1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 13 – Nagverhoor (Deel 4)

Deur Sy Wonde Deel 13 – Nagverhoor (Deel 4)

JESUS SE NAGVERVERHORE – DEEL 4

Skriftuur:

1. In ons vorige preek het ons die sel besoek waarin Jesus opgesluit was. Ons het verneem hoe hy in Kajafas se paleis gekats was. 26 houe in totaal.

Kom ons volg Jesus biddend op Sy lydensweg. Kom ons vra die Heilige Gees om ons met die grootse verlossingsplan vir sondaars te beïndruk.

2. Matteus 27:1,2 “Die more vroeg het al die prieserhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.”

Die Sanhedrin het net gewag dat die son moes opkom sodat hulle Jesus in die dag amptelik tot die dood toe kon veroordeel. ‘n Paar van die wagte gaan haal Jesus in die donker sel en lei Hom na die geregsaal van Kajafas waar die Sanhedrin sit.

Die uitspraak word gegee. Die Joodse nasie spreek amptelik die doodstraf oor hulle Messias uit. Op hierdie stadium gebeur iets dramaties: 4 gee vir ons die detail.

3. Matteus 27:3, “Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry, Hy het die dertig silwerstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê: Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.”

JUDAS

4. Ek wonder waar het Judas vandaan gekom. Miskien het hy die hele nag daar tussen die gepeupel gestaan om te kyk wat Jesus gaan maak.

Judas het natuurlik gehoop dat Jesus op een of ander stadium Sy goddelike mag sou openbaar en die Koning van Israel wou word. Dan sal Jesus vir Judas komplimenteer dat hy vir Jesus astware geforseer het om Koning te word. Judas sou dan ‘n sleutel-posisie in die nuwe regering beklee.

5. Maar namate die ure verbygegaan het en Jesus toegelaat het dat die wrede mense Hom al hoe meer mishandel, het ‘n verskriklike vrees sy hart beetgepak. Hy het begin besef dat hy vir Jesus se wrede mishandeling en Sy uiteindelike dood verantwoordelik is.

6. Die wroeging van ‘n skuldige gewete het in sy binneste opgebou. Net voor die Sanhedrin die verhoor beëindig, het hy vorentoe gehardloop, die verskrikte hoëpriester se kleed vasgegryp en histeries begin skreeu: “Hy is onskuldig! Hy is onskuldig! Asseblief Kajafas, laat Hom los. Ek is jammer ek het Hom aan julle verkoop”

Kan u die lang gestalte van Judas sien? Sy gesig is bleek en groot druppels sweet pêrel op sy voorkop uit. By Kajafas se regterstoel, gooi hy die 30 silwerstukke voor hom neer.

Baie gou het Kajafas vir Judas van hom afgeskud maar hy is so verward, hy kan nie ‘n word uitkry nie. Dis ‘n groot verleentheid want almal kan sien dat die priesters vir Judas omgekoop het om Jesus te verraai.

7. Matteus 27:4 sê Judas het uitgeroep: “Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.” Hy het dit ‘n paar maal in daardie saal uitgeroep.

Ondertussen het Kajafas van sy skok van verleentheid herstel en Judas onderbreek: “Wat het ons daarmee te doen? Dit is jou saak!” Matteus 27:4

Arme, patetiese Judas. Te laat het hy sy fout agtergekom. Hy het na die duiwel geluister wat ‘n leuenaar en ‘n mensemoordenaar is. Die maklike pad wat die duiwel vir Judas voorgehou het, het ‘n baie moeilike pad geword.

Wat ‘n skouspel. Judas val voor Jesus se voete en pleit dat Jesus Homself moet verlos. Jesus laat Sy kop sak en Hy kyk na die man hier voor Hom. Hy weet Judas het geen ware berou nie. Die verraaier sidder oor die gedagte van die komende oordeel.

Maar Jesus verwyt hom nie. Daar is geen woord van veroordeling teenoor Judas nie, Hy is net onsettend jammer vir die arme man hier voor Hom.

8. ‘n Rukkie later aan die kruis sal Jesus deurmaak wat Judas deurmaak wanneer hy die ewige verlorenheid van die verlore sondaar aan die kruis gaan deur maak.

