1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 15 – Herodus Verhoor

Deur Sy Wonde Deel 15 – Herodus Verhoor

JESUS EN HERODUS

Skriftuur: Lukas 23:6-12 (Die sesde verhoor)

Wat se soort ouers het u gehad of het u op hierdie oomblik? Maak die soort ouers wat ‘n mens het saak of jy eendag gered gaan word en of jy verlore sal gaan?

Ek het heelwat van hierdie man se pa gelees. Sy naam was Herodus die Grote. Wanneer jy deur Israel reis, sien jy baie van die oorblyfsels van hierdie man se roemryke verlede. In Jerigo en Jerusalem en bo-op Masada en naby Bethlehem sien jy hoe fantasties hierdie man kon bou.

Maar net so roemryk as wat sy paleise en vestings was en nog steeds is, net so afskuwelik is die naam van Herodus die Grote. Sy hele geskiedenis is met die rooi van baie mensebloed ingekleur. Hy het een van sy vrouens en drie van sy eie seuns vermoor. Ek weet nie van iemand wat in daardie tyd slegter was as Herodus die Grote nie.

En toe op ‘n dag, net agt kilometers van sy paleis in Jerusalem, word Jesus die Seun van God in Bethlehem gebore. En hierdie slegte man kry die geleentheid om die Goeie Jesus aan te neem. Maar hy besluit daarteen en beveel dat al die seuntjies onder twee jaar in Bethlehem om die lewe gebring word.

Kan u die duisende snikke uit gebroke ouerharte hoor terwyl hulle hulle kinders na ‘n duisend graffies neem.

Of ek neem Jesus aan en Hy maak my mooi, of ek verwerp Hom en word leliker en leliker.

HERODUS DIE VIERVORS

Met die dood van Herodus die Grote het drie van sy seuns oorgeneem en verskillende gedeeltes van die land van Israel beheer. Een van hulle se naam was Herodus die viervors. Die gedeelte waaroor hy geregeer het, was Galilea en Perea, oos van die Jordaan. Ongeveer regoor die vesting van Masada wat sy pa gebou het, het sy seun Herodus die viervors vir hom ‘n vesting aan die oostekant van die dooie see gebou met die naam van MAGARUS.

Beïnvloed die soort ouers wat ek gehad het, my kanse op redding? Kan ek dit as ‘n verskoning vir my swak geestelike prestasies noem?

Nie ver van die vesting van Herodus die viervors, seun van die slegte Herodus die Grote, het ‘n man begin preek. Maar dit was baie meer as net gewone preke. Baie gou het die volk van Israel van hierdie man kennis geneem. Herodus die viervors het ook van hom kennis geneem.

PROFETIESE BOODSKAP

Dit was ‘n magtige profetiese boodskap. 700 Jaar van te vore het Jesaja verkondig dat so ‘n boodskap gepreek sou word. Maleagi het ook hierdie boodskap profeties voorspel. En Jesus het dit later bevestig en verklaar dat Johannes die Doper die Elia boodskap kom verkondig het.

Herodus die viervors se soldate het na hierdie magtige woestyn prediker gaan luister. Maar wanneer hulle teruggekom het, was hulle anders. Op ‘n dag het Herodus ‘n paar van hierdie bekeerde soldate na hom geroep en hulle begin uitvra.

“U majesteit, hierdie prediker is leeggemaak van homself en volgemaak met die krag van God. Hy vertel ons van die Verlosser wat gaan kom, en hy sê dat ons met die sonde moet breek. Hy het vir ons gesê om niemand geweld aan te doen nie en van geen mens af te pers nie. Hy het ook vir ons gesê dat ons met ons soldy, ons salaries tevrede moet wees.

“U majesteit, die man trek anders aan, sy diëet is eenvoudig en sy boodskap is profeties. En terwyl ons daar na hom geluister het, het iets met ons gepraat en ons het besluit om ons sondes te bely en te laat staan. Dit was ‘n onvergeetlike ondervinding toe hy ons in die Jordaanrivier gedoop het…”

En terwyl die viervors luister en hy sien die verskil in sy soldate se lewens, het daar iets in sy harde hart gebeur. Die Bybel sê nie vir ons of Herodus persoonlik na Johannes die Doper gaan luister het nie, en of iemand die boodskappe aan hom opgedra het nie. Dit maak seker nie saak nie.

Johannes het Herodus aangespreek oor ‘n baie lelike ding wat Hy gedoen het. Kom ek skets vir u die agtergrond.

In Petra, nie ver van Magarus af nie, het ‘n koning met die naam van Aretus geregeer. Die viervors het met sy dogter getrou. Haar naam was Malthase. Miskien het die huwelik nog in die pragtige Nebateense Petra plaasgevind.

