1. Home
  2. Jesus
  3. Deur Sy Wonde
  4. Deur Sy Wonde Deel 3 – Jesus En Judas

Deur Sy Wonde Deel 3 – Jesus En Judas

JESUS-3 JUDAS

Skriftuur: Matteus 26:14-16

1. Het jy die vermoë om iemand se skynheiligheid raak te sien? Kan jy agterkom wanneer iemand jou net vir sy eie selfsugtige motiewe wil gebruik?

2. Sê nou jy is ‘n multimiljoenêr en jy ontdek dat jou derde vrou het jou net vir jou geld getrou? Hoe sal jy haar behandel?

3. Sê nou jy ontdek dat iemand met jou vriende is, nie omdat hulle jou liefhet nie, maar net omdat hulle iets uit jou wil kry. Hoe sal jy teenoor hulle optree?

JUDAS

4. In die Nuwe Testament lees ons van ‘n man met die naam Judas. Dis dieselfde as die Ou Testamentiese naam Juda. Die Judas waarna ons vanoggend kyk, kom van ‘n dorpie in die suide van Juda met die naam van Iskariot af.

5. Ish Qeriyyoth in Hebreeus beteken: “Man van Keriot.”

6. Ek glo nie sy ma of pa het die vaagste benul gehad dat hulle ou pasgebore seuntjie eendag die Seun van God sou verraai nie?

Dis goed dat ouers by die geboorte van hulle kinders nie weet hoe hulle kinders eendag gaan uitdraai nie.

JUDAS GAAN SOEK JESUS OP

7. Op ‘n dag het hierdie man van Keriot van Jesus gehoor. Hy was ‘n opportunis, ‘n kansvatter en besluit dat hierdie Rabbi ‘n toekoms het.

En Judas, die man van Keriot, die briljante, besluit om een van Jesus se dissipels te word.

JESUS SE OPTREDE

8. Jesus het nie vir Judas geroep om ‘n dissipel te word nie. Hy het homself aanbeveel. Wat sou jy gemaak het as jy in Jesus se posisie was? Jesus het geweet dat Judas hom uit selfsugtige motiewe wou volg en uiteindelik sou verraai.

Jesus wys nie vir Judas weg nie. Hy laat hom selfs in Sy binnekring toe. Vir 3 en ‘n half jaar is Hy net goed vir Judas. Sal ons Sy liefde en hartseer kan begryp?

DIE LES UIT JESUS EN JUDAS SE VERHOUDING

Watter les kan ons uit Jesus se optrede teenoor Judas leer?

9. Laat ons goed wees vir mense selfs wanneer ons hulle selfsugtige motiewe agterkom. Laat ons goed wees vir mense wat ons in die rug steek. Laat ons goed wees vir mense wat ons eendag vir goedkoop gaan verkoop. Dis nie menslike nie, dis goddelik!

EERSTE BREUK

10. Die eerste skeur in die verhouding tussen Jesus en Judas het tydens een van Jesus se preke in Kapernaum gekom.

Johannes 6:53 “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.”

11. Na hierdie uitspraak het Judas besef dat daar vir hom geen toekoms by Jesus was nie. Van toe af het hy sy hart vir Jesus se liefde gesluit. Jesus het dit agtergekom en pynlik ervaar.

Maar weet u wat! Jesus skryf hom nie af of stuur hom nie weg nie. Jesus besluit om aanhou goed te wees vir Judas. Wat ‘n ongelooflike navolgingswaardige liefde!

Dis nie menslik nie, dis goddelik. Maar dis die soort behandeling wat ons altyd by God ontvang.

TWEEDE BREUK

Kom ons lees aangaande die tweede ongelukkigheid wat een Saterdagaand tussen Jesus en Judas plaasgevind het. Dit het gebeur terwyl Maria Jesus se voete met duur nardussalf gesmeer het.