Die mense kyk met verbasing na Jesus. Hy gedra Homself so anders. Kyk net hoe verdraagsaam en hoflik is Hy teenoor Judas. Daar was nie een oomblik in Jesus se lewe wat Hy nie ‘n wenner was nie. Sy hele lewe was een pragtig lang sukses.

Hier het ons ‘n geval waar die verraaier valse berou toon sonder dat Jesus hom verwyt. Hoe seergemaak en gebelgd sou ons nie gevoel het nie. Met Sy verminkte gesig staan Jesus daar. Sy houding is koninklik, Sy gedrag liefdevol en hoflik.

9. Judas was jammer oor die gevolge van sy sonde, en nie oor die sonde wat hy gepleeg het nie.

VERANDERING IN LEWE

10. Die toets van ware berou is ‘n verandering in jou lewe. Ware berou is ‘n geskenk van die hemel wat jou ‘n besef laat kry van hoe lelik sonde werklik is, en dat sonde Jesus se dood veroorsaak het.

Koning Saul het berou gehad maar dit het nie sy lewe verander nie. Esau het berou gehad mar dit het nie sy lewe verander nie. Hy was baie jammer dat hy sy eersgeboorte reg vir ‘n pot lensiesop verkoop het. Jammer oor die verlies van die seëninge maar nie jammer oor die feit dat hy heilige dinge geminag het nie.

Kan u sien hoe Judas by die vertrek uithardloop. Kan u hoor hoe hy uitroep: “Dis te laat, dis vir ewig te laat. Ek is verlore.”

11. Matteus 27:5 “Judas he toe die geld in die temple in gegooi, weggeloop en homself gaan ophang.”

Judas het drie jaar saam met Jesus gewandel en saam met Hom elke Sabbat kerk toe gegaan en Hom tog nie besit nie. En nou soek hy na ‘n sterk tou of ‘n sterk riem.

Judas wou Jesus nooit toelaat om heeltemal in sy lewe oor te neem nie en nou toets hy of die tou sterk genoeg is.

Judas het geweet wat Jesus van hom verwag en wat Jesus in sy lewe wou doen, maar Judas wou sy eie ding doen en nou klim hy in ‘n droë boom.

Judas wou groot hoogtes van eie-belangrikheid in Jesus se koninkryk bereik. Hy het gehoop dat Jesus ‘n magtige aardse koninkryk sou oprig en dat hy Judas die septer van mag sou laat swaai.

En nou, met die tou om sy nek spring Judas na benede. Die tou ruk en Judas is dood. Maar Judas se gewig is te swaar en na ‘n ruk breek die tou en Judas val tot onder op die grond.

12. Handelinge 1:18 sê: hy het “Vooroorgeval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul.”

BEHEER DEUR MAGTE

Elke mens op aarde word deur ‘n mag sterker as hyself beheer. Of ek word deur die Gees van Jesus beheer of ek word deur die gees van die duiwel beheer. Al sê wat ek in hierdie hele saak het, is my eie keuse. As ek Jesus kies, staan ek onder Sy beheer. As ek Hom nie kies nie, is ek outomaties onder die beheer van die satan.

13. Romeine 6:16 “Julle weet tog as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van die een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.”

Of ek is ‘n slaaf van Jesus of van die duiwel. Jesus is baie eerlik. Hy sê my presies watter soort behandeling ek by Hom gaan ontvang. Om net ‘n paar te noem:

Diep riviere,beproewings, vervolging, bespotting. Maar aan die einde wag rus, geluk, vrede en die ewige lewe.

Aan die ander kant hou die duiwel ook vir my ‘n lewe voor. Hy skilder dit baie mooi. Hy sê op sy pad sal jy nooit uitvoel nie, want almal loop hierdie maklike pad.

Op hierdie pad maak jy soos jy wil en jy hoef jouself nooit te verloën nie. Hy sê vir jou dat jy nie selfbeheersing op hierdie pad nodig het, jy kan net doen wat vir jou lekker is. Jy hoef ook nie ander mense te konsidereer nie.

Pasop. Jesus waarsku in Johannes 8:44 dat die duiwel ‘n leuenaar en ‘n moordenaar is.