Maar tydens ‘n besoek aan Rome het hy op Herodias, die vrou van sy halwe broer Filip verlief geraak. Om ‘n lang storie kort te maak, die twee het mekaar gevat. Sy vrou Malthase is terug na haar pa koning Aretas van Petra, en hy het oorlog verklaar teen Herodus die viervors en baie van sy grondgebied verower.

Josefus die Joodse geskiedskrywer sê vir ons in sy boek Antiquities 18:5:4 dat sy onderdane sterk eksepsie oor Herodus se owerspel geneem het en hulle dunk van hulle koning het gedaal.

HOOP

Is daar hoop vir iemand wat so ‘n vreeslike sonde gepleeg het? Ja. Die hemel het dit nie soseer teen die sondaar as teen die sonde nie. En wanner ons ‘n bestraffing ontvang, moet ons dit as die grootste liefdesverklaring van die hemel sien. Want wanneer ons bestraf word, sê die Here vir ons twee dinge: Eerstens, “Ek het jou baie lief” en tweedens “Ek haat die sonde wat jy doen.”

En op ‘n dag het die Here Sy liefde aan Herodus die viervors in die volgende paar woorde bewys.

“Lukas 3:19 “Hy het ook vir Herodus, die heerser tereggewys oor Herodias die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodus gedoen het.”

BESTRAFFING

Sê my, hoe reageer u op bestraffing? Dis baie belangrik! Party bestraffings kom nie so strelend oor nie. ‘n Bestraffing maak gewoonlik die gevoeligste plek in ons binneste baie seer. ‘n Bestraffing praat die waarheid en die waarheid maak seer. Hoe reageer u wanneer die Bybel, die Gees van Profesie, die predikant, jou ouers, die kinders, jou man of vrou, jou vriende, jou op jou foute wys?

As ek weier om die bestraffing te aanvaar, weier ek die ewige lewe. Wanneer ek die bestraffing aanvaar, aanvaar ek die liefde van God wat vir my die ewige lewe wil gee.

DAWID EN SAUL

Dawid en Saul is tipiese voorbeelde. Saul het baie minder sondes as Dawid gepleeg. Maar elke keer wanneer Saul bestraf is, het hy ‘n opstand gekom. Saul is vir ewig verlore.

Maar hoe het Dawid gereageer? Hy het die bestraffing aanvaar. Hy het nie die fout by die bestraffer gesoek nie, maar by homself. En asgevolg van hierdie gesindheid, word Dawid ‘n man na Gods hart genoem. Mag die Here gee dat u en ek ook ‘n man of ‘n vrou na God se hart sal wees.

HERODUS

Johannes die Doper bring sy Eliaboodskap in liefde na Herodus die viervors. Hy kry die geleentheid om die vreeslikheid van sy sonde te sien, dit te bely en dinge reg te maak. Maar wat gebeur? Lukas 3:20 vertel ons. “Maar Herodus het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.”

Hy maak die een wat hom bestraf het, stil. Is dit nie vreeslik nie. Johannes die Doper kom hom help om weer gemoedsrus te kry. Hy kom hom help om die ewige lewe te beërwe. En pleks van homself te bekeer, sluit hy die boodskapper van die Elia boodskap op.

Hoe maak ek wanneer bestraffing na my kom? Sluit ek die boodskapper van bestraffing in ‘n tronk op?

ONDERRIG

Johannes die Doper wou so baie mooi waarhede aan Herodus die viervors bring. Hy wou met hom oor sy lewenstyl praat. Die man het ‘n drank probleem gehad. Hy was ‘n geslepe skelm. Jesus het na hom as “Jakkals” verwys. Johannes wou hom help, maar hy wou nie gehelp word nie.

ONTHOOFDING

Mark 6:21-28 “Op ‘n dag het Herodias ‘n goeie kans gekry. Toe Herodus op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ‘n feesmaal gegee het, het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodus en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee. Daarby het hy dit herhaaldelik met ‘n eed vir haar bevestig: Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk. Sy het uitgegaan en vir haar ma gesê: Wat moet ek vra? Die het gesê: Die kop van Johannes die Doper. Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: Ek wil hê u moet vir my dadelik in ‘n skottel die kop gee van Johannes die Doper. Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ‘n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, sy kop in ‘n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.”

Wat ‘n skokkende verhaarl! ‘n Mens dink met veragting aan wat ‘n ma, haar dogter en Herodus die viervors gedoen het.

Maar hier is ‘n baie groot les vir u en vir my. Wanneer ‘n mens nie na die waarskuwings in God se Woord luister nie, het jy geen beskerming teen die bose nie.