12. Johannes 12:4-6. “Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: Waarom is hierdie reukolie nie vir 300 silwermunstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ‘n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.”
13. Miskien sou ek en jy gevoel het dat Judas darem nou te vêr gegaan het. Miskien sou ons hom sy fortuin vertel het. Maar wat maak Jesus. Hy bly stil.

Jesus was nog nie klaar met Judas nie. Hy wou vir hom nog ‘n stuk goddelike liefde wys. Ek het goeie nuus vir jou.

14. Jesus is nog nie klaar met jou nie. Jy mag met kere so dink, maar dis nie waar nie. Jesus het jou nog nie opgegee nie.

JUDAS SE OPTREDE

Kom ons hoor wat Judas na hierdie gebeurtenis gedoen het:

15. Matteus 26:14,15 “Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan en gesê: “Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?” Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal.”

Verontwaardig stap Judas uit die feestelike atmosfeer van Simon se huis in Betanië. Hy beklink Jesus se verraad by die Sanhedrin en later daardie Saterdagaand sluit hy weer by die ander dissipels en Jesus aan.

16. Wat sou jy gemaak het as jy in Jesus se posisie was? Jy is bewus van die feit dat een van jou eie volgelinge met 30 silwerstukke verraadgeld in sy sak sit? Hy het jou goedkoop vir die prys van ‘n slaaf verkoop. Dis net ‘n kwessie van tyd voor jy gearresteer word.

Jesus kon vir hom gesê het:

17. “Judas, Judas, skaam jy jou nie. Ek was nog net goed vir jou en kyk net wat het jy nou gedoen. Hier stap jy ewe skynheilig die vertrek binne maar in jou sak het jy die geld waarvoor jy my gaan verraai. Judas ek dink jy moet so gou as moontlik uit my lewe padgee.”

Dis nie wat Jesus doen nie. Nee, Jesus het hom vriendelik gegroet en miskien nog vir hom gesê om lekker te slaap.

In Matteus 26:16 lees ons wat Judas vanaf daardie Saterdagaand probeer doen het:

18. “Van toe af was hy (Judas) op die uitkyk na ‘n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.”

ONTDUIKING

As Jesus vanaf daardie Saterdagaand elke aand in Betanië by Lasarus, Maria en Magdalena geslaap het, sou Judas Hom al vroeg in die week laat arresteer het.

Die Sondagaand het Jesus nie in die huis in Betanië gaan slaap nie. Hy het op ‘n ander plek die heel nag in gebed deurgebring. Judas se Sondagaand-arrestasie-planne is in die wiele gery. Wat van Maandagnag?

19. Matteus 21:17: “Toe het Hy hulle verlaat en uit die stad uitgegaan na Betanië toe, waar Hy die nag gebly het.”

20. Maandagaand het Jesus iewers in Betanië gaan slaap. Hoekom so geheimsinnig? Judas wou Hom laat vang. Hoekom het Jesus dit nie toegelaat nie? Hy wou vir Judas nog ‘n paar keer wys hoe ontsettend lief Hy hom het.

DINSDAG

Die boek die Koning van die Eeue noem die feit dat Judas die Dinsdag weer met die Fariseërs samesprekings gehad het.

“Judas, ons het jou in harde kontant betaal maar Jesus is nog nie gevang nie. Wat gaan aan? Hoekom is jy so stadig.”

21. “Menere. Ek kan net vir julle sê dat ek my bes doen om vas te stel waar Jesus in die aande slaap. Maar ongelukkig is Hy elke aand op ‘n ander plek. Moenie bekommerd wees nie, julle sal waarde vir julle geld kry.”

22. Die Dinsdagaand het Jesus iewers op die Olyfberg gaan slaap. Ons weet nie waar Hy die Woensdagaand gaan slaap het nie.

Goddelike liefde ontduik ‘n prematuur arrestasie. Want goddelike liefde vil vir oulaas verraaiers-voete was.

PASGA

23. As Judas net kon weet waar Jesus die Donderdagaand die pasga sou vier! Hy kon dan net vir die Sanhedrin die adres gee en die transaksie was afgehandel. Maar Jesus is doodstil oor waar Hy die Pasga gaan vier.