14. Die dag wanneer die plate wys jy longkanker asgevolg van rook het, besef jy die duiwel het gelieg. En wanneer jy uit sy kloue wil kom, besef jy hoe wreed hy regtig is.

Die tragiese einde van Judas, roep elkeen van ons om elke dag ‘n onvoorwaardelike toewyding en oorgawe aan Jesus te maak. Sonder Jesus, is ek sonder hoop en sonder ‘n toekoms.

KAJAFAS SE GEREGSAAL

Kom ons keer terug na die geregsaal van Kajafas. Iemand het die geldstukke opgetel wat Judas daar neergegooi het. Die Sanhedrin het Jesus amptelik tot die dood veroordeel en Hom na Pilatus vir teregstelling geneem.

15. Lukas 23:1 sê: “Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring.”

16. Dis ongeveer 6 uur die oggend. Die son het homself bokant die Judese berge gelig en is besig om teen die blou lug uit te styg. Jesus word deur die hele Sanhedrin, die priesters, owerstes, ouderlinge en die gepeupel vergesel.

17. Josefus sê vir ons dat die gebou waarin die Sanhedrin vergader het, aan die suid-westelike hoek van die tempelaria geleë was. Ongeveer op die plek waar die Jode tans by die klaagmuur aanbid.

18. Die afstand vanaf Kajafas se paleis na Pilatus se geregsaal was net onder ‘n kilometer. Dit was noord van die tempelaria net bokant die bad van Batesda.

19. Die naam van die gebou waar Pilatus Jesus verhoor het, was die vesting van Antonio, genoem. Dis deur Herodus die Grote ter nagedagtenis aan Markus Antonio,‘n groot Romeinse generaal gebou.

Die Romeine het hierdie vesting gebruik om die Jode se bewegings by die tempel dop te hou, veral met feeste soos pasga en pinkster wanneer duisende Jode die temple besoek het.

VRYDAGOGGEND

20. Dis Vrydagoggend. Jesus is omring met die lelikste en haatlikste mense. Hy kan nie help om hulle raak te sien nie. Hulle het net een plan vir Hom en dis Sy dood. Deur die nou gangetjies lei hulle Jesus. Hierdie Vrydag is so anders, so anders as die eerste Vrydag in die geskiedenis van ons planeet aarde.

21. Miskien het Jesus teruggedink aan die eerste Vrydag toe Hy vir Adam en Eva gemaak het. Twee pragtige wesens met lig omstraal. Hulle stemme was sag en melodieus. En nou op hierdie ander Vrydag hoor Hy weer stemme, maar dis lelike stemme, dis stemme wat skreeu “Maak Hom dood, maak Hom dood.”

Die eerste twee mense wat Jesus gemaak het, het sagte uitdrukkings op hulle volmaak geskape gesigte gehad. Die stempel van hulle Skepper kon op hulle gesigte gesien word.

En nou kyk Jesus in kwaai oë vas. Op hierdie ander Vrydag sien Hy gesigte wat deur haat misvorm is.

Terwyl die uitgeputte, verminkte, hartgebroke Jesus na Pilatus se geregsaal gelei word, dink Hy aan die vreugde toe Hy die eerste twee mense geskape het. Hulle het lof en liefde en blydskap teenoor hulle Skepper uitgestraal.

22. Maar op hierdie ander Vrydag loof hulle Hom nie, hulle vloek Hom. Op hierdie ander Vrydag straal hulle nie liefde na Hom uit nie, hulle straal haat na Hom uit.

Het Jesus geweet wat Hy doen toe Hy daardie eerste Vrydag twee mense gemaak het. Het hy geweet van hierdie ander Vrydag? Het Hy geweet hoe lelik Sy mooi skepsels sou word?

HERSKEPPER

23. Ja, Hy het geweet. Maar Jesus is nie alleen ‘n Skepper nie, Hy is ook ‘n Herskepper. Hy is nie alleen ‘n Argitek nie, Hy is ‘n Paneelklopper. Hy is nie alleen ‘n Ingenieur nie, Hy is ook ‘n motorwegtuigkundige. Hy is nie alleen ‘n Ontwerper nie, Hy is ook ‘n Instandhouer.

Toe die pragstuk van die Skepping, die mens in botsing met sonde gekom het, was Jesus op die toneel. Toe die mens se reinheid in duisend skerwe gespat het, was Hy daar.

