETE

As u gewete u aankla, gaan maak reg waar u ‘n onwaarheid gepraat het. En weet u waarom kla ons gewete ons aan oor leuens?

4. Spreuke 12:22 gee die antwoord: “Valse lippe is vir die Here ‘n gruwel, maar Hy het ‘n welbehae in die wat getrou handel.”

ILLUSTRASIE

Ek was in graad 2 toe ek vir my ouers ‘n leuen vertel het. En van daardie oomblik af het my gewete my gepla. Elke keer het ek die begeerte onderdruk om my sondes te gaan bely. Op hoërskool het dit my nog gehinder, maar ek het gevoel die leuen was te lank gelede gesê.

Toe ek begin werk het, het my gewete my nog steeds gepla maar ek wou nie die skandelike ondervinding deurgaan om vir my ouers te sê dat ek vir hulle in graad 2 gelieg het nie. Ek was al ‘n ambagsman, getroud en die eienaar van ‘n baie oulike motor, toe die Heilige Gees weer met my gepraat het.

5. Daar is ‘n teks in Spreuke 28:13 wat sê: “Hy wat sy oortreding bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”

Ek was nie voorspoedig in my geestelike lewe nie. Daardie leuen het my gehinder. Dank die Here, Hy gee nie maklik op met ons nie. Ek het in my kar geklim en middernag by my ouers aangekom en vir hulle vertel dat ek vir hulle ‘n leuen vertel het.

Dit was nie maklik nie, maar dit was die regte ding. Van daardie dag af het ek groter geestelike voorspoed gehad en kort daarna begin kolporteur.

As daar iets is wat u moet regmaak, moenie so lank uitstel soos wat ek gedoen het nie. Gaan maak haastig reg.

KAJAFAS EN JESUS

6. Kajafas vra vir Jesus: “Is jy die Christus, die Seun van God?” Matteus 26:65

Indien Jesus ja sê, wag daar ‘n kruisdood, maar voor die kruisdood ‘n onmenslike wrede mishandeling.

Elke oog is op Jesus gevestig. Met opgehoue asems wag die 7. Sanhedrin vir ‘n antwoord. “Jesus antwoord hom: Dit is soos u sê…” 26:64.

Die Koning van die Eeue sê dat toe Jesus vir Kajafas sê dat Hy wel die Seun van God is, die langverwagte Messias, die Verlosser van die mensdom, het Sy Godheid deur Sy mensheid geflits. Die hoëpriester het gesidder.

Mag dit ook wees dat Jesus se reinheid deur ons sal flits wanneer ons manmoedig die waarheid praat.

WEDERKOMS

Maar Jesus praat nie alleen die waarheid nie, Hy gee vir Sy regters iets anders om oor te dink:

8. “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.” 26:64.

Maw Jesus sê vir Kajafas en die res van die Sanhedrin dat hulle op die oomblik die oordeel oor Hom vel, maar die dag gaan aanbreek wanneer Jesus as die Groot Regter sal optree en elkeen sal vergeld volgens sy werke.

En hier is ‘n les vir my. Ek mag Jesus op die oomblik nie so goed behandel nie. Hy staan miskien buitekant my lewe. Miskien klop Hy by die agterdeur en hy probeer inkom. Miskien het ek Hom al ‘n paar keer uit my sitkamer en kombuis gejaag. Miskien het ek Hom gevra om eenkant te staan terwyl ek my eie ding doen.

9. Maar ek moet onthou dat daar ‘n dag gaan aanbreek wanneer die hemel en die aarde met ‘n gedruis sal verbygaan. ‘n Dag wanneer Jesus met Goddelike glans deur die ruimtes gaan kom. In daardie dag sal Hy die bokke en die skape van mekaar af skei.

Kom ons gee Jesus ons hele hart. Kom ons laat toe dat Hy elke vertrek in ons lewens bewoon. Hy is so mooi, so heilig. Hy maak so ‘n veranderinge in ‘n mens se lewe wanneer Hy inkom.

KAJAFAS

Kom ons lees wat die hoëpriester gedoen het:

10. “Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. Wat dink julle? Hulle het geantwoord: Hy verdien die dood.” Matteus 26:65,66.