VOORBEREIDINGS VIR DIE PASGA

Matteus 26:17 gee vir ons hierdie spannende inligting van wat die Donderdagoggend gebeur het:

24. “Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?”

Die volgende dag sou die paasfees gevier word en die kontrak het gelui dat Judas vir Jesus voor daardie tyd aan hulle moes uitlewer. Kom ons lees dit:

25. Matteus 26:4,5 “Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak, Hulle het egter gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie oproer onder die volk kom nie.”

26. Dis Judas se heel laaste kans om Jesus uit te lewer anders moet hy die geld teruggee. Hy kon dit nie bekostig nie.

Ewe skynheilig verneem hy saam met die ander dissipels waar hulle vir die pasga moet gaan regmaak.

Judas wil weet, maar Jesus wil nie sê nie. Hoekom nie? Ek hier kry ons ‘n ongelooflike demonstrasie van Jesus se sonde-voorkomende-liefdespoging vir ‘n verraaier.

27. Jesus wil vir oulaas vir Judas ‘n demonstrasie van Sy onbeskryflike goddelike liefde gee. Hy wil nog een maal met Sy verraaier pleit om tot bekering te kom. Hy gaan voor Judas buk en sy voete was.

Jesus se voorbeeld sê vir ons om nie vinnig op iemand op te gee nie, al lyk sake hopeloos.

Terwyl Judas ongeduldig wag dat Jesus moet sê waar die pasga gevier gaan word, gee Jesus die volgende inligting:

28. Matteus 26:18 “Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: “Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met My dissipels die paasmaaltyd hou.”

Sou u met sulke inligting by die regte adres uitkom? Nooit. Jesus weerhou met opset die presiese adres waar die pasga gehou gaan word. Judas mag dit nie weet nie.

Dr. Lukas vertel vir ons van die volgende interessante, geheimsinnige instruksies wat Jesus baie privaat, en in ‘n gedempte stem vir Petrus en Johannes gegee het:

29. Lukas 22:10,11 “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal ‘n man wat ‘n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: “Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?”

30. Voordat Judas kon planne maak om stilletjies agter Petrus en Johannes aan te loop (Lukus 22:8) is hulle daar weg. Hulle het byna die hele dag weg gebly. Judas was gefrustreerd.

DIE PASGA

Laat die Donderdagmiddag vleg Jesus met Sy 12 dissipels deur die besige strate van Jerusalem. Tien van hulle gaan vir die eerste keer sien waar die pasga gevier word.

Kan U Jesus sien terwyl hy kort-kort na Sy dissipels en na Judas kyk? Watter gedagtes maal deur Sy kop? Daar is geen haat in Sy hart teenoor Judas nie, net ‘n onbeskryflike liefdes-hartseer.

Jesus weet dat Judas homself die volgende dag gaan ophang en Hy huil in Sy hart. Hy is so jammer vir Judas wat homself gaan verwoes.

31. Moenie vir u verraaiers kwaad wees nie. Wees vir hulle jammer. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, maar oorwin die kwaad met die goeie.

Kom ons hoor waaroor Jesus heel eerste gepraat het toe hulle uiteindelik aan die pasga tafel sit.

35. Matteus 26:20,21 “Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.”

HARTSEER

36. Die eerste iets waaroor Jesus praat, is hierdie geweldige groot hartseer oor Judas se voorgenome verraad.

Vir die heel eerste keer besef Judas dat Jesus van sy verraaiplanne weet. Hoe het hy hierop gereageer?

37. Een van die grootste hartsere van hierdie lewe is die hartseer wat kom wanneer iemand sy liefde van jou onttrek.

Vir jare stort jy jou liefde op iemand uit en dan op ‘n dag, stap daardie persoon uit jou lewe uit.

En dan staan jy verslae alleen, alleen. Jy staan verleë, verleë in jou vernederde hartseer. Is jy is slagoffer van verworpe liefde? Weet jy van soortgelyke slagoffers? Voel jy hulle pyn?