24. Op hierdie spesifieke Vrydag het Jesus saam met die mensdom kom breek. Maar in Sy breekproses het Hy terselfdertyd die mens kom heel maak.

DOOD

Waar was Jesus toe Abel gevoel het hy gaan sterf? Hy het met Sy Golgotas doodsangs langs Abel kom staan. Hy was langs Abel toe hy met ‘n vreemde vrees in die donkerte van die dood verdwyn het. Hy is vandag nog langs ons in al ons ellende.

GOLGOTA

25. Jesus is besig om op hierdie ander Vrydag na die ondervinding van die dood te stap waarin Abel homself in bevind het. Daardie eerste Vrydag het Jesus lewe aan die mens gebring. Op hierdie Vrydag het Hy Sy lewe vir die mens kom verloor.

26. Dit was 3 uur daardie ander Vrydagmiddag toe Jesus saam met miljoene mense voor en na Hom in die dood verdwyn het. Maar in hierdie vreeslike ondervinding van die dood het Hy vir die mens die ewige lewe gebring.

Dit wat by die paradys mooi was, maar deur die sonde lelik gemaak is, het Jesus by Golgota weer kom mooi maak.

27. Jesus stap in die vroeë ure van daardie ander Vrydagoggend deur die straatjies van die ou stad van Jerusalem. Om Hom sien Hy hoe lelik die sonde mense gemaak het.

28. Maar Jesus kyk vorentoe en Hy sien ‘n ander Jerusalem, die ewige hemelse Jerusalem. Hy sien mense wat daar stap. Mooigemaakte mense, nuutgemaakte mense. En terwyl Jesus na Pilatus se geregsaal stap, skep Hy moed want Sy herskeppingsdaad sal nie tevergeefs wees nie.

TWEE MAAL MYNE

Ek was nog baie jonk toe ek die storie van die seuntjie en die skippie gehoor het.
Die outjie het vir hom ‘n bootjie gemaak. Hy het ‘n seiltjie aangebring en op ‘n dag toe die bootjie klaar was, het hy dit na die rivier geneem om te kyk hoe die bootjie sou vaar. Dit was ‘n meesterstuk.

Maar toe kom ‘n sterkerige wind en neem die bootjie vinnig die diepwaters binne en die seuntjie het sy bootjie verloor. Hy was baie hartseer want hy het die bootjie self gemaak.

TERUGGEKOOP

Op ‘n dag toe hy van die skool af kom sien hy die einste bootjie by ‘n pandjieswinkel. Hy sê toe vir die oom dat dit sy bootjie is. Wel, ou seun het die man gesê. Jy sal hom moet koop.

“Hoeveel kos hy oom?” En die oom gee hom die prys. Die knaap is daar weg en het alles opgespaar wat hy kon totdat hy genoeg geld gehad het om sy eie bootjie weer te kon terugkoop.

Toe hy by daardie pandjieswinkel met sy bootjie uitstap het hy die bootjie styf vasgedruk en gesê: Bootjie, jy is nou twee maal myne. Eers het ek jou gemaak en toe het ek jou gekoop.

29. Daardie eerste Vrydag het Jesus die mens gemaak. Maar toe kom ‘n sterk wind, die wind van sonde, en ons seil van Hom af weg en beland in die pandjieswinkel van die duiwel.

30. En toe een Vrydag nadat Jesus alles opgespaar het, het Hy my kom terugkoop. Drie uur daardie Vrydagmiddag het Jesus net voor Sy dood uitgeroep. Jy is nou twee maal myne. Eers het Ek jou gemaak en nou het Ek jou teruggekoop.

Vanoggend neem Jesus u in Sy arms en sê vir u. “Jy is twee maal myne. Eers he ek jou gemaak, maar nou het ek jou teruggekoop.”

Mag ons reageer deur ‘n lewe van onselfsugtige gehoorsaamheid.

Volgende keer gaan ons hierdie boeiende verhaal verder navors. Ons gaan weereens sien watter onbevlekte karakter Jesus gehad het. Ons gaan Hom met ‘n groter en nuwer bewondering wil aanbid.

Was this article helpful?

Related Articles