Kan u uself voorstel watter skok daar deur Jesus moes gaan toe Hy hoor hoe die hoëpriester en die Sanhedrin die doodstraf oor hom uitspreek. Onthou Hy kom staan as mens in my plek.

Baie maal wanneer die doodstraf gegee is, het die veroordeeldes flou neergeval. Dis iets verskrikliks om die doodsvonnis oor jou uitgespreek te hoor.

11. En in hierdie ondervinding beleef Jesus die angs van elke tot-die-dood-toe-veroordeelde mens wat Hy kom red het.

Toe die Sanhedrin die uitspraak gee: “Hy verdien die dood,” het hulle die waarheid gepraat? Daar is twee antwoorde. Die eerste een is NEE “Hy het niks gedoen wat Sy dood regverdig nie.”

Maar daar is nog ‘n antwoord en dit is JA, Hy verdien die dood. Hy verdien die dood omdat Hy my sondes om Homself geneem het.

12. Hy is behandel soos ek verdien het. Sodat ek behandel kan word wat ek nie verdien het nie.

ONWETTIGE DOODSTRAF

Hierdie onwettige verhoor en teregstelling van Jesus het tussen 3 en 4 uur in die oggend plaasgevind. Die wet het gesê dat ‘n veroordeling van hierdie aard net tydens daglig kon geskied. Hulle het dus besluit om Jesus tot dagbreek gevange te hou en dan weer ‘n keer amptelik tot die dood toe te veroordeel.

13. Jesus is vanaf die vertrek waar die Sanhedrin Hom veroordeel het na ‘n sel geneem. Maar eers moes Hy deur ‘n binneplaas gaan en hier het iets verskrikliks plaasgevind.

Kom ons lees wat Markus 14:65 sê:

14. “Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ‘n bietjie?” Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.”

Kan u hierdie verwoede klomp skuim van Jerusalem op Jesus sien toesak? Hulle gee uiting aan al die Sataniese elemente van hulle natuur. Jesus se edele goddelike houding het hulle waansinnig gemaak. Sy sagmoedigheid, Sy onskuld en Sy geduld het hulle met ‘n haat gevul wat deur die Satan self aangeblaas is.

SPOEG

Die teks sê die eerste iets wat hulle gedoen het, was om Jesus te spoeg. Hulle het nie in afsku na Hom gespoeg nie. Die woord EMPTEIN sê hulle het Hom raakgespoeg en Hom aanhoudend gespoeg.

15. Kan u hierdie weersinwekkende toneel sien. Jesus met Sy hande agter Sy rug staan dat ‘n klomp mense Hom deur Sy gesig spoeg en aanhou spoeg. Hierdie verskriklike vernedering is 700 jaar van te vore deur die profeet Jesaja voorspel:

16. “Ek het my rug gehou vir die wat my slaan, my wang vir die wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie.” 50:6

Kan u glo dat dit met Jesus gebeur het.

‘n Ewe groot vernedering is wanneer jy van iemand se baard uitpluk. Die Nuwe Testament noem dit nie. Ek wonder hoekom nie. Maar saam met die gespoeg in Sy gesig, het hulle van Sy baard uitgeruk. Jesaja sê Jesus het nie Sy wang weggedraai toe hulle Sy baard uitgeruk het nie. Dit moes ontsettend pynlik gewees het.

Toe hulle klaar was met hierdie behandeling het hulle ‘n stuk lap geneem en Jesus geblinddoek. En toe het ‘n baie wrede speletjie begin. ‘n Man hak af en slaan vir Jesus met die vuis. Dis ‘n verskriklike harde, wrede hou. Die man lang met ‘n duiwelse gelag. “Wie het jou geslaan? Profeteer ‘n bietjie vir ons!”

17. Die Griekse werkwoord sê hulle het Hom weer geslaan en weer geslaan en weer geslaan. Kan u sien hoe die houe op die geblinddoekte Jesus reën?

18. Mark 14:65 “En sommige het begin om op Hom te spuug en sy aangesig toe te maak en Hom met die vuis te slaan en vir Hom te sê: Profeteer! En die dienaars het Hom met stokke geslaan.”

Vals beskuldig, deur die gesig geklap, toe gespoeg, toe geblinddoek toe met die vuis geslaan en daarna met stokke vermink. Wat ‘n prys is daar nie vir ons sondes betaal nie.