38. Nie alle mammas is liefdevol nie. Op ‘n keer het ek gesien hoe ‘n besige vrou ‘n paar blommetjies uit haar kind se hand klap en vir haar sê om te gaan speel. Sy het nie nou tyd om na blomme te kyk nie.

39. Vir drie en ‘n half jaar lank het Jesus vir Judas probeer blomme gee. Blomme van Sy groot liefde, blomme van Sy vergifnis, blomme van ewige lewe. En nou kom Judas en Hy klap dit uit Jesus se hande.

HARTSEER

40. ‘n Vreeslike hartseer oorweldig vir Jesus. Hy sluk ‘n paar keer. Hy is wit in die gesig. “Manne, een van julle gaan My verraai.” ‘n Duisend jaar voor hierdie gebeurtenis skryf die psalmis oor Jesus se pynverraad:

41. Psalm 55:13-15: “As dit nog my vyand was wat my smaad aangedoen het, sou ek dit kon verdra; as dit ‘n teëstander was wat my wou verneder, sou ek dit kon probeer vermy. Maar nou is dit jy, ‘n man soos ek, my maat en my goeie vriend. Ons was so nou aanmekaar verbonde; opgewonde het ons saam na die huis van God toe gegaan.”

42. Jesus en Judas het goeie vriende geword. Jesus dink terug aan die mooi oomblikke wat daar tussen hulle was. Hy het net een groot begeerte vir Judas en dis Sy redding.

‘N LAASTE POGING – FINALE BREUK

43. Kan u sien hoe Jesus die skotteltjie neem en voor Judas neerbuk? Hy vat sy voete in Sy hande en Hy was hulle. Wat ‘n hemelse toneel. Die God van hemel en aarde buk voor Sy verraaier en was sy voete met liefde, pleitende liefde.

Kan jy sien hoe Jesus daardie twee verraaiersvoete met ‘n handdoek begin afdroog? Hy druk hulle vas in Sy hande. Hy druk hulle met liefde, met gevoel, met smeking teen sy hart vas.

44. Judas lees ‘n boodskap in Jesus se oë. “Judas, my dierbare vriend, dis nog nie te laat nie. Wil jy nie jou lelike planne laat vaar nie. Ag Judas, breek met jou sonde. Judas, Ek het jou oneindig lief, verskriklik lief. Judas Ek wil nie hê jy moet verlore gaan nie!”

45. Vir ‘n oomblik ervaar Judas die oorweldigende krag van Jesus se goddelike liefde. Vir ‘n oomblik voel hy om daarop te reageer.

46. Jesus hou Judas se twee voete styf vas terwyl Hy pleitend na hom kyk. Maar Judas verhard sy trotse hart en skud sy kop. Met groot teësinnigheid los Jesus sy voete en beweeg na die volgende dissipel.

VYF KEER

47. Die evangelies sê vir ons dat Jesus vyf keer daardie Donderdagnag vir Judas die geleentheid gegee het om sy moordplanne te laat vaar. Johannes 13:11; Matteus 26:21,23,25)

48. Wat ‘n enorme stuk onvermoeide verkwiste liefde vir ‘n verraaier! Ek is sprakeloos wanneer ek aan Jesus se liefde vir Judas dink. Ek is nog meer verstom wanneer ek aan Jesus se liefde vir ‘n sondaar soos ek dink. Dis hoe God lyk en hoe Hy optree!

OPROEP

49. Het iemand jou so seergemaak dat jy nooit weer met daardie persoon iets te doen wil hê nie?

Is daar ‘n seer, ‘n rou ongeneeslike haat in jou hart?

50. Sit jy in die maksimum gevangenis van bitterheid? Wil jy uit hierdie tronksel ontsnap? Sal jy graag in die vryheid en vreugde van vergewensgesindheid wil leef?

51. Laat toe dat God se vergifnis jou oorweldig. En mag Sy onlogiese, onverklaarbare vergifnis deur jou na die Judasse in jou lewe vloei.

Was this article helpful?

Related Articles