Daar was ‘n tyd toe die Heilige Gees ernstig met Herodus gepraat het. Hy wou die regte dink doen, maar hy het nooit sover gekom nie.

Markus 6:20 “Herodus was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ‘n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ‘n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.”

Kan u sien hoe Johannes die Doper met Herodus praat en pleit? Die Heilige Gees oortuig hom van sy sonde, daar wel in hom ‘n begeerte op om die regte ding te doen. Maar daar is ‘n ernstige tweestryd in sy hart. Sy vrou Herodias. Hy is bang vir haar.

Met ander woorde Herodus is meer behep oor wat mense sal sê of dink of doen as om te doen wat reg is.

Iemand wat lig verwerp sal duisternis ontvang. Wanneer ek lig verwerp, hoe gering dit ookal mag wees, verwerp ek Hom wat die lig uitstraal.

HERODUS EN SY GEWETE

Hoe dink u het Herodus laat daardie nag gevoel toe hy half nugter was? Ek glo nie hy het ooit weer, solank as wat hy gelewe het daardie bebloede hoof van Johannes op die skottel vergeet nie. Hy het die stem van die profeet laat ophou praat, maar nogtans het die boodskappe van Johannes in sy kop bly maal.

En persoonlik glo ek dat Herodus ‘n senuwee wrak geword het. Luister wat sê Markus 6:14-16 vir ons: “Koning Herodus het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom. En party het gesê: “Dit is Elia”. Ander het gesê: “Hy is ‘n profeet soos een van die ou profete.” (En nou lees ons hoe Herodus op die berugte van Jesus gereageer het) Toe Herodus dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het is uit die dood opgewek.”

SONDE EN GEESTESGESONDHEID

Ek gesels eenkeer met ‘n sielkundige by ‘n groot inrigting vir jongmense wat opgeneem is. En hy het iets gesê wat ek altyd sal onthou. Hy sê die enkel oorsaak waarom hulle daar is, is sonde. Daar is niks wat ‘n mens geestelik so verwoes as sonde nie. En omdat die Here dit weet en Hy vir ons lief is, pleit hy met ons om met ons sondes te breek.

In Deut 28:65-67 kry ons ‘n lys van die soort oes wat ons kry wanneer ons die saad van sonde in ons lewe saai. Ek lees vir u ‘n paar:
“Jy sal nie vrede vind nie” “;n Hart vol angs” “Oê wat ingee” “’n Lewe wat wegkwyn” “Jou lewe sal aan ‘n draadjie hang” “Jy sal dag en nag in vrees lewe” “Jy sal jou lewe lank onveilig wees”

En dan sê vers 67: “In die more sal jy sê: Was dit maar aand! En in die aand sal jy sê: Was dit maar more!” so vol vrees sal jy wees en sulke vreeslike dinge sal jy belewe.”

As daar miskien op hierdie oomblik onbelyde sonde in u is, wil ek u aanmoedig om dit te bely anders gaan dit u vernietig. Sonde lewer ‘n vreeslike oes op. ‘n Oes van ongeluk en die ewige dood. Wanneer ‘n mens met sonde breek, stroom die hemelse vrede jou lewe binne.

JESUS EN HERODUS

Een Vrydagoggend terwyl Herodus met staatsbesigheid in Jerusalem besig was, het hy ‘n boodskap van Pilatus ontvang dat hy ‘n ene Jesus na hom stuur om te ondersoek en uitspraak te gee.

Kom ons lees Herodus se reaksie toe hulle Jesus voor hom inbring. Lukas 23:8 “Herodus was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al ‘n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. (Sensasie by Jesus gesoek)

Hierdie paar woorde sê vir my baie. Dit sê vir my dat tenspyte van die feit dat Herodus se ver in sonde verdwaal het, die Heilige Gees nogtans ‘n behoefte aan Jesus in sy hart geplaas het.

In Lukas 9:9 lees ons: “En hy het geprobeer om Hom te sien te kry.” Dit was net ‘n rukkie nadat hy Johannes onthoof het. Ongelukkig het sy trots hom teruggehou om Jesus te gaan opsoek het. Maar Jesus respekteer die geringste begeerte na Hom.

En in sy reisplan het Jesus dit so beplan dat Hy op hierdie spesifieke Vrydag, die grootste Vrydag in die geskiedenis van die heelal, by Herodus aangedoen het, Wat sou Herodus maak?

WEER ‘N KANS

Herodus het weer ‘n kans gekry. Op ‘n vorige geleentheid het hy die magtige profeet, Johannes die Doper laat onthoof. Nou kry hy die geleentheid om die magtigste van alle profete vry te laat.

