1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 2 – Van Die Krip Tot Die Kruis (Deel 2)

Deur Sy Wonde Deel 2 – Van Die Krip Tot Die Kruis (Deel 2)

VAN DIE KRIP TOT DIE KRUIS – DEEL 2

HERODUS DIE GROTE

1. Terwyl ek in die Kotel-tonnel in Jerusalem stap, dink ek aan ‘n teks in Matteus. Dit verwys na Herodus die Grote. Was daar regtig so iemand? Wat sê die argeologie.

2. Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. Matteus 2:16

3. Sien u daardie kegelvormige heuweltjie? Dis waar Herodus die Grote begrawe is. Kom ons gaan kyk hoe lyk dit daar.

4. Baie gedagtes maal deur ‘n mens se kop wanneer jy hierdie argeologiese plekke met hulle ryke geskiedenis besoek. ‘n Mens lees van Herodus die Grote in die Bybel, maar nou word hy vir jou ‘n werklikheid.

5. Bo op Herodion het ek ‘n sinagoge raak geloop. Herodus het die Joodse godsdiens beoefen maar omdat hy ‘n afstammeling van Esau was, het die Jode hom nooit aanvaar nie. Dit mag wees dat hierdie verwerping aanleiding tot sy wreedheid gegee het.

6. Kom gou saam met my na Jerusalem. Herodus die Grote wou alleen in sy groot graf lê en het hierdie kleiner enetjie vir sy familie laat maak. (Net agter die King David hotel)

7. Kan u die tipiese steen sien wat hulle destyds voor die graf gerol het? Jesus se graf was ook met so ‘n steen verseël.

JERUSALEM

8. Die eerste Israelitiese koning wat in Jerusalem gewoon het, was Dawid. Die 20ste en laaste was Sedekia. Nebukadnesar het hom en die stad op 19 Julie 586 v.C. verower.

9. Vir byna ses eeue na die Babiloniese verwoesting van Jerusalem, was die stad donker en koningloos. Sou hierdie stad van rebellie ooit weer deur God vereer word? Ja. In die Persoon van Jesus het die God van die heelal Jerusalem kom besoek.

 

10. Dit was op Golgota dat die grootste demonstrasie van God se liefde vir ‘n sondige wêreld gemaak is. Op Golgota het die Vader Sy Seun Jesus aan ‘n kruishout laat sterf om vir jou en my te vertel hoe lief Hy ons regtig het.

11. Ons kyk na twee koepels. Die goue een word die koepel van die rots genoem, Dome of the Rock. Die swart koepel is die Al Aksar moskee. Dit is waar Salomo se paleis vroeër gestaan het.

12. Nadat Salomo se pragtige tempel verwoes is, het Esra en Nehemia jare later op hierdie selfde plek weer ‘n tempel opgerig. Kom ek wys vir u ‘n skaalmodel van die tempel wat daarna deur Herodus die Grote begin bou is.

13. Dit was een van die sewe wonders van antieke tye. Op 12 jarige leeftyd het Jesus vir die heel eerste keer die tempel besoek. Een kommentator sê dat toe Jesus die paaslam sien, het Hy vir die eerste keer besef dat hy as die antitipiese Paaslam geslag sou word.

DIE BOVERTREK

14. Stap saam met my deur die Kardo na die plek waar die bovertrek volgens oorlewering gestaan het.

15. Kan u in u geestesoog sien hoe Jesus met Sy 12 dissipels die Pasga vier? Dit was ook tydens hierdie geleentheid dat Jesus die heilige Nagmaal ingestel het.

16. Die Vors van die hemel buk laag voor Judas en was Sy voete. Hy pleit met Sy verraaier. “Laat vaar jou moordplanne. Gee my jou hart.” Ongelukkig het Judas Jesus se liefde doelbewus weerstaan. Johannes 13:30 sê vir ons “Dit was nag” toe Judas die vertrek verlaat het.

17. Toe ek een aand deur die donker straatjies van die ou stad gestap het, het ek aan Judas gedink. Dit was nie net fisies donker toe hy uit die bovertrek gestap het nie, dit was ook geestelik donker. Wanneer ons uit die lig van Jesus se liefde stap, is dit altyd donker. Kom ons bly maar altyd na aan Hom.

GETSEMANE

18. Aan die voet van die Olyfberg kan mens die tuin van Getsemane besoek. Jesus en Sy dissipels het dikwels die nag hier deurgebring. Waar het hulle geslaap?

 

19. Sommige Bybelkenners sê dis moontlik dat Jesus met tye in hierdie grot in die tuin geslaap het. Jakkalse het gate, voëls het neste. Jesus het nie ‘n huis gehad nie.