JESAJA

Jesaja kyk vooruit en hy sien Jesus se lyding, en hy skryf in hoofstuk

19. 53:2,3 “Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.”

Ek wonder hoe Jesus se gesig gelyk het toe hulle later daardie bebloede doek afgehaal het waarmee hulle hom geblinddoek het?

DIE SEL

20. In die boek die Koning van die Eeue 727 sê dit dat Jesus na ‘n sel geneem is waar Hy tot daglig in bewaring gehou moes word. Sodra die dag breek sal die Sanhedrin hom amptelik tot die dood veroordeel en Hom dan na Pilatus neem om Hom te laat kruisig.

21. Die verhoor voor die Sanhedrin het tussen 3 en 4 uur die oggend plaasgevind. Teen 4 uur het die lig van die nuwe dag teen die donker horison verskyn EN TEEN 5:30 HET DIE SON UITGEKOM.

22. Ons weet nie presies hoe lank Jesus hierdie een en ‘n halfuur deur die gepeupel mishandel is nie of hoe lank Hy in die sel opgesluit was nie. Al wat ek weet is dat dit ‘n vreeslike 90 minute vir Jesus moes wees.

23. Wanneer ‘n mens vandag Kajafas se paleis besoek, kan jy na die sel gaan kyk. Hulle wys jou ook ‘n sekere plek waar veroordeeldes met hulle rug teen ‘n muur vasgemaak is. Daar is gleuwe in die rots waardeur die beskuldigde se hande gesteek en vasgebind is. Dan het hy 13 katshoue oor die linkerkantste borskas ontvang en 13 houe oor die regterkantste borskas.

24. In die sel waarin Jesus opgesluit was, is daar ‘n afskrif van Psalm 88. Daar word beweer dat dit ‘n Messiaanse psalm is wat Jesus se ondervinding in hierdie sel beskryf. Ek aanvaar dit so. Kom ek lees vir u ‘n paar van die verse:

25. “Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk.” 4

“Ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie.” 5

“Dit is asof ek al tussen die dooies is, tussen die wat gesneuwel het en in hulle grafte lê, die aan wie U nie meer dink nie en van wie U u hand teruggetrek het” 6

26. “U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis.” 7

“U gramskap rus swaar op my, U laat al u golwe oor my breek.” 8

“U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks; ek sit vasgevang en kan nie uitkom nie.” 9

GOD VAN DIE RUIMTES

27. O wat ‘n toneel! Die God van die ewige ruimtes, sit onder in ‘n donker, koue, benoude, sel. Sy oë is byna toegeslaan; Sy gesig is opgehewe van baie vuis en stokhoue. Sy hande is ongemaklik agter Hom vasgebind. Hy het onbeskryflik pyn en Sy hart is besig om te breek. Kon Hy nie maar in Getsemane gesterf het nie?

28. Hy kom identifiseer met die miljoene wat in donker selle gegooi is. Hy maak deur wat hulle deurgemaak het. Maar meer nog. Hy word in die donkerste ondervinding van menslike ellende gedompel.

29. Daar kom oomblikke in elke mens se lewe waar hy homself in ‘n donker sel van diepe neerslagtigheid bevind. Oomblikke waarin die lewe sy sin verloor. Oomblikke wanneer die mens vol dat hy vir niemand meer iets beteken nie. En dis in sulke oomblikke wanneer baie mense ‘n einde aan hulle eie ellende maak.

Maar onthou, Jesus was ook in daardie donker sel. Hy weet. Omdat Hy in daardie donker sel was, kan Hy ons eendag na Sy ewige ruimtes van genade en vryheid en liefde en geluk neem. En omdat Hy in benoudheid vasgevang was, kan ons eendag in ewige geluk losgelaat word.

En dank vanoggend God die Vader vir Sy onuitspreeklike geskenk van Jesus Christus Sy Seun. Ek vra Hom die genade om myself te verloën, my kruis op te neem en Jesus die hele weg te volg. Ek dank Hom dat Hy al my sondes op Homself geneem het, en my genadiglik vergewe het. Ek wil graag my hele lewe aan Hom wy.

Wat van u?

Was this article helpful?

Related Articles