Ongelukkig het Herodus weer gefaal. Lukas 23:8 sê: “Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen.” Hy het sensasie by Jesus gesoek en nie bekering nie.

Ek kan my voorstel hoedat Herodus siekes laat inkom het en vir Jesus gesê het dat as Hy hulle gesondmaak, hy Jesus sou vryspreek.

Maar Jesus het nie aarde toe gekom om mense se nuuskierigheid te bevredig nie. Hy het aarde toe gekom om gebroke harte te genees. Hy wou vir Herodus die grootste wonderwerk van alle wonderwerke doen, die wonderwerk van wedergeboorte.

Lukas 23:9 “Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie.”

Herodus het die woorde van die grootste profeet van alle tye verwerp, die van Johannes die Doper wat die Elia boodskap verkondig het, en Jesus, die majesteit van die hemel, het geen woord vir hom gehad nie.

DIE LES

En hier is weer ‘n les vir my. Wat maak ek wanneer die profetiese Woord met my praat? As ek hierdie Woord verwerp, dan het Jesus niks om vir my te sê nie.

Kan u die gefrustreerde verwaande, hoogmoedige Herodus sien? Hy is gebelgd omdat Jesus nie met hom wil praat nie. Sy eer is gekrenk. En pleks dat hy homself in ootmoed voor die voete van Jesus neerwerp, besluit hy om homself teen Jesus te wreek.

Lukas 23:11 “Herodus en sy soldate het Hom toe met VERAGTING behandel. Hy het Hom ‘n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.”

DIE TONEEL

Dit moes seker ‘n vreeslike toneel wees! Soos wilde diere storm hulle op Jesus af asof Hy ‘n prooi is wat vernietig moet word. Hulle ruk Jesus hierdie kant toe en dardie kant toe. Dit raak so erg dat die Romeinse soldate moet keer sodat Jesus nie in repies verskeur word nie.

Hulle gooi ‘n kleed oor Sy kop e toe begin die gespot. En Herodus is die voorbok onder hulle. Kan u hierdie sataniese klugspel sien? Groot mense wat selfbeheersing verloor en soos demone optree.

Wat maak u wanneer mense verwoed teen u optree? As u daar teenwoordig gewees het, sou u Jesus in Sy majestieuese kalmte en selfbeheersing gesien het.

Terwyl daar van die spotter aankom om in kamma eerbied voor hom neer te kniel, steek hulle vas. Jesus die Godheid flits deur sy mensheid. Herodus kyk ook en hy skrik. Die bespotte Man hier voor hom is nie ‘n gewone mens nie, en Herodus voel asof hy God op Sy troon aanskou.

Vir die laaste maal pleit genade met Herodus. Dis nog nie te laat nie. Vir ‘n oomblik langer hang die son van genade bokant die horison van Herodus se lewe.

Maar met ‘n gebaar van sy hand stuur Herodus vir Jesus terug na Pilatus. Terwyl die Romeinse soldate Jesus dar weglei, sak die son van genade vir ewig vir Herodus weg. Soos Jesus daardie Vrydag-oggend uit sy lewe weggestap het, so het de Heilige Gees ook vir ewig uit sy lewe gestap. Herodus het die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees gepleeg.

Agt jaar later in 39 nC is Herodus die viervors en sy tweede vrou Herodias na Lyons in Gaul verban waar hulle kort daarna albei dood is.

Iewers tussen die grond lê Herodus se vermufde beendere. Hulle wag om opgewek te word. Wanneer Jesus kom, gaan Hy roep, maar Herodus se oorblyfsels sal roerloos lê. Toe die stem van Jesus gepraat het, het hy sy hard verhard.

Aan die einde van die 1000 jaar sal Herodus wakker word. Hy gaan ‘n pratige nuwe Jerusalem sien. Hy gaan verlostes binne in die stad sien. Mense wat na die roepstem van die Heilige Gees geluister het en gehoorsaam het. Hy gaan Johannes sien wat hy onthoof het.

Herodus gaan vir Jesus sien. Die selfverwyt in sy hart gaan onbeskryflik wees. Hy kon die ewige lewe en ewige geluk gehad het, maar deur sy eie keuse het hy alles verloor.

Die vuur daal neer en verteer die Viervors en dan is alles verby. In die hart van Jesus is daar groot pyn. Hy wou Herodus so graag red, maar hy wou nie.

Praat die Heilige Gees vanoggend met u? Moenie talm as daar iets is wat u moet regmaak nie. Die grootste bewys dat ek Hom liefhet, is my gehoorsaamheid aan alles wat Hy van my verlang.

Was this article helpful?

Related Articles