20. Botaniste sê vir ons dat hierdie Olyfbome die kinders is van die Olyfbome wat een nag gesien het hoe Jesus hier in gebed kom worstel het.

21. “En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe…” Markus 14:33,34.

22. In Getsemane het Jesus vir die eerste keer met sonde in aanraking gekom. Hier tussen die Olyfbome het Hy dieper en dieper in ons hartseer, ons selfverwyt, ons sonde besoedeling inbeweeg. En namate Hy die sonde van die wêreld op Homself geneem het, het die Vader Homself van Jesus begin onttrek.

23. Markus 14:35 “En toe Hy ‘n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, die uur by Hom sou verbygaan.” In Elke pynlike ondervinding wat ek en jy deurgemaak het, het Jesus daardie nag ook deurgemaak.

24. Ek kyk na die olyfbome en oorpeins Sy foltering. Die effek wat ons sonde, ons hartseer, ons eensaamheid, ons selfverwyt op Hom gehad het, was so vreeslik dat Hy nie daarvoor kans sien nie. Hy steier!

25. Hy waggel tussen die Olyfbome na Sy dissipels. Hulle slaap. Verskriklik eensaam en hartverskeurd sukkel Jesus terug om verder met my sonde probleem te gaan worstel.

26. In die kerk wat in Getsemane gebou is, is daar ‘n groot rots. Die argitek wil vir die besoeker sê dat Jesus een nag in groot benoudheid aan hierdie koue rots vasgeklem het terwyl Hy die grootste worsteling ooit deurgemaak het.

27. “Olyfbome, wat presies het Jesus daardie nag deurgemaak terwyl julle dou op Sy worstellende liggaam geval het? Waarom het Hy bloed gesweet? Dis mos iets vreesliks!”

28. Indien Jesus die beker van ons sondes drink, sou die Vader Sy toorn op Hom uitstort. Dit sou Hulle uitmekaar uit skeur.

29. Die verskriklike intensiteit van hierdie skeiding is op Golgota gehoor toe Jesus desperaat uitroep: “My God, My God, waarom het U my verlaat.”

 

30. Hierdie Godverlate noodkreet deurpriem die heelal. Twee harte breek van pyn. God se hart en Jesus se hart.

31. In Getsemane worstel Jesus met die ontsettende benoudheid van die tweede dood. Ons sondes is besig om Hom van die Vader te skei. Dis so intens dat die klein aartjies op Sy voorkop bars. Waarom het Jesus dit gedoen?

32. Hebreërs 12:2 sê vir ons dit was die vooruitsig om jou en my eendag by Hom in die hemel hê wat Jesus die bitter beker van ons sondes laat drink het.

KAJAFAS SE PALEIS

33. Nadat Judas Jesus met ‘n soen verraai het, het ongeveer ‘n 1000 mense die Meester met hierdie einste trappies na Kajafas se paleis geneem.

34. Dit was wêreldnuus toe Kajafas se sarkofaag onlangs in Jerusalem ontdek is. Daar was so ‘n skurk.

35. Argeoloë het baie interessante ontdekkings tov die hoëpriester se paleis gemaak wat nuwe lig op Jesus se lyding werp. Kom saam met my na ‘n pynbank wat hier ontdek is.

36. Sien u die gleuwe? Wanneer die Sanhedrin iemand skuldig bevind het, het hulle sy hande in hierdie gleuwe vasgemaak, en hom 26 katshoue oor Sy bors gegee.

37. Dertien houe op elke kant. Kan u Jesus se stukkende, bloeiende bors sien? Weet u wat? Hy het nie een keer oor die wrede, onregverdige behandeling gekla nie.

38. My kind staan waar Jesus gegesel is. Wanneer sy seerkry, kry ek seer. Kan u uself voorstel wat God die Vader deurgemaak het toe Jesus die straf van die sonde terwille van jou en my hier moes deurmaak? Sy hart het gebreek.

39. Jesus is daardie Donderdagnag vier keer verhoor en die Onskuldige is skuldig bevind. Het dit al met jou gebeur? Deur die lang ure van die nag is Hy deur die gesig geklap.

40. Deur daardie pynlike ure het die geestelike leiers Hom kort kort in die gesig kom spoeg.

41. Toe Hy tydens hierdie verskriklike fisiese mishandeling na menslike ondersteuning smag, hoor Hy hoe Petrus Hom met vloeke verloën. Toe Jesus se oë Petrus s’n ontmoet, was daar geen verwyt nie. Net ‘n begryplike hartseer.
42. Petrus het die nag ingestorm en gewens hy kon sterf. Hoe kon Hy Sy Meester met vloeke verloën het? Daardie selfde nag het Petrus tot bekering gekom maar hy kon homself nooit hieroor vergewe nie. Uiteindelik is Petrus gevonnis om ‘n kruisdood te sterf.

43. Net voordat hy in Rome gekruisig is, het hy mooi gevra dat hulle hom asb. tog onderstebo moet kruisig. Hy het gevoel hy is nie waardig om regop soos Sy Meester gekruisig te word nie.

44. Stap saam met my en dan wys ek vir u nog ‘n merkwaardige ontdekking wat die argeoloë by Kajafas se paleis gemaak het.

45. Ons kyk hier na die opening van ‘n tronksel. Die Bisantynse kruis wat u sien, dui daarop dat die vroeë Christene die plek as outentiek beskou het.

46. Dit was vir my ‘n groot oomblik toe ek hierdie sel binnestap en na die opening kyk waardeur Jesus ingelaat is.

47. Die kurators het ‘n kopie van Psalm 88 hier geplaas. Dis ‘n Messiaanse Psalm wat oor die lyding van Jesus terwyl Hy stukkend geslaan, in die donker sel opgesluit was.

48. Vers 7: “U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis. Vers 4: “Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk.” Vers 9: “U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks.”

49. Met stukkendgeslaande liggaam en ‘n gebreekte hart het Jesus vir ure in die donker sel gely.

50. Die graaf van die argeoloog het die pad opgegrawe wat vanaf Kajafas se paleis na die Sanhedrin gelei het. In my verbeelding het ek daardie Vrydagoggend saam met Jesus hier gestap.

51. Bybelkenners sê vir ons dat die gebou waarin die Sanhedrin vergader het, baie naby die tempel geleë was.

52. ‘n Rukkie gelede was hierdie trappies onder die puin van 2000 jaar begrawe. In Jesus se dag was dit die suidelike ingang na die tempel.

53. Hierdie trappies het vir my groot betekenis want die Jode het Jesus hier opgelei. Dink aan die hartseer wat Hy hier ervaar het.

 

54. Die geestelikes wat Hy wou kom red, het Hom verwerp. En nou stap Hy om vir ‘n vierde keer deur die Sanhedrin veroordeel te word. As jy deur mense verwerp is, sal jy Jesus se pyn besef.

55. Diep onder die oppervlakte van die strate van Jerusalem het die argeoloë die fondasies van Antonio se vesting opgegrawe.

Hier het ‘n goewerneur met die naam van Pontius Pilatus vir Jesus van Nasaret verhoor het. Dit was Jesus se vyfde verhoor. Sy sesde verhoor was voor Herodus die Viervors en Sy sewende weer voor Pilatus.

55. Terwyl ek hier op die klipterras staan, het ek aan Pilatus gedink wat probeer het om Jesus los te laat. Nadat hy vir die Jode gesê het dat hy geen fout in Jesus vind nie, het hy Hom vir die eerste keer laat gesel ten einde hulle simpatie uit te lok. (Matteus 27:26)

57. Dit was destyds die gebruik om die beskuldigde op sy maag oor ‘n groot pilaar te laat lê. Sy hande en voete is vasgemaak. ‘n Sterk Romeinse soldaat het dan 39 katshoue toegedien.(40 houe minus 1). Die kats het uit riempies bestaan wat stukkies been en lood in gehad het. Geskiedskrywers sê vir ons dat baie maal is die ingewande van die persoon gesien en hulle het dikwels onder die geseling beswyk.

Die geseling nie die simpatie van die skare uitgelok nie.

58. In Latyn word hierdie klipterras die Lithos Stratos genoem. Dis hier waar Jesus gestaan het terwyl die Jode geskreeu het: Kruisig Hom, kruisig Hom, kruisig Hom! Dis hier waar die gepeupel Barabas bo Jesus verkies het. Dis hier waar hy deur Pilatus tot die dood veroordeel is. Dis hier waar Jesus deur Sy eie mense verwerp is.

Het u geweet dat Jesus vir ‘n tweede keer gegegesel is?

59. Johannes 19:1,2 “Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gesel. Die soldate het ‘n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit…” 2 x 39 = 78 katshoue oor die rug. Hoeveel houe het Hy oor sy bors ontvang? 26. ‘n Totaal van 104 houe. (Mel Gibson se Passion of the Christ sê maar mins van Jesus se lyding.

60. Was daar regtig so ‘n goewerneur met die naam van Pilatus? Ek het na ‘n bewys van hom by Seserea gaan soek waar hy gewoon het en ‘n groot ontdekking gemaak.
61. By die Romeinse amfiteater het ‘n argeoloog in 1961 die naam van Pilatus vir die eerste keer buite die Bybel raakgeloop. En hier sien u dit op ‘n altaar wat aan keiser Tiberias gewy is.

62. Groot emosies het my aangegryp toe ek na hierdie ontdekking gekyk het. Daar was werklik Iemand soos Jesus wat vir my sondes kom sterf het. En daar was werklik iemand soos Pontius Pilatus wat hom laat kruisig het. My verlossing is ‘n historiese feit.

63. U kyk hier na die lyne van ‘n spel wat die Romeinse soldate gespeel het, terwyl hulle vir Pilatus gewag het om die doodsvonnis op Jesus te voltrek. Die grootste gebeurtenis van alle tye het hulle nie geraak nie. Hoe sensitief is ek en jy oor die offer wat daar vir ons sondes gemaak is.

64. Generaal Gordon het op ‘n dag vanaf sy huis in die ou stad, na die heuwel oorkant hom gekyk. En toe sien hy dit wat ons ook nou sien. Die vorm van ‘n skedel. Dit het hom aan Matteus 27:33 herinner waar dit sê dat Golgota hoofskedel beteken. Die navorsing het begin. Volgens Johannes 19:41 moes daar ‘n tuin en ‘n nuwe graf naby Golgota wees.

65. Opgrawings het ‘n olyfpers opgelewer wat op die vroeëre teenwoordigheid van ‘n tuin gedui het. Maar volgens die Bybelse gegewens moes dit ook ‘n ryk man se tuin en graf wees.

66. Kyk net na hierdie foto van ‘n reuse waterput wat in die tuin ontdek is. Dit pas by die beskrywing van die ryk man, Josef van Arimathea.

67. En toe ontdek hulle die graf. Volgens Johannes se beskrywing kon hy die Sondagmôre Jesus se opgevoude grafdoeke sien toe hy inloer. Hierdie graf het die toets geslaag want daar was ‘n opening regs bokant die deur wat lig verskaf.

68. Hier sien u ook die teken van die kruis. Wat beteken dit? Die vroeë Christene het die plek as die graf van Jesus geïdentifiseer.

69. Voor die ingang van die graf is hierdie uitgrawing aangebring sodat hulle tydens die viering van Nagmaal wat hier plaasgevind het, mekaar se voete gewas.

70. Dit is wat mens sien wanneer jy instap. Iemand het haastig die nuwe graf ‘n bietjie groter gemaak.

 

71. Sommige Bybelkenners beweer dat Jesus ‘n bietjie langer as die gewone mens was. Dit pas mooi in by wat ons hier sien.

Terwyl ek hier in die graf gestaan het en na die toeriste daar buite gekyk het, het ek aan die waarheid van hierdie groot historiese gebeurtenis gedink. Jesus het gesterf sodat ek kan leef.

72. Kom ek gaan wys vir u wat die argeoloë in ‘n grafkelder noordoos van Jerusalem ontdek het.

73. Die hakskeen van ‘n man met ‘n spyker daarin. Die slagoffer het asgevolg van ‘n kruisdood gesterf. Net soos wat hierdie gekruisigde se dood ‘n historiese feit is, net so is Jesus se kruisdood ‘n historiese feit.

74. Vanaf 12 uur tot drie uur was dit pikdonker oor Golgota. God die Vader het Sy hand voor die son gehou want die lyding wat Sy Seun deurgemaak het was te verskriklik om te aanskou.

75. 1 Petrus 2:24 “Hy het ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur Sy wonde is julle genees.” (“wonde” in die grondteks is enkelvoud. Jesus was een stuk rou wond. Ons genesing was nie goedkoop nie.)

76. “Christus is behandel soos ons verdien het, sodat ons behandel kan word soos Hy verdien het. Hy is vir ons sondes veroordeel waaraan Hy geen deel gehad het nie, sodat ons geregverdig kan word deur Sy geregtigheid waarin ons geen deel gehad het nie. Hy het ons dood gesterf, sodat ons Sy lewe kan ontvang. ‘Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.’” Die Koning van die Eeue, bladsy 25.

77. Ek het goeie nuus vir u. Die Jesus wat gekruisig is, gaan binnekort aarde te kom om ons vir ewig van ons pyn en ons mislukkings en ons gevalle sondige natuur te kom verlos.

78. Hy gaan mense kom haal wat hulle verskriklike verlorenheid besef het. Hy gaan mense kom haal wat uitsluitlik net op Hom vir redding staatgemaak het.

79. Het jy op hierdie oomblik ‘n waardering vir die groot prys wat God die Vader en Jesus vir jou redding betaal het? Wil jy saam met my vanoggend opnuut baie dankie vir daardie groot liefde sê?

 

Was this article helpful?

Related Articles